Nuuskommentaar: Covid-19 – ander kwessies wat nie durf agterweë bly

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die wêreld het waarskynlik onherroeplik verander met die uitbreek van die Covid-19-pandemie, en die siekte asook implikasies en gevolge oorheers sedertdien die nuus, en met reg. Dit wissel van die stormloop om ’n voorkomings- en teenmiddel te ontwikkel tot ’n enorme wedloop om die genetika van die koronavirus te verstaan omdat daar nog te veel teenstrydighede in die statistiese manifestering daarvan is.

Daar is ook die sosiologiese en sielkundige uitwerking van die afsondering wat feitlik wêreldwyd toegepas word, met navorsing wat daarop dui dat kinders gegrief teenoor hul ouers reageer omdat kontak met maats aan bande gelê word.

Interessant is ook die enorme ontwikkeling van verskillende aspekte van die kuberruim wat in sommige gevalle binne weke jare lange beplanning vooruitloop, asook die versnelde inspan van robottegnologie wat dit in hospitale vir gesondheidspersoneel moontlik maak om ’n aanvaarde sosiale afstand met mekaar en pasiënte te handhaaf.

Maatreëls moet dringend teen korrupsie ontwikkel word (veral in Suid-Afrika waar Corruption Watch reeds ’n opwelling van gevalle van uitbuiting van hulpfondse bemerk het). As bonus kan ingeperktes met toegang tot die nodige toerusting darem die wêreld per e-reise verken.

Maar alle nuuswaardighede uit eie reg het nie gaan stilstaan nie. Hier plaaslik sal dit interessant wees om binnekort te sien of oudpres. Jacob Zuma se vervanging van sy regsverteenwoordiger dalk deel van sy Stalingrad-strategie is. Gaan die nuwe regspan met die hervatting van die vervolgingsproses aanvoer dat die saak uitgestel moet word om genoeg tyd vir voorbereiding te kry? Gaan hulle, indien die hof weier, onttrek en so ’n noodwendige vertragingsketting aan die gang sit?

Op internasionale vlak is daar enorme kommer dat die alleenfokus op die pandemie die nodige aandag van ’n krisis van minstens gelyke omvang gaan wegneem, naamlik klimaatsverandering. Die program om die Parys-ooreenkoms se teikens te haal raak reeds al hoe verder agter, en dus al hoe moeiliker om te haal.

Die nuus dat die VSA op 27 Mei weer vir die eerste keer in nege jaar op eie stoom ’n bemande ruimtereis onderneem, en dít met die tuig van ’n privaat maatskappy, het byna ongemerk verbygegaan. Sedert die laaste pendeltuigreis was die VSA van Rusland afhanklik om bemannings na die Internasionale Ruimtestasie te neem.

Sake wat wél aandag geniet, is gewoonlik regstreeks of onregstreeks aan die Covid-19-pandemie gekoppel, soos die volgehoue aanvalle op plase, wat wesenlik in die nuus gehou word deur die minister van polisie se (tydelike) verbod op plaaswagte om met hul lewensnoodsaaklike werk te kan voortgaan.

Die regeringsplanne met grondgryp sonder vergoeding is reeds deur verskeie instansies wat tot die beoogde R500 miljard-fonds kan bydra, gewaarsku dat dié planne die toestaan van hulp kan bemoeilik of selfs onmoontlik maak. Dit stel ook die bestaande voordele wat Suid-Afrika uit die VSA se Agoa-program kry in gevaar en kan dit vir die land moeiliker maak om die rommelstatus te ontsnap.

Dít, terwyl vanoggend berig is dat die VSA sy hulp aan Suid-Afrika vir die bekamping van Covid-19 met nog R250 miljoen vergroot het. Dit bring die VSA se hulp hiermee op R410 miljoen te staan.

Dieselfde geld vir die ongelyke behandeling van burgers, soos minstens sekere sektore van die regering wat vasbeslote voortgaan met die toepassing van nieu-apartheid, selfs te midde van die huidige en beplande noodhulppakkette.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy toespraak Dinsdag ’n noodsaaklike gerusstellingsgeleentheid dat dit gestaak sal word, laat verbygaan – selfs te midde van Solidariteit se proses om die minister van toerisme se onsmaaklike optrede voor die hof te sleep. Mag Ramaphosa met sy voorgenome gesprek vandag met die nasie hierdie ooglopende oorsig regstel. Of gaan klein politieke faktore swaarder weeg?

Ongelykheid staan ook breed geskryf oor die R5 000-boete wat ’n inwoner van Bloemfontein op die lyf geloop het omdat hy sy eie sypaadjie skoongemaak het, teenoor die R1 000 skulderkenningsboete wat min. Stella Ndabeni-Abrahams betaal het omdat sy, ook strydig met die noodregulasies, saam met ’n oud-adjunkminister gerinkink het. Dít terwyl die opruiming van Bloemfontein en herstel van dienste die voorkeurvoornemens van Bloemfontein se administrateurs is.

Die Vlaamse koerant, De Standaard, plaas vandag ’n stelling wat die nuussituasie nie net raak saamvat nie, maar dit duidelik laat blyk dat nuusgefokusdheid nie tot nuusengheid moet lei nie: “Blyft in uw kot. Maar zorg dat uw kot een groot venster op de wereld heeft.” In ’n hedendaagse konteks kan dit vertaal word met: “Woon in u eie klein wêreldjie, maar sorg dat dié wêreldjie ’n groot uitsig oor die uitspansel, God se skepping, het.”

Met apologie aan ’n bekende Engelse spreekwoord: “Moenie penniewys wees, maar soos die regering miljoene rande ongestraf laat steel nie.”

En baie dankie aan die weldoener wat aan pres. Ramaphosa ’n horlosie geskenk het wat werk wanneer hy die nuusmedia en/of die nasie gaan toespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

didiburg ·

Kom ons hoop sy horlosie se batterye hou vir vanaand se toespraak oor of ons lockdown verleng gaan word of nie en watter verligting Suid Afrikaners kan verwag.

SomeOne ·

die minister verdien haar salaris terwyl die man wat sy eie sypaadjie skoon hou nou niks verdien nie, alweer diskriminasie op sy beste

Okmardom ·

So, SA se pandenemie moet bekend staan as “CC19”
Corruption en Covid 19.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.