Nuuskommentaar: Covid-19: Is SA nou ’n magstaat of demokrasie?

(Foto: Wikimedia Commons)

Die ou spreekwoord, waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie, is nou baie van toepassing teen die agtergrond van die koppestampery oor of daar ’n magstryd in die ANC is wat selfs pres. Cyril Ramaphosa se kop kan kos, en of Suid-Afrika nog waarlik ’n demokrasie genoem kan word. Dis nie liggewigte wat koppe stamp nie.

Hoe lank gaan dié koppestampery voortduur? Vir baie lede van die publiek is dit stellig ’n uitgemaakte saak – die ramptoestand het die karakter van die land se demokrasie in iets met drakoniese kenmerke verander.

Al hoe meer kenners maan tegelykertyd dat die kragdadige stappe waarop (na bewering) besluit word om die virus te bekamp, iets anders ten doel het as die bekamping van die siekte – iets soos ’n interne magstryd binne die ANC, of die verskansing van die ANC se magsposisie in die land. Die twee kampe word tans onderskeidelik gelei deur prof. André Duvenhage wat meen daar is iets binne die ANC nie pluis nie, en dr. Piet Croucamp, prof. Dirk Kotze, Theo Venter en andere.

Gisteraand se Kommentaar op RSG het ook die onderwerp onder oë geneem. Duvenhage sou sy kant stel, en die “ander kant” is in die hande van Melanie Verwoerd, voormalige ANC-parlementslid, gelaat, terwyl Jan-Jan Joubert die diplomasie moes inspan. Die aanbieder, Ivor Price, wat ’n naam oor jare as knap aanbieder verwerf het, sal dié keer moontlik nie so maklik kritiek vryspring nie. Tot sy krediet kon albei kante hul saak stel.

Elke luisteraar sal sy of haar eie mening hê oor watter paneellede die beste gevaar het. So sal baie reken Verwoerd het haar geloofwaardigheid en oordeelsvermoë aansienlik skade laat ly deur met erg uitgediende retoriek vir die Grondwet in te tree asof die stellings dat dit die beste grondwet of dan mees demokratiese grondwet ter wêreld is, nie lankal en klinkklaar die nek ingeslaan is nie. En die bewese logika is op ’n ongekende skaal deur van die land se voorste grondwetkenners aan die kaak gestel – waaronder die fokus van regters van die Konstitusionele Hof wat openlik hul vertolkingsraamwerk heg aan die ANC se transformasiebeleid eerder as die geskrewe teks. Die geyktheid van haar opvattings was duidelik toe sy met ’n blatante stukkie lokvaljoernalistiek gevra het om te kies wie die land die meeste skade berokken het: apartheid of die huidige regering se regeervermoë. Dit herinner aan die leidende vraag aan ’n man: “Slaan jy nog jou vrou?” Hy is in die moeilikheid, ongeag of hy al ooit sy hande vir sy vrou gelig het en wat hy antwoord. Dit terwyl die ANC goed gevorder het om ’n kakistokrasie in SA te vestig.

Dit is ’n sinnelose oefening om die ANC en Duvenhage se geloofwaardigheid teen mekaar op te weeg, want dit speel op verskillende heelalle af. Dit beteken nie hy sal altyd reg wees nie – sy bronne is immers dikwels feilbare mense – maar om sonder meer sy stellings ter wille van ANC-bronne vir die wolwe te gooi en in die proses heelwat samespanning te pleeg, lyk verdag. Die ongemaklike vraag is of die ANC nie op die een of ander wyse probeer terugslaan deur dit wat baie mense aanvoel en hulle oor uitlaat, as belaglik te laat voordoen nie. ’n Metode wat al deur regerings gebruik is, is om sleutelfigure ’n ietsie in die hand te stop, of om druk op ontleders se werkgewers te plaas.

In hierdie rubriek is al dikwels kommer oor die stand van die demokrasie uitgespreek, en selfs vrae gevra oor ’n soort magsvergryp. Onder die gedagtes vir iets anders was voorstelle dat gedink word aan ’n vorm van tegnokrasie. Gisteraand was daar onder die paneellede ook ’n gedagte dat meer kundiges oor ’n wye spektrum velde ingetrek moet word – iets wat gereeld opduik. Weens onkunde oor wat die begrip tegnokrasie behels, of weens totaal verkeerde persepsies, word die woord tegnokrasie egter nie ingespan nie. En wanopvattings is daar volop. In onlangse doktorale studies oor die tegnokrasie wat uit vakgebiede soos die teologie en sosiologie spruit, word absoluut absurde stellings gemaak soos dat dit anti-Christelik of ondemokraties is.

