Nuuskommentaar: Capital urbem ardentem (die hoofstad brand) – ons lentekeuses

Foto: (AP Photo/Yeshiel Panchia)

Baie mites versluier feite oor keiser Nero se beweerde rol in die ontstaan van die brand wat Rome in die jaar 64 n.C. byna verwoes het, en of Nero werklik toe die lier gespeel het. Hy het egter wel die gebeure benut om politieke munt daaruit te slaan. Is die Pretoria-geval van onluste met brandstigting en plundering ’n spontane gebeurtenis waar die spanning breekpunt bereik het, of maak dit deel uit van iemand se agenda? Is die veiligheids- en intelligensiedienste ná pres. Ramaphosa se ingryping al kundig en betroubaar genoeg om die werklike redes en agtergrond te bepaal? Of gaan ons weer moet hoor ’n onbekende geheime derde mag sit hieragter?

Jaar ná jaar vloei voorvalle van openbare onrus weens onder meer gebrekkige dienslewering oor die land. Die skokkende jaarverslae van die ouditeur-generaal verskaf die agtergrondmusiek wat die toon aangee hoe mense in reaksie optree.

Daar is byna altyd simboliek verbonde daaraan as iets in ’n land se hoofstad aan opstande of rampe onderwerp word. Dit het meestal ’n uitwerking op die res van die land, want die meeste vernaamste regeringslui woon in die hoofstad – hulle beleef die probleem eerstehands, en hulle maak gevolglik sover moontlik seker dat dieselfde nie in hul eie “constituencies” (verantwoordelikheidsgebied) gebeur nie – wat in dié geval nie lekker in Afrikaans vertaal kan word nie, en dikwels onbeholpe met “kiesafdeling” vertaal word.

Dis omtrent soos die Engelse “seat” vir “setel” waar die verantwoordelikheidsgebied met “kiesafdeling”, of nog erger, “sitplek” loop en vertaal word. Lees gerus hier, hier en hier waarin die gebeure uiteengesit word.

Maar Pretoria is anders en grootliks uniek. As administratiewe hoofstad is dit eintlik de facto wat die wêreld betref die land se eintlike hoofstad. Die stad is oortrek met ambassades en ander diplomatieke instellings. Maar die top-politici ontbreek dikwels – hulle woon meermale in Kaapstad waar die parlement is. Hulle beleef dikwels nie die opskuddings in die hoofstad eerstehands aan hul basse nie.

Teoreties is dit moontlik dat die hoofstad, soos die antieke Rome, kan brand en Nero die lier kan bespeel.

Nie dat Kaapstad altyd sonder politieke onrus is nie. Maar Kaapstad en die Wes-Kaap is in die DA se hande en alle pogings om dit te “bevry” – onder meer deur dit veral in die aanloop tot verkiesings te destabiliseer, rig nog min uit.

Iets wat in beginsel dus baie ernstig is – dat die hoofstad brand – lê om verskeie redes vir die ANC soos ’n klip in die maag en bevorder bewustelik of onbewustelik ’n lierspelery.

