Nuuskommentaar: Cyril se nuwe stad – moet dit positiewe beskouinge van kolonialisme verslaan?

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede (20 Junie 2019) (Foto: Parliament of RSA/Twitter)

Wat is Tanzanië se hoofstad se naam? Dar es Salaam reg? Nee verkeerd, al sê talle ensiklopedieë so. ’n Klein, stowwerige spoorwegdorpie, Dodoma, is sedert 1974 amptelik die hoofstad.

Een van die hoofredes was om hierdeur ontwikkeling in die land se sentrale streek te stimuleer. In 2005 het die stad reeds ’n bevolking van sowat 180 000 mense gehad.

Benewens om ontwikkeling so in agtergeblewe gebiede te stimuleer, is dit om verskeie redes wenslik dat ’n land se hoofstad so sentraal as moontlik in ’n land geleë is. Dit hou ook militêre voordele in omdat ’n invallende land dan ’n taamlike logistiek moet opbou om die hoofstad te bereik.

Ander bekende hoofstad-projekte is byvoorbeeld Brasilia wat as Brasilië se hoofstad ontwikkel is. Australië het Canberra as nuwe, neutrale stad gebou om die federale regeringsmodel te ondersteun.

So is Abuja as nuwe hoofstad van Nigerië gebou, en het in 1991 Lagos amptelik vervang. Met Malawi moet kopgehou word met wat en waar die hoofstad nou eintlik is.

Terwyl die ekonomiese waarde van ’n hoofstad se ligging baie belangrik is, is die grootste betekenis waarskynlik die simboliese impak van die stad. Israel was reeds grootliks deur die Israeliete oorgeneem toe Jerusalem (die ou Jebusiete) eers aan die beurt gekom het. Dit het hierna die Stad van Dawid geword, en was daarna ’n groot twispunt tussen godsdienste.

Vandag nog erken die meeste lande in die wêreld nie Jerusalem as hoofstad van Israel nie, maar wel Tel Aviv. Daar word voorts dikwels ’n onderskeid getref tussen die status van Oos-Jerusalem (Palestyns) en Wes-Jerusalem, wat Israel as nuwe stad (en hoofstad) vir die volk Israel gebou het.

Nog konsepte is om byvoorbeeld ’n winterhoofstad en ’n somerhoofstad te hê, konsepte wat veral geken is deur volke wat in lande met groot klimaatuiterstes woon, soos om die Himalajas, en om die Andes gewoon het, soos die Inkas.

Die simboliek om ’n hoofstad as “siel van die volk” kan egter nouliks onderskat word.

In die geval van Tanzanië is die verskuiwing van die hoofstad nie al wat ingespan is om nasionale kohesie te bevorder nie. Swahili word ook so aangewend, en is in 1964 tot Tanzanië se amptelike taal verhef. Kenia het intussen gevolg.

In 2013 is aangekondig dat Swahili die amptelike taal van die Oos-Afrika-gemeenskap gaan word. Dié gemeenskap bestaan uit Tanzanië, Kenia, Uganda, Rwanda en Burundi, terwyl Suid-Soedan se aansoek ook nog oorweeg word.

Die “kolonialisme”-twis in die DA toon hoe gevoelig die onderwerp onder baie swart mense is. Aan die een kant is daar argumente wat aanvoer dat kolonialisme tot Afrikalande se voordeel was, terwyl ander selfrespek probeer bevorder deur op die slegte elemente van kolonialisme te fokus. Tydens die Zille-Maimane-dispuut het Ethiopië se verteenwoordiger by die Pan-Afrika-parlement gekla dat Ethiopië infrastruktuur-agterstande het as gevolg daarvan dat die land nooit gekolonialiseer was nie.

’n Gewese kolonie moet egter reeds stewig weg van sy koloniale verlede kan staan voor die koloniale taal aan die beurt kom. Die koloniale taal het dikwels vir die inwoners ’n prestige-waarde.

In 2015 het Tanzanië aangekondig dat Swahili Engels as onderrigmedium op skool gaan vervang.  Die skrywer, Omar Mohammed, stel die konteks soos volg: “Kiswahili, commonly called Swahili in the west, has been the foundation through which Tanzania has built its sense of national cohesion. The country boasts over 130 ethnic groups, all with their own languages and cultural traditions. Yet for a region that has struggled with ethnic conflicts (see Rwanda and Kenya), we have escaped such problems largely due to the unifying force of Kiswahili. The nature of Kiswahili itself, a language constituted out of Arabic, Bantu, English and German, reflects our diversity and our history. It has given us a sense of collective identity and the means through which we feel connected to our fellow countrymen.”

Beteken dit nou ook dat Ramaphosa se idee van ’n nuwe droomstad tot gevolg gaan hê dat daar ook ’n strewe gaan kom na ’n enkele inheemse taal wat tuiste vir ’n sentrale identiteit gaan bied? Gaan Engels hier ook, soos in Oos-Afrika, geleidelik in die slag begin bly?

