Nuuskommentaar: Christusfees of Krismis?

Kersfees-liggies

Argieffoto: Monicore/Pixabay.com

Kersfees is ongetwyfeld veronderstel om ’n Christusfees te wees, maar het oor baie jare vir baie in ’n “hêppie Krismis” ontaard. Die afgelope aantal jare het ’n betreklik onlangse Amerikaanse gebruik om mekaar die politiek korrekte sekulêre “happy holidays” toe te wens in die VSA sterk onder skoot gekom. Noudat dit skynbaar op pad uit is, word dit hier onder winkelbase en instellings soos die SAUK mode, iets wat Christene in die VSA net so veel dwars in die krop steek as wat Christene hier nie “hêppy Krismis” goedkeur nie.

Dit lyk of die Amerikaanse “gebruik” wat groot weerstand in die VSA self onder Christene ervaar het, nou al hoe meer in Suid-Afrika wortel skiet. Sal dit winkelgroepe en ander wat kommersieel munt uit die gebruik van “happy holidays” in plaas van “geseënde Kersfees” probeer slaan, nie loon om te kyk hoe baie Christene daarmee aanstoot neem nie? Ook instellings soos die SAUK wat spook om finansieel kop bo water te hou, kan dalk met vrug hiervan kennis neem.

’n Baie groot persentasie Suid-Afrikaners dui immers aan dat hulle Christene is.

Met die verkiesing van pres. Donald Trump tot Amerikaanse president het hy onder meer gesê dat hy “ontslae” gaan raak van die “politiek korrekte” “happy holidays” wat in plaas van “a merry Christmas” ingespan is. In daardie stadium het Christengroepe en individuele Christene in die VSA al baie heftig geraak oor die “happy holidays” wat in wese in hul kele afgedruk is, en wat sterk deur pres. Barack Obama en sy administrasie bevorder is.

Selfs pres. George W. Bush, wat hom verskeie kere simpatiek oor “a merry Christmas” uitgespreek het, se laaste amptelike “Kerskaartjie” het nog alle Amerikaners “happy holidays” toegewens.

Met Trump se verkiesing, so lyk dit uit beskikbare mediabronne, is almal min of meer tevrede gelaat. Elkeen maak soos hy wil. Peilings oor of Christene aanstoot neem as hulle “happy holidays” toegewens word, wissel baie, met een wat aandui dat ’n oorweldigende meerderheid Kerswense bo “happy holidays” verkies.

Peilings vanjaar fokus eerder daarop om te bepaal hoeveel Amerikaners hulself as Christene beskou, en hoeveel nog ernstig voel om gelowig te wees. Ook die vraag of Christus of Kersvader sentraal met Kersfees moet staan, het aan die bod gekom.

Volgens ’n onlangse Rasmussen-verslag meen 71% volwasse Amerikaners dat godsdiens minstens ʼn effens belangrike rol in hul lewens speel, al woon hulle nie gereeld kerkdienste by nie. Dit sluit 47% in wat aandui dat hulle baie sterk oor hul godsdiens voel. Net 15% het aangedui dat godsdiens geen rol in hul lewe speel nie.

Die Amerikaanse president, Donald Trump. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

In nog ’n opname is bevind dat 74% van die volwasse Amerikaners meen dat Kersfees in openbare skole gevier behoort te word. Die meeste meen ook Christelike simbole behoort ’n plek op openbare terreine te vind. In nog ’n opname is bevind dat 50% meen die VSA sal ’n beter plek wees as meer mense godsdiensgeleenthede bywoon, terwyl 9% meen dit sal van die VSA ’n slegter plek maak.

In ’n peiling wat op 10 Desember gedoen is, is bevind dat twee uit elke drie Amerikaners voorkeur gee aan Kerswense met ’n fokus op Christus eerder as op generiese “happy holidays”. Altesaam 87% meen Kersfees moet meer op Christus fokus as op Kersvader, terwyl 14% meen Kersvader moet die belangrikste fokus wees.

In die laaste peiling waarna gekyk word, het 82% van die Amerikaners aangedui dat hulle vanjaar Kersfees gaan vier. Net 3% vier Hanukkah, die winter son-ewening of Yule. Hanukkah is ’n Joodse herdenking van die hertoewyding van die Tweede Tempel in die tyd van die Makkabeërs. Yule is ’n ou Germaanse herdenking van die jagseisoen, en aan die afgod Odin gekoppel.

