Nuuskommentaar: Christenskap en die verkiesing

Argieffoto

Argieffoto

Op 7 Mei ruk Suid-Afrika op stembus toe, en op 3 Junie doen Sirië dieselfde om presidentsverkiesing te hou. Tussenin lê minder as ‘n halwe wêreld en minder as ‘n maand, maar ten spyte van ‘n reeks ongelukkige ooreenkomste, is daar gelukkig ook wêrelde se verskille.

Die ooreenkomste is egter genoegsaam dat met erns daarop gelet word.

  • Beide lande is lappieskomberse van heterogeniteit, waarvan godsdiens maar een is.
  • Suid-Afrika is oorwegend Christelik, en Sirië oorwegend Moslem, en beide se regerings is formeel sekulêr – dit wil sê, godsdienstige strukture het nie ‘n formele invloed op die regering en beleid nie.
  • By beide lande loop die “foutlyne” van heterogeniteit deur na die buurlande, en selfs na die res van die wêreld.

Die Siriese presidentsverkiesing word as ‘n parodie van demokrasie beskou. Die land verkeer in ‘n burgeroorlog, met die regering in Damaskus wat nie in beheer van groot dele van die land is nie. Hoewel daar vir die eerste keer in verskeie dekades meer as een kandidaat se naam op die stembrief sal kan wees, is die voorwaardes van so ‘n aard dat pres. Bashar al Assad se vernaamste teenstanders by voorbaat uitgeskakel word. Hoe die kiesers in die rebelle-beheerde gebiede by die stembusse gaan kom, om van die sowat twee miljoen vlugtelinge buite die landsgrense nie eens te praat nie, is steeds ‘n misterie. Alle staatsmasjinerie word aangewend om Assad se presidentskap voluit te steun.

Assad en sy familie is Alawiete. Die Alawiete is ‘n sekte van die Sjiïete, wat ‘n baie klein minderheid teenoor die Soenies vorm. Ten spyte daarvan dat die Assad-dinastie nou al twee geslagte lank met ‘n ysterhand as diktators regeer, het Assad ook baie steun uit die Soenie-gemeenskap, en minderhede soos die Christene. Die rede hiervoor is eenvoudig dat Assad se sekularisme as belangrike teenwig dien vir vrese dat die opstand deur radikale en fundamentalistiese Moslems in die Al Kaïda-dampkring kan ontaard.

Hoe langer die burgeroorlog geduur het, hoe meer het dit geblyk dat hierdie vrese nie ongegrond was nie. In groot dele van die land is daar nou in wese ‘n burgeroorlog binne ‘n burgeroorlog. Die gevolg is dat Assad se magte reeds heelwat verlore grond kon terugwen, en volgens alle aanduidings besig is om die oorlog te wen. En daarmee saam byt die pro-demokrasiemagte in die stof.

Vanoggend se hoofartikel in Die Burger, Kerk en politiek moet om goeie rede uitmekaar bly, spreek in wese die probleem aan wanneer kerke as strukture hul gewig by politieke partye inwerp. Voeg hierby die probleem dat die een ANC-spreker na die ander, selfs wanneer kerke toegespreek word, die kerke “opdragte” gee asof die kerke eintlik strukture van die regering of party is en sekere take het om “namens” die regering uit te voer. Dit geld in die besonder take wat ‘n korrupte regering graag  an sy eie skouers wil afskuif, soos om etiek en moraliteit te bevorder.

Die tekort hieraan in die samelewing is daar vir almal om te sien. Vigs word met moeite en ten duurste bekamp, tienerswangerskappe plaas groot druk op die land se welsynstoelaes, fetale alkoholsindroom maak dit vir sommige gemeenskappe baie moeilik om uit armoede te styg, aborsieklinieke word oorstroom… Misdaad en nogmaals misdaad…

Daar is natuurlik nie ‘n beginselprobleem dat die owerheid die kerke versoek om hieraan aandag te skenk nie. Die kerke is immers veronderstel om dit vanself te doen.

Maar vir stemwerwing?

En as die betrokke party se eie beleid juis hierdie morele verval stimuleer? Kontrakteurs wat tenders wil kry wat maar moet oë toeknyp en ‘n groot aksie onder die tafel van stapel moet stuur om te kan bly voortbestaan. Om net meer en meer kondome uit te deel, en met kleure en geure aantrekliker te maak, eerder as om ‘n behoorlike boodskap te bring om rondslapery te ontmoedig. En ‘n president wat op sy amptelike webprofiel sy aantal kinders “binne en buite die eg” as meer as 20 aandui? En owerspel as verweer in ‘n aanklag teen verkragting gebruik?

En watter bedenklike voorbeeld stel ‘n kerk wanneer die president as ere-pastoor ingeseën word? Of self deelneem aan ‘n kerklike ritueel om poligame huwelike te bevestig?

Of self deelneem aan die een formele funksie van voorvaderaanbidding na die ander?

Om nie van die een godslasterlike uitspraak, en ander uitsprake wat hieraan grens, te maak nie, al is hy en sy kornuite al verskeie kere hard deur kerke aangespreek hieroor.

Ja, kerke moet in ‘n gesonde demokrasie uit die partypolitiek bly.  Dit “vrywaar” egter nie die kerke as strukture om ook as morele waghond op te tree nie. Hoe kan ‘n kerk byvoorbeeld met haarself saamleef, en haar voor God regverdig, wanneer in alle tale geswyg word wanneer ‘n casino in ‘n woongebied, en nogal naby skole, beplan word? Dit terwyl daar goeie navorsing is wat dui op die verwoestende sosio-ekononiese impak wat dit in radiusse om die casino het.

Die lidmate van kerke is ook kiesers en selfs lede van politieke partye. Kan dit dan wees dat ‘n kerk geen ongemak daarmee het as lidmate partye ondersteun wie se beleid heeltemal teen die kerk se opvattings oor onder meer aborsie, dobbel, “volwasse seks” buite die huwelik en vele meer indruis nie?

Sekere kerke, ook van die Afrikaanse susterkerke, het lank reeds staande besluite dat leraars ‘n ruk voor die verkiesing ‘n preek moet toespits daarop om riglyne aan die lidmate te gee oor hoe van hulle verwag word om hul kruisies in hul hoedanigheid as Christene te trek.

Dit is moeilik om ‘n mens in te dink hoe ‘n moeilike taak dit vir ‘n predikant is, omdat hy baie maklik ‘n groot deel van sy gemeente kan vervreem. Hierdie preke is dus dikwels so vaag en teoreties dat die lidmaat niks wyser uit die diens stap nie.

Dit ontneem die Christen, in sy persoonlike hoedanigheid as Christen, nie van eie verantwoordelikheid nie. Die Christen hou immers nie op om Christen te wees in sy hoedanigheid as eggenoot, as ouer, as lid van ‘n gesin, as lid van ‘n klub en wanneer hy agter die stuur van sy ryding inskuif om spitsverkeer aan te durf nie.

Ja, soms (en eintlik baie dikwels) is ons stoute Christene. Maar in die hart van die Christen brand ‘n begeerte om meer en meer volgens die voorbeeld van Jesus te leef.

En daarom kan hy ook nie wanneer hy stembus toe gaan die Here tuis laat nie…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

hanno ·

Christus het alles en almal gemaak en sal almal oordeel. Ware Christen-geloofsgemeenskappe (ware “kerke” of “gemeentes”) het die plig om deur ‘n ware Bybelse Christus-lewens en -wêreldbeskouing bewus te wees van en morele leiding te gee ten opsigte van alles onder die son, insluitend die doen en late van state, regerings en politici.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.