Nuuskommentaar: ‘Business as usual’ vir president

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Ná pres. Jacob Zuma die jongste mosie van wantroue in die parlement oorleef het, het ’n lang rits koerantopskrifte gelui dat dit nou weer “business as usual” vir Zuma is. Tydens sy een en meer as ’n half voltooide termyne as president het dié soort opskrifte egter dikwels gedien as die “reset”-knoppie om te beskryf dat ’n terugslag niks aan Zuma se styl sou verander nie.

Dit beteken ook hy leer nie die regte dinge uit die lesse nie. Hy het verskeie kere gespog dat hy eintlik goed as president vaar, en selfs ook gesê “niemand” sê vir hom wat hy verkeerd doen nie. So asof iemand wat struktureel naby die president in die stelsel van patronaatskap ingebind is, dit kan waag om sy mond oop te maak. Dis die eerste vorm van “business as usual”.

Trouens, ds. David Kuyler van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) skryf vandag in Netwerk24 dat die regering hom aan ’n tronkbende laat dink – ’n bende wat absolute lojaliteit opeis. Kuyler het 30 jaar ondervinding van werk in tronke.

Dit is baie duidelik dat daar heelwat ANC-leiers is wat die konstitusionele hof se uitspraak oor geheime stemming en LP’s se verantwoordelikheid om ooreenkomstig hul gewete te stem wil respekteer. Trouens, die topbestuur het formeel so besluit.

Tog brom Zuma steeds dat die “afvalliges” uitgesnuffel en gestraf moet word. Sy eie (tronkbende) se reëls moet voorrang bo die Grondwet en konstitusionele hof kry.

En dis nog een vorm van “business as usual”.

’n Derde vorm is om die een meesterplan ná die ander uit te rol om die ekonomie weer op dreef te kry, maar dat min of meer niks met die uitrol gebeur nie. “Business as usual” het selfs beteken dat ten minste sekere ministers planne kon beraam en ten uitvoer bring wat die Nasionale Ontwikkelingsplan in die hart skiet, soos min. Davis se verskerpte kontroles oor mikro- en kleinsake-ondernemings wat dié ondernemings burokraties doodsmoor.

Beteken dit dat die land maar doodgerus kan gaan slaap oor “planne” waarin Zuma sentraal staan, soos “radikale ekonomiese transformasie”, die bevegting van “witmonopolie-kapitaal” en die onteiening van grond sonder vergoeding? Dat daar niks hiervan sal kom nie?

Al meer “kandidate” wat aanspraak maak daarop om in Desember as Zuma se opvolger as president van die ANC aangewys te word, maak nou soortgelyke geluide, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma bepleit dit openlik.

Gaan “business as usual” ook “onder nuwe bestuur” beperk bly tot gevaarlike, los bekpraatjies, wat beleggers en graderingsagentskappe baie senuagtig maak, maar tog onuitgevoer in die lug bly hang?

Of gaan Zuma se opvolger erns maak daarvan om van hierdie planne, of planne van sy eie, tot uitvoer te bring? Of het die amptenary wat veronderstel is om die planne en ideale te verwesenlik al so in sy gemaksone van niks doen en stagnasie vasgeval dat dit besonder moeilik is om iets konkreets te laat gebeur?

Trouens, in ʼn stadium was dit “gebruik” van Zuma en sy ministers om nuwe planne aan te kondig as “business as unusual” (saam met “doing things differently”, wat daarop gedui het dat hulle besef het die “usual” beteken dat daar nie uit die wegspringblokke gekom kan word nie. Die “unusual” het egter net so min geslaag, en sedert 2012 is dié “slimmigheid” nie meer so dikwels ingespan nie, want dit het die geneigdheid om te boemerang.

Hoe stagnerend die “business as usual” kan wees, blyk uit ’n artikel van Luoyole Mkentane in IOL op 3 November verlede jaar. Dit klink of hy dit vandag kon neergepen het:

“Embattled President Jacob Zuma appears unfazed as the noose tightens around his scandalous presidency.

“Zuma, who is facing sustained clamour to step down, is leading a delegation of ministers to the inaugural session of the South African-Zimbabwe Bi-National Commission in Harare.

“Political analyst Ralph Mathekga said Zuma was caught between ‘a rock and a hard place because he has to maintain business as usual (approach), appear strong, certain and confident’.”

