Nuuskommentaar: Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis (L) en Eugene de Kock (R)

Clive Derby-Lewis (L) en Eugene de Kock (R)

Die stywe bult na nasionale versoening het pas ’n paar grade steiler geword toe minister Mike Masutha besluit het om die paroolraad se aanbeveling vir mediese parool vir Clive Derby Lewis van die hand te wys. Baie eng en tegniese redes word voorgehou.

Derby-Lewis se fase 3 aggressiewe longkanker  en aanslae op sy lewe laat hom nie kwalifiseer om rustig tuis te sterf nie. Die longkanker moet eers fase vier bereik. Sy slagoffer se weduwee en die SAKP staan die toestaan van mediese parool teen.

Ferdi Barnard sal intussen moet wag om te hoor of hy op parool gaan vrygelaat word.

Reg of verkeerd, die kwessie van parool aan mense wie se oortredings binne ‘n politieke konteks gepleeg is, of wat gewone kriminele dade pleeg maar polities goed geanker is, maak van Derby-Lewis se geval, soos dié van Eugene de Kock, Jackie Selebi, Robert McBride, Shabir Shaik en ander politieke kwessies. En in Suid-Afrika speel dit ‘n sleutelrol in nasionale versoening al dan nie.

Miskien word die wyse waarop die ANC onsensitief met die kwessie omgaan, ten beste gedemonstreer deur die ANC se besluit om die begrafniskoste van Jackie Selebi te dra. ’n Baie groot deel van die ANC se inkomste – veel meer as van enige ander politieke party – kom uit die staatskas en dus betaal elke belastingbetaler in effek deels vir ’n veroordeelde bedrieër se begrafniskoste. (Oor die veronderstelde terugbetaling van sy regskostes na hy skuldig bevind is, is lanklaas iets gehoor).

In Durban speel ‘n veroordeelde bedrieër, Shabir Shaik, gholf na hy op mediese parool vrygelaat is kort nadat hy tronkstraf begin uitdien het. Met Kortbroek se drostery na die ANC en die gevolglike heengaan van die NNP, is dit nie so maklik om te bepaal wie die “ander party” tot die Nasionale Vredesakkoord is nie. Uit ANC-kringe is die afgelope tyd stemme gehoor dat die nasionale vredesakkoord nie meer bestaan nie, of ten dele nie bestaan nie (go figure), terwyl die FW de Klerkstigting volhou dat dit veronderstel is om steeds te bestaan.

Trouens, in baie opsigte het hierdie Stigting die rol oorgeneem wat die NP/NNP veronderstel was om te vervul om die ANC op hul tone te hou oor die vredesakkoord – en daarby ingesluit, optrede in die veronderstelde gees van die grondwet. Kortbroek se onderneming om van binne “julle” stem te wees, het geblyk ‘n besonder stil stem te wees.

Nietemin, of die FW de Klerkstigting die veronderstelde of geïmpliseerde teenparty van die nasionale vredesakkoord is: daar is veel simboliek te lees uit die stigting se aankondiging van die wenner van sy jaarlikse welwillendheidstoekenning op dieselfde dag wat Derby-Lewis tot voortgesette aanhouding veroordeel is. Die instansie Afrika Tikkun, wat as wenner aangewys is, is ’n stewige simbool van ’n organisasie wat harmonie in die land beskou as die produk van ’n proses om, soos hy dit stel, dekades van institusionele onderdrukking aan te spreek.

Dis ligjare verwyder van enige gebaar wat die ANC bereid is om te maak.

Eugene de Kock kry wel parool na hy twee dekades agter die tralies deurgebring het, en alles menslik moontlik gedoen het om aan die vereistes van die destydse Waarheids- en Versoeningskommissie te voldoen.

Maar kyk net hoe lyk die teenstrydighede op die oog af, en wat nou as werklikhede staan in ’n omgewing waar gemeenskappe skynbaar gepolariseerd raak.

Terwyl Eugene de Kock jaar vir jaar in die tronk moes slyt, het Robert McBride nie net die galgtou vrygespring nie, maar na sy spoedige vrylating die een loopbaanskop na die ander onder sy sitvlak gekry – eers in die diplomatieke diens en daarna in wetstoepassing.

Alles na ’n moorddadige aanslag op ‘n dameskroeg.

Onlangs is die korrupte oud-polisiehoof, Jackie Selebi, oorlede na hy ook net ‘n kort rukkie agter tralies was voor hy mediese parool gekry het. Sy mediese parool is, soos in die geval van Clive Derby-Lewis, deur die paroolraad aanbeveel.

Bram Fischer is onder soortgelyke omstandighede toegelaat om sy laaste dae by sy broer se gesin te gaan slyt. Beyers Naudé se inperking is opgehef na die destydse regering oortuig is dat hy sterwend was – maar na sy vrylating nog jare kon werk.

Die minister het genoeg tyd gehad om seker te maak dat sy besluite in regsterme waarskynlik tegnies korrek sal wees. Die probleem is dat die ganse kwessie eintlik ‘n politieke kwessie is, en dat die vermoedens van inkonsekwentheid onderliggend sal bly.

Elke politieke paroolgeval, hetsy of uit die ANC of ’n ander politieke dampkring, het teen wil en dank ’n simbool geword, en met simbole moet omsigtig gewerk word om nie ‘n kettingsreaksie aan die gang te sit nie.

En as die bestaande wetgewing vir Masutha te veel gebind het, is die vraag of die kwessie nie belangrik genoeg was vir pres. Jacob Zuma om self toe te tree nie. As president is hy veronderstel om die nasionale simbool van eenheid en harmonie te wees, en hy het wydlopende magte oor kwytskelding en afslag op vonnisse. Maar, só lyk dit, sy fokus is eerder daarop gerig om homself van moontlike tronkstraf te vrywaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.