Nuuskommentaar: Daai onnie-klap en generasies X, Y, Z

Argieffoto: Pixabay.com

Daar was enorme reaksie op ’n video op die sosiale media wat gewys het hoe ’n onderwyseres ’n skoolmeisie klap. Talle mense het na aanleiding van ’n deel van die video wat wys hoe die meisie haar minagtend teenoor die onderwyseres gedra, die onderwyseres se kant gekies. Trouens, baie het ook die meisie se ma erg verkwalik dat sy die meisie se kant gekies het.

So tussenin is baie gehoor van die probleem van skoolboelies wat in wese so endemies geword het dat slagoffers hulle al tot selfdood gewend het. ’n Boelie se ma het botweg geweier om te erken haar kind is ’n boelie, tot die skool ’n video aan die ma gewys het wat die kind in aksie getoon het. Die ma was verslae.

Is dit Generasie X se skuld?

Nie formeel nie. Generasie X word beskryf as kinders wat tussen ongeveer 1961 en 1981 gebore sou wees. Om nou nog op skool te wees, sou ’n redelike kwota dofheid tussen die ore vereis. Generasie X word beskou as die generasie tussen die sogenaamde Baby Boomers en die Millennials, maar laasgenoemdes sou nou tussen 23 en 37 jaar oud wees – dus ook te oud om nog op skool te wees. Vandag se skoolkinders en vele studente pas eerder in by wat vandag as post-Millennials bekend staan.

In baie hedendaagse “tabelle” word die “Generasie X” dikwels nie eens aangedui nie, ingesluk deur die ander kategorieë.

Maar het die kategorieë self verdwyn, of net die benoeming daarvan?

Of het vele van die toegedigte eienskappe van hierdie groep, wat dit ook soms as die “Verlore generasie” laat bekend staan het, bloot die naam polities inkorrek gemaak?

Dit is breedweg ’n generasie wat met minder ouerlike toesig groot geword het. Dit is weer onder meer veroorsaak deur meer egskeidings en meer moeders wat gaan werk het. Dit word soms vergeet dat daar ook ’n hele rits positiewe eienskappe aan dié generasie gekoppel word, soos ’n ingesteldheid tot entrepreneurskap, maar die permissiewe era en CD-musiek word ook hieraan gekoppel.

Maar dit was toe. Wat sien en ervaar ons nou?

By ’n skool het die skoolhoof, wat moedeloos was oor die baie kinders wat pouses op spesifieke plekke dampies slaan, ’n videokamera in ’n boom versteek, en die spulletjie, goed verteenwoordig deur alle rasse en geslagte, afgeneem. Mooi herkenbaar. Geen vinger kan na diskriminasie gewys word nie.

Hy laat kom die ouers en wys hulle die video. Die ouers se reaksie is verbysterend. Hulle beskuldig die skoolhoof daarvan dat hy die kinders se privaatheid geskend het!

’n Aantal jare gelede laai die polisie een nag na middernag ’n stormdronk 13-jarige meisie op wat by ’n berugte gedeelte van daardie stad rondhang, en die professionele prostitute se klandisie steel. Hulle neem haar na haar ouerhuis in die stad se skuldbult, en klop die ouers op. Die kind se pa gaan gal af oor die polisie die kind se pret bederf.

In die twee gevalle hierbo genoem, is die hele spektrum van welvaart en intellek ingesluit.

Is dit, figuurlik gesproke, nou Generasie X wat kleintjies gekry het? Of is daar fout met die post-Millennials (ook bekend as Generasie Z) self? Of dat dit hoofsaaklik die invloed van maats is, groepdruk, ensovoorts?

Die meeste van hierdie generasie is vertroud met die internet en die sosiale media, en is tegnologies baie gemaklik. Ouers verwys soms in ’n ligte luim te midde van hul eie gesukkel met die internet na hul kinders as hul toegang tot die internet. Hul ouers was gewoonlik deel van Generasie X of ook Millennials. Hulle is sterk beïnvloed deur die groot resessie en terreuraanvalle, en ontwikkel ’n entrepreneursingesteldheid om nie soos hul ouers slagoffers van die groeiende inkomstegaping te word nie, en is gewoonlik bekommerd oor naskoolse studiegeld.

‘n Skermskoot uit die video van ‘n onderwyseres wat ‘n leerder klap. (Video: Twitter)

Baie van dié eienskappe, soos lojaliteit, meelewendheid, vasberadenheid en verantwoordelikheid, word as positief beskou. Kerkbywoning op ’n jong ouderdom is dubbel so hoog as die vorige geslag s’n. Dit klink mos na ’n model-generasie.

