Nuuskommentaar: Covid-19, rampe binne rampe en ’n ‘nuwe wêreldorde’?

Argieffoto: Pixabay

Dat die wêreld soos ons dit nou ken ná die Covid-19-pandemie gaan verskil van dié daarvoor, lyk onafwendbaar, maar goed gemotiveerde voorspellings deur kundiges van ’n nuwe wêreldorde blyk voortydig te wees. Christene moet egter oop oë wees dat Christelike waardes en die demokrasie nie in die oorgangsproses skade ly nie.

Die wêreld steier nie net weens Covid-19 wat ’n breë spoor van siekte en dood agter hom laat nie, maar ook onder veral ekonomiese gevolge van die teenmaatreëls. Maar wat nou as daar saam met die megaramp nog ander groot rampe voorkom, soos reusewoudbrande, droogtes en ander rampe wat met klimaatsverandering verband hou, aardbewings (veral met tsoenami’s), vulkaniese uitbarstings, effektebeurse wat neus in die teer en beton in duik, kernongelukke, wêreldwye ineenstorting in die kuberruim, rampspoedige filosofiese dwalinge en ’n rits ander denkbares en ondenkbares?

Nuus vars uit die oond is dat Covid-19 in Spanje skynbaar ’n tweede asem gekry het ná vroeë aanduidings daarop gedui het dat die siekte in dié land aan die afplat was. Binne 24 uur het meer as 800 mense in dié land weens Covid-19 gesterf. (Kaarte en tabelle van die jongste syfers wêreldwyd kan hier bekyk word.)

Een groot geluk is dat die wêreld die afgelope aantal jare ’n afname in werklike groot aardbewings beleef het – dit wil sê aardbewings van M7 of sterker. Met Maartmaand wat so te sê op sy rug lê, was daar vanjaar nog net drie aardbewings van M7 of meer. Een was by Jamaika en het verbasend min skade aangerig, en twee by die reeks Russiese eilande wat saam met ’n reeks Amerikaanse eilande van Siberië na Alaska strek. Ook hier is slegs geringe skade aangerig. Met die mees onlangse, op 25 Maart, is daar aanvanklik ’n tsoenami-waarskuwing vir Hawaii uitgereik, maar kort voor lank teruggetrek. Die episentrum van meer as 56 km diep het waarskynlik die gevaar geneutraliseer. In 2010 was daar ’n hoogtepunt van 22 aardbewings van M7 of meer, maar verlede jaar net 10, wat min of meer die “norm” vir die afgelope aantal jare was.

Dat rampe in vlae kan voorkom, is nie nuut nie. In 2 Kronieke 7 is in die Bybel geskryf: “As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.”

In sekere Bybelvertalings, soos die NetBible, word die drie soorte sprinkane wat die een ná die ander alles verteer, in die boek Joël by die naam genoem: “What the gazam-locust left the ‘arbeh-locust consumed, what the ‘arbeh-locst left the yeleq-locust consumed, and what the yeleq-locust left the hasil-locust consumed!”

Dit is nie die taak van ’n aktualiteitskommentator om gesaghebbende teologiese uitlegte te verskaf nie, maar ’n mens kan dit ook nie ignoreer nie. Vanuit ’n sekulêre hoek het die redakteur van die Afrika-uitgawe van The Conversation dit soos volg saamgevat: “They (’n aantal kenners) cast their minds back to the mistakes that got us here and forward to what needs to be done. They conclude that, if we can work together – both within our countries and internationally to overcome the divides that have allowed the threats of pandemics to fester – out of the terrible fire of this pandemic a new world order could be forged.

“As Covid-19 spreads across the world, there’s concern about people caught in humanitarian emergencies, such as those in Syria, South Sudan and the Rohingya refugee crisis. People in these situations would usually turn to their social networks for help, in the form of food, shelter, money, employment and emotional support.”

Lees ook hier (“The world before this coronavirus and after cannot be the same”) en hier (“Covid-19 compromises social networks. What this means for people in humanitarian crises”).

Of die tydperk voor Covid-19 en daarna werklik ’n nuwe wêreldorde gaan verteenwoordig, is nou voortydig om te voorspel. Dit is belangriker om te fokus op die teoretiese gevaar dat die ramp- en noodtoestande wat wêreldwyd afgekondig word, misbruik kan word om demokrasieë te skaad. Morele waardesisteme moet soos kleinode beskerm word, en waar dit (reeds) tot niet is, herstel word. Knie-ghries, gesonde verstand, onselfsugtigheid en harde werk is aangewese.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Uitstekend Herman, jou laaste paragraaf soms alles (tot ‘n mens se ontsteltenis) op. Die wěreldwye noodtoestand is nodig – maar! Dit skep politieke lugleegtes wat onder die dekmantel van noodsaak grootliks misbruik kan word vir politieke gewin.
Dit skep ook die teëlaarde vir “globaliste” in die ergste vorm. Die skeppers van kort termyn oplossings word nou voorgehou as redders. Die persone met die megageld kan feitlik enige toestand oorleef. Die resulterende platgeslane ekonomië is aan hul voete, gereed vir verdere eksploitasie.
Sinies – gaan dink daaroor!

Johan Venter

Herman, jy is reg, ons moet waaksaam teen uitbuiting en agendas wees, ook is dit goed dat die natuur vir die mens grom, hom sommer hard aanspreek en hom as’t ware terug bring aarde toe. Die mens het te eentonig met sy eie vooropgestelde voorspelbare agenda geraak, dit nou buiten vir die blondekop presidente van twee Westerse lande, dit sal baie vindingrykheid kos, wysheid en krag. Dit sal die mense ook hopelik noop om hulle met die regte dinge besig te hou. Laat ons vertrou dat, hier by ons, die ekonomie en die tekort aan geld, die ANC se ideologie… Lees meer »

Anel

Onthou, jy kan nie God en mamon aanbid nie. So ook nie tot God bid en draai maak by die sangoma of die voorvadergeeste om raad vra nie.