Nuuskommentaar: Burgers van papbroekland?

Foto: Siyasanga Mbambani/DoC.

Foto: Siyasanga Mbambani/DoC.

Is ons almal nou burgers van papbroekland waar ons handjies gevou kyk hoe die land onder ANC-vergrype in ’n land van middelmatigheid wegkwyn, soos wat ’n briefskrywer aan Die Burger vra? Of is dit ’n growwe ontkenning van omvattende en duur projekte soos die Solidariteit Beweging se Ons Bou-projek en die bydraes van talle ander?

’n Brief in Die Burger, “Ons is burgers van papbroekland” deur Hennie Olivier van Oudtshoorn, tref die oog. Olivier trek sy argumente wyd, van rugbytreurmares tot vergrype deur die ANC. Ons kla lekker, meen hy, maar as dit kom by die hande uit die moue steek, hou ons wyd.

“Lamsak, ou maat, gee my jou hand. Ons twee is burgers van papbroekland,” skryf hy.

Of Olivier in ’n swart oomblik vergeet het van die Solidariteit se Ons Bou-program (dalk nog beter bekend as Plan B), en talle ander aksies van selfhelp (sonder om die honger buurman af te skeep), sal ’n mens nie weet nie. Hy loof die media, insluitend die uitsaaiwese, wat ons so mooi op die hoogte bring van alles wat lol, dus wil ’n mens aanvaar dat hy ingelig sou wees omtrent Solidariteit se planne wat reeds in die praktyk neerslag vind. George, Oudtshoorn se buurdorp, is immers een van die sentrums waarheen Akademia sy leersentrums nou landswyd uitbrei.

Die hofsake tussen Kovsies en onder meer Solidariteit en AfriForum oor Afrikaans, waarvan Kovsies so ver almal verloor het, is nog ’n voorbeeld dat nie alle Afrikaners nié bereid is om die moue op te rol nie.

Is die probleem nie eerder op ’n ander vlak nie?

Die bekende rubriekskrywer Max du Preez het hom besonder bitterbek oor Solidariteit en AfriForum se “staatskaping van die Afrikaner” uitgespreek. Die Orakel van Stellenbosch het heftig in die media geargumenteer dis nie altyd “nodig” om regte wat die Grondwet waarborg, op te neem nie. In wese kom sy argument daarop neer regte moet selektief opgeneem word om nie die vergrype van ander teen jou, en jou taalgenote, se minderheidsregte teen te gaan en konflik te veroorsaak nie. In ’n hofsaak teen Afrikaans op kampusse is selfs geargumenteer “die klein minderheid” “misbruik” hul regte om die groter geheel te ontstel.

’n Kopdoekgeklede analis het geskryf diegene wat so op hul regte staan, misbruik hul grondwetlike regte om die pilare van ’n liberale grondwet om te trek. (Die ene val buite die uwe se begripsvermoë).

Presies hoe groot is die Afrikaner se ruimte om sy grondwetlike minderheidsregte uit te leef as dit politiek inkorrek is (en dis sagkens gestel)?

Maak dit hom lamsakkig as hy keer op keer verguis word soos om weens sy velkleur (wit en bruin) die agterdeur gewys te word wanneer hy ’n bydrae wil lewer deur daarvoor ’n arbeidsame beroep te wil beoefen?

Hoe verdien ’n persoon wat hard gewerk en toe vir hom ’n plaas gedeeltelik op skuld gekoop het, om te moet hoor hy het die grond gesteel en dat dit sonder kompensasie “teruggevat” moet word. En dit nogal deur die nasate van diegene wat grond by die Khoisan afgeneem het?

In alle billikheid is daar geen aanduiding dat Olivier die Afrikaner van lamsakkigheid beskuldig nie, maar die land se mense in geheel, en veral diegene wat nie ANC is nie, maar ook nie die ANC se vergrype teengaan nie.

Maar die land in sy heterogeniteit is heeltemal te kompleks om bloot ’n verdeling tussen die ANC (en ’n paar surrogaatpartytjies) en die res te tref. Ja, dis ’n belangrike speelveld wat nie geïgnoreer kan word nie, en trouens baie energie verdien.