Miskien moet maar van die breë kategorisering vergeet word, en meer na die individuele eienskappe gekyk word, en ouers meer sorgsaamheid in hul ouerskap opneem. Miskien is daar iets te neem uit die opvatting dat al die geslagte sedert Generasie X, met Generasie X ingesluit, uitbranding by baie individue begin beleef het.  Generasie X staan ook bekend as die “Masters of self-deprecation”. Dit is die eerste generasie wat deur studieskuld gewurg is.

Maar daar is die invloed van Zeitgeist (tydsgees) ook. Dit word beskryf as die algemene intellektuele, morele en kulturele klimaat van ’n era.

Ten slotte, al word die bestaan van Generasie X nog selde erken, maak die generasie in die VSA 55% van die stigters van groot ondernemings uit. En al is hulle deur studentelenings gewurg, is hulle vir 31% van die inkomste verantwoordelik, al maak hulle net 25% van die bevolking uit.

Ouers en ander opvoeders kan gerus die beste eienskappe van die verskillende generasies saamvoeg en in vandag se opvoeding inwerk om wangedrag deur ouers, opvoeders én die jong boompies te probeer voorkom.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Judge Dredd ·

Soos ek dit verstaan is generasie X die wat in die 70’s gebore is – generasie Y in 80’s, Z in 90’s en Millennials vanaf 2000.

BlinkStephaans ·

Ek is ñ trotse Generation Xer… ons het grootgeword met ruggraad, planne maak, werk vir wat jy wil hê, leer met oorgawe van wat jy wil weet sonder Google, Queen, Madonna, respek vir jou ouers, onderwysers en meerdere, en ñ pakslae as jy misstap. Ons is vandag die ruggraat van die ekonomie. Ek het ook my bes gedoen om hierdie dinge aan my kinders oor te dra en kan met trots sê hulle sal ñ verskil maak waar hulle ookal gaan… maar ek is bevrees dat daardie verskil vir ñ ander land is. Ek dink die generasie klasse is hoofsaaklik gebaseer op westerse denkwyse en manier van doen. Ek is van mening dat Afrika en sy kulture op heeltemal ander indelings werk en dat daar nog gladnie genoeg gedoen is om dit te verstaan.

BABY BOOMER ·

Ja Herman, in ‘n korporatiewe wêreld het ek maar nog altyd grootoog na die doen en late van generasie X gekyk. Ek dink hulle kyk met minagting na die twee generasies aan weerskante van hulle. Ek het baie gesukkel met generasie X se werksetiek, stiptelikheid, toegewydheid en deursettingsvermoë, glo my, ek moes maar deurentyd my tong vasbyt. “Everything goes” Menige kere het die werkplek in ‘n kleuterskool verander. Dinge wat absoluut taboe was, was skielik aan die orde van die dag. Ons kinders -die Millennials, is vir Generasie X ‘n geweldige doring in die vlees en ek dink dikwels ‘n baie groot bedreiging, veral as dit dinamiese Millennials is. So, ja – ek vra saam met jou die vraag, is dit generasie X se skuld?

Judge Dredd ·

Meeste millenials is generasie X se kinders en die baby boomers se kleinkinders.

Donderstorm ·

Ja opgegroei met pakslae en respek vir God ouers en ouer mens en hul eiendom en omte bid voor mens eet en God te dank vir als.

Jerry ·

Die wortel van die kwaad le by uitlokking, provokasie wat nie gestraf word nie teenoor reaksie en optrede wat wel gestraf word. Owerhede moet hulle gesindheid teenoor uitlokking verhard en teen diegene wat uitlok, strenger optree. Tans word die wat uitlok as die slagoffers gehanteer en dit sterk die kwaad van uitlokking en strikke wat vir onderwysers gestel word. Of die kind reg of verkeerd is, meeste ouers sal die kant van die kind kies, veral as die onderwyser wit is. N kultuur van ongehoorsaamheid en uitlokking by kinders en onverdraagsaamheid daarvan by onderwysers het ontstaan agv owerhede se versuim om dit beide volgens meriete aan te spreek. Kinders wat toegelaat word om ongehoorsaam en uitlokkend op te tree sal as volwassenes nie wetsgehoorsaam optree nie en die kanse is goed dat hulle een of ander tyd met die gereg sal bots.

Lee ·

Ek is ‘n Generasie X ouer, 1 kind is Generasie Y en die ander 1 is Generasie Z. Tussen die 3 van ons het ons goeie maniere, respek vir ander, ens. Ek glo dat ouers hulle kinder REG moet groot maak, dan sal die kinders nie hand uitruk nie. Ek en altwee my kinders het met ‘n goeie pakslae groot geword en niks is fout met ons nie.

Charie ·

Dit gaan 100 persent oor die opvoeding van die kind en ook om n voorbeeld te stel. Jy kan nie jou kind “reg leer” maar self verkeerd optree. En paklsae is definitief n tekort in hierdie samelewing.

marco polo ·

Ek dink Generasie X het eers later begin, dalk 1970 se kant, en diegene wat in die sestigerjare gebore is, is nog Baby Boomers, waarvan ek een is. Iets moes daarna gebeur het, want ek dink die generasies wat gevolg het, veral van die negentigerjare af, is ‘n ander spesie.

