Nuuskommentaar: Cele en Zuma vergader oor sy lot

Oudpres. Jacob Zuma en genl. Bheki Cele. (Foto: @DZumaSambudla/Twitter)

Minister Bheki Cele het oudpres. Jacob Zuma Donderdag in Nkandla gaan besoek. Hierdie besoek laat ʼn mens met ʼn ongelooflike aantal vrae.

Die besoek kom in die week van Zuma se minagting van die Konstitusionele Hof se bevel. Die Hof het beveel dat Zuma voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping moet verskyn, wat Zuma natuurlik geminag het. Dit is ook in die lig van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat die afgelope naweek vergader en weer eens hulle vertroue in die Zondo-kommissie uitgespreek het. Verder het die Gautengse RET-groep (radical economic transformation) gesê dat hulle gereed is om “die spies op te tel” om Zuma te beskerm.

Al hierdie gebeure het waarskynlik bygedra tot Cele se uiteindelike besoek van vandag. Zuma se huidige situasie is soos ʼn drukkoker – indien iemand nie iewers die stoom gaan probeer uitlaat nie, gaan iets ontplof.

Namate die druk teen Zuma verhoog, het hy al sy vertrouelinge begin nader hark. Namate hy vertrouelinge begin nader hark, verdiep die skeidslyne tussen vriend en vyand. Verlede week het ʼn afvaardiging van MK Zuma besoek en hul lojaliteit teenoor die oudpresident uitgespreek – dit terwyl ʼn ander faksie van MK weer hul afkeur van Zuma se minagting uitgespreek het.

So ook is Cele vanoggend ontmoet met die MK-veterane wat sedertdien Nkandla bewaak. Hy is egter ingelaat en het met Zuma vergader.

Niemand is presies seker waaroor die twee vergader het of in watter kapasiteit Cele daar is nie.

Zuma is nou al deur 40 verskillende mense by beweerde korrupsie in die Zondo-kommissie betrek. Hy het ook vandeesweek die hofbevel geminag waarvoor hy eintlik veronderstel is om tronk toe te gaan.

Indien Cele in sy amptelike kapasiteit as hoof van polisie gaan, besoek hy ʼn openlike krimineel – en hy gaan hom nie in hegtenis geneem nie. Hoewel die doel van die besoek onbekend is, het Cele se woordvoerder ontken dat Cele ʼn lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming gaan aflewer. Dit beteken dat Cele om ander redes en sodoende duidelik in ʼn ander kapasiteit daar is.

Die aflewering van ʼn lasbrief sou eintlik die enigste aanvaarbare rede vir ʼn besoek vanaf Cele wees. Hy is immers die leier van die SAPD en is sodoende veronderstel om die leier van wetstoepassing te wees. Indien Cele vir iets anders as ʼn lasbrief daar is, is dit eintlik ʼn klap in die Suid-Afrikaanse burgers se gesigte.

Cele besoek Zuma waarskynlik as bemiddelaar en verteenwoordiger van Ramaphosa. Beide Ramaphosa en Zuma weet dat hulle in ʼn magstryd betrokke is. Ramaphosa moet reg en geregtigheid verteenwoordig, maar kan dit nie sommer net blatant doen nie. Zuma weet dit en druk Ramaphosa deurgaans in moeilike hoeke. Hy gaan dit so moeilik denkbaar moontlik vir Ramaphosa, reg en geregtigheid maak om hom te kry. Wat het hy immers om te verloor?

Dus stuur hy Cele as onderhandelaar – iemand wat tans lojaal is aan Ramaphosa, maar ook ʼn lang genoeg geskiedenis met Zuma het om as vertroueling gesien te word. Dit is immers ook Cele wat gesê het dat almal Zuma net moet uitlos – hy het mos niks verkeerd gedoen nie.

Dit bevestig weereens dat Zuma bo die gereg verhewe is en daar gaan bly. Selfs al bereik die lang arm van die gereg hom uiteindelik, gaan daar ʼn vriendelike handdruk aan die einde daarvan wees. Zuma sal nóóit soos ʼn normale krimineel hanteer word nie. Selfs al boet hy vir sy wandade, gaan hy in elke stap van die proses spesiaal hanteer word. Deur sy ondersteuners, maar ook deur sy teenstanders.

Dit is presies waarom Cele verteenwoordiger of spreekbuis van die Ramaphosa-faksie is. Ramaphosa verstaan tot watter chaos dit op grondvlak sal lei as hy (of sy faksie) Zuma soos ʼn harde krimineel hanteer. Die Gautengse RET is heel moontlik nie die enigste groep wat voel dat hulle bereid is om die spies vir Zuma op te tel of minstens chaos te saai nie.