  • Pretoria is wel die “amptelike” hoofstad, maar voor 1994, en ’n ruk daarna – het die ANC self meer hoofstadwaarde aan Johannesburg geheg. Die feit dat sy hoofkantoor, Luthuli-huis, asook die hoofsetels van die vernaamste ANC-verbonde vakbonde, in Johannesburg gesetel is, is simboliese refleksies op die tradisionele afkeer van Pretoria waar die “Pretoria-regime” gesetel was. Die ANC het selfs ’n waardevolle kans vir welvaartverspreiding verpas deur Johannesburg die Gautengse hoofstad te maak, eerder as om dit in of naby ’n agtergeblewe gebied te ontwikkel.
  • Die ironie is dat Johannesburg ook nou in opposisiehande is. Ironies danksy die EFF wat met gedoogde steun (’n Nederlandse begrip) die DA-geleide stadsregering in bewind hou, maar onder erge spanning verkeer.
  • Hoofstede neem ook ’n eiesoortige rol in stedelike terreur in. Wanneer stedelike terreur ’n volwasse fase bereik, is dit belangrik om teikens te kies waar die politieke en sielkundige uitwerking beduidende ekonomiese implikasies het. Dit versterk onder meer die persepsie dat die onskuldige publiek nie nieselektief die hoofteiken was nie. Deur byvoorbeeld Harris se model te gebruik sal aanvalle in Durban formeel op die destydse Kommandement Natal wees. Die gebou was egter gerieflik op die strandfront geleë waar toeriste saamgetrek is. Ekonomies, weens Durban se eintlike funksie as toeristestad, sou die aanval die meeste trefkrag hê as die toeriste in ’n bomaanval getref word. Maar dit sou die ANC se “engeltjie-beeld” aantas, en formeel word die bom dus op die weermaggebou gerig. In Bloemfontein was sowat 15 bomaanvalle, feitlik almal op die spoorweë gemik. Die uitsonderings was ’n bom by die destydse hoofkantoor van die Administrasieraad, asook die bekende Peetlaan-ontploffing waar die bomplanter, wat self omgekom het, nog na die eintlike teiken onderweg was – en byvoorbeeld die appèlhof kon wees, wat in die juridiese hoofstad groot simboliese waarde sou hê. In Johannesburg sou die effektebeurs ’n tipiese teiken wees, en in Pretoria die weermag of administratiewe geboue. Die Kerkstraatbom was dus voor die Poyntongebou wat van die vernaamste weermagfunksies gehuisves het, maar die propagandawaarde van ’n aanslag op die onskuldige publiek op straat as bonus bygekry het.

Om te bepaal of bogenoemde stedelike terreurbeginsels leidrade verskaf of dit deel van iemand se politieke strategie kan wees, wat daaragter skuil en wie daaragter kan sit, hang af van baie faktore. Oppervlakkig beoordeel is dit ’n grootliks latente konflik tussen taxibestuurder en buitelanders wat tot uitbarsting gekom het. ’n Taxibestuurder is doodgeskiet, en die winkels van buitelanders is geplunder en aan die brand gesteek. Die getalle dui daarop dat die geweld handuit geruk het en polisieversterkings ontbied moes word.

Tog is die algemene indruk wat gevorm word nie dat die geweld se vernaamste inspirasiebron die xenofobiese aanvalle was nie.

Normaalweg sou die regering, deeglik van feite voorsien deur veiligheidsdienste en die polisie se misdaadintelligensiediens, die publiek betreklik gou, en feitelik korrek, kon inlig oor presies wat onderliggend tot die probleem is, wie dit uitbuit, en wat daaromtrent gedoen kan word. Maar hoe funksioneel is hierdie dienste ná jare lange politiekery, aftakeling en staatskaping? Met Marikana het dit gelyk of dié dienste funksioneel onthoof is.

Of is daar dalk ’n verband met die voorafgaande vernielsug en vandalisme in die ou Raadsaal by Kerkplein nadat die EFF die saal vir ’n vergadering benut het?

Die Vryheidsfront Plus het soos volg hierop gereageer: “Volgens inligting was daar ’n EFF-vergadering verlede Sondag waarna deure, ligte, brandtoerusting, matte en die plafon op die grond- en eerste verdieping van die raadsaal beskadig is. Dit is nog nie duidelik wat die omvang van die skade is nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat mense ’n historiese gebou so verwoes. Die raadsaal het die parlement van die ou Suid-Afrikaanse Republiek van 1891 tot 1902 gehuisves.

“Dít is ’n ontsaglik belangrike deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en dit is skokkend dat vandale geen ontsag vir die Afrikaner se kultuur-historiese geboue het nie.

“Indien hulle nie respek vir die geskiedenis het nie, behoort hulle in beginsel nie die gebou te huur nie.

“Die VF Plus gaan die saak ondersoek en dring daarop aan dat die skuldiges aangekla word en vir die skade moet betaal.”

