Nuuskommentaar: Coligny – Dis ’n geval van ras, stupid! Of is dit so eenvoudig?

‘n Plaashuis is in Coligny aan die brand gesteek tydens betogings (8 Mei 2017) Foto: Molaoe Montsho, African News Agency

“It’s the economy, stupid!” Dié woorde word voor die deur van James Canville, die strategiese adviseur van oudpres. Bill Clinton, gelê. Volgens sommige bronne het Clinton self die woorde tot die huidige weergawe “verfyn”.

Niemand kan stry dat ras, en in die besonder rassisme, ’n groot rol speel in die onluste wat die dorpie Coligny beleef nie. Dit moet egter ook in gedagte gehou word dat onluste ook elders in die land plaasvind, en skynbaar heel ander gronde het.

Trouens, Solidariteit gaan die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, oor die Coligny-gebeure by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verkla en die Verenigde Nasies se komitee oor rassediskriminasie in Genève oor die gebeure inlig. Solidariteit meen Mahumapelo het Sondag tydens die begrafnis van Matlhomola Mosweu die Afrikaner van rassisme en die dood van die tiener beskuldig.

Mahumapelo is deel van die sogenaamde premierliga wat pres. Jacob Zuma slaafs ondersteun. Zuma is bekend daarvoor dat hy die rassekaart deurlopend op ’n polariserende wyse speel.

Ook die Vryheidsfront Plus het dit betreur dat die premier die voorval as rassisme probeer uitbeeld het. Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het onder meer gesê: “Die VF Plus doen ʼn beroep op politici, en veral van die ANC, om mense daarop te wys dat hulle die reg moet respekteer en nie rassistiese en populistiese uitsprake te maak soos Mahumapelo gedoen het met die begrafnis van die seun nie.”

Die leier van die VF Plus in Noordwes, Michal Groenewald, het dit só opgesom: “Wanneer wit persone deur swartes vermoor word, is dit gewone misdaad. Wanneer die situasie omgekeerd is, maak die ANC rassisme daarvan. Dit is onaanvaarbaar.

“Mahumapelo kan gerus sê hoeveel begrafnisdienste van vermoorde wit boere in die provinsie hy al bygewoon het en wat hy daaroor te sê gehad het.”

Die landdros wat die borgtogaansoek aangehoor het, Magaola Foso, verdien meer as net ’n pluimpie. Hy het nie net gesonde regsbeginsels toegepas nie, maar ook gesê hy kan nie toelaat dat die hof in sy besluit deur die dreigende gemeenskap as gyselaars gehou word nie.

Ongelukkig, waarskynlik heeltemal ten onregte, veroorsaak voorsittende beamptes wat hulle skynbaar deur die raskwessie op sleeptou laat neem, die indruk dat die Magaola Foso’s maar yl gesaai is. Om net ’n paar voorbeelde te noem:

  • In die aanvanklike verhoor van die sogenaamde Reitz-vier is die studente deur die hooflanddros self verhoor. Toe sy uitspraak op appèl voor die hooggeregshof geneem is, is die vonnisse nie net aansienlik verlig nie, maar het dit ook geblyk dat die vier gevonnis was vir sake waarvoor hulle nie eens aangekla is nie.
  • In die sogenaamde leeukampverhoor is die boer vir moord tronk toe gestuur. Onder appèl het dit egter geblyk dat die oorledene reeds dood was toe die beskuldigde op die plaas gekom het, en dat die getuienis wel hieroor gelei was. Die vonnis is drasties verminder.

Gevalle kom gereeld voor waar borgtog in die landdroshof geweier word, maar dan, wanneer daar op die hooggeregshof beroep gedoen word, dit wel toegestaan word.

In van hierdie sake blyk dit ook dikwels dat regslui oorwegend bó die raskwessie kan uitstyg. In die geval van die Reitz-vier het die appèlaansoek voor regter Mojalefa Rampai gedien. Dit neem egter niks van die feit weg dat voorbeelde soos gestel deur landdros Foso nie groot waardering verdien nie.

Die brandstigting en vernielsug ná afloop van die borgtoguitspraak toon egter duidelik dat rassisme minstens soms maar vlak onder die oppervlak ryp broei, en net ’n lont soek om tot uitbarsting te kom.

En ongelukkig duik hierdie lonte ook gans te dikwels op, soos met die doodskis-geval. Daarmee word die ganse land geen guns bewys nie.

Terselfdertyd is dit politiek inkorrek wanneer plaasaanvalle aan ras gekoppel word. Die politieke inkorrektheid verhinder egter nie dat ’n subjektiewe bewustheid ontwikkel nie, en die gevaar verhoog dat plaasaanvallers wat vasgetrek word voor die polisie op die toneel verskyn, robuuste behandeling van die soekgeselskap te wagte kan wees, soos na bewering gebeur het in die Parys-geval, die saak wat nou aangehoor word.