Ook is Ramaphosa en Cele waarskynlik bewus van Zuma se noodwendige lot. Ramaphosa wil probeer om dié lot so glad en binne beheer as moontlik te laat geskied. Die doel van die besoek is sodoende ook om die politieke skade vir die ANC so min as moontlik te maak. Dit is immers Ramaphosa self wat gesê het dat Zuma sy eie tyd en spasie moet kry om te besluit om die regte ding te doen! Hy verstaan dat hy min politieke ruimte het om in te beweeg. Siende dat hy nie bereid is om ongewilde besluite te neem nie, word hy deurgaans beperk in sy besluitneming.

Vanuit sekere mense se oogpunt gaan dit nie goed lyk wanneer die ANC “een van hulle eie” in hegtenis neem nie. Selfs al is dit een van die sluuste en skelmste van hulle eie. Zuma verteenwoordig nog ʼn bepaalde era. Hy het nog sy struggle credentials. Dit beteken dat ʼn “onreg” wat teen hom gepleeg word, vir ewig deur sommiges gesien sal word as ʼn onreg teen die apartheidstryd.

Dit is dus Ramaphosa se poging om weereens alles vir almal te wees. Hy wil graag reg en geregtigheid laat geskied. Hy is egter nie bereid om dít te doen sonder om eers eensinnigheid te soek nie – hy is immers die president van konsensus. Hy vrees harde polarisering binne die ANC en sal dit ook hier so ver moontlik vermy.

Sodoende poog hy om die onmoontlike te doen. Hy probeer om die leier en simbool van ʼn hele faksie ten gronde te bring sonder om die faksie té kwaad te maak. Zuma moet tronk toe gaan, maar Ramaphosa gaan vir sy eie heil en welstand dit so sagkens moontlik laat geskied. Ramaphosa wil nie sommer die Afrika-sterkmanstap doen en Zuma net blatant en met geweld in hegtenis laat neem deur die polisie nie. Hy gaan eerder by sy aard hou en almal probeer akkommodeer – minstens sover ʼn mens kan in ʼn kriminele vervolging.

Die ding wat Ramaphosa waarskynlik gaan leer is dat dit ʼn onmoontlike kuns is. Uiteindelik gaan óf konsensus óf aanspreeklikheid in die slag bly. Die vraag is in hierdie geval net watter een?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Gert ·

Sit Zuma op die strand met ‘n branderplank dan sal Bekkie hom arresteer anders nie

LANA is ELANè ·

Boesemvriende ~ ek het geen twyfel dat CR die oud President amnestie gaan gee, net sodat hy sy mag in die ANC kan hou.
Daar is hopeloos te veel op die spel om Zuma aan ‘n regsproses bloot te stel.
Al hiersie sg hoë koppe wat skielik teepartytjies by Nkandla gaan hou dui net op een ding en dit is dat daar onder die dekmantel van samesprekings een groot gekonkel aan die gang is, ter wille van die ongesonde kameradie onder lede vd ANC

Hans ·

Cele wou net hoor of Zuma dalk in Desember strand toe gegaan het…. haha

Maggies ·

Maggies ons almal hou ons asem op al weet ons die arrestasie gaan nie plaasvind nie.
In plaas van tyd en geld hieraan te spandeer kan hulle eerder voortgaan om dié wat wil praat te gebruik en sodoende ál die rampokkers en onbevoegde persone bekend te maak en uit hul poste ontruim.
Soos nou in Oos Kaap gedoen is.

Wilhelm ·

Watter een gaan in die slag bly van konsensus en aanspreeklikheid ? Daar is lank reeds nie meer aanspreeklikheid nie!

JohanR ·

Skurk ontmoet vir skurk! Vreeskike klomp mense wat skielik vir Zuma wil kuier. Maar die rede vir die kuier is om amnestie te bespreek. Verbaas Ace was nog nie op besoek. En ons dink die NP was vrot?

Wielspore ·

Die uitkoms van die Zuma se toekoms is ‘n proefsaak vir SA se toekoms. Indien Zuma nie voor Zondo verskyn is die vertroue in ons land se regs stelsel daarmee heen en maak die toekoms oop vir oortreders om met soortgelyke sake weg te kom. As Zuma sink gaan daar nog van sy kaders sink en dit is vertrou in ons land en die handves se boek gaan oop vir CR om ‘n toekoms vir SA te bou. Glo my ekonomiese herstel gaan kom en misdadigers sal moet ligloop. Die staatsdienswerkers wat op 7de rugwerwel sit sal gou agterkom daar is ander liggamsdele soos hande en voete om jou werk te doen en nie net boude en vingers om op jou agterkant te sit en te Tik Tok.