Praktiese voorbeelde is gevalle waar AfriForum by munisipaliteite ingryp deur te help sorg dat mense skoon drinkwater het, dat rioolplase op wetlike vlakke bedryf word, strate rybaar is, en veel meer. Die mooiste internasionale voorbeeld is dat die Belgiese ekwivalent van ons opperbevel teen Covid-19, ’n “dinktenk”, nou na ’n “super-dinktenk” (’n super-dinkskrum in Afrikaans) uitgebrei word met nog meer kundiges uit verskillende toepaslike dissiplines) om die land uit sy beperkende maatreëls uit te bestuur. Die verskil in terminologie, “upper command” en “super-dinktenk”, spreek boekdele.

Die idee dat daar ’n magstryd is, waarin die idee van ’n grondwetlike demokrasie maar ’n onbelangrike slagoffer kan wees, blyk uit die vasmessel van blatante rassistiese maatreëls, asook die kwessie dat van die mees onbekwame ministers denkbaar in hul ampte behou word en dikwels voortgaan om met hul drekstellings die land se Covid-19-reinigingsprogram enorme skade te berokken, en terselfdertyd die ekonomie in ’n suigput te laat wegspiraal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Blikkantien ·

Dit kan dalk lei dat ‘n party soos die EFF aan bewind kom.

Jacobus ·

Knap en nugter opgesom Herman. Maar jou laaste parragraaf som die “inconvenient truth” op. Ons moet katvoet loop.

Burgermeester ·

Die antwoord op die titelvraag is maklik: Suid Afrika is ‘n magstaat, ons is niks anders as ‘n pseudo kommunistiese land, wat deur China en Kuba beheer word nie.

Spyker ·

Melanie Verwoerd en Piet Kopdoek kruip so diep in die heersers se, jy weet wat, dat die breins tot geen nugtere denke instaat is nie. Gisteraand se praatjie oor RSG het bewys dat Price ook nie eintlik weet wat aangaan nie. ( Behalwe vir die beperkte gebied waar hy hom bevind)

Harry ·

Die tyd het aangebreek om vrees vir ‘n werklike siekte te laat verbygaan. Die land moet oppas vir sosiale skade en lidtekens. As werkloosheid werklik daal tot 59%. Daal beteken ‘n verswakking van ongekende afmetings.

Geen land sal in ‘n 100 jaar kan herstel nie.

Ons is sterker as ‘n werkende nasie wat siek mense het. Ons MOET positiewe bydraes, finansieel en andersns, maak om ons selfvertroue te herwin.

Willem ·

Melanie het gedink sy is slim ,volgens haar gaan alles goed by haar party (anc), Ivor het ook n wind gesluk gisteraand en Jan Jan die vredemaker. Van almal dink ek Jan Jan het n goeie idee wat in die land aan die gang is. Kopdoek kruip net geen respek vir hom nie

Grassie ·

Die ANC het van die begin van hul bewind af die begeerte gehad om die regering te omskep in ‘n magstaat met hulle in beheer. Dit is egter ‘n drastiese stap wat groot teenstand sal ontketen as hulle te vinnig daarmee beweeg en hulle is besig om dit stappie vir stappie te doen. Die koronavirussage het nou soos ‘n appel in hul skoot geval – hulle kon kragdadige stappe op die burgery afdwing en hul gemaskerde regeringsleiers kan ons daagliks die Leviete voorlees, ons moet geleer word om die gesag te aanvaar. Dit gaan moontlik nog ‘n paar maande aanhou. En as ons hardekwas raak is daar 73000 soldate opgeroep om ons te probeer intimideer.

Sarel ·

Die ANC is besig om die land en sy mense te vernietig. Geen Lojaliteit teenoor SA of sy mense.

maria ·

Magstryd?? Besils!.
Dit is tyd dat ons ophou om die pandemie te vrees en op ons skepper te vertrou.
As inperking en voorsorgmaatreels nog die die pandemie kon stop op keer nie. Kan ek nie dink dat dit verder ‘n verandering kan maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.