Nuuskommentaar: Covid-19 – hoe meer klinkende munt, hoe meer platsak

Foto: Pixabay

Lesers reageer woedend op die regering, en veral die minister van toerisme, se rassistiese benadering oor die toekenning van ramphulp vir ondernemings wat skade ly weens die Covid-19-pandemie. Die minister kry glo nagmerries by die gedagte dat daar ná die pandemie meer wit as swart ondernemings kan wees (mediabronne verskil oor die presiese bewoording). Die punt is dat selfs die R500 miljard (wat vir meer bedoel is as net sakeredding) hopeloos te min is, en daarvoor word na sekere buitelandse syfers gekyk.

Het enigiemand ’n benul wat Covid-19 die wêreld gaan kos? En indien wel, bestaan daar ’n sakgrootte sompompie wat so ’n getal op sy skerm kan huisves – laat staan nog daarmee werk? En behalwe ekonomiese en finansiële syfers, hoe word die geestelike en maatskaplike skade aan staatshuishoudings en mense gemeet? En hoe word uurlikse fiskale variasies tussen lande en hul geldeenhede in elk geval verreken, nie net tot die Covid-19-pandemie verby is nie (wat wanneer gaan wees?), maar tot wanneer die pandemie se sleureffek in kalmer water vaar – daai einste water wat dan moontlik weens afskeping toksies kan wees weens die fokusverskuiwing van klimaatsverandering na die pandemie?

Die koste-aspek is nou ook van belang omdat verskeie Amerikaanse deelstate planne beraam om China vir skadevergoeding te dagvaar omdat China glo die pandemie se uitbreking verswyg het totdat dit buite beheer geraak het.

Net om ’n idee oor die omvang van die koste te gee, dit kos ongeveer $10 tot $20 per persoon om vir Covid-19 getoets te word. (Dus, ±R200 tot R400 as daar nie terwyl hier geskryf is, ’n groot wisselkoersskommeling was nie.) Gaan maak maar die sommetjie wat dit min of meer gaan kos om 30 miljoen mense in ’n land soos Suid-Afrika te toets.

Net om tientalle miljoene werksgeleenthede in die VSA te probeer beredder, het die Amerikaanse kongres $3 triljoen ($3 biljoen volgens die internasionale telwyse wat ook in Suid-Afrika en die meeste ander lande gebruik word) beskikbaar gestel. Altesaam $1,2 biljoen hiervan word aangewend om klein en groot sakeondernemings te beredder. Hierteenoor samel die Suid-Afrikaanse regering R500 miljard in as stimuluspakket om die ekonomie hier te lande ná die pandemie vlot te kry.

In België beloop die “gat” in die begroting nou reeds €35 miljard om in die bykomende Covid-19- koste te voorsien. België se bevolking is 11,59 miljoen, dus net meer as ’n vyfde soveel as dié van Suid-Afrika. Tog is ons reddingspakket van R500 miljard net sowat €24,84 miljard werd. Hoewel dit ’n geval van appels met turksvye vergelyk is, gee dit ’n aanduiding dat Suid-Afrika se hulppakket heeltemal onvoldoende kan wees.

Die volgende aanhaling kan insiggewend wees:Scott Newsome, who researches economic policymaking during recessions at the University of California, Santa Cruz, examined every corporate rescue Congress has passed since 1969. While it may come as no surprise that the coronavirus bailouts will lose money for taxpayers, Newsome found that most previous aid packages turned out very differently.” Lees meer hier.

Hoe toets ’n mens skade wat veroorsaak is deur die sielkundige nagevolge van inperkingsmaatreëls? En hoe word bewys die terapie is nodig weens die invloed van Covid-19?

Die beplanners in alle lande probeer sover moontlik om akkurate skattings te maak, soos hoe lank die virus nog kan voortduur, en hoe groot sy omvang gaan wees. Viroloë en genetici wys gereeld daarop dat die mensdom se genetikakennis in die algemeen nog te veel in sy kinderskoene verkeer, en dat die nuwe koronavirus wat vir Covid-19 verantwoordelik is, se vermoë nog heeltemal onvoldoende verstaan word. Statistiese berekenings verskil in dié stadium te veel van soortgelyke toetse wat elders gedoen word. In Europa is dit al ’n lewendige besprekingspunt of die opsie nie oorweeg moet word om die virus vir gesonde mense in te spuit nie in die afwesigheid van ’n doeltreffende geneesmiddel en voorkomende inenting. Dit kom in eenvoudige terme neer op die “oes” van teenliggaampies by mense wat die virus oorleef het, en word met ander siektes gedoen.

Toetse met Covid-19 het reeds belowende tekens gelewer, maar meer toetse is nog nodig. Verder blyk dit uit toetse met Sars (ook ’n koronavirus) dat die teenliggaampies ná ses jaar verdwyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

That minister of tourism and the entourage have no idea what kind of nightmares is waiting for them. We are all emotionally drained and now we will be showing teeth. No way they will help any of us. A new R500 billion milking cow is ready to be milked.

JJ ·

Die tyd het ook aangebreek dat ons ondersoek instel na alle handelsooreenkomste wat met china CCP gesluit is, veral die lenings wat aan Staatsinstellings soos Eskom gemaak is. Enigiets wat deel maak van die CCP se “belt and road initiative” moet ondersoek word. Wat ons sien is net die oortjies van die seekoei

Dr Pieter ·

Goeie artikel, dankie.
Ons gaan nog jare later die ekonomiese en sielkundige gevolge van hierdie pandemie voel. Waarskynlik erger as die ineenstorting van Wall Straat. Die ramp word vererger omdat verpolitiseer word en ras daarby ingesleep word in SA.

Anel ·

Die prys wat ons betaal is komunisme. Dit is al wat Sjina en Kuba wil hê. Dan kan hulle hier kom oor vat. Dis al wasrvoor hulle wag. Hulle wil ons hulpbronne hê en CR het dit sekerlik vir hulle belowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.