Nuuskommentaar: Clive Rice: Nou tyd om die leie skoon te vee

Argieffoto

Argieffoto

Clive Rice, een van die beste veelsydige krieketspelers wat die wêreld nog opgelewer het, se dood en huldeblyke sedertdien, stuur een boodskap duidelik uit: Dit is tyd dat die “klad” uit die isolasiejare nou vir eens en altyd opgehef word.

Terwyl die een rugby Springbok na die ander uit die argiewe van alternatiewe rugbystrukture ontgin word en vereer word – dikwels postuum, word die illusie voorgehou dat die kriekettoetse van die rebelle-era nooit gebeur het nie. Daardie helde word dikwels tot die vlakke van vergetelheid en selfs melaatsheid gereduseer. En almal van hulle, soos Baboo Ebrahim, was nie wit nie.

En dis ’n verhaal van groot hartseer. Soos Peter de Vaal wat ’n jarelange staatmaker met die bal en kolf was, wat vir ’n Springbokspan gekies was, maar waarvan die toer na Engeland weens politieke isolasiedruk gekanselleer was. Hy sou nooit weer die kans kry nie. So ook vir van die ander wat onder meer die potensiaal gehad het om van die wêreld se voorste skokboulers te word.

As 22-jarige het dieselfde lot Clive Rice byna te beurt geval toe die Springboktoer na Australië gekanselleer is. Twintig jaar later, as 42-jarige, sou hy Suid-Afrika as kaptein van die eerste na-isolasiejare span aanvoer vir ’n geskiedkundige toer na Indië. Dit was die swanesang van sy internasionale loopbaan.

Dit is verblydend dat die media iets groots maak van die werklike Clive Rice – die man wat Suid-Afrika se naam tydens ’n reeks rebelletoere hoog gehou het. Daar is met die toere teen verbasende sterk rebellespanne gespeel, hoewel baie van die oorsese spelers ook reeds in die skemer van hul loopbane gestaan het en nie deur selfs lewenslange skorsings veel geraak sou wees nie.  Dat dit nie om velkleur gehandel het nie, het daaruit geblyk dat daar spanne uit Wes-Indië, met onder meer die legendariese Sylvester Clarke (en later so huishoudelik dat hy die bynaam Sylvester de Klerk gekry het), sowel as Sri Lanka hier kom toer het.

Toe Clive Rice begin speel het, het hy veral die oog as kolwer gevang. Hy was volgens baie kenners toe net ’n mediumsnelbouler en ook nie eens ’n baie goeie een nie. Maar toe die publiek hul oë uitvee, was Rice een van die vinnigste boulers wat die land nog opgelewer het en daarby een van die bestes. As deel van Transvaal se “mean machine” is bykans alle plaaslike opposisie om al wat titel is platgeloop. Clive, wat saam met die legendariese Spook Hanley die boulaanval geloods het, sal vele nostalgiese herinneringe oproep. Clive se stukkie eksentriekheid was dat hy na elke aflewering sy boularm se hempsmou sorgvuldig opgerol het, net om dit na die volgende aflewering te moet herhaal.

Die plaatjiewagter, Ray Jennings, het doer agter gestaan en die glippe nog verder terug. Bal vir bal het kniehoogte deurgeskiet. Toe hy later jare weens ’n rugbesering nie meer snelbouler kon wees nie, was ’n groot deel van die krieketpubliek erg teleurgesteld, hoewel hy as kolwer nog internasionale erkenning verdien het.

Hoewel hy die individuele prestasies ingeryg het, was hy ’n spanman. Sy spanmaat, Jimmy Cook, vertel dat hy by geleentheid in ’n wedstryd teen die WP sy span se beurt verklaar het met sy eie telling op 99 nie uit nie. Min kapteins sou dit doen.

Die groot hartseer is dat Rice lank nie die enigste persoon was wie se prestasies amptelik uitgewis is weens ’n politieke spel waarin hulle geen aandeel gehad het nie. Trouens, baie was uitgesproke teen apartheid. Daar is talle wat oorsee gaan speel het en ander lande verteenwoordig het, meestal vir Engeland, soos Kenney McCewan en Kepler Wessels wat vir Australië gespeel het. Rice, soos ander, het nie sulke kanse aangegryp nie, maar hy het net ’n paar keer in Engeland graafskapkrieket gaan speel en uitstekend presteer.

Ironies is daar nou ook heelwat Suid-Afrikaners wat ander lande verteenwoordig, wat aandui dat hulle weens die rassediskriminasie weens kwotas nie die hoogste sport in hul eie land kan bereik nie. Die wiel het behoorlik gedraai.

Is die tyd nie nou ryp, terwille van algemene versoening, om ook hierdie spelers wat nie die isolasiejare speelgewys kon oorleef nie, die erkenning te gee wat hulle verdien nie? Voordat dit eendag ook ’n postuum-gebeurtenis word?

En sommer nou weg te staan van politieke inmenging en rassisme (kwotas) in Suid-Afrikaanse sport?

Ons eer Clive Rice wat Suid-Afrika ’n groot land help maak het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Boerseun ·

Baie dankie Herman vir insiggewende stukkie nostalgie. Ongelukkig dink ek politieke inmengenging in die nuwe verbeterde Suid Afrika het gekom om te bly. Kom ons erken Clive (en andere van sy geslag) vir wie en wat hy was en waarvoor hy gestaan het (ook dit wat hy toegehou het).
Dankie vir ewewigtige kommentaar. Doe zo voort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.