Nuuskommentaar: By wie staan ons? Die Caster‑ en Steve-gevallestudies

Caster Semenya. (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Die hantering van ’n wilde turksvy met sy lang, skerp dorings (om welke aardse rede ook al) is ’n vulletjie in vergelyking met die vind van konsekwente, regverdige norme vir die situasies van saakmakende verwerping én ondersteuning wat twee uitsonderlike mense, Caster Semenya en Steve Hofmeyr nou te beurt val.

Ja, dis soos om appels met pere te vergelyk, maar beide is sagte vrugte.

Daar is ooreenkomste in die reaksies op die jongste teenspoed wat hulle te beurt geval het, maar die steun en weerstand kom nie van dieselfde groepe nie.

In welke mate speel die twee se ras ’n rol in wie hoe reageer? En wat is regverdig teenoor die individue en die land se diverse gemeenskappe?

In hoe ’n mate is daar sekere ooreenkomste in steun vir kwotas om ’n regverdige uiteinde te probeer bereik in ’n proses wat ander se talente en harde werk doodgewoon in die aarde in vertrap.

Caster

Jare gelede het ’n wêreldklas-tennisspeelster in die sop beland toe sy, soos gebruiklik, die onderspit teen die nog bekender Martina Navratilova gedelf het, en sy gesê het dis moeilik om teen ’n man te speel. Martina het geen geheim gemaak van haar homoseksuele geslagsvoorkeur nie.

Jare lank het storm op storm gewoed oor vroue-atlete uit die Kommunistiese blok wat manlike hormone toegedien is om aan hulle ’n onregverdige voordeel te verskaf. Dit druis in teen van die mees basiese waardes van sportmangees.

’n Kleed van geheimhouding is getrek oor presies wat veroorsaak dat Caster op ’n natuurlike wyse hoë testosteroonvlakke het, al het aspekte van die verslag skynbaar soos ’n sif gelek. Caster is ook met ’n vrou getroud.

Ten spyte van haar uitsonderlike vertonings in die middelafstande, vergelyk haar rekordtye nie met wêreldklastye deur mans opgestel nie. Die 800 meter‑manswêreldrekord staan nou op 1:40:91, terwyl Caster se beste tyd oor dieselfde afstand byna 15 sekondes stadiger is. Haar tye is nie veel beter as die 800 m‑tye van ’n baie goeie matriek seunsatleet nie. Selfs die wêreldrekord in die 800 m vir vroue, wat (sedert 1983) deur die Tsjeg Jarmila Kratochvílová gehou word, is veel stadiger as die mans se rekord. (Dit beteken die vroue-kampioen sou oor 800 meter meer as 100 meter ná die manskampioen klaarmaak.)

Hoeveel Caster se hoë testosteroonvlakke haar bo ander vroue-atlete bevoordeel, is moeilik om te bepaal, en ook ’n kwessie van groot omstredenheid. Toe sy voorheen gedwing was om met normale vlakke deel te neem, het sy effektief van die toneel verdwyn.

Caster word oor ’n wye front gesteun, ook van regeringskant.

Ongelukkig kan die regering nie sonder besoedelde hande aan hierdie gesprek deelneem solank rassekwotas as instrument opgedwing word om deelnemers op grond van ras deelname te skenk nie. Teenstanders van hierdie praktyk wys daarop dat regverdigheid eerder bereik sal word as die regering sorg dat behoorlike sportgeriewe by skole bestaan, en kinders van daar af behoorlike afrigting kry.

Dis lank nie die einde van die pad nie. Die enigste vier Vrystaatse judokas wat Suid-Afrika op die Afrikaspele verteenwoordig wat nou in Dakar, Senegal, plaasvind, is drie arm swart seuns en ’n bruin kinderhuisdogter. Die vier se deelname aan die Spele se koste beloop ongeveer R150 000, iets wat ver buite enige betrokkene se vermoë was.

Was dit nie dat Tammy Wessels, Vrystaatse LPW van die Vryheidsfront Plus, van die dilemma bewus gemaak is nie, en gehelp het dat die premier die bedrag uit haar eie begroting vir jeugontwikkeling goedgekeur het nie, was die vier en hul sensei nie nou in Dakar nie, en die Vrystaat nie verteenwoordig nie. Hierdie weergawe vertel nie die volle verhaal van hoe Wessels lang tye self betrokke was om hindernisse te oorkom nie. (Hoe eers ’n regeringsamptenaar se lyf-wegstekery, en toe die handelsbank se onbeholpenheid, die deelname byna verongeluk het en die proses deur ’n persoonlike lening deur ’n goedgesinde beredder moes word, is nog ’n verhaal op sy eie, en kon die spertye net-net gehaal word.)