Vrijburger ·

Ek hou nie my asem op nie. So ja, seker is ek ‘n Afrika-pesimis.

Dup ·

Boesemvriende…….birds of a feather flock together…….partners in crime…….die eter(teedrinker) is net so goed soos die steler(teeskinker)……

Johanncb ·

Die besoek skep die indruk dat hy kop-in-een-mus met JZ is!

Pieter ·

BELASTING BOIKOT dit is al wanneer julle siek ANC se ore gaan oop gaan. Die land se regstelsel is een groot grap

Dirk Mostert ·

Nie toepasbaar nie. Werkgewers trek belasting af. Ek stem saam oor ons regstelsel. Dis wereldwyd ‘n klug.

Baardman ·

As jy weier om belasting te betaal, gaan Cele nie by jou kom tee drink en mooi vra vir jou geld nie….hy arresteer jou dadelik en sluit jou toe

Werner ·

Wel hier is die bewys dat ons deur war lords verskoon die Engels beheer word.Wel hierdie land sal nooit weer reggestem kan word nie.

Karina ·

En wie betaal alweer vir al hierdie “tee partytjies” vir seker die belasting betaler! Ten minste is een Minister afgedank vir oa die debakel met die “motorfiets ambulanse” Ek wonder net, wat het van die duur fietsies geword? Hmm, dalk moet Maroela Media bietjie gaan rondgrawe

Nie Verbaas ·

Wat presies het Zuma se verwoestende kriminele optrede met die ANC se struggle te doen? Die feit dat Zuma nie gearresteer is nie le die grondslag vir enige krmineel om te doen wat hy wil. Ek is seker baie advokate sal na die grap verwys in hofsake of is daar twee stelle wette in ons sirkus banana republic?

twaalfboor ·

Hoekom word daar na Bheki Cele verwys as “genrl”? Hy het sy rang kwyt geskeld die dag toe hy uit SAPS ontslaan is oor ń onregmatige transaksie.

annie ·

Ons ervaar nou eerstehands hoe Afrika demokraties regeer. Diegene wat hul hande saamslaan oor die gang van sake: Zuma was voor sy presidentswording reeds van misdade aangekla en na 2011 was die storie oor Nkandla wèreldwyd bekend. Die Gupta’s gaan nog terugtrek in hul paleise in Johannesburg en nog ‘n paar myne opraap… en ons gaan tjoepstil wees want ons sien die goeie in ons naaste raak.

JM ·

Tipiese Afrika-politiek. Terwyl die meeste landsburgers ‘n aar wil bars oor Zuma se arrogansie, word hy deur die ANC met handskoene gehanteer. Die vraag is: hoe lank nog?!

henndrik ·

Nou wonder ek, gaan hy almal besoek vir wie daar ‘n lasbrief is?

Genis ·

Hierdie Kaders heet geen skaamte nie… Cle drink tee by Zuma, Cele was in Vrystaat in die Hof langs Julius die moord aanhitser… Die klomp korupte kaders het soveel houvas op mekaar, dat almal nou saamspan… Dis eindelik siek, en Cyril jy is papbroek, en medepligtig…

BoepensVark ·

Hiedie is ‘n baie gevaarlike president wat geskep word. Ek wonder wat sal gebeur as die gemiddelde mens die hof minag? Sou die gemiddelde man ‘n sepoena verontagsaam sal ‘n lasbrief uitgeryk word en hy sal gearresteer word. Ek wonder of die hof ‘n verweer sal aanvaar as die gearresteerde verwys na Zuma en hoe hy behandel is.

Anoniem ·

Zuma sal nie tronk toe gaan nie, want hy weet hopeloos te veel oor wie almal betrokke is by staatskaping, wie het aandeelhouding en direkteurs vergoeding mahala ontvang en sodoende skatryk geraak vir niks doen nie, terwyl hy en ‘n aantal ander die politiek betree het. Hy sal nie alleen ondergaan nie. Dis hoogtyd dat die sak vrot patats uitgeskud word.

jzjz05 ·

Dit moet gesien word tussen n keuse tussan die reg en die ANC ,op die oomlik word die ANC bo die reg deur die ANC verkies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.