Maar daar is ook baie ander soorte dinamika, soos die Solidariteit-DKD-saak getoon het. So belangrik soos die uitslag was, so met ’n bek vol tande het politieke partye gestaan wat eintlik ’n reuse-belang daarby gehad het. Omtrent net die Vryheidsfront Plus het standpunt ingeneem.

En dis nie asof wit en bruin in ’n land wat veronderstel is om nierassig te wees vir die moeilikheid gaan soek het nie. Die blatante diskriminasie is gewoon afgedwing. En dis maar die oortjies van die seekoei.

In die partypolitieke sfeer word minstens sommige partye weens die demografie egter op sommige terreine effektief lamgelê, en word die rol van die burgerlike instellings groter, hoewel nie noodwendig plaasvervangend nie. (Internasionaal word die rol van burgerlike instellings saam met die media as ’n integrale deel van ’n grondwetlike demokrasie gereken.)

Selfs die media, ’n belangrike bousteen van die demokrasie, is aan ’n balanseertoertjie onderhewig. Word te veel na die een kant oorgehel, trek die intellektuele stywelip. Word te veel na die ander kant oorgehel, beland die koerant in ’n onverkwiklike oorlog met ’n groot deel van sy leserskorps.

Waarvoor daar nié ruimte is nie, is om met handjies gevou te sit.

Daar ís vir elkeen ’n rol. Die een kan bekostig om deur bydraes aan burgerlike instellings (en afgesien van Solidariteit en AfriForum is daar onder meer Freedom Under Law, Outa en vele meer), die skryf van briewe aan die media soos wat Olivier gedoen het, deelname aan die partypolitiek, die goeie behandeling van huishulpe, tuinwerkers en ander arbeiders; in die algemeen deur goeie gedrag help bou aan ’n gesindheid bevorderlik vir versoening.

En ook waar daar buurt- en plaaswagte is na die beste van jou vermoë deel te neem ter beveiliging van gemeenskappe.

Freedom Under Law se waarde word byvoorbeeld nou weer gedemonstreer waar dié organisasie, saam met die Helen Suzman-stigting, die howe nader om die nasionale direkteur van openbare vervolging geskors te kry na aanleiding van die abortiewe poging om minister Pravin Gordhan en ander vervolg te kry. Die gevolg is nou ’n vreeslike gegooi van die ander vir die wolwe, wat toon wie almal ’n vleisie op hierdie kole het.

Elkeen kan sy plig volgens sy talente en vermoë doen, en geen bydrae is te gering nie.

Ons is nie (almal) papbroekig nie!

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

KP ·

Ek is bevrees dit gaan nog te goed, maar wag dit gaan nog baie slegter gaan en dit gaan ons dwing om
saam te staan, of tenminste probeer om saam te staan.

JC ·

BAIE BAIE DANKIE HERMAN VIR JOU ARTIKEL!!
-ONS IS NIE ALMAL PAPBROEKE NIE-

miv ·

Stem saam met jou Herman, indien elkeen van ons met ‘n goeie gesindheid die beste van onsself gee, sal dit een of ander tyd ‘n impak op die samelewing maak.

m ·

Wat stel meneer voor doen ons as papbroeke. Die simpatie le lankal nie meer by ons nie . Ons waardes is anderste as hierdie mense ‘wat net moor en roof en niks voel vir enige iets nie… So wat stel jy voor doen ons minderheid teen die menigte?????

Herman Toerien ·

@m Ek stel voor jy lees die stuk. Die voorstele is daarin vervat.

Marinda ·

Al van die Voortrekkers se dae af, kon die Afrikaners nog nooit saamgestaan het nie. En dit is en was ons ondergang. Ons is dankbaar vir die mense van Solidariteit wat nie net Gods water ook Gods akker laat loop nie. Dit raak egter nou tyd dat ons uit een mond begin praat en doen.

