Nuuskommentaar: Daar kom die Olibama

Amerikaanse president Barack Obama

Die siekte van oudpresident Nelson Mandela plaas ‘n baie belangrike gebeurtenis vir die land effens in die skadu – die voorgenome besoek later die week van Amerikaanse president Barack Obama aan Suid-Afrika. Die verloop van Madiba se siekte gaan ook ‘n bepalende invloed op die besoek hê

Die besoek van die wêreld se magtigste man aan ‘n land is ‘n enorme projek – nie net vir die ontvangerland nie, maar ook vir die VSA. Obama se besoek aan Suid-Afrika kos  die Amerikaanse belastingbetaler sowat $100 miljoen. Die lysie, aldus Volksblad, luis soos volg: “Honderde agente van die Amerikaanse geheime diens kom voor en saam met Obama hier aan om sy besoek tot in die fynste detail te beplan en uit te voer.
’n Oorlogskip – moontlik ’n vliegdekskip met ’n ten volle toegeruste mediese traumasentrum aan boord – sal gedurende die besoek aan die Suid-Afrikaanse kus op bystand bly. (Oorlogskepe word gewoonlik nie alleen ontplooi nie en ’n hele vloot oorlogskepe kan dus verwag word.) Militêre vragvliegtuie bring 56 voertuie hierheen. Die voertuie sluit 14 limousines in, ’n ten volle toegeruste ambulans, ’n voertuig wat met buitegewone kommunikasietoerusting toegerus is om steuringsvrye telefoon- en videolyn te verseker, en ’n vragmotor met toerusting wat radiofrekwensies in die onmiddellike omgewing van Obama omklits. Drie vragmotors vol koeëlvaste glas word na die hotelle geneem waar Obama gaan oorbly, sodat die vensters teen enige aanval beveilig kan word. Vegvliegtuie sal deurentyd die lugruim deurkruis bokant die plek waar Obama hom bevind.”

Die besoek vind plaas terwyl Amerika op eie bodem en elders ter wêreld onder druk is oor spioenasie-onthullings. Ecuador se minister van buitelandse sake, by wie die klikbek Edward Snowden om asiel aansoek gedoen het, beskryf die VSA se spioenasie-optrede as ‘n vergryp teen die mensdom.

Obama se besoek staan in die konteks van die euforie in veral Kenia toe Obama vir die eerste keer tot president verkies is. Obama se pa was ‘n gebore Keniaan, en die verwagtinge was groot dat Obama Afrika, en swart Afrika in die besonder, sou voortrek. Die verwagtinge het egter wat besoeke aan Sub-Sahara-Afrika betref, verwagtinge gebly. Hy het in 2009, die jaar na hy president geword het, ‘n blitsbesoek aan Ghana gebring.  Kenia is nog nie op die beplanningstafel nie.

Obama se keuse van Ghana was in wese ‘n spoedige, en duidelike boodskap aan Afrika oor wat hy duidelik aan die kontinent te kenne wou gee oor wat sy kriteria vir besoeke sou wees. Die Ghana van vandag is bitter ver verwyder van die Ghana van Kwame Nkruhma en sy uitsprake oor uhuru – en daarna verval in korrupsie en magsmisbruik.

Die Ghana van vandag het ‘n lang pad geloop om demokrasie weer nader aan die Amerikaanse ideaal te bring. Ghana is een van die korrupste lande in Afrika, met Suid-Afrika wat vinnig inhaal om meer korrup as dié land te wees.

Dit is egter Ghana se vertoning op die persvryheidsindeks wat ‘n duidelike boodskap aan die res van Afrika moes stuur. In 2009 het Ghana die 27ste plek ter wêreld op Verslaggewers sonder Grense se indeks beklee, toe die mees persvrye land op die kontinent. Suid-Afrika, wat enkele jare tevore nog in die 22ste plek die mees persvrye land op die kontinent was, het toe die 33ste plek beklee. Kenia het toe die 96ste plek beklee.

In die Christian Science Montitor verskyn ‘n omvattende artikel waarin Obama se besoek vanuit ‘n Amerikaanse perspektief teen Afrika-verwagtinge afgemeet word. Die kern is egter dat die VSA se norm vir besoeke nie verander het omdat die president swart is nie. Ben Rhodes, adjunk-nasionale veiligheidsraadgewer van die Wit Huis stel dit soos volg: “(Visits of the President) are to boost US trade and investment, encourage democracy, advance food security and health, and inspire young people.”