Piet ·

Dit het niks te maak met generasie x,y of z nie, dit hang af van hoe ouers groot geword het en hoe hulle, hul kinders grootmaak. Hou op om verskonings te soek vir swak ouerskap

Jerry ·

Omstandighede speel die grootste rol om generasies te laat verskil. Moeilike tye met min geleenthede word omskep met generasies wat omstandighede verbeter of versleg. N generasie wat meer dinamies is as n vorige generasie is so agv die omstandighede wat die vorige generasie geskep het. Jy is net dinamies omrede jou grootouers of ouers of oom of tannie daardie fondament en geleenthede vir jou gele het. Moenie jouself te goed of te hoog of beter ag nie, want jou dinamika kan oornag in SA verander na zero en waar die wat minder dinamies was, steeds dinamies sal wees. Gister se generasie verskil van vandag se generasie net omrede die omstandighede, geleenthede verskil. Vir vorige generasies was dit ondenkbaar om SA te verruil vir n ander land. Vir vandag se generasies is dit ondenkbaar om n ander land te verruil vir SA! Of jy generasie x of millenium is, as jy nog steeds in SA is, is jy in groot moeilikheid, dinamies of te nie!

Maniere ·

Ons moenie trots wees op ons goeie kinderlewe en maniere van generasie X en dan kerm oor “vandag se kinders nie”….
“Vandag se kinders” is juis vorige generasies SE KINDERS.
Ons is dalk goed opgevoed, maar goeie genade, my generasie het n baie swak poging aangewens om hul kinders dieselfde waardes te leer.
Dis mos belangriker om “polities korrek” te wees as im n goeie ouer te wees.

Carel ·

Dankie Piet ek stem saam met jou. Probleem ouers maak probleem.kinders groot
n Pakslae op sy tyd is soos brood en konfyt

Molly ·

‘n kind onder 18 jaar het nie ‘n “reg op privaatheid” nie. Solank as wat ek jou onderhou sal ek in jou besigheid wees. Jy sal respek en maniere he, jy sal doen wat jy moet om ‘n ordentlike groot mens te wees. Simpel en klaar. Ek gaan deur jou foon, ek gaan deur jou sosial media, ek praat met jou vriende en ek weet waar jy is ten alle tye. Dit is te maklik vir ouers om te se gaan uit, wees prettig en wanneer hul kinders vermoor word en drug addicts is dan of kriminele oortredings maak dan is dit die samelewing wat dit veroorsaak. Ouers word wakker en sorg vir jou kinders

Wonner ·

Die probleem is nie x,y of z nie die probleem is daars geen respek en geen dissipline by enige een van die generasies nie….kinders doen wat hulle by hulle ouers sien ongeag of jy x,y of z is.

Marlene Ferreira ·

ñ Klompie jare terug hê ñ gr 9 dogter my eers gestamp en toe ek regop kom met die vuis bo oor ñ ry blanke geslaan. Ek het al sederdien 2 baie groot nekoperasies gehad. Dit was alles op kamera maar die hoof het met die department en die leerders in die klas gekonkel sodat almal gesê het dit was my eie skuld. Ek het toe nog erg harsingskudding gehad

humor ·

EK is net met die einde van die 2de wereldoorlog gebore. Behoort dus tot n generasie wat moes baie hard werk en in eenvoud moes lewe. Die norme van ons tydvak was oorheersend christelik en selfrespek, respek vir meerderes en erkenning van wet gesag en dissipline was die algemene. In ons opvoeding was die grysgebiede bykans geheel en al uitgeskakel. Reg of verkeerd was die maatstaf. My 4 kinders gebore tussen 1979 en 1984 is met die dieselfde beginsels opgevoed en was die grootste deel van hul skoolloopbaan in koshuise ver van hul ouerhuis. die christelike beginsels was die heersende in koshuis en skool. Met groot dankbaarheid kan ek getuig dat hul toegewyde gelowige volwasse mense is en dat hul hul plek in die samelewing volstaan. En soos ek waarneem is hul besig om my kleinkinders met dieselfde beginsels op te voed. Ons verwysingsraamwerk was deulopend die SKRIF. As jy dit nie het nie van watter raamwerk maak jy dan gebruik. So die deurslaggewende is nie die tydvak nie. Die ouer het dit in sy hande hy kan kies.

Charie ·

Dit gaan 100 persent oor die opvoeding van die kind en ook om n voorbeeld te stel. Jy kan nie jou kind “reg leer” maar self verkeerd optree. En paklsae is definitief n tekort in hierdie samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.