Bogenoemde peilings en die “mode” in Suid-Afrika om nou by die “happy holidays” in te val laat ’n mens dink aan die grappie van die SAL-vlug van Londen af wat Johannesburg nader waar die kaptein die passasiers inlig: “Ons gaan binnekort in Johannesburg, Suid-Afrika, land. Stel asseblief u horlosies 30 jaar terug.”

Ons weet nie op watter dag Christus gebore is nie, en dat dit baie onwaarskynlik is dat dit op 25 Desember was. Daar is ook diegene wat meen daar is geen aanduidings in die Bybel dat Christus se geboorte herdenk moet word nie. Boonop is die Paasfees (wat ook grootliks kommersieel gekaap is soos die halaal-teken wat ’n sekere winkelgroep op Paasbolletjies laat aanbring het, getuig), die belangrikste Christelike fees, en nie Kersfees nie.

Maar solank as wat die Christusfees op die regte manier herdenk word, word uiting gegee aan die vreugde wat die herders in die veld ervaar het, asook die vreugde van die ongebore Johannes die Doper toe sy swanger ma by die swanger Maria gekom het.

‘n Video met Charlie Brown as ’n karakter wat argumenteer oor belangrikheid van Kersfees kan hier besigtig word.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

AmY ·

Op die einde van die dag, lê die keuse by elke persoon self.

Eddy ·

Kersfees het lankal sy waarde verloor.Dis deesdae net partytjie voor en agter.Mens weet nie eens meer dat dit Jesus se geboorte is nie.Die mensdom vier liewer sy eie domheid

Anoniem ·

As die mensdom CHRISTUSFEES op die regte manier vir JESUS se geboorte sal daar minder slagting op die paaie wees maar die drank vloei hierdie tyd van die jaar vir ons is n kindjie gebore om weer te sterf asn n ruwe kruis vir elkeen van ons mag elkeen n geseende CHRISTUSFEES HE MET DIE GROOSTE LIEFDE EN GENADE VAN MY LIEWE HEER ???

Ander Annie ·

Vir ons as ‘n familie is dit die herdenking van Jesus se geboorte in ‘n nederige stal in Bethlehem. Dit is vir ons ‘n Christusfees. Ons geniet die dag saam as geliefdes en familie.

Pierre ·

Baie dankie Herman, ook vir jou en jou gesin word ‘n ware Christusfees toegebid. Enkele opmerkings van my kant af, Dit is ironies dat ‘n Christen altyd die teiken is rondom feeste wat glo aanstoot gee tot ander gelowe en dat diegene voel hulle word oorweldig met die Christelke viering van Kersfees en Paasfees. Dus moet alles altyd polities korrek wees. Ek werk in ‘n omgewing waar Moslem, Hindoe en ander gelowe ook teenwoordig is, en het ek nog nooit aanstoot geneem waar hulle by hul feeste betrokke is nie. Inteendeel, ek het nog altyd ook aan hulle my seenwense oorgedra tydens die feeste. Die feit van die saak is daar is in my oordeel nie plek vir iets soos Merry Christmas nie, hierdie behoort as ‘n Christusfees te dien ongeag die feit dat dit nie sy geboorte dag is nie. Hierdie is ‘n tyd van dankbaarheid en vir gesinne om saam te wees, ‘n tyd van vrede en versoening en om liefde teenoor almal uit te straal. Maak gebruik van elke kans in jou lewe, die viering van die Christus geboorte behoort eintlik nie net op 25 Des ‘n rol te speel nie maar elke dag, want met sy Kruisweg het God alles oorwin, daarom dat Sy Kruisdood ‘n belangriker rol speel as Sy geboorte, en is daar dan ook geen spesifieke aanduiding van Sy geboorte soos met die Kruisiging nie. Mag elkeen van ons ook dan in Sy teenwoordigheid staan in die Fees gety. Shalom

PaulV ·

Pierre; ek wil graag weet hoekom jy en ander wie hulself as Christene voordoen, hul kommentaar afsluit met die Joodse-groet ‘Shalom’?