Vandag, so lyk dit egter, skyn dit asof Zuma ’n tipe gemaksone gevind het tussen die duiwel en die diep blou see – kritiek en druk op Zuma wat ander sou laat knak, is soos water van die eend se rug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nico ·

Dit laat my dink hoekom hy ontasbaar is nelson mandela en thabo mbeki het nie die land geregeer nie dit is deur zuma ondergronds gedoen hulle is gebruik om die anc te laat goed lyk toe zuma sien dinge gaan agteruit kom hy te voorskyn laat mbeki fire

Grassie ·

Zuma vertoon op die oog af heel rustig, asof hy hom maar net met sy daaglikse pligte besig hou, maar ek vermoed dit is oëverblindery. Hy is ‘n meester-manipuleerder en ek dink hy werk volstoom aan die groot vergadering aan die einde van die jaar wat hom kan maak of breek. Hy praat nie met die gepeupel nie want hulle self stem nie op daardie vergadering nie. Die stemgeregtigdes is afgevaardigdes van die ANC-takke landswyd en dit is die werksveld waar hy en sy kornuite besig is met knoeiwerk en manipulasie, nie net nou nie maar al lankal. Moontlike teenstanders word vervang, soms deur intimidasie maar ons het al dikwels ook gelees dat daar soveel politieke moorde gepleeg word dat sommige regeringsleiers al gevra het dat daar ‘n eenheid gestig moet word om dit te ondersoek. Daar het egter dadels van gekom. Zuma beheer die vervolgingsgesag en as ‘n mens kyk na die vervanging van bevelvoerders van midaadintelligensiehede beséf jy hoe diep sy tentakels orals ingedring het. Daar is ‘n moontlikheid dat die uitslag van die stemmery in Desember nie noodwendig die wil van die stemvee daar buite gaan weerspieël nie.
Zuma weet as iemand wat hom nie goedgesind is nie in Desember die oorhand kry, en hy nie ‘n amnestie kon bewimpel nie, hy sal moet laat waai na Dubai om uit die tjoekie te bly.

Anoniem ·

Grassie, jy kan ook maar vir Maroela Media begin skryf, Jy het goeie insig.

jack daniel ·

ds. David Kuyle, wat verwag jy – almal is eintlik kriminele (bomme en landmyne geplant, treinspore op ggeblaas, ens) wat terug gekom het uit excile om te Kom sakke vol maak.

Kannaland ·

Dankie vir die interessante insigte. Laat oom Harry ons inlig oor sy uitslag gister, baie van ons dink aan hom.

Herman Toerien ·

Dankie Kannland. Ek waardeer baie. Ek het toe ‘n drie tot vier maande “vakansie” van die chemobehandeling gekry. Die uitslae laat dit toe. Dit geskied onder streng “paroolvoorwaardes” wat oa behels dat redelik omvattende bloedtoetse een keer per maand gedoen word, en sodra die syfers begin versleg sal die behandedeling hervat word. Die chemo van die een kanker en die hormooninspuitings van die prostaatkanker (wat in remissie gebring is) sal omtrent gelyk uitwerk en ek hoop dat ek dan in die “vakansie” heelwat kragte kan herwin, en newe-effekte van die twee behandelings kan afwerk. Vandag is my hande bv gereeld pynlik saamgetrek vd krampe. En tog, volgens die dokter, het ek guns van die Here ontvang om a soveel beter te wees – die behandeling vd twee soorte kanker gelyk was kompleks en moeilik. Almal se gebede sal waardeer word.

Kannaland ·

Dankie vir die terugvoer en mag die syfers verbeter en n volle herstel voorle!

dovaz ·

Herman Toerien ons sal defnitief jou in ons gebede hou. Ek sal dit aan ook aan ons gebed groep stuur. Sterkte en onthou GOD IS DIE GROOT GENEESHEER EN BY HOM IS NIKS ONMOONTLIK NIE! Sterkte!!!

Spyker ·

Het sopas jou antwoord gelees. Herman alle sterkte…… vir n goed geleerde mens kom jy voor as iemand met n mooi Hart wat mense laat dink. Xxx

Spyker ·

Nonsens man..ek sukkel n bietjie met geld van tyd tot tyd . hard gewerk en studeer maar somtyd werk dinge nie uit nie.hoe kan die man so ryk word en soveel mag he met n minimale opvoeding?

Spyker ·

Asb verskei tussen my 2 kommentare….1 was vir Herman en 1 vir Stortford..

John ·

Groot woede broei en pres Zuma het reeds gewaarsku dat dinge nie ‘business-as-usual’ gaan wees na Desember nie. Die aanstelling van sy veiligheidswag as hoof van die Valke dui daarop. ‘n Heksejag soos nooit voorheen nie, kom. Die pers gaan in die bek geruk word en tonge gestil word. Die Zuma-hierargie gaan ingebed word tot in die vierde geslag met behulp van guruiaanse helpers. Vreemde tye wag…

Breytie ·

Herman,
Drink elke oggend op jou nugter maag suurlemoensap verdun in ‘n bietjie water. Dit help om jou liggaam alkalies te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.