Nuuskommentaar: China by baie in sop oor Covid-19

Argieffoto (Foto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Toe nuus oor Covid-19 eers skynbaar vryelik die wêreld van agter die bamboesgordyn begin bereik, kon vir die eerste keer ’n prentjie gevorm word oor wat moontlik vir die wêreld oor die verloop van die komende pandemie sou voorlê. Saam met die waarskuwingstekens in die nuus het ander indrukwekkende nuus die Weste begin bereik, veral die nuus oor twee hospitale wat China bykans oornag gebou het om ’n moontlike pandemie te kon hanteer.

Tog het daar so tussenin stories deurgekom van ’n ander China – China die Rooi Reus met weinig respek vir demokratiese vryhede soos persoonlike vryheid. Die Parys-gebaseerde internasionale mediawaghond, Verslaggewers sonder grense, het veral begin wys op wanpraktyke, soos mense wat erg geteister word as hulle sake rondom die virus, wat China probeer dig hou het, sou bekend maak. Nou het Verslaggewers sonder grense berig dat drie burgers, ’n vroue- mediese dokter, ’n regsgeleerde en ’n nyweraar wat hulle veral op sosiale media besig gehou het om hierdie waarhede bekend te maak, verdwyn het.

Wat presies is aan die gang? Die Suid-Afrikaanse regering soek duidelik witvoetjie by China, al lê gevaartekens se letsels al kruis en dwars oor die vasteland geploeg. En al het daar bromgeluide uit die Withuis gekom dat Suid-Afrika net van die aansienlike voordele moet onthou wat dit uit die AGOA-ooreenkoms put.

Die ras-kwessie lê onderliggend tot baie van die spanning – met die VSA wat China beskuldig dat hy Afrikane op die vasteland self sleg hanteer, en China wat dit ontken maar ook suggesties van biologiese oorlogvoering aan die adres van die Amerikaners rig.

Maar hoekom het China so lank geneem om eers werklik in rat te kom om die pandemie tot binne sy grense beperk te hou en te smoor? Moes China nie eers in ’n mate betroubare inligting bekom en gevolgtrekkings gemaak het voordat daar liggies aan die gevaarklokke se toue begin trek is nie?

Verslaggewers sonder grense, wat China verlede jaar 178ste uit 180 lande op die persvryheidsindeks geplaas het, is China nie genadig nie. Deur vroeër met die sak patats vorendag te gekom het, kon die pandemie heel moontlik voorkom gewees het, lui die verwyt.

Om die verwyt teenoor China in perspektief te verstaan, moet in gedagte gehou word dat China geen homogene land is nie. Die Han-Chinese tale het wêreldwyd 1,16 miljard sprekers waarvan 99% in China woon. Dis die wêreld se grootste bevolkingsgroep, en maak 19% van die wêreldbevolking uit. Hulle praat sewe dialekte, of volgens sommige bronne tale is omdat die verskillende weergawes self weer dialekte het, met Mandaryns die grootste groep hiervan, en is tradisioneel merendeels in die noorde, Beijing ingesluit. Kantonnees word weer merendeels in die kusgebiede gepraat. Kantonnees is die amptelike taal in Hongkong, terwyl Mandaryns elders die amptelike taal is. Mandaryns is ook die amptelike taal van Taiwan. Westerlinge, wat China hoofsaaklik van die kus af bereik het, is aanvanklik aan Kantonnees blootgestel, en die Weste het dus die “skerper” geluide soos in Peking, Hua Koa Feng, Mao Tse Tung ensovoorts gewoond geraak, wat later reggestel is en Beijing, Hua Guafeng, Mao Zedong na vore getree het.

Die Chinese in diaspora is meestal Kantonnees, maar dit verhinder nie Chinese Irredentisme (’n gemeenskaplike nasionalistiese gevoel ongeag of die persoon in die binne- of buiteland woon) tot stand kon kom nie.

Benewens dat die Mandaryne weens hul meerderheid domineer, was hulle tradisioneel die heersersklas. Nie net het dit die keisers opgelewer nie (behalwe vir die tyd toe China deur die Mongole verower was), maar die meeste bekendes soos Confucius en Sun Tsu was Mandaryns. Die Mandaryne is oor die algemeen langer en ligter as die Kantonnese, en kan baard dra. In die praktyk sien die Mandaryne op die Kantonnese en ander neer.