Die tale-situasie tussen Suid-Afrika en Oos-Afrika verskil te veel om te veel verwagtinge te koester as dat Engels sy prestige-beeld gaan verloor. Die naaste wat daar seker aan die ontwikkeling van ’n hoofsaaklik Afrika-gebaseerde taal soortgelyk aan Swahili hier tot stand gekom het, is sekerlik Fanagalo. Fanagalo is egter oor ’n taamlik wye front gediskrediteer.

Die idee van ’n stad wat saambindend vir ’n volk moet wees, is nie nuut aan Suid-Afrika nie. Orania het reeds omvattende planne onthul vir die ontwikkeling van ’n formidabele stad op Orania. In ’n stadium het oudpresident Jacob Zuma die Afrikaners aangeraai om hul eie “Nkandla” te “kry”.

Oor die uitvoerbaarheid van Ramaphosa se droom, kan net bespiegel word.

Reg of verkeerd, ’n stad wat tegnologies ver gevorderd is, het ’n sterk simboliese betekenis as “bewys” dat die mense van Afrika ook in staat is tot vooruitgang en dus nie kolonialisme “nodig” gehad het nie. Oudpres. Thabo Mbeki se fiksasie met Timboektoe in wel bekend as sy beskouing aan “inheemse potensiaal”. Heelwat Suid-Afrikaanse geld is in Mbeki se projek gestort om dié “Afrika-erfenis” te bewaar.

Oudpres. Thabo Mbeki. (Argieffoto.)

Die ironie is dat Mbeki se verwysingsraamwerk foutief was. Timboektoe en ander ontwikkelings was die gevolg van Moslem-uitbreiding en Arabiese kolonialisme. Kartago was ’n Fenisiese stad wat onafhanklikheid verwerf het. Die Egiptiese en Ethiopiese beskawings was egter inheems.

Dar es Salaam en ander pre-koloniale stede aan die kuste van Oos-Afrika was ook die gevolg van Arabiese, Persiese en Indiese invloede. Mosambiek het juis sy naam van ’n Arabiese sjeik, Mussa Ben Mbiki, gekry wat oor die hedendaagse eiland, Mosambiek, regeer het.

Onder bepaalde omstandighede is Ramaphosa se droom meer realisties as wat dit op die oog af mag klink. Die probleem is egter nie soseer die uitvoerbaarheid nie, maar die volhoubaarheid.

Sal die ANC sy beeld kan verander dat dit ’n party is wat nie die konsepte van instandhouding en gesonde finansiële praktyke onder die knie het nie, kan baasraak? Of gaan die droomstad, soos van die ou Arabiese stede aan die Ooskus, kort voor lank weer deur die natuur oorgeneem word?

’n Stad van murasies is stellig nie wat Ramaphosa in die oog het nie. Maar sonder om administrasie en bestuur behoorlik in plek te hê en mee vol te hou, gaan die beleggers en instansies wat die tegnologie moet bring wat soos ’n towerstaffie moet werk en bly werk, eenvoudig bly wegkyk.

Laat die ouditeur-generaal se verslae eers toon dat ANC-beheerde administrasies die mas kan opkom, en dan so ’n projek aanpak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Klop-in-die-Bos! = Om pres CR en oud pres JZ te kry om die skynbare interne stryd tussen die 2 kampe te bered-der, is Nkandla PRESIES die regte plek om die DROOMSTAD te bou en te onder-hou! Ten einde die Lug-Pastei te kan laat werk, MOET geen Taxi’s of Vak-bonde daar toegelaat word nie, “Finish en Klaar”. Naskrif – vir die wenk soek ek ook nie eers ‘n Kon-sul-tasie fooitjie nie! He-he-he. (Baie goeie artikel Herman)

Robert ·

Dink net, kan nogal “nice “wees as dit realiseer. Enigste reel wat ingestel moet word, jy kry verblyf reg as jy ń anc / eff / lid is.

A ·

Ek vermoed iemand het die film Black Panther gesien en het ‘n eie Wakanda in gedagte…

Gert van Wierdapark ·

Lyk my reaksie op die DROOMSTAD van pres CR is te sarkasties? Ek het eerste reageer, maar dis ongelukkig verwyder. Ek probeer maar weer. Sal Nkandla nie n goeie ligging kan wees nie? Al vereiste is dat die President in die beplanning aanbeveel dat taxis en vakbonde uit- gesluit word, anders gaan die Droom nie lekker werk nie!?

Andreas ·

Gert, hierdie een hier onder het al onderaan ‘n vorige rubriek van Herman geland, toe is jou voorstel nog op pad, hehehe:

My probleem betreffende die staatsrede is dat hy/die staat wil als self doen en los niks, of bykans niks vir die privaat sektor nie, ek glo die staat het net nie die kapasiteit en die kundigheid nie en die droom is net té ambisieus. En dan het hy net oor Eskom gesê gebruikers sal vir elektrisiteit moet betaal maar niks verder oor die ontbondeling nie.