Kortom, daar is veel meer struikelblokke as die sleureffek wat ras vanuit die vorige bedeling op verteenwoordigende deelname nou sou hê, waar die regering kan vinger trek.

Kortom, hoeveel merietegevalle waar natuurlike talent en harde werk die norm is, moet nou volgens die regering en ander die agterspeen opsoek omdat Caster se hoë vlakke van manlike hormone haar glo ’n voorsprong bied? En as dit haar nie ’n voorsprong bied nie, sou die afbring daarvan na natuurlike vlakke haar mos ook nie kon benadeel nie.

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Steve

Die afgelope paar weke is genoeg oor Steve se kontroversie, en selfs nog meer kontroversiële stappe wat teen hom gedoen is, geskryf om die spreekwoordelike skip te sink.

Waar sportmangees in die Caster-omstredenheid ’n groot rol moes speel, geld in Steve se geval die rol wat “die gewete van die volk” by kunstenaars behoort te speel. Natuurlik geld veel meer beginsels.

Hoewel daar groot verskille tussen die twee gevalle is, veroorsaak verskeie faktore dat ’n mens nie anders kan nie as om te wonder hoe ’n groot rol die raskwessie speel dat daar by die regering so ’n uiteenlopende reaksie op die twee gevalle is. Dis letterlik ’n verskil van omarming teenoor afstoot.

Dit val boonop saam met soveel ander gevalle van ras-onewehandige optrede soos die kwytskelding van Julius Malema aan haatspraak, die registrasie van die BLF om aan die verkiesing deel te neem in weerwil van ’n wetlike verbod op partye wat ras as norm vir lidmaatskap stel, die aansoek dat die ou landsvlag verbied moet word, en vele meer.

Bewustelik of onbewustelik word die indruk geskep dat die regering die wêreldmening sal trotseer as die persoon wat in die kontroversie staan, swart is.

Slotopmerkings

Solank saakmakende aspekte van Caster se mediese toestand (bekend as hiperandrogenisme volgens die Vlaamse De Standaard) geheim gehou word, kan daar byvoorbeeld nie oor haar eie aanspraak dat sy “onteenseglik vrou is” geoordeel word nie, veral as van die gelekte inligting op die teendeel wys.

Oor wat regverdig is, en wat nie, moet mooi besin word. In Caster se geval word aangevoer dat sy aan iets ly waaraan sy “niks kan doen nie”. Maar beteken dit dat iemand sonder bene aan ’n gewone 100 m‑wedloop met ’n gemotoriseerde karretjie moet kan deelneem omdat hy niks daaraan kan doen dat hy nie bene het nie? Die internasionale reg erken immers dat ’n kleurblinde se reg op gelykheid nie kan verhinder dat sy kleurblindheid hom uitskakel as vlieënier nie, en ’n kort persoon as lugwaardin uitskakel omdat sy nie die rakke vir kajuitbagasie kan bykom nie.

Onewehandigheid het nie plek in ’n heterogene (of politiek meer korrek, diverse) gemeenskap nie. Diegene wat Steve boikot kan hulself nie moreel tot die hoë grond verhef solank hulle swart kunstenaars wat aan ras-uitsluitlike professionele verenigings behoort, omarm en dit nie-rassige optrede probeer noem nie. Nie terwyl daar ’n onwelriekendheid uit die BLF se onwettige registrasie vir verkiesingsdeelname trek nie.

En ja, veel kan opgelos word deur klippies uit die skoen te skud, maar deur dit só te doen dat dit nie onnodig provokatief is nie.

Miskien is dit weer tyd dat meningsvormers ’n slag die toets van hoe die “redelike mens” op die realiteite behoort te reageer, inspan. Maar dis makliker gesê as gedaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Deon ·

Ek ondersteun Kaster as sy in die manskategorie deelneem of in n derde kategorie vir non-binary geslagte. Steve het my ondersteuning 100 persent en daarom het ek my dstv gestop.

Krater ·

HOE KAN JY DIE TWEE VERGELYK? DIT GAAN NOU WEER RASSISTIES UITDRAAI!!

MULTICHOICE BOELIE Steve agv sy politieke siening.

Caster se TESTOSTEROON is te veel en sy mag nie teen ander deelneem wat MINDER as sy het nie . so hoe wil julle dit nou vergelyk?

John ·

Ria, jy slaan die spyker op die kop. Afrikaans bly maar net oulik.

