Nuuskommentaar: Christen-reaksie op SA-gebeure

Argieffoto (Foto: arborday.org)

Argieffoto (Foto: arborday.org)

Christene se reaksie op gebeure in die land word tans veel meer getoets as net deur die litigasie oor die plek van ’n godsdienstige etos in skole. Word gewoon by die kore aangesluit soos dié wat eis dat pres. Jacob Zuma en die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen die trekpas moet kry? Word die blinde oog op onregte gewerp? Of word skouer aan die wiel gesit om die onregte uit die weg te ruim?

Die verhaal van die drie bome

Israel het wêreldbekende inheemse bome, maar hulle is nie almal baie bekend as besonder geskikte timmerhout nie. Die stamme is dikwels bonkig, knoetsig, en selfs vervleg, sodat met die bou van die eerste tempel sederhout uit die teenswoordige Libanon ingevoer moes word.

Drie inheemse bome het groot drome vir die toekoms gehad. Die een wou graag eendag ʼn beroemde koning se skip word. Die tweede wou graag ’n skatkis word, en die derde wou graag tot teen die hemel groei.

Toe die eerste afgekap is, is ’n vissersskuitjie van hom gemaak. Dit is die skuitjie waaruit Jesus op die See van Galilea vir die menigte gepreek het.
Die tweede boom se hout is gebruik om ʼn krip van te maak – die krip waarin Jesus met sy geboorte neergelê is. Die derde boom se hout is gebruik om die kruis vir Jesus se kruisiging te maak.

God is liefde

Die boodskap is duidelik. Dit is reg dat die Christen daarna streef om sy Godgegewe talente in te span om te streef om die beste te wees wat hy kan wees. Maar dikwels het God ander planne in Sy Raadsplan oor waar ons aangewend moet word – en sal die Christen uit die aard van die Christelike etiek steeds die beste daarin probeer wees wat hy kan wees.

Dit is geen fatalistiese gedagte nie.

In 1 Joh. 4:8 lees ons: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” In vers 12 staan: “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.Klik hier om die hele hoofstuk te lees.

Ons ken almal die bekende 1 Korintiërs 13 se pragtige beskrywing van die liefde. Vers 9 stel dit ook duidelik: “Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik…” Ons weet nie alles nie, maar dat dit wat ons doen in liefde gedoen moet word, is duidelik, en wat liefde behels, is duidelik.

Suid-Afrika se drie bome

Die nuuskommentaar is nie bedoel om ʼn teologiese ontleding te wees nie, maar gebaseer op aktualiteite. Tog kan geen samelewing ook sonder norme en etiek wees nie, maar die jongste misdaadsyfers, die politieke verwikkelinge en universiteitsdebakels laat tog vrae ontstaan oor waarheen die land met sy sekulêre grondwet heen op pad is.

Suid-Afrika het ’n aantal wêreldbekende houtsoorte waarvan peperduur meubels vervaardig kan word – bome “wat ten hemele” reik. Ons dink aan die stinkhout- en geelhoutreuse. Ander houtsoorte word gebruik vir die mooiste kerfwerk, en die ysterhout is baie bekend vir sy hardheid. Een van die bekende Vader Claerhout se behoeftige swart leerlinge het weens ’n probleem om geskikte hout te kan bekostig, die mooiste Christusbeeld uit ’n spoorweg-dwarslêer gekerf.

Wat sou Suid-Afrika se bome as die mees gesogte plekke van aanwending beskou? Sou so ʼn boom dalk graag die podium in die parlement as sy grootste ideaal beskou? Sou ’n tweede meen ʼn lessenaar in die woning van die president sou sy ideaal wees? ʼn Derde sou seker reken die preekstoel in ’n bekende kerk is die ideaal.

Maar sou hierdie bome nie teleurgesteld wees nie? ʼn Mens kan jou indink dat die gedrag van die “agbare” LP’s die boom waaruit die podium gemaak is, soms sal laat wens hy is eerder vir die maak van toiletpapier gebruik.