PaulV ·

Pierre; hoekom sluit jy en ander Christene jul kommentaar af met die Joodse-groet ‘Shalom’?

PaulV ·

LATIE; hoekom dan nie die woord ‘vrede’ gebruik nie? Shalom kom in die Talmud voor en is dus nie Bybels/Christelik nie.

Annie ·

Ek stem saam met jou Ander Annie. Ons gebruik is om op Kersdag, n kerkdiens by te woon.
Deesdae is daar nie meer sommer n diens op die dag nie. Ons gaan dan die vorige aand. Op Kersdag self is ons stil en rustig, geniet n lekker feesmaal saam met vriende en familie en weet presies waaroor die dag gaan.

Mornay ·

The Bible itself tells us that December 25 is an unlikely date for His birth. Palestine is very cold in December. It was much too cold to ask everyone to travel to the city of their fathers to register for taxes. Also the shepherds were in the fields (Luke 2:8-12). Shepherds were not in the fields in the winter time. They are in the fields early in March until early October. This would place Jesus’ birth in the spring or early fall. It is also known that Jesus lived for 33.5 years and died at the feast of the Passover, which is at Easter time. He must therefore have been born six months the other side of Easter – making the date around the September/October time frames.

AI TOG ·

Tekens van die tyd. Ongelukkig maak die mensdom nes hy wil en vergeet heeltemal van ons Skepper en Verlosser.

Elmien Avenant ·

Kersfees is en was nog NOOIT ‘n Christelike Fees nie. Van die begin af was dit heidens en so min as 150+ jaar terug het geen Christen dit gevier nie en was daar ‘n verbod in die VSA op die viering van die Heidense Fees. Maar ons kies tradisie bo God se Woord…bo God se Feeste en dink dat ons Hemelse Vader reg moet wees daarmee dat ons Hom aanbid soos en hoe ons wil…net soos met Sabbat vs Sondag… YHVH is gister en vandag en môre dieselfde. Op wie se outoriteit is die dae ingestel en wie skryf vir wie voor hoe aanbid moet word? Laat elkeen deur die bloed van ons verlosser Yashua ernstig bid en vra vir die Heilige Gees om ons deur die Woord te wys wat ons Almagtige God se wil is. Laat elkeen kies… ‘pagan holidays’ of YHVH se Heilige dae wat deur Yashua asook die eerste Christene gevier is voordat alles vermeng en verdraai is deur die Katolieke kerk om ‘vrede’ tussen heidene en Christene te bewerkstellig. Ek bid dat elkeen opreg sal begin soek vir die waarheid…omvergifnis sal vra en terug sal draai na die ou paaie…na YHVH toe.

Anton X ·

Die rede vir die vermenging van feeste is nie om vrede tussen heidenne en Christene te bring nie. Die doel is juis om Christen so af te water, dat dit eintlik niks meer met die Bybel te doen het nie, en sodoende ons voor te berei vir die valse profeet.
Wat mense nie besef is, ons aanbid die dier elke dag van ons lewe. Sabbat op ‘n sondag, Kerfees, Paasnaweek, Halaal kos wat ons eet, sport op die Sabbat (Saterdag), ag en nog vele meer. Wanneer laas het predikante en pastoors die 10 Gebooie gelees? Nie meer nie. Nou is dit net Menseregte en versoening. Klug man.
Stadig maar verseker, geslag vir geslag word dinge verander. En weerstand is min. Eintlik word jy uitgegooi as ‘n verkrampte deur die dinge net te noem. Maar dis so geskrywe, so geen verbasing vir my nie. Die weg is nou.

John ·

…. en Januarie is ons geld op en wie blameer ons dan vir al die swaarkry en armoede?

Anoniem ·

Dit steek my dwars in die krop dat talle mense by die werk en in winkels hier vlak voor Kersfees vir my ‘n “krismisboks” vra. Ek ken jou nie en jy ken my nie, dus wat laat jou dink daar rus ‘n verpligting op my om vir jou ‘n geskenk te gee? Ek kry al te veel die gevoel dit gaan vir diesulkes oor die geskenk, en hulle voel ‘n veer vir Christus.