Mariné Lourens ·

Dagsê Ria Maritz

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra groot om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Andreas ·

Herman, wat ons nou al vir jare sien, en toenemend die afgelope tye is dat dit ysigwekkend is hoe die ANC regering (met die DA in hul skaduwee) swart dryf, as mens swart is en veral ‘n presteerder ‘of te not’, maak nie saak hoe hulle daar gekom het nie, sal hulle jou verguis en als in hul vermoë doen as daardie blootstelling wat hulle kry in gevaar is, maar hulle dryf dit nie met dieselfde oorgawe as die persoon wit en veral Afrikaans, sou wees nie.

Wat die afgelope jare toenemend blyk, Skole, enigsins waar Afrikaans by betrokke is, TV, die afgelope week het dinge maar rof gegaan, is dat die wit mense en die Afrikaner het nou geen illusie van waar hulle in die land staan nie, as hulle nog voorheen enigsins getwyfel het. Selfs ‘n eie TV uitsaaistasie behoort nou in die planne vorentoe te wees.

James ·

Dankie Herman. Ek wil graag glo dat my opmerkings elders oor Caster dalk deur jou gelees en verstaan is.

Dit het blykbaar reg bo-oor die koppe van meesste mense gevlieg…

Jou rubriek – gaan OOK reg bo-oor die koppe van die meesste mense vlieg.

Maar ek het hom.

Welgedaan.

Andreas ·

James, ek neem aan jy praat van jou kommentaar onderkant gister se berig van 1 Mei?

Ek dink jy is nou onnodig kras hier in jou skrywe teenoor Herman. Gaan lees gerus my kommentaar gister onderkant joune.

@James ·

Jy is reg James. Baie lees en verstaan wat hulle wil, nie wat jy geskryf het nie. Daar is mos ‘n gesegde ” ‘n Goeie begrip het net ‘n halwe woord nodig”, daarenteen is ‘n swak begrip ‘n struikelblok vir ware insig.
Gelukkig is mens net verantwoordelik vir wat jy gesê het en nie vir wat iemand dink jy sê nie.

Jerry ·

Die testosteroonvlakke van alle deelnemers moet dieselfde wees, anders bestaan onregverdige bevoordeling.
Wat vryheid van uitdrukking egter aanbetref is dit n ander “ball game”. Die streep wat getrek word vir politikuste/leiers van politieke partye strek baie verder en wyer as vir gewone burgers. Politikuste het meer mag (vrywaring) uit die aard van hulle aanstelling en ampte om uitsprake te maak wat hulle ideologiese standpunte bevorder, as wat dit die geval is met gewone burgers wie strenger onderhewig is aan wetsgehoorsaamheid! Die motief om dus n gewone burger se standpunte gelyk te stel aan die van n politikus is om die minste te se, of waansinnig of kranksinnig, of n kombinasie van die twee sinniges! Dit is waar die gesegde “two wrongs does not make it right” sy inslag vind teen Dirk Hermann se pogings om onregmatig die Afrikaner te betrek ter ondersteuning van Steve se verdelende standpunt teenoor JM standpunte. Dirk Hermann benut die geleentheid, nie net om die Afrikaner teen swartmense af te speel nie, maar ook om die Afrikaner se vryheid van keuse en assosiasie te manipuleer tot Solidariteit keuses van borge/maatskappye vir die bou van n Solidariteit sakeryk! Die hele Steve debakel is dus die Afrikaner nie terwille nie. Dit is Steve en Solidariteit terwille, wie die Afrikaner gebruik en agter die Afrikaner skuil!

Adam ·

Jerry, wat ‘n vreemde argument. Moet alle mense se kalium vlakke ook gelyk wees? Of wat van vroue se progesteroon en estrogeen-vlakke. Mense verskil en is nie fotostate van mekaar nie. Caster se probleem spruit uit ‘n sonderlinge oorsprong en dit is duidelik hoekom daar verhoogde testosteroonvlakke aanwesig is. of sy haarself of deur ander mense as vrou gesien word is irrelevant. Die vraag is of sy ‘n kompeterende voordeel geniet en ek glo die antwoord is ‘n eenvoudige ja en die besluit wat geneem is, is waarskynlik korrek. Die probleem wat die presedent nou skep is of die besluit konsekwent toegepas kan word en of die kompeterende voordeel op alle atletiekitems of selfs ander sportsoorte teenwoordig sou wees en daaroor het ek ernstige twyfel.

Andre ·

Caster se uitspraak wat 100% reg.
DSTV kan gaan vlieg, ek het fibre en stream al my goed. Go Steve!!

Melanie ·

Vertel ons ook hoe om tv op fibre te kry sodat ons ook dstv kan stop.

