Nuuskommentaar: Comrade Eisj in die koeikraal en eertydse modelstaat kwyn weg

Ace Magashule (Foto: ANA)

Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat en nou die sekretaris-generaal van die ANC, is nou besonder in die nuus na onthullings oor sy beweerde betrokkenheid by die Gupta-staatskaping.

Dit is nie die eerste keer nie dat Magashule, ’n sleutelbelangrike persoon in oudpres. Jacob Zuma se stryd om uit die sop te bly, weens omstredenheid hoofopskrifte haal.

Daar is onder meer reeds op 12 September 2018, hier, 22 Oktober 2018 hier, en 27 September 2018 hier in nuuskommentare oor Magashule en sy omstrede verlede uitgewy.

’n Interessante aspek van Magashule se loopbaan, maar wat om politiek-korrekte redes nie genoem is nie, is sy betrokkenheid by Indiërs. Hiermee word nie geïmpliseer dat die betrokke Indiërs onheilsengele was nie, maar dit het wel daartoe bygedra dat hy vroeg reeds ’n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer gehaal het.

Die eerste rondte was kort na die aanvang van die nuwe bedeling toe hy deur die destydse premier van die Vrystaat, Mosiuoa Lekota, as LUR vir ekonomiese ontwikkeling aangestel is. Sy regterhande was ’n taamlike groot span Indiërs onder die leiding van Ossie Osman, wat ook die departementshoof van die departement geword het.

Hy is onder andere bygestaan deur die Pillay-broers. Hulle het bo-sterkte tipe adviseursposte beklee en in Johannesburg bly woon, maar weekliks na Bloemfontein gevlieg waar hulle in die week in een van die stad se spoghotelle gewoon het – alles op staatskoste.

Kort na die nuwe bedeling begin het, was daar in die provinsiale regering se interne telefoonlys agt name by die departement van ekonomiese sake, waarvan vyf Indiërs was. In daardie stadium het daar nog min Indiërs in die Vrystaat gewoon, kort na die bepaling dat hulle nie in die provinsie mag woon nie, opgehef is.

Nog ʼn interessante aanstelling was dié van Neels van Rooyen, ’n klerk by die voertuigpoel, as adjunk-direkteur gemeenskapsaktivering. Die assistent-direkteur wat reeds meer as twee jaar buite beurt bevorderbaar in die pos waargeneem het, is nie eens vir ’n onderhoud genooi nie.

Van Rooyen was voorsitter van die ANC se Bloemfontein-Noord-tak, en het ook kort hierna ANC-LP geword, en is tans Skoor-voorsitter in die wetgewer. Die persoon wat in die aanstellingsproses eenkant toe moes staan, het die saak na die Openbare Beskermer verwys, wat in sy voorlopige verslag die persoon grootliks gelyk gegee het, maar as bo-sterkte onder die swakste moontlike voorwaardes op vervroegde pensioen geplaas is. Die Openbare Beskermer het nooit ’n finale verslag gelewer nie.

Ondertussen het die wetgewer die departement ook na die Openbare Beskermer verwys, wat ’n striemende verslag uitgebring het wat tot die ontbinding van die departement gelei het.

Intussen het Magashule se Gupta-bande bekend geword. Hieronder tel dat sy een seun vir die Guptas werk.

Magashule se ander seun se naam word voortdurend in verband gebring met die bekom, deur homself of mense wat deur hom werk, van gesogte tenders. Magashule se dogter se naam is weer genoem in verband met die verkryging van ’n hoogs omstrede huisvestingsprojek by Bethlehem.

Magashule se beweerde verbintenis met die omstrede Vrede-melkplaasprojek en die Guptas se maatskappy, Estina, se betrokkenheid daarby, word lank reeds in die media genoem. Dit het onder meer aan die lig gekom dat R30 miljoen staatsgeld wat vir die plaas bestem was, via dopmaatskappye na die Guptas gevloei het om vir die berugte Gupta-troue by Sun City te betaal.

Nou het Volksblad, aan die hand van bankstate, berig dat enorme bedrae melkplaas-geld aan Estina oorbetaal is, wat dit regstreeks aan die Guptas se Bank of Baroda oorbetaal het, van waar dit na die Guptas en ander begunstigdes gevloei het.

Trouens, dit lyk of die melkplaas bloot as skans bedryf is om staatsgeld na die Guptas te laat vloei.

Dit is ook interessant om te let dat ene Ikraam Osman die hoof van die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie is, wat ook by die melkplaas betrokke is of was. Daar kon nie vasgestel word of Ikraam en Ossie Osman dieselfde persoon is nie.

Daar is twee aspekte rondom Magashule se politieke loopbaan. Die eerste is ’n politieke en ekonomiese beoordeling oor hoe suksesvol sy premierskap was. Die tweede is die vraag of hy ultra vires opgetree het en vervolg behoort te word.

Wat eersgenoemde betref is daar genoeg onthullings in die media op rekord om ’n skip te laat sink, maar Magashule bly steeds klaarblyklik onaantasbaar.

Oor kriminele aksies het die bekende en gerespekteerde prof. André Duvenhage, oud-Vrystater en nou van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomse kampus, melding gemaak van prima facie (eerste oogopslag)‑bewyse, met spesifieke verwysing na die Estina-bankstate.

Hoewel daar oproepe oor ’n wye front is dat Magashule en sy kornuite dringend vervolg moet word, is die meer algemene gevoel blykbaar dat Magashule as eerste stap nou eers voor die Zondo-kommissie moet getuig, skynbaar ’n nog groter prioriteit.

Intussen is dit skreiend dat Magashule en ander geïmpliseerdes nog nie aangekla is nie, terwyl verskeie getuies voor die kommissie gearresteer is.

Netwerk24 se hoofartikel vandag, wat ook in Volksblad, Beeld en Die Burger verskyn het, belig ’n groot verskeidenheid aspekte.

As Magashule onskuldig is, soos hy sê, bied die Zondo-kommissie aan hom ’n ideale platform om sy naam skoon te kry, en sodoende die potensiële skade wat die wolk oor sy kop vir die ANC se verkiesingspoging inhou, te verdryf.

Maar so nie, en die kommissie se ondersoekers neem dit wat reeds in die media verskyn het ernstig op, lyk dit of die staat ’n taamlike groot bestelling vir oranje oorpakke moet maak.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Thinus ·

Die hele anc is korrup tog stem die oningeligte meerderheid steeds vir hulle. As hulle swaar kry is dit hul verdiende loon.

John ·

Indiè het diep in die harte van die ANC ingekruip en die liefdesbande is weereens versterk toe Cyril onlangs soos ‘n koning in Indiè ontvang is tydens feesvierings, soos Zuma voor hom en natuurlik Mandela. Diegene wat die Indièrs in ons land, wat hier uit eie wil woon sonder bedreigings in hul vaderland, so jammer kry as ‘n glo minderheid, kan gerus bietjie uitwerk hoeveel topposte hulle beklee/beklee het en hoeveel hulle al gebaat het sedert ’94. Eskom is reeds etlike jare platgetrek deur Indiese griep wat die heel land laat hoes en proes. Gaan Indiese medisyne daarvoor ingevoer word? Ons hoop en bid, nie.

ANA ·

Jislaaaik,JOHN en hier is tot sowaar INDIA mina’s ?? in my tuin, WAT óók ONUITROEIBAAR IS…❗❗❗

Piet Pompies ·

Glo dit of nie, hierdie is net nog ‘n stap van CR om sy meerderheid binne die ANC te verseker deur die land se wette te gebruik om Zuma ondersteuners op senior vlakke binne die ANC uit te haal.
Dit is alles ten gunste van ons land aangesien CR dan sy werklike beleid kan toepas en nie meer afhandlik vir goedkeuring van Zuma ondersteuners.
Die ESKOM pap gaan ook binnekort op die vloer val en saam met die pap is daar nog senior ANC lede wat gaan brand….
Een van die dae sal ons belasting geld reg aangewend word vir ‘n beter SA.

Gys ·

Piet Pompies, jy bedoel oom Effie se wigte en teenwigte is besig om in te skop?
Mooi man!
Ja nee, een van die dae is ons sommer met die “magsdeling” ding ook besig.
Lekker Piet lekker!

Dries du Toit ·

Piet Pompies jy is n goedgelowige ou siel wat naarstigtelik gryp na grashalmpies van hoop. Ramaphosa was deel van hierdie gemors vir jare. Baie goedgelowige mense soos jy het dieselfde gese van Zuma toe hy by Beki oorgeneem het. Linkse media het hom ook so besing

Piet Pompies ·

CR was onder die diktatorskap van JZ toe JZ aan bewind was.
Dankie vir “goedgelowige” kompliment, ek bou nog altyd my lewe op goedgelowigheid en sukses loop daarmee saam vir my, familie en vriende.
Ek glo dat SA ‘n draaipunt bereik het en dat ons die resultate van beter beleid binnekort gaan sien.
Die mynmaatskappye het alreeds kop opgetel, ons werkgewer is met een gradering op agv winste en suksesvolle bedryf.

Dries du Toit ·

Piet Pompies jy is n goedgelowige ou siel wat naarstigtelik gryp na grashalmpies van hoop. Ramaphosa was deel van hierdie gemors vir jare. Baie goedgelowige mense soos jy het dieselfde gese van Zuma toe hy by Beki oorgeneem het. Linkse media het hom ook so besing.

Jerry ·

Piet Pompies, jy is goedgelowig omrede jy nie weet wat jy nie weet nie of omdat jy duiwelsadvokaat speel. Miskien onthou jy toe Nomvula Mokonyane begin 2018 op TV gese het dat die ANC sal die rand laat val en die ANC sal die rand weer optel. Dit was groot nuus ook in die koerante. Nou, dit was onder Zuma dat die ANC die rand laat val het en die klimaat geskep het vir verandering. Onder CR tel die ANC die rand weer op om verandering te kan implementeer soos onder andere, OSV. Die ANC van vandag is die ANC van gister, hy het net n ander mombakkies opgesit.

Dries du Toit ·

Hierdie goedgelowigheid gaan saam met jou gemoedstoestand. As jy daagliks duidelik die verwoestende spoor van die ANC beleef en sien, dan kom jy duidelik agter dat goedgelowigheid in die mensdom net vervang moet word met geloof in ons Vader. Die wat sy geloof in die mens setel sal vervloek word

Gert van Wierdapark ·

Ace en sy maters speel met speelkaarte waarin daar skynbaar agt A’s en ook 48 Jokers” in is. Ek weet nie watse spel hul speel nie, maar dis beslis nie Brug of Rummy nie. In my diensplig tyd het ons n gewysigde vorm van Brug gespeel. Die naam daarvan was “F-K jou” waarin jy die ander spelers moes uitoorle met jou troewe ens. Nota: ons pak kaarte was sondwr “jokers” gewees!!

Piet parys ·

Snaaks piet pompies dat die myne nou duisende mense wil afdank . Is dit wat myne doen wanneer dit goed gaan????

Werner ·

Heelparty mense hier is ongelukkig met Piet Pompies se kommentaar, maar kyk watter waarheid besig besig Thinus hier bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.