Nuuskommentaar: Byna niemand nou meer beskroomd om ontevredenheid te wys

‘n Betoging teen Zuma in Durban. Foto: @DeanMacpherson/Twitter

Die vraag is vandag eerder of die verwagte nat weer die landswye optogte teen pres. Jacob Zuma in die wiele kan ry, eerder as enige institusionele belemmering soos die Tshwane-metropolisie se abortiewe poging, of geweld en intimidasie soos die ANC-liga gedreig het. Die feit is dat die kwessie Suid-Afrikaners se aandag nou al meer as ’n week gevange hou terwyl daar belangrike internasionale verwikkelinge is waarvan veral besluitnemers kennis moet neem.

Met die woord “kolonialisme”, wat selfs in die buitelandse pers opslae gemaak het, nou swaar in die weer, is dit tog opmerklik hoeveel ooreenkomste tussen pres. Jacob Zuma se aanvanklike Zoeloefikasie en nou swart beheptheid is.

Daar is ook ’n historiese interval wat sterk ooreenkomste toon.

Teen die 1700’s was daar ’n groot gaping tussen die Vryburgers aan die Kaap en die koloniale regering gelei deur Willem Adriaan van der Stel. ’n Organisasie waarvan Adam Tas, ’n gebore Nederlander, lid was, die Broederschap, het Van der Stel se regering as korrup beskou. Tas is in 1706 in hegtenis geneem, van opstand aangekla en in die “donker gat”, die keldertronk in die Kasteel, toegesluit.

Tas en sy makkers het egter versekering uitgeneem en ’n versoekskrif (klagskrif) wat deur 63 van die 550 Vryburgers geteken is, is reeds per geleentheid regstreeks na die Here Sewentien gestuur. Weens die teenwoordigheid van verskeie Hugenote onder die Vryburgers en Nederland se onwilligheid om die oorlog met Frankryk te eskaleer, word Tas vrygelaat en Willem Adriaan na Nederland teruggeroep.

Zuma het geen letterlike “donker gat” waarin hy ministers wat sy “regeerstyl” teengaan kan slinger nie, maar die politieke en sosiale donker gat waarin diegene wat in onguns verval beland, is iets ysliks. Benewens verlies aan status en kader-vriende is daar volgehoue aansprake dat dié mense soos ander bekende politieke opponente deur die veiligheidsdienste onder die vergrootglas gehou word. Daar is selfs sprake dat die persoon se belastingsake tot by die jaar toet onder ’n fyn kam deurgewerk word.

Ná Nenegate het sake egter verander. In plaas van iemand in die gat te dompel, verkry die afgedanktes ’n soort heldestatus. Veral as die afgedankte rug styf maak, en sy sê sê, word hy as spreker na byeenkoms op byeenkoms genooi.

Nog ’n ooreenkoms is dat verskeie “klagskrifte” oor veral rassistiese vergrype deur die Zuma-regering deur onder meer Solidariteit en AfriForum onder verskeie wêreldinstellings soos VN-agentskappe se aandag gebring is.

Net soos met die Vryburgers was daar aanvanklik ’n klein persentasie burgers wat bereid was om die “klagstaat” te onderteken. Nou het meer as 420 000 mense reeds in ’n week ʼn petisie wat vra dat Zuma moet gaan, en wat op WhatsApp versprei word, onderteken. Byna niemand is nou meer te beskroomd om sy ontevredenheid in woord en daad uit te druk nie.

Ministers en ander hooggeplaastes wat die geledere om Zuma sluit word deur baie met afsku bejeën, en veral diegene wat aanvanklik weerstand getoon het, maar nou skynbaar soos mak lammetjies teruggedeins het, gaan sukkel om weer die vertroue van die publiek te herwin.

Die weer, en die vooruitsigte van reën, gaan vandag eerder die suksesse van die anti-Zuma-optogte bepaal. Daar gaan institusionele dwarsboompogings wees, soos die Tshwane-metro wat die optog vandag na die Uniegebou probeer verbied het. Die stad se DA-burgemeester, Solly Msimanga, het die metropolisie van magsmisbruik beskuldig, aangesien die DA die optog ten volle ondersteun. Die optog is egter deur die hooflanddros goedgekeur ná ’n byna middernagtelike hofaansoek. Intussen, onbewus van die hooflanddros se besluit, het die nasionale polisie nog gewerk op die aanname dat die optog verbied is. In ’n stadium het SAUK-TV berig die optog is deur die polisie en die presidensie verbied. Die presidensie het egter betrokkenheid ontken.

Terwyl Suid-Afrika in hierdie “donker gat” ingesuig is, gebeur daar in die buitewêreld belangrike goed waarvan Suid-Afrikaners, en veral beleidmakers, kennis behoort te neem.

Seker een van die belangrikste is dat die VSA 60 kruisermisiele van skepe in die Middellandse See op die Siriese lugmagbasis afgevuur het vanwaar die vliegtuie opgestyg het wat ’n dorpie (glo) met gifgas bestook het. Dié Amerikaanse solo-vertoning verteenwoordig nie net ’n skerp afwyking van die Trump-administrasie se houding jeens Sirië nie, maar werp ’n skans tussen Trump en pres. Wladimir Poetin in. Sirië ontken die gasaanvalle, terwyl Rusland meen die rebelle het ’n bergplek vir gifgas gehad wat tydens die lugaanval deur ’n bom getref is.

Die VSA laat hom nou nie deur slim praatjies van stryk bring nie en ’n mens kan maar net hoop die intelligensieverslae waarop Trump gereageer het, was van ’n baie hoër kwaliteit as die “intelligensie”-verslag wat Zuma gebruik het om Pravin Gordhan mee af te dank. Dié verslag is opsigtelike prulwerk.