SYLVIA ·

Wat ‘n belaglike vergelyking, wat probeer Herman Toerien nou eintlik “bewys” dat Caster weer geregtig is op ‘n “simpatieke” gehoor en Steve net kan staatmaak op sy “kultuur” simpatie, foeitog die arme man moet eerder probeer om beide persoonlikhede beter te leer ken, moontlik mag hy dan meer wysheid kwytraak.

Boerboel ·

Ek stem saam met Krater, jy kan nie die twee vergelyk nie, Steve word om politieke redes ge-boikot oor die Afrikaans is

Willem ·

Mnr Toerien. Gaan lees gerus bietjie Nietzche se idees van “Meester en Slaaf moraliteit”. Dan hoef jy nie te wonder oor hierdie dinge nie. Vertel dan sommer vir almal daaroor in n lekker artikel.

Snip van Joburg ·

Dit is 2 verskillende goed en ek ondersteun beide want ons as mens mag ni oordèel ni.

Kraai ·

Ek ondersteun beide, maar Steve is my 1ste keuse vir ondersteuning

Knap ·

Knap, reguit en goeie rasionele argumente, Herman. Vir jou en my. Iemand het eenmaal gese ‘n rasionele argument beteken niks vir iemand met ‘n irrasionele houding.

Henriette ·

Caster het n onregverdige voorsprong. Dit moet so demotiverend wees om as wereldklas atleet teen haar te moet hardloop en WEET 2de plek die beste wat jy kan doen.
Multichoice se kleinlike kinderagtigheid en Steve het reggekry om my stem te verander al gaan hy nou minder beteken as mens luister hoe die DA ons nogal in Afrikaans probeer bang praat op Jakaranda as ons nie vir hulle stem nie. Julle voel in elk geval n veer vir die wit afrikaner as stemdag eers verby is.

rollie ·

Die twee gevalle kan glad nie vergelyk word nie. Steve veroorsaak sy eie ondergang deur sy optrede, Caster is so gebore.

Valerie ·

Hoekom dit eers ophaal? Al weer stir waar dit nie nodig is nie? Ek stem vir regverdigheid, waar en wie ookal betrokke is. Asseblief, natuurlik sal Caster nie mans se tye hardloop nie want sy val tussen biologies (en dis nie haar skuld nie) tussen die twee geslagte, so wat is jou punt nou eintlik? En wat Hofmeyr betref,;en dink nie ek ken eers een van sy songs nie, maar dat hy uitgesonder word as ‘n spesifieke teiken is duidelik, selfs aan ‘n Engelse vrou soos ek. Casper word uitgesonder met goeie rede. eenvoudig soos dit.

Jerry ·

Regdenkende Afrikaners staan nie by Caster of Steve nie omrede, die ANC by Caster staan vir swart bevoordeling en die regses by Steve vir die bou van n regse sakeryk ten koste van die Afrikaner!

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!

Die “redelike mens”-toets is ongelukkig, soos die skrywer ook laat blyk, deesdae onmoontlik. Diesulkes het stil-stil saam met die goeie ou dae verdwyn.

Andreas ·

Een voorbeel, kyk noord, dis nou na ‘n kommentaar van kort gelede.

Jr ·

Jou argiment hou nie water van man’s en vroue se tye nie simply omdat sy nie teen mans hardloop maar teen vrouens. Dis asof jy n skool meisie atleet op die begin lyn sit en Caster op die 50m lyn en dring aan die skoolmeisie moet haar wen. Onmoontlik

francois ·

Ek verstaan nie so lekker nie, moet Kasper nou sy medaljes terug gee ?

francois ·

Steve is bo !!! Die regering en sy makkers sal alles in sy mag doen om Afrikaners wat nie stilbly te probeer ruineer om hulle onvermoee om te bestuur en te regeer te verbloem .

Wesley ·

Herman, jou artikel en dan die kommentaar gelewer loop in een op mekaar hoe dinge eintlik is in die samelewing. Meeste mense hier as wit Afrikaners steun Steve bo alles omdat hy wit en Afrikaans is, en kasty Caster omdat sy n swart vrou is. Wonder as hul siening oor Caster dieselfde sou wees as sy n wit vrou was. Twyfel. Nes met die regering is daar ni konsekwentheid in die meerderheid se opinies nie. Ek ondersteun Steve in sy reg om te se wat hy wil, al stem ek nie daarby saam nie. En met Caster is dit omtrent dieselfde as n geval van regstellende aksie waar n natuurlike voorsprong nou moet onderdruk word om ander minderwaardiges kamstig “op te hef”. Die regering kan nie die twee vereenselwig nie, nes die wat teen regstellende aksie is nou weer die IAAF se besluit steun. Die twee opinies praat nie met mekaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.