Die VSA se betrokkenheid was allermins afwesig in Afrika of selfs Suid-Afrika. Afrika suid van die Sahara baat ongelooflik baie by ‘n Amerikaanse wet wat handel van dié deel van die kontinent van talle heffings vrystel. Dit is die breinkind en is uitgebrei deur Republikeinse en Demokratiese presidente. Die VSA raam dat meer as ‘n miljoen mense suid van die Sahara se sterfte weens Vigs weens Amerikaanse hulp aan voorkomingsprogramme gered is.

Maar hoekom, as verbintenis tot demokrasie so ‘n belangrike norm is, word Suid-Afrika as hoofbestemming vir die president se tweede besoek aan sub-Sahara-Afrika uitgesonder, terwyl die land byna skouspelagtig op feitlik al die belangrike indekse teruggesak het, waaronder die korrupsiepersepsie-indeks en die persvryheidsindeks? Suid-Afrika se grondhervormingsplanne, en die minister van grondhervorming se beheptheid met Mugabe wat hy feitlik as rolmodel aanprys, werk immers vooruitsigte vir voedselsekerheid teen, terwyl sekere vakbonde en ander elemente binne die ANC skynbaar vasbeslote is om ideologie bo die land se ekonomiese welstand te plaas.

Oor die redes vir die besoek kan maar net bespiegel word:

– Obama het oudpres.Mandela as sy held beskryf, en toe die besoek beplan is het dit dalk gelyk of dit die laaste geleentheid sou kon wees dat Mandela besoek kon word, of dan Mandela se land kan besoek terwyl hy nog leef.

– Soos die wêreld die afgelope tyd waargeneem het, is die VSA besonder goed ingelig oor wat binne ander lande aangaan. Die tekens van polarisasie, waarvan Julius Malema se voorneme om ‘n politieke party te sig wat versoening nie as prioriteit stel nie een van die manifestasies is, sou bepaalde elemente van kommer laat ontbrand. Rhodes se verwysing van “inspirasie van jong mense” is dalk belangriker as die skynbare blote “nagedagte” om dit as doelwit by die reeds gevestigde ander doelwitte by te voeg.

– Dit kan wees dat Obama ook oordeel dit kan nie langer uitbly nie, dat hy as swart president, in Afrika se (nog) sterkste land ‘n belangrike “winde van verandering”-toespraak kom lewer. Dit is immers baie duidelik dat die ANC hiervoor besonder bang is, en Obama daarom nie die geleentheid sal kry om die parlement toe te spreek nie. Hillary Clinton en Mary Robinson het egter getoon dit is nie nodig om die parlement as gehoor te hê om “winde van verandering”-toespraak af te steek nie, hoewel dit skynbaar simbolies belangrik is om Kaapstad hiervoor in te span. Die Christian Science Monitor (CSM), wat duidelik oor agtergrondinligting beskik, begin sy artikel veelbetekend by sen. Bobby Kennedy se weergawe van ‘n “winde van verandering”-toespraak in 1966 in Kaapstad. Dit was by die Universiteit van Kaapstad. CSM merk veelbetekend op dat Obama hom Sondag by dieselfde universiteit gaan bevind.

Dit is bykans ondenkbaar dat Obama se besoek daarop gemik sal wees om pres. Jacob Zuma se presidensie ‘n hupstoot te gee – daarvoor is kwessies soos Nkandlagate nog net te sensitief, en sal die VSA ook nie te opgewonde wees oor die ANC se vriendskap en steun vir Mugabe nie. Dit werk immers regstreeks in teen die boodskap wat die VSA nog deurgaans na die wêreld probeer uitstuur, en juis nou met gekneusde ego wat besig is om te Snowden, nog sterker sal wil deurgee.

Wat die simboliese betekenis van die besoek ook al sal wees, dit is ook duidelik dat Obama se besoek met ‘n soort euforie gepaard moet gaan om daardie impak te kan hê, en daarom sal Suid-Afrikaners oor die volgende paar dae op verskillende maniere deeglik kennis neem van al die voordele wat die land en sy mense reeds danksy die VSA geniet, en nog sal geniet. Groeiende Chinese invloed, en invloed van ook ander Brics-lande, sal effe tru moet staan.

Maar die hele waentjie kan omgekeer word as Mandela sou sterf voor die besoek afgehandel sou wees. Geoordeel aan gerugte in omloop, aan dit die geval wees.

Boonop kon nog geen bevestiging ontvang word dat die Guptas toestemming gaan gee dat Obama op Waterkloof kan land nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae