Nuuskommentaar: Clicks en die militante sosialegeregtigheidsbende  

Die gewraakte advertensie.

Die afgelope naweek het ʼn herrie op sosialemediaplatforms losgebreek oor ʼn advertensie van Clicks waarin produkte vir verskillende vroue se hare adverteer word. “Frizzy & dull” en “dry & damaged” is by foto’s van swart vroue se natuurlike hare gebruik, terwyl “normal” en “fine & flat” by wit vroue se natuurlike hare gebruik is.

Die EFF het die uitbarsting op sosiale media gelei met ʼn oproep van sy sogenaamde soldate om Clicks-winkels regoor die land vandeesweek toe te maak. Die EFF het in sy amptelike verklaring in reaksie op die advertensie gesê: “Die implikasie hiervan is dat ʼn swart identiteit minderwaardig aan die identiteit van wit mense is. Dit is ʼn aanname dat wit standaarde van skoonheid nagestreef moet word en dat die kenmerke van swart mense skade, aftakeling en abnormaliteit verteenwoordig.”

Hoe presies ʼn mens die sprong maak van die advertensie se inhoud na die EFF se verklaring daaroor, is nie heeltemal duidelik nie. Was Clicks se advertensie dwaas? Gegewe vandag se oorsensitiewe kultuur van politiese korrektheid, ja. Was dit met bose voorbedagte herhalendheid teenoor swart mense uitgegee? Waarskynlik nie.

Tog leef ons vandag in ʼn wêreld waarin alle individue, groepe en maatskappye met hipersensitiwiteit oor ras en kultuur moet optree. Enigeen wat nie met voldoende sensitiwiteit optree nie, mag oombliklik “gekanselleer” word, geterroriseer word om jammer te sê en as ewige rassis gebrandmerk te word.

Hierdie verskynsel het veral sedert die dood van George Floyd in Amerika weer vlamgevat. Talle ondernemings se name en logo’s is as aartsrassisties bestempel en gedwing om te verander. Diegene wat nie eers gedwing is om te verander nie, het in ʼn poging om die woede van die sosialegeregtigheidsbende vry te spring uit eie beweging so gemaak.

Johnson & Johnson het byvoorbeeld vroeër vanjaar opgehou om sogenaamde velverwittende room te verkoop presies om hierdie rede. Die maatskappy het gemeen dat dié tipe produkte ook – soortgelyk aan wat die EFF in sy verklaring gesê het – ligter velle as meerderwaardig skets. Dreyer’s Ice Cream in die VSA het ook opgehou om die handelsmerk van sy 100 jaar oue Eskimo Pie te verander. Die handelsmerk is glo neerhalend teenoor diegene inheems aan Antarktika.

Die rede waarom hierdie handelsmerke en maatskappye óf gedwing is om te verander óf uit eie beweging verander het, is omdat hulle om een of ander rede as diskriminerend of rassisties gesien is. Die sosialegeregtigheidsbende het hulself die mag toegeëien om te besluit wie rassisties is en wie nie. Dié bende het so ook hulself die mag toegeëien om hul standaarde self af te dwing. Indien ʼn mens of maatskappye volgens hulle rassisties is, mág hulle die persoon of maatskappy tot onderdanigheid dwing – hetsy deur openbare vernedering of blote geweld.

Die probleem wat ons vandag ervaar is dat dié bende weens die oorsensitiewe politiese korrektheid van die moderne wêreld vrye teuels gegee word om te regeer. Sodoende bepaal hulle tot watter mate die geïdentifiseerde rassisme aandag kan kry. Enigeen wat hulle wil keer, word ook as rassisties gesien, siende dat hulle bloot op soek is na sosiale geregtigheid.

Malema sluit die deure van die Cycad Clicks in Polokwane met ‘n ketting en slot (Foto: Verskaf)

Die probleem met dié bende is dat ʼn mens nooit in die eerste plek jammer moet sê nie, want dit op sigself is nooit goed genoeg nie. Dit is ook duidelik uit die EFF se reaksie teenoor Clicks se onttrekking van die advertensie. Hoewel Clicks daarvoor om verskoning gevra het, dit onvoorwaardelik onttrek het en dissiplinêre stappe gaan doen teenoor diegene verantwoordelik daarvoor, is dit bloot nie genoeg nie. Daarom bly die goue reël: Moet nóóit voor die sosialegeregtigheidsbende kniel nie.

Die doel van die sosiale geregtigheid bende is nie om daadwerklike geregtigheid te laat geskied deur die wêreld ʼn meer rassensitiewe en -bedagsame plek te maak nie. Die doel is bloot om oor die nodige mag te beskik om mense en maatskappye te kan dwing om op te tree soos wat jy wil hê. Die sosialegeregtigheidsbende stel selde in daadwerklike oplossings en verbetering belang.

Dit is ook duidelik in die geval van die EFF. Dié party stuur met sy reaksie teenoor Clicks blote seine van deugde (virtue signalling) uit. Deur so te reageer hou dit die EFF voor asof dít die party is wat werklik omgee oor die waardigheid en welstand van swart mense. Tog is die EFF een van die laaste groepe in die land wat werklik oor daadwerklike oplossings vir swart mense omgee. Dit is die party wat arm swart mense se geld in die VBS-skandaal gesteel en geplunder het. Dit is die party wat soos konings peperduur handelsmerke dra terwyl hulle hulself voorhou as die rewolusionêre party vir die mense.

Die EFF het grootliks irrelevant geraak tydens Covid-19. Siende dat dit oorwegend ʼn ondoeltreffende party van anargie en min daadwerklike oplossings is, het die EFF vinnig en redelik permanent gekwyn. Die party is deeglik bewus van die feit dat hy op een of ander wyse met groot opslae terug in die nuussiklus moet kom. Hulle het hierdie bloot as geleentheid gesien om hulleself weer relevant te maak. Die EFF gee nie ʼn dooie duit om oor arm swart mense en hulle waardigheid nie – die EFF gee om vir die EFF.

Hulle is militante, harde ras-nasionalistiese kommuniste wat meer as bereid is om geweld en anargie te gebruik om hulleself te bevorder. Hulle taktiek is om politieke anargie en vrees te saai ten einde hulle eie gewenste rewolusie deur te voer. Met almal wat moontlike oortreders van die morele kode van sosiale geregtigheid is, is niemand veilig nie. Mense moet in die ewige vrees daarvan leef om dalk volgende te fouteer. Die EFF is egter nie die eerste party in die geskiedenis van die wêreld wat dié taktiek gebruik nie.

Die een les wat die geskiedenis ons leer, is dat die rewolusie áltyd sy eie kinders eet. Die geheim is daarom om in die tussentyd onder geen omstandighede te swig voor die militante bende nie. Dit is bloot ʼn kwessie van tyd voordat diegene wat nou in sosiale deugde gedy ook deur die monster van sosiale geregtigheid opgevreet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Elsa ·

En so sal dit aangaan. As mens oningelig is, is dit maar moeilik

Tokkel ·

My aarde die mense se IK’s! Dit is mos nie Clicks wat die produk gemaak het nie, hul verkoop maar net produkte. Ek hoop Clicks haal al sulke produkte van sy rakke af…EFF is pateties soos altyd. Hulle kan hulself nie eers beheer nie hoe te meer SA. Hul rooigedroggies moet begin betaal wat hulle destroy dan sal ons sien of hul monde nog altyd groot is. KOM MEV ZUMA, verban hulle asb.!!

Rob ·

Baie goeie artikel en dis die waarheid. As dit omgekeer was (dof hare by blank en glimmende hare by donker) sou niemand iets gese het. Die EFF stel net hulle gee om vir die swart bevolking maar wil niks liewer dan die blank bevolking uitmoor. Die EFF is professioneel in die skep van chaos, op die strate en in die parlement. Die groep moet aangedui word as ‘n kriminele organisasie

Tokkel ·

JA DIT IS WAAR! DIE EFF GEE NIE ‘N DUIT OM VIR SY EIE SWARTMENSE WAT SWAAR KRY NIE. DIE VBS BANK IS ‘N BEWYS VAN HUL OPTREDE EN SKELMSTREKE. hULLE RY ROND IN GRAND MOTORS EN DRA HANDELSMERKE OP HUL TASSE, MAAR HUL MENSE GAAN DOOD VAN ELENDE. MET DIE AFBRAND VAN CLICKSE IS DAAR WEEREENS MENSE WAT HUL WERKE VERLOOR.

Persheks Adri ·

Kom Cyril tree op! Jy bly dood stil oor plaasmoorde en als wat belangrik is. As jy nou nie iets doen nie gee jy ons die reg om ook so op te tree.

Oranje pakkies en sommer ook betaal vir skade en al die geld wat Clicks verloor het vir die dag.

#Tsek EFF tsek!

Pappa Beer ·

Ja wat sal mens se, as daar niks anders is om oor te kerm en teem nie, dan teiken ons maar advertensies. Net snaaks hoe daar nie opgetree word teen advertensies wat dames wat “weaves” koop en dra nie. Die “weaves” kom in verskillende haarstyle soos bv. Blond en Straight en al die style wat jy aan kan dink, selfs die handelsnaam ” Black Like Me” . Nou hoekom. Ek wonder hoeveel van die “EFF” betogers wat nou winkels wil sluit het regtig hulle eie hare en haarkleur?

Johann ·

Net jammer dat die waarhede oor die EFF’ers nie aan die spreekwoordelike klok gehang word nie. Veral nie die arrogante wetteloosheid wat Malema en sy hand poppe pleeg en mee weg kom nie! En hoe meer hy wegkom, hoe meer en wyer gooi hy sy gulsige hande in die lug enn skree “victom”.

Sou wat wou gee om net EEN keer sy vergrype vasgevat te sien word.

My siening ·

Ons howe is ook nou blind vir geweld, en CR sal dalk Vrydag wakker skrik en sê “my fellow SA cans you must do this it is not ANC policy”
Vsek eff!

Jackie ·

Waar was die polisie toe petrolbom gegooi was. EFF en trawante illustreer net weereens die ongelooflike minderwaarderheids-kompleks wat hulle het.

Adam Adriaan ·

Ja ou Julius het na maande van verveelthied sy Rooi Branstigting en Verwoestings Brigade( In kort RBVB) op geroep om weer die bevolking te wys hoe terroriste optree wat niks het om te doen nie, en niks het om tot die samelewing toe te voeg nie.

annie ·

Die EFF geniet die gratis lugtyd want dit kos nogal. Clicks het ‘n apteek en pasiènte, swartes ook, kan nou nie toegang kry tot voorskrif-medisyne nie. Die betogers is min gespin daaroor.

Verslae ·

In enige beskaafde samelewing sou die spul anargiste lankal agter tralies gesit het. Maar hier word hulle toegelaat om te maak en breek na goeddunke. Hare? Hoe minderwaardig kan mens wees?!

Jack ·

Indien die anc toelaat dat die eff op die basis as heersers van die land voortgaan gaan nie net die anc sneuwel nie maar ook dit wat van die land oorgebly het. N ferm hand en optrede is nou nodig deur ramaphosa om hierdie militante terroriste te stuit en te beteuel. Daar is geen reg aan die kant van die eff vir hulle anargie nie.

maria ·

Engelse gesegde van “chip on your shoulder” kom baie goed hier te pas.
My ma het baie maal vir ons gese “word groot” wanneer ons oor gevoelig geraak het het oor ‘n kleinigheid, omdat ons minderwaardig gevoel het.

Jacqueline ·

“Fine and flat” hare is ook negatief, maar ek storm nie vir Clicks en gooi petrolbomme nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.