Jerry ·

Bittermin dinge in hierdie lewe het dieselfde betekenis vir so baie mense op hierdie aarde. Mense is ongelooflik maklik beinvloedbaar met enige iets anders as met ware geloof. Dit is asof die mammon duiwel losgelaat is tussen die mense en hoe meer mense, hoe meer mammon duiwels pop oral uit, veral in Suid Afrika! Die ware betekenis van die Christusfees en beoefening daarvan is in der waarheid, bitter min gesinne en families beskore. Die Christelike geloof en feeste word deesdae deur mammon aanbidders, nie net beoefen nie, maar hulle lei ook in die geloof en sing voor in die koor! Hulle boodskap is duidelik, jy kan net geld maak as jy geloof beoefen! Nie net die staat was gekaap deur die Guptas nie, hulle soort is hard aan die werk om die Christelike geloof te kaap en dit alles vir besigheid en geldelike gewin. Hulle begin eers met n moslem musalah in n woonbuurt, dan begin hulle om gewone huise in die area te omskep as christen saamkomplekke waar daar gebid, gesing en dan besigheid gesels word. Dit is hoofsaaklik wit en swart middeljarige en jongmense wat gelok word na die huise toe! Deesdae kan n mens nie anders as om skepties te staan teenoor die sogenaamde nuwe SA Christene en die Christusfeeste wat deur hulle gereel word! Die ouergarde moet kennis neem dat die verval van SA asook Christenskap, op alle fronte van beinvloeding plaasvind. Geseend is die Christene wat Christusfees vir die ware redes vier!

DeVill ·

Ek stem nie saam dat Kersfees ongetwyfeld ‘n Christusfees is nie.
Hermam sê self ons weet nie op watse , dag, maand of jaar Jesus gebore is nie.
Ook sê Herman dat die amper verseker nie die 25ste Desember is nie.
Verder bevestig Herman ook dat daar GEEN instruksie of versoek van Jesus of die Apostels is of was dat ons sy geboorte moet vier nie!
Daar is geen so opdrag, versoek of enige sprake van Kersfees nie.

Wat hy wel uitgelaat het is dat die idee van Kersfees en spesifiek die datum van die 25ste Desember gepaard gaan met ‘n heidense fees wat ook dan plaasvind.
By hierdie heidense fees het die mense bome versier en hope en hope persente uitgedeel. Klink dit bekend?

Ek glo persoonlik dat Christene nie Kersfees behoort te vier nie.
God gee ons reeds opdrag om weg te bly van sulke dinge af!

Maar dit is net my siening!

Eish ·

Heeltemal korrek.
Dis die herdenking van Nimrod se seun, Tammuz.

Celtis Africana ·

Dis om die minste te sê, n fees van boomaanbidders.
Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.
JEREMIA 10:3‭-‬4 AFR53
Natuurlik is Jesus nie op 25 Desember gebore nie! Dis winter in Israel en jy gaan verseker nie skaapwagters oop en bloot in die veld kry nie!
Die Woord leer ons dat Johannes die doper 6 maande ouer as Jesus was. Johannes se pa was n priester wat in rotasie tempeldiens gedoen het. Met die pasga, is Johannes die doper gebore. Dis dus in Maart of April. Ses maande later bring ons by September/Oktober, wat ook die tyd van die Huttefees is.

PieterJohannes ·

Ek dink Herman raak, raak net aan die verskillende interpretasies en sieninge rondom Kersfees. Ons moet dalk so na die oorsprong van Kersfees kyk. Keiser Konstantyn het ‘n groot probleem in sy Romeinse ryk gehad. Die Romeine kon nie die Christus volgelinge dood smoor nie en hoe erger en wreder die vervolging, hoe meer het die vroeë Kerk gegroei. Toe hy dan sogenaamd tot bekering kom, het hy ‘n massiewe probleem gehad want sy ryk was deurspek met verskillende gelowe en hy moes almal probeer akkomodeer. Van die Joodse geloof, die son aanbidders, die maan aanbidders, die Christene, die Tamus aanbidders en vele ander was deel van sy ryk. Die son aanbidders in die Noordelike halfrond het bv. op 25 Desember fees gevier omdat hulle geglo het dat as die son nie sou terugdraai nie, sou dit vir altyd donker bly en almal sou verkluim. Daarom het hulle hard gebid en as die son dan gedraai het, fees gevier en vir mekaar geskenke gegee. Die immergroen boom, die denne boom was ook deel van die rituele. Die vuurwerke het weer uit die Ooste met hulle afgode gekom. Tesame met die totstandkoming van die Roomse Kerk, was Kersfees en baie ander feeste gekombineer om alle gelowe te probeer akkomodeer. Tamus, seun van Nimrod, se geboorte datum was 25 Des en die oorlewerings beweer dat hy uit die dood opgestaan het nadat sy ma (Semerimus) en ander vroue gebid het. Vandaar die Moeder Maria geloof. Coca-Cola het Kersvader geskep vir finansieële gewin.