Griet ·

ek is nou moeg van mense wat sê:”ja, ons ou afrikaner volkie kan nie saamstaan nie”. Ek is keelvol daarvoor. Hou op kerm, jy. Ons staan saam. Ons kan saamstaan. Dalk kan jy nie saamstaan nie, maar ek staan saam. Demmit. Ons sal saamstaan en ons sal opbou soos ons nog altyd gedoen het.

Henry ·

Dankie Griet!

Ek is net so moeg en verveeld met die klakouse wat aljimmers beweer dat ons nie kan saamstaan nie.

Eensgesindheid onder volkere is ‘n rariteit en is meesal beperk tot gebeure wanneer ‘n volk en sy mense se voortbestaan bedreig word. Politieke partye met wyd uiteenlopende doelstellings en oortuiginge binne die grense van ‘n nasionale staat dien tog as een van talle voorbeelde waarom daar geen volk of staat bestaan, wat op sogenaamde eensgesindheid aanspraak kan maak nie. Verdeeldheid en die afwesigheid van eensgesindheid kan nie beter geïllustreer word, as die onlangse Brexit referendum en die Presidentsverkiesing in die VSA nie.
So, basta met al die geneul oor ons gewaande verdeeldheid!!!

Ou Varkerasie Genootskap ·

Geagte mnre Toerien en Olivier,

Ons Ou Varkerasies van die Genootskap van Varkerasie Reg en Geregtigheid wens u geluk met u nie-papbroek artikels. Ons hou van ‘n soogdier Homo sapiens sapiens met murg in sy pype en ‘n opbouende kreatiewe visie en agiele strategie.

Terloops, ons Varkerasies se voorouers het ons vertel van hoe sekere groepe Homo sapiens sapiens gronde van die KhoiKhoi en die San in die noord-ooste van Suid-Afrika reeds voor 1652 al gekolonialiseer het.

humor ·

Alles wat varkerasieagtig is gee vir my n pyn in die nek. Eet selfs nie eens varkvleis nie. Moenie jul aan die kopdoekgeklede steur nie hy sukkel nog om n gesonde selfbeeld. Ja mnr Olivier is in n baie groot mate reg en dit gaan nie maar net om saam te staan nie. Dit gaan om nie half kop in die grond te staan as daar van die Afrikanervolk gepraat word nie. Die trots en die erkenning van wie jy is en om selfs daarvoor op alle tereine te veg en uit te bou. Voordat ons nie eers ons eie Godgegwe identiteit besef nie is daar niks voor om saam te staan en op te offer nie. Ons krag le eenvoudig daarin opgesluit.

Klippers ·

In die Kaap het bitter min Afrikaans oorgebly. Naspers se belange is hoofsaaklik in die buiteland en die US, UWK, CTUT, KWV en SANLAM/SANTAM is alles in Engelsgesinde hande. Nêrens by enige toeriste attraksie sal jy enige Afrikaans meer sien of hoor nie, tensy jy aandring op Afrikaanse diens. Afrikaans en die Afrikaner is presies terug waar ons meer as ‘n 100 jaar gelede was. Die Afrikaner SELF dra die grootste skuld hiervoor. Ek weet ook van ten minste 6 jong Afrikaners wat in die Ooste Engels gee. Die taal wat ons grootste vyand behoort te wees.

Henry ·

Gelukkig verteenwoordig die “Kaap” nie hierdie droewe land nie en nog minder – sy Afrikaner inwoners nie.

Daar is inderdaad volop lewe en baie skop anderkant die Hexrivier gebergtes.

