Nuuskommentaar: DA-beheerde rade byt danksy vyfdekolonners in die stof, en EFF baat

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Ons ken almal die uitdrukkings van manteldraaiers, vyfdekolonners, gedoogde steun, politieke opportunisme, ras-onewehandigheid, onbekwaamheid, nepotisme en ander, maar met die tuimeling van die DA-geleide koalisies in Johannesburg en Pretoria het al hierdie elemente gelyktydig gemanifesteer.

Met die stigting van die EFF het die Vryheidsfront Plus by die OVK beswaar gemaak nog voor die party geregistreer is. In wese het die VF Plus gevoel die EFF se beleid strook nie met die grondwetlike vereistes waaraan ’n party moet voldoen om as party te kan registreer nie. Die OVK het egter anders gevoel en die EFF wel geregistreer, al het die EFF dit byvoorbeeld duidelik gemaak dat dit minder op versoening ingestel gaan wees, en meer op revolusie.

Of die OVK naïef was, of inderdaad hard op sy kop geval het, die land is telkemale deur die EFF se streke geskud. Was dit nie so ernstig nie, kon baie hiervan as narrestreke beskryf word. Wanneer iemand tot openbare amp verkies word, soos parlementslid, lid van ’n provinsiale wetgewer of munisipale raad, onderneem hy/sy om die Grondwet lojaal te handhaaf. Maar dikwels word gemeld dat wanneer die Afrikaanse gedeelte van die volkslied gesing word, daardie einste nuwe raadslede onbeskof bly sit. Terwyl die volkslied, Afrikaanse gedeelte en al, deel van die einste Grondwet is wat so in die tande geskop word.

En geld dieselfde nie min of meer vir die beduiweling van versoening nie, soos vervat in die Nasionale Vredesverdrag, wat via die grondwetlike beginsels deel van die huidige Grondwet geword het?

Hoewel die regsgeldigheid bevraagteken kan word as iets wat duidelik ongrondwetlik is, veral as die Grondwet self strafbepalings bevat oor die toepassing van wette en die Grondwet self, maar dit word ter wille van die “vrede” of die verruiming van politieke speelruimte, nie toegepas nie.

Goed en wel, maar in die praktyk is daar in sekere kringe ’n obsessie om die ou landsvlag te kan swaai. En wat sou die teoretiese antwoord wees as iemand sou vra of die onewehandigheid nie dan beteken dat die land met dié ongelykheid voor die reg (ook in die Grondwet vervat) sedisie of selfs hoogverraad pleeg nie?

Bestaan die Grondwet dan nog hoegenaamd soos wat Maroela Media onlangs in ’n nuuskommentaar gevra het?

En durf ’n mens dan verbaas wees as die OVK weer besware ignoreer en die BLF as party registreer, terwyl die BLF wit lidmaatskap in weerwil van die Grondwet verbied? Onder appèl is die BLF toe weer vir registrasie gederegistreer.

Waar in die Grondwet staan dit dat ’n blatant rasgedrewe party aan die grondwetlike vereistes van nierassigheid in die Grondwet voldoen, solank dit net teen wit mense diskrimineer? Of is dit onfatsoenlik om ’n party te beoordeel volgens die geborduurde boodskappe op die uithangende onderrok?

Daar was inderdaad baie vrae oor die wysheid van die DA om met die EFF op munisipale vlak koalisies aan te gaan en sodoende die ANC as regerende party uit te skakel. In alle billikheid moet egter toegegee word dat die EFF hiervan “gedoogde” koalisies gemaak het.

Die naam “gedoogde koalisie” kom uit Nederland waar Geert Wilders sy party se “gedoogde steun” aan ’n groep gematigde partye toegesê het.  Die redes waarom dié reëling misluk het, is kompleks, maar die feit dat Wilders se party so ’n negatiewe beeld by baie gematigdes het dat deelnemende partye in eie geledere skade gely het, was vernaam.

En hoeveel skade het die DA nie gely deur die EFF se optredes en breedsprakerigheid nie? Selfs al het die EFF dikwels gehou by die implisiete voorskrif om nie die weerlig te trek nie, en om selfs die werking van die EFF meer afgerond te maak deur nie die party soos die gebruiklike seer duim te laat uitstaan nie.

Dit het die EFF egter ook strategies goed geplaas om wanneer die geleentheid  opduik, opportunisties toe te slaan. Die eerste geleentheid was met die Nelson Mandelabaai Metro, waar die UDM se leiersfiguur daar, Mongameli Bobani, ’n hoogs omstrede figuur is. Sy integriteit en bekwaamheid word erg in twyfel getrek, maar hy is ’n hegte vriend en vertroueling van die UDM se hoofleier, Bantu Holomisa.

Foto: Facebook via EFF

Dit het hom in wese onaantasbaar gemaak toe die aanslag van stapel gestuur is om van Athol Trollip as burgemeester ontslae te raak. Bobani het burgemeester geword, iets wat selfs die mees onkundige laat besef het wel baie riskant sou wees as Holomisa nie gou die lig sien en Bobani aan sy eie lot oorlaat nie. Die punt is dat die ANC bereid was om ’n ramp die burgemeester te laat word om van ’n wit mens (wat vlot Xhosa kan praat) te sink, en so die EFF te streel wat openlik ’n rassestorie hiervan gemaak het.

’n Paar DA-raadslede wat teen Trollip gaan stem het, het ’n invloed op die DA se hantering van die leierskapskrisis gehad.

Dit het weer uitgekring en die DA se posisie in Johannesburg en in die Tshwane-raad so geraak dat die DA-geleide koalisies ook deur die EFF se manteldraaiery platgeloop is. Weer is daar ’n heksejag na die manteldraaiery van DA-lede wat  “verkeerd” gestem het. Ander partye het egter min of meer dieselde gedoen.

Koalisies gaan in Suid-Afrika al hoe belangriker word, en dit is in ’n land waar korrupsie in sy wyds moontlike betekenis endemies is, goed so. Maar daar is sekere grondbeginsels wat nagekom moet word, en daar is nog baie te leer.

Soms is dit vir die leidende party in ’n koalisie moeilik om, wanneer op prestasies aanspraak gemaak word, te noem dis ’n veelpartyregering. Die onjuiste alleenaansprake erodeer uiteraard die leidende party se geloofwaardigheid, tensy al die kiesers in die gebied (nuttige) idiote is. Die Vryheidsfront Plus, weer, se nuusverklarings meld gereeld dat die party deel van die koalisie is, en dus mede-aanspraak op erkenning van prestasies behoort te geniet.

Intussen is dit soos die moeilike man wat op ’n onbekende eiland uitspoel. Toe die eerste inwoners op hom afkom, is die drenkeling se eerste woorde: “Wie regeer hier? Ek is teen daai regering.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

André-Chris ·

Dit lyk my veral die DA moet in die tyd waak teen mense wat die party as ‘n voertuig (of dan eerder taxi) gebruik, om van een punt na ‘n volgende te beweeg. Daardie persone kan ook opportunisties wees en is heelwaarskynlik nie met die party se beleid getroud nie. Dit sal dan interessant wees as mens sou kon weet watter persone van die DA het tyd gelede in Nelson Mandala-baai en nou in Johannesburg vir die opposisie gestem.

Feite ·

Die DA is geinfiltreer deur nie net opportuniste nie, maar ook ANC en eff doelbewus geplaasde lede en ja jy sal hulle beslis vind onder diegene wie vir die ANC gestem het, omrede hulle daar is om die DA te ondermyn, te ontwrig, te verswak en natuurlik om hulself verder te verryk. Die DA was al hiervan bewus gemaak nog lank voordat Musi geloop het en behoort al teen hierdie tyd n baie goeie idee te he van wie hierdie geplaasde ondermyners in die verskillende metros is!

an ·

Solank die politici hul aanstellings (soustrein) ontvang direk vanaf die politieke party, vir só lank sal die WIL VAN DIE MENSE ondermyn word (ter wille van eie belang)!

Daar is geen individuele PUBLIEKE aanspreeklikheid by politici wat NIE PERSOONLIK deur die kiesers verkies is nie.

As die kiesers kon stem vir die president in 2009 dan sou Jacob Zuma nie as president aangestel gewees het nie … en SA sou in ‘n baie beter posisie gewees het.

SA is tans uitgelewer aan politieke boewe en rampokkers … wat so besig is om voortdurend met mekaar saam te sweer of rug te steek … dat daar van dienslewering aan die kiesers geen sprake is nie.

Herman Mashaba is korrek in sy veroordeling van die disfunksionele, korrupte politieke stelsel in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.