Om die raskwessie te takel is ongelooflik kompleks, veral omdat daar verskillende sienings oor die kwessie is. In die VSA het ’n denkskool ontstaan wat die “gewone” persepsie van nierassigheid tot niet maak. Iemand wat dus grootword sonder ’n sweempie van rasbewustheid, en nog minder rassevooroordeel, is nie meer nierassig nie, selfs al het hy ’n swart meisie. Volgens die nuwe denke moet mense eers juis sterk bewus wees van die eie ras, sodat ’n sekere weergawe van die werklikheid en geskiedenis eers kan posvat, en onder meer by wit mense ’n skuldgevoel kweek wat bevorderlik is vir onder meer restitusie. Eers as restitusie plaasgevind het, kan die rasbewustheid eenkant toe geskuif word.

Maar kan daar nie heelwat van hierdie Amerikaanse siening in die opvattings van politici soos pres. Zuma bemerk word nie? Dit bied immers ’n nuttige weerligafleier weg van die gevolge van swak en onverantwoordelike regeerkunde wat armoede in die land aanblaas, en dit baie moeilik maak om uit “oorgeërfde” armoede te ontsnap.

Blaamverplasing en beloftes van (ander mense se) grond koop tyd. Maar dit voed nie net rassespanning nie, dit verskaf sommer ook die lont.

Mag die gemeenskapsleiers in Coligny, saam met welmenende nieregeringsorganisasies, ’n voorbeeld aan die land stel van hoe om die stukke op te tel en te heel. Maar nou moet eers vrede gemaak word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

20 Kommentare

snoefie ·

ek glo self in die velste tyd van apartheid was daar nie soveel rassehaat en rassisme soos nou nie. jammer om te sê maar die swartmense wat uitgaan en moor, plunder en vandaliseer weet wat hulle doen is verkeerd. daar kan geen ekskusies meer voor gemaak word nie. vervolg hulle soos verantwoordbare mense en die wie dit sien sal soos verantwoordbare volwassenes optree. ook jammer om te sê maar die politieke leiers van die afgelope paar jaar het meer rassehaat gesaai as wat apartheid ooit gedoen het.

lw ·

Ek stem saam met jou dat daar geen felle rassehaat was soos nou is nie. Verder was daar respek, dissipline en orde – voor die 80’s se onluste, maar tog het dinge nog nie hand uitgeruk soos wat nou gebeur het na 23jr demokrasie.
Moord was swaar gestraf het die regters het nie onderskeid getref tussen ras nie.

Nerina Brooks ·

As daar dorpe afgebrand moet word vir elke plaasmoord wat gebeur, sal daar min dorpe oor wees. Mense het net nie meer redes om dinge af te brand en te vernietig nie, nou word die kind se dood gebruik.
Maar dan word daar gekla oor die skole wat te min is, apartheid se skuld, maar alles word vernietig.

lw ·

News 24 het op 2 verskillende tydsones geplaas dieselfde artikel oor die pa van die oorledene sê dat sy seun ñ toekoms ontneem is. Volgens my moet alle beriggewing oor die seun en sy ouers wie as slagoffers uitgebeeld word – nog voordat die 2 witmans ñ regverdige verhoor gehad het, verantwoordelik gehou word vir die rassespanning.
Die media in Amerika het rassespanning aangeblaas waar swart mense deur wit polisie beamptes geskiet is. Die hele Amerika was op hol, selfs ons het te hore gekom oor Amerika se huishoudelike sake oor een enkele swart man wat doodgeskiet is toe hy sy hande moes ophou in voertuig.
Mense se lewens word verwoes omdat die media gulsig is vir sensasie en aanhitsery.

Charlie ·

Groter as net ‘n “rasse vraagstuk”. Die invloede van Moa Zedong (Mos Tse Tung ), Ho Chi Min en Pol Pot is duidelik sigbaar. Selfs die “clever blacks” wat teen hulle praat word geteiken. Ons moet ag slaan op die lesse van geskiedenis voordat ons verplig is om die geskiedenis te herhaal. “History does not repeat itself – people who ignore it repeat history.”

