Nuuskommentaar: ‘Charlie Hebdo’ sal nog lank eggo

In 2015 het twee Moslembroers by die weeklikse satiriese Franse tydskrif Charlie Hebdo se kantore in Frankryk ingebars en altesaam 12 mense doodgeskiet. Onder hulle was van die land se voorste spotprenttekenaars.

Die rede, kortweg, was dat dié tydskrif in weerwil van duidelike protes vanuit Moslemgeledere voortgegaan het om spotprente van Mohammed te teken. Die Koran verbied dit (as dit die spot met Mohammed dryf) as synde godslastering. Dit word so ernstig beskou dat Pakistan dit in sy wetgewing met die dood strafbaar maak. In ander Moslemlande val die fokus meestal op geloofsafvalligheid en in meer as ’n dosyn is dit ook met die dood strafbaar.

Die doodsvonnis vir godslastering het gewoonlik betrekking op Moslemmans sonder berou, en op vroue ongeag hul godsdienstige oortuigings. Altesaam 14 mense word tans in verband met die Charlie Hebdo-skietery en verwante voorvalle in Parys verhoor. Intussen het Charlie Hebdo die voorval “herdenk” deur die spotprente te herpubliseer en in veral Pakistan is die gort nou gaar.

Sekulêre menseregte

Intussen het die Parys-gebaseerde internasionale mediavryheidsorganisasie, Verslaggewers sonder Grense, sy steun aan die verhoor toegesê en die beskouing van godslastering as misdaad veroordeel.

In ’n ope brief aan joernaliste oor die wêreld heen het die algemene sekretaris, Christophe Deloire, sy organisasie se houding soos volg gestel: “Godsdienstige onverdraagsaamheid lê steeds aan die wortel van te veel geweld teen joernaliste oor die wêreld heen. Agt lande het sedert hierdie tragiese gebeurtenis die idee van godslastering uit hul regspraak verwyder, maar 69 hou steeds aan om godslastering te bestry. Met hierdie verhoor ondersteun Franse geregtigheid die vryheid om denksisteme te kritiseer wat oral gewaarborg moet word.”

Voorts meen hy ’n benadering word te dikwels deur ekstremistiese magte as “godslasterlik” bestempel.

Voor 1994 is die insluiting van ’n handves van menseregte in ’n grondwet deur veral akademici vanuit ’n bepaalde Christelike benadering teengestaan omdat die Bybel voldoende voorsiening daarvoor sou maak. Die voorstanders van die handves se teenargument was dat sou die Bybelse voorskrifte dit so volledig hanteer, sou daar nie beswaar kon wees as dit juridies gekodifiseer word nie.

Die geldigheid van laasgenoemde argument kan bevraagteken word aan die hand van onder meer uitsprake van die Konstitusionele Hof wat aborsies op aanvraag in breë trekke gewettig het. Heelwat botsings in oortuigings wat in die wetboek die sekulêre weg, en teen kerklike opvattings, inslaan, hou verband met die feit dat Suid-Afrika ’n sekulêre soort grondwet het. Dit is veranker in die beginsel van verskillende soewereiniteite.

Die Islam

Net soos die Christendom, is daar verskillende Moslemvertakkings, waaronder die hoofvertakkings soos die Soenni’s, die Sjiiete en die Indonesiese vertakking met ’n eiesoortige karakter. Die Soenni’s en die Sjiiete het gematigde en radikale vertakkings. Onder die Sjiiete is die Alawiete die bekendste, ’n sekte waartoe die Assad-dinastie in Sirië behoort. Onder die Soenni’s is die Salafiste die bekendste, wat byvoorbeeld die groepe Isis en Al-Kaïda ten grondslag lê. Lynreg hierteenoor staan die Soefi’s wat tot pasifisme neig. In 2017 het radikale ’n Soefi-moskee in die Sinaï aangeval en 300 Soefi’s vermoor.

Ná die aanval op die Charlie Hebdo-personeel was die reaksies van Moslems op die aanval erg uiteenlopend na gelang van die gematigde of radikale oriëntasie. Die tydskrif se herpublikasie van die spotprente wat aanstoot gegee het, sal na verwagting nou ook baie gematigdes aanstoot gee, na aanleiding van die Koran se bepalings oor berou ten einde vir godslastering vergewe te kan word.