Die kontroversie op kontroversie oor die president sal die boom van die lessenaar op Nkandla moontlik laat wens hy is as stutpaal diep onder in ʼn myn gebruik waardeur hy die mynwerkers help beveilig teen rotsstortings.

En die hout van die preekstoel, as hy sou kon waarneem hoe ’n deel van die gemeente Sondag vir Sondag met vroom gesigte in die kerk sit, maar daar buite weer hul varkpakke aantrek. Baie steek mekaar in die rug, beskinder die dominee, en gooi God se liefde in Sy gesig terug – net om weer die volgende Sondag met vroom gesigte die kerk in te paradeer. Ja, soms word selfs “in die naam van Christus” opgetree en ander mense, selfs mede-Christene, veroordeel omdat hulle nie presies soos die eie ek glo nie. Hierdie boom sou seker wens hy is eerder vir brandhout opgekap om aan iemand ’n warm maaltyd te kon help besorg.

Hoe word hulle wat met harde oordele deur die lewe gaan se wens weerspieël in die eienskappe van die goeie vrugte van die Heilige Gees? Vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, vol genade, onpartydig, nie veroordelend.

Ja, die Christen verduur geen onreg nie, maar dit beteken nie dat hy die drywer van onreg moet wees nie. Hy sal as ouer of as bestuurder tug, maar nie na ʼn onregverdige proses om tot die gevolgtrekking te kom iemand het oortree nie. En hy sal ag slaan op berou.

Media24 het onlangs ’n artikel deur die bekende dr. Piet Croucamp geplaas waarin hy die stelling maak dat geloof ’n privaat aangeleentheid is. Hiervan het die Hervormde Kerk op sy Facebook-blad verskil. ’n Persoon se Christenskap word nie aan- en afgeskakel nie. Van die Christelike godsdiens word soms gesê dat dit nie ’n godsdiens is nie, maar ʼn verhouding met God; ʼn leefwyse – ʼn God-geïnspireerde leefwyse.

Die brandpunte

Ruimte ontbreek om al die brandpunte in die land aan ’n Christelike respons te meet, maar die volgende kan nie daar gelaat word nie:

– Pres. Jacob Zuma: Ook Tim du Plessis skryf in Rapport oor die ANC se skynbare obsessie om die land te laat agteruitboer in sy vasbeslotenheid om Zuma te beskerm. Maroela het onlangs die SAKP se rol hierin bespreek – dat daar as’t ware ’n soort mutualisme tussen die president en die SAKP bestaan.

– Die storm om prof. Jonathan Jansen se kop: Dik vingers word nou gewys na die sweer uiteindelik oopgebars het. Dit is nou nie meer net die geval van twee Kovsie-studente wat na ʼn skynbaar bedenklike proses (as daar ooit ’n proses was), geskors is en “gewese Kovsies” genoem is voor hulle deur die Menseregtekommissie en die hof vrygespreek is nie, of die geval van die vise-rektor wat geskors is omdat sy glo met die Volksblad sou gepraat het nie. ’n Stroom beskuldigings oor ander probleme word nou geopper, en ’n raadslid het uit protes bedank. Die rektor se emosionele skiet uit die heup deur sy herhaalde sinspelings dat prof. Russel Botman nie vanself dood neergeslaan het nie; die gereelde gekruide taalgebruik; en die “oop deur”-benadering wat nie so oop blyk te wees nie, word in sy gesig teruggeslinger. Die onverkwiklike wyse waarop met Kovsies se Christelike etiek weggedoen is, word nou ook weer opgediep. In die media verskyn ’n rits briewe waarin die rektor ʼn rassis genoem word.

– Die skole se godsdiensetiek: Onder die redes wat aangevoer word dat die litigasie geloods word, is dat kinders wat anders glo, ten spyte van godsdiensvryheid, nie net deur klasmaats nie, maar soms ook onderwysers en selfs ’n skoolhoof geteister is. Hierdie optredes is vanuit ʼn Christelike perspektief onchristelik, en moet streng aangespreek word. Maar om die baba met die badwater uit te smyt is kwalik die oplossing. Om die onchristelike en gemene optredes van sommiges wat “in die naam van die Here optree” met die optrede van Christene gelyk te stel en daarom met die Christelike etos weg te doen, is nie die regte manier van doen nie.

