Nuuskommentaar: By wie staan ons? Die Caster‑ en Steve-gevallestudies

Caster Semenya. (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Die hantering van ’n wilde turksvy met sy lang, skerp dorings (om welke aardse rede ook al) is ’n vulletjie in vergelyking met die vind van konsekwente, regverdige norme vir die situasies van saakmakende verwerping én ondersteuning wat twee uitsonderlike mense, Caster Semenya en Steve Hofmeyr nou te beurt val.

Ja, dis soos om appels met pere te vergelyk, maar beide is sagte vrugte.

Daar is ooreenkomste in die reaksies op die jongste teenspoed wat hulle te beurt geval het, maar die steun en weerstand kom nie van dieselfde groepe nie.

In welke mate speel die twee se ras ’n rol in wie hoe reageer? En wat is regverdig teenoor die individue en die land se diverse gemeenskappe?

In hoe ’n mate is daar sekere ooreenkomste in steun vir kwotas om ’n regverdige uiteinde te probeer bereik in ’n proses wat ander se talente en harde werk doodgewoon in die aarde in vertrap.

Caster

Jare gelede het ’n wêreldklas-tennisspeelster in die sop beland toe sy, soos gebruiklik, die onderspit teen die nog bekender Martina Navratilova gedelf het, en sy gesê het dis moeilik om teen ’n man te speel. Martina het geen geheim gemaak van haar homoseksuele geslagsvoorkeur nie.

Jare lank het storm op storm gewoed oor vroue-atlete uit die Kommunistiese blok wat manlike hormone toegedien is om aan hulle ’n onregverdige voordeel te verskaf. Dit druis in teen van die mees basiese waardes van sportmangees.

’n Kleed van geheimhouding is getrek oor presies wat veroorsaak dat Caster op ’n natuurlike wyse hoë testosteroonvlakke het, al het aspekte van die verslag skynbaar soos ’n sif gelek. Caster is ook met ’n vrou getroud.

Ten spyte van haar uitsonderlike vertonings in die middelafstande, vergelyk haar rekordtye nie met wêreldklastye deur mans opgestel nie. Die 800 meter‑manswêreldrekord staan nou op 1:40:91, terwyl Caster se beste tyd oor dieselfde afstand byna 15 sekondes stadiger is. Haar tye is nie veel beter as die 800 m‑tye van ’n baie goeie matriek seunsatleet nie. Selfs die wêreldrekord in die 800 m vir vroue, wat (sedert 1983) deur die Tsjeg Jarmila Kratochvílová gehou word, is veel stadiger as die mans se rekord. (Dit beteken die vroue-kampioen sou oor 800 meter meer as 100 meter ná die manskampioen klaarmaak.)

Hoeveel Caster se hoë testosteroonvlakke haar bo ander vroue-atlete bevoordeel, is moeilik om te bepaal, en ook ’n kwessie van groot omstredenheid. Toe sy voorheen gedwing was om met normale vlakke deel te neem, het sy effektief van die toneel verdwyn.

Caster word oor ’n wye front gesteun, ook van regeringskant.

Ongelukkig kan die regering nie sonder besoedelde hande aan hierdie gesprek deelneem solank rassekwotas as instrument opgedwing word om deelnemers op grond van ras deelname te skenk nie. Teenstanders van hierdie praktyk wys daarop dat regverdigheid eerder bereik sal word as die regering sorg dat behoorlike sportgeriewe by skole bestaan, en kinders van daar af behoorlike afrigting kry.

Dis lank nie die einde van die pad nie. Die enigste vier Vrystaatse judokas wat Suid-Afrika op die Afrikaspele verteenwoordig wat nou in Dakar, Senegal, plaasvind, is drie arm swart seuns en ’n bruin kinderhuisdogter. Die vier se deelname aan die Spele se koste beloop ongeveer R150 000, iets wat ver buite enige betrokkene se vermoë was.

Was dit nie dat Tammy Wessels, Vrystaatse LPW van die Vryheidsfront Plus, van die dilemma bewus gemaak is nie, en gehelp het dat die premier die bedrag uit haar eie begroting vir jeugontwikkeling goedgekeur het nie, was die vier en hul sensei nie nou in Dakar nie, en die Vrystaat nie verteenwoordig nie. Hierdie weergawe vertel nie die volle verhaal van hoe Wessels lang tye self betrokke was om hindernisse te oorkom nie. (Hoe eers ’n regeringsamptenaar se lyf-wegstekery, en toe die handelsbank se onbeholpenheid, die deelname byna verongeluk het en die proses deur ’n persoonlike lening deur ’n goedgesinde beredder moes word, is nog ’n verhaal op sy eie, en kon die spertye net-net gehaal word.)

Kortom, daar is veel meer struikelblokke as die sleureffek wat ras vanuit die vorige bedeling op verteenwoordigende deelname nou sou hê, waar die regering kan vinger trek.