nico k ·

Ek stem saam met talle mense hierbo dat Christus heel waarskynlik nie op 25 Desember gebore is nie en dat die nie ‘n Bybelse fees is nie. Maar dit beteken nie ‘n mens nie op enige dag van die week mag Kerk toe gaan nie. Ek self gaan 25 Desember Kerk toe, maar ek heg geen besonderse betekenis aan 25 Desember meer as enige Sondag nie. En as mense wil presente gee en partytjie hou moet hulle maar liewer ophou om na Kersfees as Christen fees te verwys. Noem dit dan maar familiedag.

Jan ·

Langenhoven leer: Hoe meer waarheid daar by n leuen is, hoe gevaarliker is daardie leuen.
Hy grond sy stelling so: As n melkboer net suiwer water in n bottel verkoop, bedrieg hy niemand nie, maar nou gooi hy n bietjie melk daarby en siedaar die mense glo dan dit is melk.
So met kerke: Hulle het n groot waarheid waarmee hulle begin dan begin die leuens en mense aanvaar dit want daar is die “groot waarheid” mos daarby

Magaretha van heerden ·

Dit is nie n Christus fees nie maar n pagan oorsprong. Kyk gerus na David Pawson on Christmas This will make it clear to all Christians who wants to know. Op youtube te vind
Lekker gesinsvakansie vir almal van ons uit die koue England.

JMC ·

Kersfees het niks met Jesus se geboorte of ware Christendom te doen nie. Dis ‘n heidense Babiloniese fees wat die banaliteit van Semiramus en Nimrod gevier het en is deur die katolieke (wat ook niks met Christendom te doen het nie) die wêreld ingesleep. Dixi.

Hannes ·

Goeie kommentaar deur almal hierbo. Ons moet ons egter nie blindstaar teen die viering van kersfees en ander dae nie ( ek self en my gesin vier die geboorte van Christus en gaan Sondae kerk toe). Dit dra egter geensins by tot ons verlossing nie ( n mens word nie deur werke gered nie , maar uit genade alleen, deur geloof alleen).

As jy dus glo dat Jesus vir jou sondes aan n kruis gesterf het,opgestaan het uit die dood en opevaar het na die Hemel, voorspraak maak by God die Vader en weer sal kom om ons te kom haal is jy reeds gered.

Gaan lewe dan uit dankbaarheid teenoor God vir Sy onverdiende genade .

Ander Annie ·

Ek geniet Kersfees en vir my en my gesin is dit ‘,n Christusfees. Ek glo Liewe Jesus sal verstaan oor hoe ons sy verjaarsdag herdenk, koue of nie koue nie. Ons luister na pragtige kersliedere, gaan kerk toe, sing kersliedere saam. Ek gee regtig nie om wat ander sê nie, dit bly vir my en my gesin ‘n kosbare tyd. Ons sit Christus in Kersfees. Nou wil ek ook afeindig met Shalom – vrede vir almal.

Martie ·

Die mensdom is so mislei dit is eintlik baie hartseer. Kersfees het NIKS met Jesus se geboorte te doen nie. So ook het kersvader, kersbome, “mistletoe” etc nerens’n verbintenis met Jesus se geboorte nie.

Ek is ‘n Christen, maar ek weier om my Saligmaker se geboorte en God se grootste geskenk aan ons mensdom te verbind met BAALaanbidding (Nimrod) en om heidense feeste en gebruike aan te neem (Lees Jer 10:1-8 oor die Kersboom). “Christ’s Mass” was ‘n fees wat deur die Romynse Kerk ingestel is in ‘n poging om die Pagans oor te lok na hul kerke toe (om hulle geld te kry) en om dit te doen, is die Saturnalia fees geneem en herdoop na “Christ’s Mass” toe…. amper 400 jaar NA Christus se dood.