Trouens, dit wemel steeds in die literatuur oor ligter Chinese wat ’n hoër status geniet – en is ’n sensitiewe kwessie omdat stand, kleurgekoppel of nie, teen die beginsels van kommunisme indruis. Dit is vanselfsprekend dat die Chinese media swygsaam hieroor sal wees.

Maar Wuhan is nie Kantonnees of iets anders nie. Dis Mandaryns, maar demonstreer juis die kompleksheid van die situasie. Die grootste dialek wat in Wuhan gepraat word, is juis ’n Mandarynse dialek, bekend as Wuhan. Maar – Wuhan (die stad) kan soms erg warm word, en voor lugversorgers bestaan het, was dit algemene tradisie dat die inwoners saans buite op bamboesbeddens gaan slaap het. Die inwoners is dus volgens ’n Engelse akademiese navorsingstuk as “common” beskou, maar ’n meer akkurate “vertaling” sou stellig die “Afrikaanse” “kômmin” wees. Al het die buite-slapery met die koms van lugversorgers verdwyn, het die kômmin persepsie bly steek.

Verder wys die studiestuk daarop dat die Wuhan-dialek wemel van wat in Engels as “slang” weergegee word, maar eerder op “kômmin slêng” verstaan kan word. Covid-19 het op die verkeerde plek uitgebreek, en toe buitelanders die oorsaak van die siekte na die gebruik om allerlei wilde diere soos slange en vlermuise te eet teruggevoer word, en veralgemeend op “die Chinese” se brood te smeer, is dit wêreldwyd as erg beledigend deur veral die Mandaryne ervaar.

In die Chinees-Amerikaanse magspel is daar min ruimte vir lastighede soos die waarheid.

Bogenoemde is net ’n kort precis van die werklike kompleksheid, maar gee wel ’n aanduiding dat hoe meer van die waarheid bekend word, hoe beter kan sake verstaan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Ligter van kleur Chinese teenoor donkerder van kleur Chinese. Vreemd. Ek dog dan dat rassisme net ‘n eienskap van wit Europese mense is…

Bernard

Natuurlik sal die Suid Afrikaanse regering witvoetjie soek by die Sjinese. Hulle het nie veel van ‘n keuse nie want hulle skuld hulle te veel. Eerstens het die Sjinese hulle ondersteun in die “apartheidsjare” en sederdien het hulle weer ongelooflike hoeveelhede geld by Sjina geleen – maar teen watter koste. As die Suid Afrikaanse regering te veel sê en te veel kritiek lewer op Sjina, al wat die Sjinese dan sal doen is om hulle pond vleis te begin terugeis en die Suid Afrikaanse regering het nié die geld om dit enigsins terug te betaal nie. Die regering steur hulle… Lees meer »

Fedup

Typical. Soort soek soort. Nie een van die 2 regerings is honest en respectable nie. Hulle sal nooit eerlik en reguit met hul lande se burgers of met die res van die wereld wees. suid afrika en china moet maar die wals stop. Nou is dit nie meer funny nie.

Grassie

Daar is iets omtrent Wuhan wat my pla. Daar was gerugte/berigte dat Sjina se laboratoriums waar navorsing oor chemiese- en biologiese wapens gedoen word in Wuham geleë is. Ek weet nie of dit nuus of fopnuus is nie. Ek sal baie graag wil uitvind of dit feite of fiksie is. Ek wonder of Herman weet – hy is een van die min mense wat ek sal glo.

Jemma

Ek voel weer erg beledig dat sommiges ander se lewens so minag dat hulle eetgewoontes ander nie net siek maak nie, maar hul dood kan veroorsaak. ‘n Eensame dood in intensiewe sorg sonder die geleentheid om te groet of ‘n naasbestaande om ‘n hand vas te hou terwyl hulle snak na asem. Elders in Afrika is weer twee gevalle van Ebola aangemeld. Ook ‘n virus waarskynlik oorgedra deur ‘bushmeat’. Die twee virusse is albei reeds teenwoordig in dieselfde land. As die twee blad skud en die perfekte storm vorm, wat dan? Gaan “wetmarkets’ dus nie wêreldwyd verban word nie? Sodat… Lees meer »