Elo Quinn ·

Die probleem is dat almal altyd die ANC uitsonder maar in absolute ontkenning verkeer oor die onderdrukking waaraan die DA ons onderwerp. Jy is net in die tel as jy genoeg geld of posisie het. Helen Zille het my op Twitter beswadder en toe geweier om verskoning te vra toe sy verkeerd bewys is met ‘n amptelike dokument. Ek het opgestaan vir die regte van gestremdes en ander met beperkte beweeglikheid. Dit is nie NET die ANC wat wanpresteer nie – net in hierdie week was ‘n hotel in Seepunt vir drie dae sonder krag. Die traagheid van die Stad Kaapstad, die onbekwaamheid, soms die weiering om verantwoordelik op te tree, skrei ten hemele. Hulle skreeud dat een of ander ANC-lid moet bedank maar sit vasgekleef aan DA-stoele terwyl hulle ook wanpresteer. Dit is tyd dat ons land totale nuwe regering kry, maar daar is min ware leierskap oor. Ek is gebrandmerk omdat ek opstaan vir die regte van minderhede rondom my. Mede-Afrikaners verguis my omdat ek te “radikaal” is. Hulle sal mor en kerm in die pragtige Kaapstad as daar net ‘n windjie roer maar is te papbroekig om die onderpresterende Stadsraad aan te vat. Op spitstyd staan ‘n horde verkeerskonstabels en gesels onder ‘n boom in die agterplaas van hulle depot terwyl kapenaars soos gewoonlik chaoties ry in die verkeer.

Hendrik ·

Afriforum moes die Kaapstad stadsraad help om die rioolprobleem in Houtbaai op te los.

Johannes Meintjes ·

Dankie Herman. Papbroekigheid inderdaad nie noodwendig nie, – maar blinde apatie en verwarring vra perspektief, visie, rigting en oortuigende leiding in eenparige erns. Mooi aksies is gaaf, maar die onderlinge agendatjies wat verdeel en indoktrineer, of steeds agterdog wek, moet nog met baie groter objektiewe doelmatigheid aangespreek word sodat AfriForum, OUTA en die “rand-eier groepies” beter en elkeen reg insgespan kan saamtek, asb.

Evert ·

Ag man ons kla tog te lekker, maar vra ons om betrokke te raak by ons gemeenskapsorganisasies en jou deel te doen vir “volk-en-vaderland”? Ons het te gemaksugtig geword, so moenie kla as jy nie jou kant wil bring nie.

John ·

Daar is nie net wit en swart in die land nie. Miskien is dit tyd dat die Kleurlinge waaronder verskillende groepe sorteer en nie almal Afrikaans praat nie, hul eie sake op die hart begin dra en vir hul saak veg. Die Afrikaners word alleenlik geteiken omdat hulle namens die ander groepe praat sonder hul toestemming, maar tog pluk hulle die voordele daarvan. Ons gaan ongelukkig net nadele daarvan oorhou want sodra probleme voordoen gaan ons dit hoor. Waarom heeltyd verwys na ons en die bruinmense asof ons hul hoeders is. Dit kom nie net meerwaardig voor nie, maar dit gaan ons later in ‘n ondergeskikte rol indwing.

Egbert ·

Hoewel die Afrikaner geen kans het om ‘n verkiesing te kan wen nie toon hy geen teken dat hy, soos in die VSA en Brexit, in opstand begin kom teen die gevestigde belange (establishment) wat vir hom voorskryf hoe hy moet dink nie. Hier is dit die historiese kerke, Naspers en die DA. In die VSA het hulle teen die wense van hul leraars, die massamedia en selfs van die Republiekeinse voorbokke gerebelleer en vir hulle belange gestem!

Lewies ·

Julle het van die “klaasvakies” , die kortsigteges en die gulsiges in Afrikanergeledere vergeet. Daar is een belangrike saak wat ons moet onthou. Mense is van nature op hulle eie belange ingestel. Hoe meer ek “oppot” vir my en my familie, hoe minder sal ek sukkel as ek die dag uittree. Die regeermag van ‘n volk word van hom af weggeneem as hy nie doen wat hy veronderstel is om te doen nie. Sy sekondere-regeer-mandaat kry hy van die volk deur die stembus, maar sy Primere-Mandaat kom van die Skepper van hemel en aarde. Sy wil moet baie meer in gedagte gehou word as die wil van die volk. Of demokratie in sy huidige vorm laasgenoemde kan laat gedy, is ‘n ope vraag? Leer uit die geskiedenis en moenie naif wees oor hierdie saak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.