Die aandag is ook nou skerp op aanduidings gevestig dat Trump die VSA eenvoudig eensydig sal laat optree as die VN of ander liggame voete sleep. Trump het reeds gedreig dat hy die VSA eensydig sal laat optree as Noord-Korea sy hand oorspeel. Tradisioneel was Noord-Korea onaantasbaar tensy China, se beskermheer, tot optrede instem.

Die internasionale spelreëls is nou skynbaar aan die verander en om ’n wêreld te skep waarin diegene wat nie inval by die grense wat die groot moondhede trek nie, kan groot teenspoed kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

AL ·

Elke stem tel en mense moet nie pessimisties raak en glo dat niks sal verander nie.
Mense moet betrokke raak by petisies en ander sosiale media platforms wat daar gestel word.
Interndeel is hierdie n geskiedkundige dag en elke burger wat ruggraat het, moet sy stem byvoeg.

Amanda van der Merwe ·

Dit is so mooi gesig om mense van alle rasse te sien saamstaan maar my vraag is dit? Wat het dit ons gebaat? Zuma is soos Mugabe. Diktatorskap neem die voortou. Al hou ons ELKE Vrydag so byeenkoms gaan hy NIKS daaromtrent doen nie want die hele kabinet staan agter hom. Ons kan baklei, vreedsaam optogte hou maar as hy nie WIL gaan nie en die kabinet vra nie vir ‘n herverkiesing nie, gaan hy in die tuig bly tot HY besluit om te gaan. En gaan dit gebeur? Ek glo nie. Dit is net my beskeie opinie en ek weet dat almal wat vandag hul stemme laat hoor het, wou iets omtrent sy leierskap doen, maar ek glo dit was alles woorde in die wind. Sad but true

Andries ·

Ek wil saamstem met Amanda, maar ek voel tog dat die skrywer ‘n punt beet het. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika begin opstaan en sê genoeg is genoeg. Die eerste opstaan was dalk moeilik, want dit is uit ons aard en mense voel dit nog nie aan sy sak of bas nie, maar die volgende sal nog makliker gaan. Al wat ons vra is ‘n leier wat die land regeer, nie vir sy eie sak nie, maar tot voorspoed van die land en sy mense.

Charles Rossouw ·

Kom ons hoop Zuma doen iets wat nie in lyn is met een van die groot moondhede….

Johannes Meintjes ·

Dis nou ‘n wyle na 1994. Tog toon die Nuwe SA nie die politieke volwassenheid om die land na binne en na buite te laat presteer nie. Terwyl die hele internasionale gemeenskap posisioneer, kom nog SA, nog die regering, nog die ekonomie en nog die wederstrewige kulturele kookpot binne SA tot enige kreditwaadige prestasies. Hoe lank moet dit voortgaan? Wie kan SA effektief tot orde roep? Hoe veragter dit Suidelike- en die res van Afrika?

Niklaas ·

Die kookpot moet eers oorloop voordat hier groot probleme gaan kom. Daarna gaan dit eers beter gaan. Daar wag nog n pad vol pyn vir ons voor maar ons gaan uiteindelik oorwin.

Voetsleper ·

Die VN sleep altyd voete tydens groot krisisse totdat derduisende burgerlikes dood is, dan begin hulle wonder wat om te doen, nog derduisende burgerlikes later besluit hulle om ondersoek in te stel, nog derduisende burgerlikes later stuur hulle klein bietjie kossies, en so sleep hulle voort. Dankie Trump dat jy n DOENER is.

Leendert ·

My vraag is, na die kroonprins Cyril, nou sy hand gewys het en toe teruggekabbel het, so enige geloofwaardigheid wat hy nog gehad het, ook in die drein afgespoel het, wie is nou die een wat die hoop op gevestig moet word?

My roep sou wees Gorhan, wat darem nie net na ‘n staatsman lyk nie, maar ook na een klink, weet wat om hom aangaan, skerp is. Hy sou by uitstek die volgende President kan wees, en watter aanwins sal dit nie wees nie, ook sal dit die vertroue in die land terug sit, al sou sy pad vol dorings wees om van die korruptes en wat nog ontslae te raak. Maar o’wee, hy is nie swart genoeg nie, so daar moet nou na iemand anders gesoek word.

Jig, as ons in die land net nie so rasbehep was nie, was die kanse goed dat ons dalk in die beste belang van almal in die land die regte besluite sou kon neem. Maar dit is nie vir ons beskore nie.

Jan Jan Jan die bielie van die bosveld ·

Suid Korea arresteer sy President. Dis my wens dat Zuma gearresteer word en aangekla word vir hoogverraad en die hoogste prys betaal vir sy verraad. Waar in dis wereld is FW de Klerk . ( so van verraad gepraat) Wat ek nou die meeste mis is DAAI skildery van ons geagte President wat die Spear of the nation vasklou dat hy so blou word

Disselboom ·

Die algemeenheid van die protes is tegelyk ‘n geleentheid waar dit wys dat daar in sake van gemeenskaplike belang nie langs rassegrense nie, maar eerder ‘n middelklas gesamentlike optrede is, maar aan die ander kant bring dit vir die Afrikaner verdere uitdagings om sy identiteit te herwin en nie verswelg te word deur die meerderheid en ander volke se maniere van doen nie.

Rox ·

Die vraag is waar was FW De Klerk toe ons mense saamgestap teen Zuma. Tipies

SUSSA ·

Wat help dit om Z teen te staan, die volgende een is netso – en dalk erger? Mense maak oop julle oe, raak almal nou so He-he-he-he- huppel en trippel en doen mee? Hierdie land SAL nog heeltemal ten gronde moet gaan voor daar – met baie swarigheid – uitkoms sal wees vir die wat nie weer JA stem nie. Kyk wat om julle aangaan volk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.