Nuuskommentaar: Cyril en Ace dalk van dieselfde politieke lap

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Aan die begin van die week het gerugte die ronde gedoen dat Ace Magashule afstand gedoen het van pres. Cyril Ramaphosa se brief aan ANC-lede die afgelope Sondag. Die ANC het egter hierdie gerugte ontken. Die party het ook sy misnoeë uitgespreek oor diegene wat met sulke fopnuus ʼn wig tussen ANC-lede wil dryf. Volgens die ANC is die party tans in verenigde harmonie.

Ongeag wat die ANC sê, bestaan daar egter lank reeds twee groot ANC-faksies. Hierdie twee opponerende dele van die ANC moet deurentyd versoen en gelukkig gehou word in besluitneming. Ramaphosa en Magashule staan as opponerende leiers van die twee groot faksies binne die ANC. Die een synde die meer eerbare, bevoegde “vryemark”-Ramaphosa-faksie. Die ander synde ʼn suiwer korrupte, openlik Marxistiese bende, gelei deur Magashule. Dit is hierdie twee skynbaar onversoenbare faksies wat talle politieke kommentators meen tot ʼn ANC-skeur gaan en moet lei.

Dit is beslis ʼn feit dat Ramaphosa en Magashule nie dieselfde soort mens is nie. Magashule is, soos wat Pieter-Louis Myburgh in sy boek oor hom uiteensit, ʼn gangster. Myburgh beskryf Magashule in sy boek as Suid-Afrika se gevaarlikste politikus en een van die mees invloedryke politici in die land.

Die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se boek oor staatskaping en die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule.

Ramaphosa, aan die ander kant, word nie beskou as dieselfde korrupte “krimineel” wat Magashule is nie. Hy word eerder beskou as ʼn teleurstellend ondoeltreffende oplossing vir dié korrupte streep in die ANC. Ramaphosa is van die begin af opgehemel as die leier wat die ANC se ondoeltreffende en korrupte neigings gaan uitsorteer. Maar aangesien hy telkens daarin faal om enige daadwerklike verskil in hierdie opsig te maak, word hy as ruggraatloos eerder as inherent korrup beskou.

Daar is dus duidelike verskille tussen die twee politici en ook die faksies wat hulle verteenwoordig. Dit is ook redelik ooglopend hoekom Ramaphosa en Magashule binne die party teenoor mekaar sou staan. Die belangriker vraag is egter wat hulle enigsins saamhou. Waarom behoort Ramaphosa en Magashule steeds aan dieselfde party?

Ondanks die beeld wat mense van Ramaphosa het, is hy ʼn selferkende sosialis. Ramaphosa is een van die mees progressiewe presidente wat ons nog in die post-1994-era gehad het. Hy het weens sy doelgerigte doeltreffendheid talle van die beleidstellings waaroor die ANC net gepráát het, tot beleidsaksie gevoer.

Magashule is natuurlik ook een van die grootste ANC-kampvegters en daarmee saam ʼn onbeskaamde rassenasionalis. Die fundamentele ideologie wat Ramaphosa en Magashule albei aanhang, stem grootliks ooreen. Die vraag is dan waarom hierdie twee – wat in funderende teorie ooreenstem – in praktyk so van mekaar verskil.

Die antwoord lê in die aard van die ANC se funderende beleid. Die ANC staan in wese ʼn groot, allesomvattende staat voor wat die mag moet hê om byna alle aspekte van mense se lewe te dikteer en beheer. Die uiteindelike doel van die staat is absolute gelykheid in alle sfere van die samelewing. Meriete word telkens verontagsaam ten einde gelykheid van uitkomste, eerder as gelykheid van geleenthede te bewerkstellig. Die staat en samelewing moet ook gevul word met mense wat getrou is aan ANC-idees.

Pres. Cyril Ramaphosa en ANC-leiers Jessie Duarte en Ace Magashule tydens ‘n besoek aan gemeenskappe in Pretoria. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die ANC is ʼn Marxistiese beweging en dus ook ʼn utopiese een. Die uiteindelike doelwit van die ANC is ʼn samelewing waarin almal absoluut gelyk is en tevrede daarmee is. Mense leef ʼn lewe van materiële eenvoud en altruïstiese gelykheid. Niemand verraai ooit die utopie deur méér te wil hê nie. Dié utopiese denke verwag altyd dat mense eerbaar en sondeloos optree ten einde die utopie te onderhou.