Cyril se superstad kan seker herrys daar waar die plaas Akkerland in Limpopo is en waar die plan vir ‘n kolossale steenkoolmyn dalk nog nie laat vaar is nie.

Maar nou ja as Cyril groot kan droom, wat van as die Afrikaner hom voorspring met so ‘n stad waar Afrikaans die spreektaal is, Afrikaanse skole, Afrikaanse kerke, Afrikaanse woongebiede ‘n Afrikaanse universiteit?

Andersins kan almal wat nie Afrikaans is nie, uit Pretoria na die nuwe stad toe trek en al die Afrikaners trek Pretoria toe, daar waar die Unie Geboue is. Dit kan nogal werk want Solidariteit en Afriforum sit reeds daar in Centurion.

Kobus ·

Pretoria val uitmekaar. Bou eerder ‘n nuwe stad vir Afrikaners.

ne ·

So droom ons om die lotto te wen. Maar die teleurstelling is nooit uitgesluit nie! Droom maar voort CR. Dalk het jy net nkandla nodig om verder uit te brei met belasting geld.

Grassie ·

Die ANC het nie die vermoë om ‘n nuwe stad te bou nie. Hulle het bestaande stede en dorpe in ‘n goeie toestand gekry en toe onherstelbaar opgefoeter. Kyk wat het gebeur met die twee kragstasies wat hulle probeer bou, nou praat hy van ‘n stad. Dalk bedoel hy ‘n stat. Hul hophuisprojekte is ook ‘n totale mislukking. Dit is deurtrek met korrupsie en uiterste swak vakmanskap. As CR oor ‘n nuwe stad droom, sal ek dit nie ‘n droom noem nie maar ‘n hallusinasie.

Swannie ·

Die “Droomstad” sal nooit realiseer nie, omdat tenderbedrog eerstens sal plaasvind en kort voor lank is al die geld net weer weg soos altyd en niemand weet wat daarvan geword het nie, soos gewoonlik.

Koos ·

Waaaaattttt? Ons regering en hul mense iets bou vir enige ander persoon se gewin?? En die Proteas speel in die Krieket wêreldbeker eindstryd!

John ·

Die voorbeelde van so ‘n stad is iets tussen ‘n miershope en molshope. CR is verlief op Xi se land en die malse ontwikkelings daar met Sjinese wat net glimlag en glimlag… hulle moet sekerlik gelukkig wees. En as Sjina nou so ‘n stad wil finansier kan alle migrante en die miljoene werkloses daar gaan saamkoek. Die feit dat hy dit tydens die parlementsopening aangekondig het… moet nie lig geskat word nie. Ons moet seker oefen om eendag die maan of Mars te gaan opeis as eerste inwoners… eienaars.

Leon ·

Wel, Afrikaans is soos Swahili ‘n samevoeging van verskeie tale. Nederlands, Die inheemse tale van Suid Afrika, Duits, Engels, Portugees, Frans, Italiaans. So dan is Afrikaans mos die korrekte taal om te gebruik, aldus Tanzanië se mense.
Vertel dit vir die ANC en hulle land almal in die hospitaal met hartaanvalle.;-)

fred ·

dit is weer n afleidings maneuver,die ekonomie groei nie, die soe’s skuld honderde miljarde, 50% werkloosheid, ens…..dat cr maar die biekie geld wat daar miskien nog is, gebruik vir die opgradering van die bestaande stede, die binnestede val uit mekaar en word slumps,…betaal eerstes eskom se skulde …glo daar is ander prioriteite dan n superstad

Foxi ·

Jippieeeee….ons kry n Disneyland. Hoop nie dit vat te lank nie……….

waarheid ·

Dis jammer die anc en eff en andere ken nie die ware geskiedenis van die Afrikaanse taal nie – want dan sou hulle nie so gekerm en gekla het nie.
Wys jou net wat oningeligtheid aan jou doen.

barend v d westhuizen ·

al wat die swart regering kan doen is bou nuwe goed wat so swak is dat dit a paar jaar weer oor gebou moet word plaas dat hulle instandhouding doen op stede e dorpe wat klaar gebou is weens hulle sak bestuur al meer agter uit gaan cr raak waker

Attie. ·

Ek sien daar is Oos van Pretoria baie kleinhoewes te koop. Indien die ANC die nuwe superstad daar bou en sommer die parlement saamsleep dan kry baie mense sommer hul plotte verkoop, of gaan die eiendom dalk onteien word? Ag ou Ciryl, droom lekker maar maak eers die potgate toe. So snaaks om te dink dat baie vir die nar gestem het.

Hendrik ·

Attie daar is natuurlik iin alle rigting plotte te koop en wat daarvan as die regering alle oop ruimtes en lae digtheidsgebiede ontwikkel/verander na hoe digtheidsgebiede. Dis nou laekoste hoe digtheids woonstelgeboue in die middel van woonbuurte. As jy ‘n gat grawe vir iemand anders val jy jyself daarin..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.