Mens kan enige dag wy daaraan om Jesus se geboorte te gedenk en ek sien niks fout as mense dit op 25 Des wil doen nie, maar moennie dit “Kersfees” doop of ‘n kersboom of kersvader daaraan verbind nie, want dan raak dit afgodsdiens, al bedoel mens dit HOE goed. Gaan lees Mattheus 15:8-9. God is nie geëer deur menslike tradisies nie.

Dis hartseer, dit maak mens woedend kwaad… maar dit is ongelukkig die waarheid. Ek was ook kwaad toe ek dit die eerste keer gehoor het.

Mads ·

Nie een van die 2 nie. Ek verkies die waarheid en nie heidense leuns nie. Hy is gebore laaste week in September tot eerste week in Oktober. Presiese datum onbekend. “Vier” maar net wat julle wil. Dieselfde geld vir Paasfees en watter dag eintlik sabbat moet wees.

Pieter Johannes ·

Waar is die sekerheid dat die Bybel oorspronklik is? Die inhoud van die Bybel is wel geskryf deur die mens oor duisende jare en hoe weet ons daar is nie iewers langs die pad woorde verdraai nie?

Wat is die waarheid? ·

Almal wat kommentaar hierbo lewer verskil hierbo met mekaar. Wat is dan die waarheid? Die een glo dit en die ander een dat en elkeen glo dat hy of sy reg is. En dat almal verder moet aanvaar dat hulle reg is sonder om te bevraagteken. Is die werklike rede dan nie dat elkeen hulle manier van lewe, voordele en dit wat vir hulle bekend is ten alle koste beskerm al beteken dit dat ander wat veskillend glo dit moet ontgeld deur godsdiens te gebruik? Is dit hoekom daar soveel verskillende interpretasies, kerke, kulte en sektes binne die geloof bestaan?

Al wat ek verseker weet is dat Kersvader, die Paashaas en die Tandemuis denkbeeldige en fiktiewe karakters is wat glad nie bestaan nie.

PieterJohannes ·

@Pieter Johannes. Mooi naam. Dit is statisties onmoontlik dat soveel voorspellings na 2000 jaar en langer so akkuraat kan uitkom. Van Jesus se geboorte in ‘n stal, tot sy hele lewe in die fynste detail ( selfs die donkie episode), tot die detail van sy kruisiging wat in detail baie lank tevore voorspel is deur verskillende profete. Daar is ook baie voorspellings wat nog moet uitkom. Dit is baie opwindend. So moet asb. nie twyfel nie, maar glo. Glo soos ‘n kind en moenie jouself in ‘n hoek redeneer nie. Ek los jou met Jesus se eie woorde: “……Ek loof U, Vader, Here van Hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het……” Luk 10:21

E.K. die eerste ·

Mense kan darem aangaan. Navorsing wys wel dat Jesus se geboort eerder in Spe rond kon wees maar die feit is dat hulle wêreldwyd ‘n datum gekies het wat dan wêreldwyd gevier kan word op dieselfde datum. Hoe jy dit vier is hoe di tin JOU hart is. Ek persoonlik het van kleins af my kinders geleer dat die boom groen is en dat ‘n boom groei soos ons glo die Christendom voortdurend groei. Die liggies verpersoonlik vir MY dat HY die Lig van die Wêreld is en die ster bo aan die boompie verspersoonlik die ster wat die wyse manne (terloops nêrens staan daar ind ie Bybel dit was drie nie!) na die stal in Bethlehem gelei het. Ons gee mekaar geskenke omdat die geboorte ‘n groot geskenk aan die mensdom was en ook omdat die wyse manne geskenke aan die baba gebring het. Ek het ook ‘n punt daarvan gemaak dat hulle weet ons herdenk dit wel op daardie datum maar dat dit wel op ‘n ander datum ook kon wees maar gerieflikheidshalwe word dit wêrledwyd op dieselfde datum gevier. Verder koop ons klein gekenke maar ook gee ons geskenke aan midnerbevoorregtes die tyd van die jaar – reg deur die jaar help ons maar hierdie tyd van die jaar omdat dit die einde van die jaar is maak ons dit spesiaal en meer. Laat elkeen doen soos hy/sy wil sonder om altyd te kritiseer. Dis wat in JOU hart is.