Kortom, hoeveel merietegevalle waar natuurlike talent en harde werk die norm is, moet nou volgens die regering en ander die agterspeen opsoek omdat Caster se hoë vlakke van manlike hormone haar glo ’n voorsprong bied? En as dit haar nie ’n voorsprong bied nie, sou die afbring daarvan na natuurlike vlakke haar mos ook nie kon benadeel nie.

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Steve

Die afgelope paar weke is genoeg oor Steve se kontroversie, en selfs nog meer kontroversiële stappe wat teen hom gedoen is, geskryf om die spreekwoordelike skip te sink.

Waar sportmangees in die Caster-omstredenheid ’n groot rol moes speel, geld in Steve se geval die rol wat “die gewete van die volk” by kunstenaars behoort te speel. Natuurlik geld veel meer beginsels.

Hoewel daar groot verskille tussen die twee gevalle is, veroorsaak verskeie faktore dat ’n mens nie anders kan nie as om te wonder hoe ’n groot rol die raskwessie speel dat daar by die regering so ’n uiteenlopende reaksie op die twee gevalle is. Dis letterlik ’n verskil van omarming teenoor afstoot.

Dit val boonop saam met soveel ander gevalle van ras-onewehandige optrede soos die kwytskelding van Julius Malema aan haatspraak, die registrasie van die BLF om aan die verkiesing deel te neem in weerwil van ’n wetlike verbod op partye wat ras as norm vir lidmaatskap stel, die aansoek dat die ou landsvlag verbied moet word, en vele meer.

Bewustelik of onbewustelik word die indruk geskep dat die regering die wêreldmening sal trotseer as die persoon wat in die kontroversie staan, swart is.

Slotopmerkings

Solank saakmakende aspekte van Caster se mediese toestand (bekend as hiperandrogenisme volgens die Vlaamse De Standaard) geheim gehou word, kan daar byvoorbeeld nie oor haar eie aanspraak dat sy “onteenseglik vrou is” geoordeel word nie, veral as van die gelekte inligting op die teendeel wys.

Oor wat regverdig is, en wat nie, moet mooi besin word. In Caster se geval word aangevoer dat sy aan iets ly waaraan sy “niks kan doen nie”. Maar beteken dit dat iemand sonder bene aan ’n gewone 100 m‑wedloop met ’n gemotoriseerde karretjie moet kan deelneem omdat hy niks daaraan kan doen dat hy nie bene het nie? Die internasionale reg erken immers dat ’n kleurblinde se reg op gelykheid nie kan verhinder dat sy kleurblindheid hom uitskakel as vlieënier nie, en ’n kort persoon as lugwaardin uitskakel omdat sy nie die rakke vir kajuitbagasie kan bykom nie.

Onewehandigheid het nie plek in ’n heterogene (of politiek meer korrek, diverse) gemeenskap nie. Diegene wat Steve boikot kan hulself nie moreel tot die hoë grond verhef solank hulle swart kunstenaars wat aan ras-uitsluitlike professionele verenigings behoort, omarm en dit nie-rassige optrede probeer noem nie. Nie terwyl daar ’n onwelriekendheid uit die BLF se onwettige registrasie vir verkiesingsdeelname trek nie.

En ja, veel kan opgelos word deur klippies uit die skoen te skud, maar deur dit só te doen dat dit nie onnodig provokatief is nie.

Miskien is dit weer tyd dat meningsvormers ’n slag die toets van hoe die “redelike mens” op die realiteite behoort te reageer, inspan. Maar dis makliker gesê as gedaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Ek ondersteun Kaster as sy in die manskategorie deelneem of in n derde kategorie vir non-binary geslagte. Steve het my ondersteuning 100 persent en daarom het ek my dstv gestop.

Krater

HOE KAN JY DIE TWEE VERGELYK? DIT GAAN NOU WEER RASSISTIES UITDRAAI!!

MULTICHOICE BOELIE Steve agv sy politieke siening.

Caster se TESTOSTEROON is te veel en sy mag nie teen ander deelneem wat MINDER as sy het nie . so hoe wil julle dit nou vergelyk?

John

Ria, jy slaan die spyker op die kop. Afrikaans bly maar net oulik.

Mariné Lourens

Dagsê Ria Maritz

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra groot om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Andreas

Herman, wat ons nou al vir jare sien, en toenemend die afgelope tye is dat dit ysigwekkend is hoe die ANC regering (met die DA in hul skaduwee) swart dryf, as mens swart is en veral ‘n presteerder ‘of te not’, maak nie saak hoe hulle daar gekom het nie, sal hulle jou verguis en als in hul vermoë doen as daardie blootstelling wat hulle kry in gevaar is, maar hulle dryf dit nie met dieselfde oorgawe as die persoon wit en veral Afrikaans, sou wees nie. Wat die afgelope jare toenemend blyk, Skole, enigsins waar Afrikaans by betrokke is,… Lees meer »