Wat hom nou in Pretoria afspeel, is nie beperk tot Suid-Afrika nie. In April vanjaar is byvoorbeeld soortgelyk berig oor geboue wat brand in die hoofstad van Honduras, Tegucigalpa.

Solank Ramaphosa se styl wat aan voeteslepery (op die lier speel) herinner, en hom al ’n paslike bynaam besorg het, nie daartoe lei dat die probleem eskaleer en handuit ruk nie.

In die 1983-Bybelvertaling is daar net twee verwysings na die lente. (Daar is drie, maar twee verwys na presies dieselfde gebeure.) Die eerste: “As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.” (Deuteronomium 11, 13 en 14)

Die tweede dui weer op oorlog en verwoesting: “In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik uittrek om oorlog te maak, het Joab die leër uitgelei en die land van die Ammoniete verwoes. Daarna het hy Rabba gaan beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.” (1 Kronieke 20:1)

Die NetBible (Hosea  6:3) sluit by die eerste opsie aan:

“So let us acknowledge him

Let us seek to acknowledge the Lord!

He will come to our rescue as certainly as the appearance of the dawn,

as certainly as the winter rain comes,

as certainly as the springsrain that waters the land.”

Gaan ons opsie 1 of opsie 2 probeer uitoefen?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ora ·

Interessant. Die politici voel in elk geval nie hierdie aan hul bas nie, want hul is te besig om belastinggeld in die grênd môlls van die Westerse beskawing uit te gee.

Mossie ·

Soos sake huidiglik in die land staan en geweld vir die geringste opvlam, is opsie 2 n baie groter moontlikheid…

Geregtigheid !!! ·

Dit verstom my dat hierdie huigelaars alles wat Westers is, oènskynlik haat en verag. Tog klee hulle hulleself in Westerse drag, brille, pruike, skoene, Rolex horlosies en dies meer !!! Iets wat deur die gehate Blankes geskep is. Hulle het NIKS van hulle voorgeslagte wat hulle kan wys nie, geen geboue, Katedrale, uitvindings ens. nie. Dit is waarom hulle alles van ons moet vernietig !!! Hulle ervaar te veel “pain” en “shame” en jaloesie wanneer hulle na ons kyk !!! ????????????????

Jerry ·

Oulike skrywe oor mites. Wanneer staatsveiligheid nie kan se en bewys lewer van wie betrokke by n derde mag is nie, dan kan jy maar weet staatsveiligheid is betrokke. Dit egter daar gelaat omrede die onrus lente in Pretoria township se onderstad spontaan ontstaan het agv n immigrant wat n taxi bestuurder doodgeskiet het. Die taxi bestuurders en die immigrante, inteendeel Suid Afrikaanse en Afrika gemeenskappe oor die algemeen verdra geen onregte nie. Die onrus lente het dus niks met politiek of derdemag bedrywighede uit te waai nie. Dit was bloot spontane beoefening van SA se nasionale sport nl. om klip te gooi en te brand agv n kultuur van wetteloosheid, onverdraagsaamheid en oog vir n oog vergelding (community justice)!

Boeseun ·

Dit gaan so oor die res van die wereld waar migrasie die land se mense se keuse is

Andre ·

Dit blyk dat ons in die land reeds die geleentheid vir opsie 1 verpas het en dat die ANC regering nie oor die politieke wil beskik om opsie 1 te volg nie. Moontlik om dat die ANC grooter geag word as Suid Afrika. Ekonomies is die landsekonomie op die oog af ook reeds by die omdraai punt verby in verkeerde rigting. Die chaos wat opsie 2 sal veroorsaak bied n geleentheid om langer die mag te behou deur bv n noodtoestand af te kondig.
Mag God ons weér red !
Baie intetessant en goed geskryf, Herman.

skurweberg ·

As jy deur afgode beheer word, is die uitkomste voorspelbaar.

James ·

Die massas hou van afbreek.
Jy gaa dit nooit stop nie en die polisie en weermag beteken niks.
So ons het anargie…vir baie lank al….
Soos bo al gese SA is onderdeur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.