Charmaine ·

Waarom lees ek niks van Kersfees in die Bybel nie?

Meeste Christene is onder die indruk dat dit oneervol sal wees om nié Kersfees te vier nie. Maar waarom is dit dan nie ʼn fees wat ons in die Bybel aantref nie, en waarom het die apostels ons nie ná die opvaring van Dit was die jaar toe die Pous die heidense oorwinningsfees van die son omskep het na die geboortefees van ons Messias. Hierdie fees was in die heidendom gevier eeue vóór die geboorte van ons Messias, en het derhalwe niks met ons Messias iets te make nie. Hierdie heidense fees was gekenmerk deur die gee van geskenke, die versiering van dennebome, die aansteek van kerse, welwillendheid tussen mense en die afskryf van skuld. In werklikheid word ons in die Bybel spesifiek gewaarsku om nié hierdie heidense gebruike na te volg nie! Hierdie feestelikhede was gevier omdat 25 Desember volgens ons

Dit is seker al algemene kennis dat ons Messias nié op 25 Desember gebore is nie,

Vader “haat” feeste wat Hy nie ingestel het nie, en Kersfees was beslis nie deur Hom ingestel nie. Soos reeds aangetoon, is Kersfees ʼn heidense fees wat eers in die vierde eeu (valslik) aan ons Messias gekoppel is. Volgens Vader se Woord kan daar dus geen twyfel bestaan dat Vader in werklikheid die vier van Kersfees haat nie!

Dit is tyd dat ons volk terugkeer na Vader se voorskrifte in sy Woord, en doen wat Hy van ons verwag!

ZAR ·

Julle weet die dobbelsteen is gemaak om mee te dobbel, soos die naam sê, maar tog dobbel ons nie as ons dit gebruik om slangetjies en leertjies te speel nie. My punt is, God ondersoek jou hart.

PieterJohannes ·

Na alles wat hier gesê is, moet ons een ding onthou. “Al sou ek al die kennis hê, en ek het nie die liefde nie, sou ek niks wees nie.” Ek sien ook dat kennis, soos Paulus sê, bring hoogmoed. Daarom sal dit niks baat as ons mekaar “byt en opeet” nie, al sou ek hoe REG wees. Dit is nogal iets wat baie belangrik is en wat nie mooi verstaan word onder ons Afrikaanses nie. Ons sal maklik sê: “Ek is reguit” en dan is ons trots daarop. Intussen is dit maar net nog ‘n vorm van hoogmoed en self verheffing. Dan is ek maar net nog ‘n luidende simbaal en ‘n klinkende metaal. Of soos die mooi Afrikaanse spreekwoord lui: “Die leë blikke maak die meeste geraas” Ek bevind my soms in die posisie dat ek so “REG” is dat ek eintlik verkeerd is. Aan die einde van die dag is daar so baie wat ek nog nie weet nie, en baie dinge wat ek heel waarskynlik nog verkeerd verstaan. “Soos in ‘n spieël en ‘n raaisel.” Want on ken ten dele…. Daarom moet ons ons voorneem om mekaar onvoorwaardelik lief te hê en te vergewe ten spyte van……… omdat ons van so baie vergewe is. So vergewe my ook asb. as ek iemand hier te na gekom het.

Kersfees en baie ander dinge ·

Geloof het sovele interpretasies en veskillende dogmas en leerstellings dit is hoekom geen twee mense ooit ten volle sal saamstem oor godsdiens nie. Probleme ontstaan voortdurend waneer die een die ander wil forseer om te glo soos wat hulle glo. Selfs binne die mees homogene groeperings of gemeenskappe/families wat soos soldaatjies in gelid marsjeer is daar verskille en ontstaan daar probleme. Hulle sal dit net nooit erken nie want swakhede bestaan mos nie volgens hulle nie. Godsdiens word dikwels gebruik om ‘n houvas op mense te kry en te behou wat verskeie emosionele, psigiatriese en sielkundige probleme versoorsaak asook persoonlikheidsversteurings. Groot dosisse emosionele afpersing, dreigemente en manipulasie word gebruik, dikwels op ‘n subtiele wyse. Kortom: ALmal bly net mense met swakehede en vrese.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.