Die ANC jaag dus ʼn samelewing na wat nooit sal kan bestaan nie – bloot weens die sondige aard van die mens. Die party se idees verwag die beste van mense, en maak daarom nie voorsiening vir die foute van mense nie. Die staat se mag word nooit ingeperk nie omdat dié mag nodig is om die utopie te bereik. Die kombinasie van onbeperkte mag en die sondige mens veroorsaak dan altyd ʼn diskrepansie tussen die utopiese idees en die werklikheid.

Dit is hierdie diskrepansie wat verduidelik waarom Ramaphosa en Magashule in dieselfde idéés kan glo, maar in praktyk drasties van mekaar verskil.

In praktyk lei hierdie idees altyd tot ʼn lomp, ondoeltreffende en korrupte staat – juis weens die feit dat die uiteindelike doelwit wat nagejaag word só onhaalbaar is. Eerder as die wonderlike eindpunt van die utopie haak samelewings vas by die oorgangsproses. Dit is in hierdie oorgangsproses waar staatsmag wat veronderstel is om die utopie te bewerkstellig, misbruik kan word. Dit is in hierdie oorgangsproses waar iemand soos Ace Magashule kan floreer.

Iemand wat buitendien moreel korrup is, het met byna onbeperkte staatsmag nou die geleentheid om polities ook korrup te wees. Sodoende kan die gapings wat die utopiese denke gelaat het, deur politici gebruik word om hulleself te verryk.

Dit is hierdie gaping wat verduidelik waarom Ramaphosa en Magashule aan dieselfde party kan behoort. Albei glo dalk in die funderende utopiese denke. Die verskil is net dat mense soos Magashule glad nie skroom om die mislukking daarvan in praktyk tot hulle eie voordeel aan te wend nie. Ramaphosa haak tot groot mate vas by die suiwere teorie van die ANC se denke. Hy verwag dat mense in vrede en tevredenheid saam sal werk om die utopie te bereik.

Sodoende is Ramaphosa en Magashule twee kante van dieselfde Marxistiese munt – Ramaphosa bevind homself bloot aan die kant wat blinker gevryf is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Dit het Covid-19 gevat om te maak dat Onder President Cyril Ramaphosa vir Suid Afrika sy rerige kleure wys. Gou verander van Dr Jekyll in Mr Hyde in. Hy het al gese ANC voor Suid Afrika. As daar ‘n peiling op die vraag nou sou gedoen word “het jy enige vertroue in Cyril Ramaphosa” wonder wat die eind antwoord sou wees? Van Ace Magashule se ons maar niks. In enige ander land sou die gogga al lankal in die tronk gewees het. Dink om die ANC se grootse skelm aan te stel, om al die ander ANC skelms te ondersoek. As jy nie hardop lag nie gaan jy hardop huil!

Pompies55 ·

Voetsek ramaphosa,voetsek magashule,voetsek ndz,voetsek ancyl!!!!!!!!!!!

JohanR ·

Pompies55…..enigeiemand wat hiredie berug lees sou dien jy probeer vir die hele ANC en enige gogga in en met die ANC of te Voerstsak! Nou lekker gelag. Hierdie is een van daai smoke en mirrors, en good cop bad cop stories wat die Kommuniste soe goed meer is om die wereld in te stuur en te dink ons sal daarvoor val. Gaan ‘n lang tyd in SA neem voordat die 70 percenters almal 30 precenters is soe ons sien reg deur die ANC en die storie…….#VoerstsakANC!

Jacobus ·

Miljoenêrs. Waarom wil hulle verander? Die gaping tussen hulle en wat hulle “our people noem* raak al groter en buitendien waarom aanpas as hulle so gelukkig en tevrede is. Al wat hulle twee maal laat dink is ‘n trippie Den Haag toe maar as jy sien waarmee weggekom word raak dit net ‘n veraf bedreiging. Status Quo uber alles.

Andre ·

Ongelooflik. KAPITALISME, EN NIE SOSIALISME, het hom ‘n biljoener gemaak…..nogal baie gerieflik…

Jack ·

Wel as ek moet kies tussen die twee dan vat ek nie die “ Mao “ wanne bee nie. Hy is alles wat ons nie wil he nie en wat hierdie land totaal gaan verniel en waarskynlik reeds besig is met sy werke. Hy sal baie betaalde aanhangers he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.