Godslastering

Maar wat sê die Bybel oor godslastering?

Volgens die Bybel is Jesus tereggestel nadat Hy deur die Joodse Raad ter dood veroordeel is oor godslastering.

In onder meer Levitikus 24:23 lees ons: “Moses het dit toe vir die Israeliete gesê (nadat hy God geraadpleeg het). Hulle het die man wat gelaster het, uit die kamp gevat en hom met klippe doodgegooi. So het die Israeliete die bevele wat die Here vir Moses gegee het, uitgevoer.” Dít is uit dieselfde deel van die Bybel wat die oog-vir-’n-oog-beginsel van die Ou Testament daargestel het. In die Nuwe Testament word weer sterk op die beginsel van berou en vergifnis geleun.

Oor Jesus se verhoor voor die Joodse Raad skryf die NetBible, en word die Raad se Ou Testamentiese siening weerspieël: Matteus 26:65-68: “Then the high priest tore his clothes and declared, “He has blasphemed! Why do we still need witnesses? Now you have heard the blasphemy! What is your verdict? They answered, “He is guilty and deserves death.” Then they spat in his face and struck him with their fists. And some slapped him, saying, “Prophesy for us, you Christ! Who hit you?”

Maar is godslastering dan nie onvergeeflik nie? Jesus het egter in Markus 3:28-29 gesê: “I tell you the truth, people will be forgiven for all sins, even all the blasphemies they utter. But whoever blasphemes against the Holy Spirit will never be forgiven, but is guilty of an eternal sin.”

Maar wat presies beteken laster teen die Heilige Gees? Die webwerf Got Questions? (lees hier) beskryf dit soos volg:

Vraag: “Wat is lastering teen die Heilige Gees?”

Antwoord: Die konsep van “lastering teen die Heilige Gees” word in Markus 3:22-30 en Matteus 12:22-32 genoem. Die term lastering kan in die algemeen gedefinieer word as “tartende oneerbiedigheid”. Hierdie term word gekoppel aan sondes soos om God te vervloek of doelbewus God se dinge te verkleineer. Dit kan ook wees waar God as “’n euwel” bestempel word, of om die goeie dinge van God as sleg te beskryf. Die geval in Matteus 12:31 is spesifiek “lastering teen die Heilige Gees”. In Matteus 12:31-32 het die Fariseërs bewys gehad van Jesus se wonderwerke deur die krag van die Heilige Gees, want hulle het dit self gesien. Maar hulle het dit toegeskryf aan werke van die duiwel en gesê dat Jesus ’n kanaal was vir Beëlsebul, die baasduiwel (Matteus 12:24). In Markus 3:30 verduidelik Jesus presies hoekom die Fariseërs lastering teen die Heilige Gees pleeg.

“Hierdie lastering het te doen met iemand wat direk Jesus Christus vervloek om vir Hom te sê dat Hy met die duiwel besete is, in plaas van om gevul te wees met die Heilige Gees.”

Hoe behoort ’n Christen in hierdie situasie op te tree? Dit handel immers oor die Heilige Gees. Die mees toepaslike slegte vrug wat as teenpool vir die goeie vrugte van die Heilige Gees van toepassing is, is sekerlik skoorsoekerigheid/uitlokkendheid.

In hierdie verband lees ons in 2 Korintiërs: “Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde.”

Onder die goeie vrugte van die Heilige Gees tel: verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat God vreugde gee, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, vol genade wees, onpartydigheid, nie veroordelend wees nie.

Maar of ’n mens ’n Christen is of nie, Charlie Hebdo se optrede met die herpublikasie druis gewoon teen gesonde verstand in. Radikale Moslems kan dit maklik teen Christene hou, al is Charlie Hebdo ook ten volle sekulêr – in die geval van Sri Lanka het radikale Moslems ook Christene aangeval, al was hul optrede eintlik teen die Boeddhistiese regering gemik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.