Hans ·

Baie waar Charlie. Pol-Pot, Mao, Hitler, Amin ens… magsbehepte mans met die dryfveer van n diepliggende rassisme. En almal aanvanklik hoogs gewild onder hul mense tot die verwoesting selfs hulle insluk.
SA is ryp grond vir so n man. Ons sal moet bid en baklei

John ·

Ons het een van die swakste grondwette ter wereld, eerlikwaar. Suid-Korea se korrupte president wat ook deur vriende gekaap is, sit in die tronk en die nuwe president word vandag gekies. Ons president, met honderde klagtes teen hom saam en sy vriende wat hom gekaap het gaan voort met hul roekelose planne en almal is magteloos? Die OB het ‘n ondersoek gelas. En wat gebeur? Niks. Voordat die uitlanders nie uitgewerk is nie en die grondwet nie versterk word nie, sal al die woorde in ons woordeboek nie enigiets kan beter maak nie… Intussen is ons gekaap en buig ons voor vreemdes en ‘n arrogante Zoeloe-induna wat die ANC betower met sluwe beloftes van ultra-weelde en mag oor alles en almal in SA… en hulle glo dit sowaar…

Al ·

Hul wil dood van die honger soos in Zimbabwe nadat als genasionaliseer is.
Ñ Swart Kollega het my ñ paar jaar terug gesê die wittes het meer geld as die swartes want ons kan die voormalige Model C skole se skoolfonds bekostig. Ek moes hom daarop wys dat sy salaris ver beter as myne was, so hoe kon ek meer geld het as hy?

Leendert ·

Suid Afrika sal oor die volgende honderd jaar nie verander betreffende rassisme nie. Buite nou die geluide wat Zuma en andere maak, luister maar na wat Cyril Ramaphosa te sê het oor byvoorbeeld dat dit nou die tyd is dat grond aan die regmatige eienaars teruggegee word. Ook sy uitsprake oor Radikale Ekonomiese Transformasie. Als wat hulle sê, of dit nou is om hul volgelinge te beindruk, of watter wortel hul voor hul mense se neuse swaai, daar is altyd ‘n steek na die wit mense. Dit wit mense word blameer vir die situasie van die swart man. CR is net nie korrup soos Zuma nie, maar dit is ook waar dit eindig. Die wit mense gaan in effek nie beter daaraan toe wees indien CR dalk president raak nie.

Elsabe Otto ·

Die regering moet pa staan Hul is verantwoordelik v konflik met hul aanslag op grond Verskuilde agenda

Eric ·

Nee wat, hoe kan enige iemand die afleiding maak dat plaasmoorde nie gekoppel is aan ras nie?
Die blatante gruwelike maniere hoe ons boere vermoor word is defnitief gekoppel aan ras, hoe vermoor jy iemand gruwelik vir n selfoon of skoot rekenaar ens…

al ·

Veral as hy jou vra net om hom en sy gesin se lewe te spaar….

Cornelius du Rand ·

En die FW de Klerk stigting en al die oud nasionaliste en Ja stemmers is oorverdowend in hulle reaksie teen die stelselmatige vernietiging van die blanke volk. Wat het van julle ” checks and balances” geword.

Anton ·

…het ons n keuse gehad…en indien wel…noem dit aan my…

Leendert ·

Anton, ja daar was ander keuses. Gaan lees gerus Herman Toerien se artikel, ‘Maak die grondwet ons vry?’ van 27 April.

Ben ·

Snaaks, hoe die media skielik teenwoordig is toe die huis aan die brand gesteek is? Lyk so asof iemand betaal is om dit te doen?

Charmaine ·

Ben, ek het iewers raakgelees vandag dat die media by die woning was VOORDAT dit aan die brand gesteek was.

Johann ·

Charmaine, die betogers, die mense wat die onluste aanblaas, die ANC die EFF se suurstof is die media en bloodstelling wat hulle daardeur kry. Dis hoekom hulle chaos saai, dit trek die media, en as die media daar is, dan klim die opstokers en diegene wat chaos saai weer op die verhoog om te perform. En die media is aandadig omdat hulle draers van die anargiste se boodskap is.

tamboti ·

Ek wil ‘n stelling maak dat rassisme is nie misdaad nie, dit gee nie aanleiding tot misdaad nie en is ook nie die bron vir die omstandighede wat lei tot misdaad nie. Rassisme is dieselfde as status bewustheid, gebieds bewustheid en gemeenskap bewustheid. Dit is niks meer as die terrotoriale neiging in die ander lewende organismes op aarde nie! (en instink om selfbehoud)
Rassisme word dikwels as versamelnaam (verkeerdelik) vir ‘n hele groep slegte neigings gebruik soos: haat en afguns, bevooroordeling, onbillike diskriminasie, miskenning, magshebsug en verdrukking.
Ek se dit want hierdie dinge kom voor in lande en regerings waar ras nie rol speel nie.
Indien ons rassisme as verkeerd en onaanvaarbaar beskou, hoekom maak ons dan onderskeid tussen: inwoner en immigrant, manlik en vroulik, jonk en oud, klein en groot, en ook tussen mens en dier/plant.
Seker bloot omdat dit ‘n logiese klassifikasie is?
Ek se; hoe meer grense daar is, hoe meer gee ons reg aan elke groep en faset van die samelewing, wat sal lei tot beter verhoudinge tussen tenminste die’ wat RASionaal kan redeneer!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.