– Die parlementêre sirkus: Ja, die wyse waarop die ANC sy meerderheid gebruik om eerder ’n diktatuur van die meerderheid as ’n ware demokrasie beslag te laat kry waarin in algemene belang eerder as sektorale belang regeer word, moet aangespreek word. Daar is byvoorbeeld geen manier waarop die ANC se openlike beleid van kaderontplooiing op iets anders as die diktatuur van die meerderheid neerkom nie, en waarom dit ook duidelik ongrondwetlik is nie. Maar hierdie “demokrasie” kan tog nie met goeie gevolge deur narrestreke vervang word nie.

Die Christen se reaksie

Die Christen word graag teen die kop geslinger dat hy taai is om te vergewe, maar dan word versuim om te kyk of die oortreder enige berou toon oor dit wat hy verkeerd gedoen het. Hoe opreg is iemand se berou as hy sy skuldeiser om genade vra, dit kry en dan buite iemand wat hom ʼn paar oulap skuld se pleidooie vir genade nie wil aanhoor nie, en die persoon laat wegsleep om vervolg te word?

In praktiese terme; die Christen kan nie die onreg verduur nie, maar moet in die proses nie sy oog van die kompas haal en self groter onregte pleeg in sy strewe om die onreg te beveg nie.

En as hierdie skrywer met die skryf hiervan die reëls van veroordeling oortree het, dit word berou. Wanneer die vinger na ʼn ander gewys word, wys daar immers vier vingers terug.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Gert ·

Die skolier kom in die middag by die huis en trek sy skoolbaadjie uit; die student kom tuis en trek sy universiteitsbaadjie uit; die sportman kom tuis en trek sy klub se baadjie uit! Die Christen kom by die huis en trek nie sy baadjie uit nie – hierdie baadjie kan nie na willekeur gedra word nie anders hoort dit permanent in die hangkas. Ons is almal swak en sondig daagliks, maar probeer na die beste van ons beperkte vermoe om hierdie baadjie met waardigheid, respek en deernis vir ander te dra. Mag ons nie net die genade ontvang om die baadjie te mag dra nie maar ook die aanslae wat geloods word om dit van ons af te skeur, met die hulp van ons Saligmaker en Verlosser, te weerstaan.

Pieter van der Dussen I ·

Dank aan Herman Toerien vir hierdie deeglike gelowige uiteensetting. En aan Gert se treffende bede.

Ronald Mitchell ·

Psalm 139
(Psa 139:19) o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!

(Psa 139:20) Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!

(Psa 139:21) HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?

(Psa 139:22) Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!

(Psa 139:23) Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;

(Psa 139:24) en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Ons moet hulle beveg met die Woord van Jahwe Elohiem. Hy het Satan ook daarmee verslaan deur sy Seun wat o.a. die volgende gese het:
Luk 4:8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Hy het verder gese:(Mat 10:5) Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie;

(Mat 10:6) maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.
Verder het hy aan hierdie haters van hom gese:(Mat 23:29) Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;

(Mat 23:30) en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.

(Mat 23:31) Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.

(Mat 23:32) Maak die maat van julle vaders dan vol!

(Mat 23:33) Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Ons moet vasstaan teen hierdie aanslae teen ons geloof in die Allerhoogste Hyis immers Die LEEROWERSTE van die hemelse leerskare.

Ronald Mitchell ·

Die woord se:
Psa 139:19) o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!

(Psa 139:20) Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!

(Psa 139:21) HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?

(Psa 139:22) Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!

(Psa 139:23) Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;

(Psa 139:24) en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Luk 4:8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
(Mat 10:5) Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie;

(Mat 10:6) maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.

(Mat 23:29) Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;

(Mat 23:30) en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.

(Mat 23:31) Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.

(Mat 23:32) Maak die maat van julle vaders dan vol!

(Mat 23:33) Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Ons as ware gelowiges moet hierdie aanslag op ons geloof in die naam van ons Verlosser weerstaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.