Nuuskommentaar: Christenvervolging steeds ‘n werklikheid

kruis‘n Bom wat by ‘n kerk in Pakistan ontplof het, het in September vanjaar 85 Christene se lewens geëis. Die getal Christene in Irak het na die val van Saddam Hoesein van 1,4 miljoen tot slegs ‘n geraamde 400 000 nou afgeneem, en in Egipte word Koptiese kerke gereeld aangeval – 80 keer die afgelope twee en ‘n half jaar. Sowat 200 000 Christene het Egipte reeds verlaat.

“Die Christendom is die mees vervolgde godsdiens ter wêreld, aldus die organisasie Aid to the Church in Need (ACN). In minstens 20 lande het die geweld en diskriminasie teen Christene toegeneem, luidens ‘n verslag, Persecuted and forgotten? wat pas bekend gestel is.

Die verslag beskryf ‘n domino-effek van aanvalle op Christene wat in Irak begin het, toe na Sirië uitgebrei het, en nou in Egipte ‘n ernstige probleem is.

Wanneer na ‘n wêreldkaart van godsdienste gekyk word, is die Midde-Ooste byna uitsluitlik Moslemwêreld. Die uitsonderings is die Joodse staat Israel, en Libanon wat ‘n baie groot Christen-minderheid het.

Volgens oorlewering het die Apostel Thomas sy  sendingwerk ooswaarts gerig sodat daar reeds met Columbus se aankoms in Indië ‘n inheemse Christenbevolking was – weliswaar ‘n baie klein minderheid. Maar groot Christengemeenskappe het in lande soos Sirië, Irak, en selfs Saoedi-Arabië en Jemen bestaan voor die opkoms van die Islam. Onlangs is berig dat daar selfs in Mekka Christen kerke en ‘n Joodse begraafplaas was, in ‘n streek wat periodiek met die hulp van die Bisantynse Ryk en die gekerstende Ethiopië by tye selfs kon floreer.

Ook in die suide van Irak was die Christene goed gevestig, en veral met die legendariese stad Hira as sentrum. Die moontlike herontdekking van Hira is onlangs  aangekondig en kom ironies te midde van die hernude viktimisasie van Christene in Irak na die Amerikaans-geleide inval. Boonop is die ontdekking van die ruïnes in 2007 te danke aan die geestelike oplewing van die Sjiïtiese heilige stad, Najaf. Met die toeloop van pelgrims moes die lughawe uitgebrei word, en met die grondverskuiwingswerke is op die ruïnes afgekom wat oorblyfsels van ‘n kerk.

Van die fynste gekerfde kunswerk is in die mure te siene. Hira is in ongeveer 270 na Christus gestig, en het tot ‘n beduidende sentrum ontwikkel. Dit was na bewering ook die plek waar Arabiese skrif ontwikkel is. Vir eeue was Hira die sentrum van die Christendom in die ooste, en die kerk wat hieruit ontwikkel het word soms die Nestoriaanse Kerk genoem. Die moderne Assiriese Kerk van die Ooste het hieruit ontwikkel – ‘n vorm van Christenskap wat vandag nog in Irak en Sirië aanhang geniet.

Eeue na die verowering van die gebied deur die Islam het Christene en Moslems nog in vrede naas mekaar geleef, en Islam-historici verwys na die bestaan van 40 kloosters in die omgewing.

Die Moslem-heersers het egter die Christene begin vervolg, en hulle het die wyk geneem. Uiteindelik het dié Christenbolwerk onder die sand verdwyn.

‘n Christen-parlementslid, Younadam Kanna, sê egter die herontdekking van die eertydse Christenglorie stuur ‘n boodskap van hoop uit dat die Christendom in Irak nog eeue sal kan voortbestaan.

Meer oor die posisie en geskiedenis van die Assiriërs kan hier gelees word.

Baie is bekend oor die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke, wat nou die eeu-herdenking nader. Die Christen-Armeniërs was egter nie al wat deurgeloop het nie, ook die Assiriërs, die Moslem-Koerde en ander groepe soos die Roma het deurgeloop. Vandag maak die Armeniërs ook ‘n belangrike deel uit van die Christen-gemeenskappe van lande soos Sirië, Irak en Iran.

Na aanleiding van wat met die Christene in Irak gebeur het na Saddam verwyder is, is baie Christene in Sirië nie oorgerus oor wat met hulle gaan gebeur wanneer pres. Basjar al-Assad se bewind sou tuimel nie. Tot dusver het Christene, soos ander minderheidsgroepe, verskanste setels in die parlement gehad, al was die parlement nou nie ‘n voorbeeld van demokrasie soos die weste dit verstaan nie. Assad kom immers selfs uit ‘n minderheidsgemeenskap – die Alawiete, wat ‘n sekte van die minderheid Sjiïtiese Moslems in Sirië is, en sy bewind is gekenmerk deur die relatiewe “sorg” vir sekere minderhede te midde van ‘n groot Soenie-meerderheid.

Soos die burgeroorlog in Sirië uitgerek het, het die radikale Moslems al sterker binne die geledere van die rebelle geword. Van hierdie groepe is deeglik in die neo-Salafitisme gestel – die radikale vertakking binne die Soenie-Islam wat met Al Kaïda verbind word en onderling skakel met verwante groepe soos Al Shabaab in Somalië, Boko Haram in Nigerië en die radikale rebelle in Mali wat onder meer die Mosem-heiligdomme uit ‘n ander vertakking, die Soeftie (Soefie), in Timboektoe vernietig het. Dit plaas die Christene in Sirië – sowat tien persent van die bevolking – in ‘n knyptang. Hulle word deur minstens ‘n groot deel van die opstandelinge verkwalik omdat hulle nie so openlik teen Assad in opstand kom nie, terwyl die bewind hulle weer verdink daarvan om deel van die opstand te wees omdat die Westerse simpatie met die rebelle ook as steun van Christene aan die rebelle gelyk gestel word.

Die lot van Christen-gemeenskappe in die Midde-Ooste hang grootliks af van die houvas wat radikale vertakkings van die Islam soos die neo-Salafiste op die Moslemgemeenskap kry.

Aksies soos pastore wat Korans verbrand en spotprente van Mohammed geskied in die Weste onder die vaandel van regte soos godsdiensvryheid en die reg op vrye meningsuiting, maar neem nie in ag dat daar in die Moslemlande miljoene Christene is wie se geloof dikwels baie meer as in die weste getoets word, en weer en weer die spit moet afbyt nie.

Bron: Trouw se berig kan hier gelees word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae