Nuuskommentaar: Cosatu-lapwerk – pleistertjies op die kanker

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa

Op die oog af lyk dit of die ANC deur die ingryping van Cyril Ramaphosa ‘n blaaskansie kry met die voorlopige systap van die breekspul in Cosatu.

Cosatu se alliansie met die ANC was tradisioneel baie waardevol. Dit het enorme bedrae geld tot die ANC se verkiesingsveldtogte bygedra, en vakbonde is in die reël beter georganiseer as politieke partye. En Cosatu het danksy die affiliasie van vakbonde soos die NUM, Numsa, Nehawu, Popcru en ander getalle aan sy kant – sommer groot getalle.

Cosatu het vanselfsprekend ook binne die ANC enorme invloed. Toe Cosatu die destydse president Thabo Mbeki die rug toekeer, het Jacob Zuma ten spyte van al die wolke oor sy kop, bykans ‘n vrypas tot die presidentskap gekry.

Sake het egter die afgelope twee jaar erg begin skeefloop.

Veral in die platinumgordel het ‘n vakbond buite die Cosatu-geledere sterk opgang begin maak, Amcu. Amcu het in die proses swaarde gekruis met die NUM, wat tot in daardie stadium die grootste vakbond binne Cosatu was, en in baie opsigte die ruggraat van Cosatu. Die aanslag teen die NUM het in ‘n stadium van groot kwesbaarheid gekom. Die NUM se “shopstewards” was eerder deel van die goedbesoldigde bestuurskader, en het in Rustenburg en ander omliggende gemeenskappe in van die elite-woongebiede gewoon. Die afstand tussen hulle en die werkersklas het baie groot geword, en die persepsie het bestaan dat hulle eerder die belange van bestuur as die werkers verteenwoordig.

Tweedens het die NUM hom by die “Zuma-faksie” geskaar. Baie van die mynwerkers in die platinumgordel kom egter uit die Oos-Kaap en die Zuma-sentimente is minder sterk. Die NUM kon egter met ‘n jaarkongres die verkiesingsaanslag van die groep wat Zuma nie goedgesind is nie, afweer, en Amcu kon NUM-lede soos ryp vrugte gaan pluk. Teen daardie tyd het die NUM ook reeds gekla oor sy lede wat by Numsa gaan aansluit, terwyl daar binne Cosatu ‘n ooreenkoms is dat elke vakbond ‘n spesifieke sektor sal verteenwoordig. Die drostery het egter hoofsaaklik in oorgangsbedrywe soos Eskom – wat ook mynbelange het – en die smelterye by die myne plaasgevind.

Die regering se minagtende optrede teenoor Amcu het ook nie juis gehelp nie. Selfs na ‘n groot verlammende Amcu-staking het die minister nog beweer sy het nie van Amcu se bestaan geweet voor die Marikana-skietery nie.

Daarna kon die beledigende blinde oog-taktiek nie meer werk nie.

Intussen het Numsa en ‘n paar kleiner Cosatu-vakbonde dit duidelik gemaak dat hulle tot die anti-Zuma-groepering behoort. Numsa het intussen die NUM se rol as grootste Cosatu-vakbond oorgeneem. Trouens, die NUM is blykbaar nie eens meer Cosatu se tweede grootste vakbond nie.

Binne van die groot pro-Zuma-vakbonde was daar egter ook verdeeldheid, veral in die Oos-Kaap soos binne Sadou, waar nie almal geneë was om in die Zuma-gelid in te val nie.

Die Zuma-faksie het intussen Cosatu se sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, as ‘n anti-Zuma-man geïdentifiseer. Of Vavi werklik wat dit betref, skuldig was is moeilik om te bepaal, en of in die konteks van kader-ontplooiing gevoel is iemand van daardie statuur moet heeltemal onkrities teenoor Zuma wees, genoegsaam was om van hom ontslae te raak, is ‘n ander vraag. Kort voor lank het bewerings die rondte begin doen dat Vavi onbehoorlik opgetree het met die verkoop van Cosatu se ou hoofkantoor, maar in die algemene konteks van die land waar sulke wolke oor talle, waaronder Zuma hang, was dit nie genoeg om Vavi te laat val nie.

Vavi se buite-egtelike verhouding met ‘n junior werknemer is aangegryp as doodsonde, asof sy teenstanders, Zuma inkluis, so onkreukbaar is wat dit betref. Vavi is geskors, maar skynbaar is alles moontlik gedoen om sake in suspensie te hou tot na die verkiesing – soos die hou van ‘n dissiplinêre verhoor, of ‘n spesiale kongres soos deur ‘n rits filiale, waaronder Numsa geëis. Vavi, as Xhosa met sterk Oos-Kaapse bande, het eenvoudig nie in Zuma se raamwerk van Zoeloe- en Zumafikasie geval nie.

Dit het bykans seker gelyk dat daar ‘n breekspul tussen Numsa en van sy vriende, en Cosatu sou ontstaan wat voor die verkiesing ‘n reuse terugslag vir die ANC sou wees.

Dinsdag se vergadering van top-Cosatu-leiers het op die oog af op ‘n breekspul afgestuur. Veral twee items op die sakelys, die uitskop van Numsa uit Cosatu, en om Vavi weer te skors na die hof pas sy skorsing tersyde gestel het, het Cosatu tot op die randjie van ‘n breekspul gering.

Maar toe daag Ramaphosa en Jesse Duarte by die vergadering op om “’n koppie koffie te kom drink.”

Die uiteinde is dat daar nou eers ‘n bemiddelingsproses gaan plaasvind. Die persone wat as bemiddelaars ingespan word, word nie almal as Zuma-kaders geïdentifiseer nie, maar het eerder voorheen sterk in die vakbondwese gestaan.

Of versoening werklik op die agenda is, is moeilik om te sê. Dit is egter duidelik dat die eerste oogmerk is om die breekspul tot na die verkiesing uit te rek.

Dit is heel moontlik soos om pleistertjies op die kanker te plak. Al manier waarop Numsa nog binne Cosatu gehou sal kan word, is vir Cosatu om veel sterker ‘n radikale kommunistiese karakter aan te neem. Numsa het dit immers deurlopend duidelik gestel, en selfs die “gematigde” SAKP wat knus in Zuma se sak sit, onder skoot geneem.

Die land moet kennis neem dat ‘n breekspul binne Cosatu ‘n groot terugslag vir die ANC sal wees. Maar die kiesers is tussen die duiwel en die diep blou see. Kom die breekspul nie, sal die ANC self kwaai na links geswaai moet word om die radikalisme te ondervang.

Kom die breekspul, sal daar waarskynlik ‘n konsolidasie van die verskillende aksies wees om radikale werkerspartye as een party op dreef te kry.

En dit het Suid-Afrika ook nie nodig nie.

Maar tot na die verkiesing is al wat by die ANC tel die oorlewing van Zuma ongeag die gevolge. En dit kan die land ook nie bekostig nie. Dit word soos munt opskiet. Val die munt op kop, verloor jy. Val dit op kruis, wen die ander.

En in die proses word Solidariteit al hoe belangriker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.