Nuuskommentaar: Daar’s ʼn tyd om in die politiek te praat en ʼn tyd om niks te doen

Pres. Jacob Zuma (31 Mei 2017) Foto: Elmond Jiyane/GCIS

In Suid-Afrika laat die president hom hard uit oor kwessies waarvan hy die regs- en grondwetlike gevolge skynbaar nie verstaan nie, maar swyg oor die Manana-skandaal, en oorkant die Atlantiese Oseaan is pres. Donald Trump van die VSA onder druk weens swye oor die rol van “white supremacists” in rasse-onluste.

Dit lyk of die aandrang op tugstappe teen die ANC-LP’s wat die opposisie se mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma gesteun het, aan die toeneem is. Dit sluit Zuma self in, wat meen daar moet teen diegene opgetree word omdat hulle die ANC se grondwet oortree het. Dit lyk of die howe sal moet besluit of die LP’s reg in terme van ’n uitspraak van die konstitusionele hof opgetree het, en hulle is ook reeds voor die voet gratis regshulp aangebied. Op die oog af het Zuma opnuut deur hom uit te laat, sy onkunde oor grondwetlikheid laat blyk, terwyl dit eintlik tyd vir swye was. Hierteenoor sê en doen hy niks oor die Manana-geval wat skreeu om ’n besliste reaksie.

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan is daar ’n polemiek oor pres. Donald Trump se skynbaar “onnodige swye” oor die gedrag van “white supremacists” wat tot rassegeweld en lewensverlies in Charlottesville gelei het.

Die Amerikaanse situasie het ongemaklik baie ooreenkomste met Suid-Afrika – maar hier swyg die president nie – hy neem aktief deel aan die provokasie van rassespanning, en dit word nou selfs deel van die ANC se opvolgstryd waar die een segment met hierdie byenes (of is dit perdebynes?) torring.

Omdat rasseverhoudings in die VSA tot groot mate ’n immer-ontwikkelende proses is – en dikwels in verskillende rigtings – kan dit nie sommer net so op Suid-Afrika van toepassing gemaak word nie. Dit is egter ongetwyfeld so dat sekere elemente, soos die plek van verskoning en (skynbaar nimmereindigende restitusie), en verskillende norme oor rassisme vir wit en swart, in die twee lande ’n baie eenvormige patroon volg – dermate dat dit moeilik is om te glo die twee prosesse beïnvloed mekaar nie.

Dit is egter steeds onwys om algemeen geldende vergelykings oor ras tussen Suid-Afrika en die VSA te maak sonder om albei posisies in diepte te ondersoek.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

In ’n splinternuwe Rasmussen-peiling het 60% van die respondente aangedui hulle meen die VSA se samelewing is oor die algemeen “regverdig en ordentlik”. Tog het hierdie gemeenskap pas tevore erge rasseonluste opgelewer. Volgens die peilingsverslag meen minder deelnemers dat Trump dieselfde houding oor die gemeenskap weerspieël.

Meer op die punt af – in Junie vanjaar het ’n peiling deur dieselfde agentskap aan die lig gebring dat net 19% respondente gemeen het rasseverhoudinge is goed, en net 3% het gemeen dis uitstekend.

Trump sou hom dus midde-in ’n gekarringde perdebynes bevind het deur met uitsprake los te trek. In Charlottesville se geval was daar byvoorbeeld institusionele provokasie, soos om die standbeeld van ’n held van die suide uit die Amerikaanse  burgeroorlog uit ’n park te verwyder. Aan die ander kant het sentimente in die swart gemeenskap oor ou suidelike simboliek (byvoorbeeld nommerplate met konfederale kenmerke) ’n baie sensitiewe kwessie in swart geledere geword – maar nie spontaan nie.

Dit is eenvoudig veel makliker om Zuma se vrybekkigheid en swye onder die loep te neem. Daar is min sprake van strategiese oorwegings (of juridiese), en min of meer al wat saak maak, is dit wat populisties by ’n deel van die gemeenskap sal afgaan. En hier probeer die president duidelik ’n wig tussen wit en swart indryf sodat hy minstens ’n deel van die bevolking kan aanspreek en opsweep volgens populistiese retoriek wat hy onder die knie het.

Dat hy in die proses ook wêreldwyd gehoor word, en dat die land in geheel daardeur oneindig skade ly, is ’n lastigheid wat weer met toesprake wat vir hom geskryf  is, versag moet word.

Die Manana-geval is egter besig om ’n baie swaar klip in die maag te word. Ontleders meen die gebrek aan ’n piep hieroor uit die geledere van Zuma of sy mini-me-opvolgerkandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, gaan enorme druk vanuit vroue- en ander menseregtegroepe op Zuma plaas. Hy moet dit – en selfs ’n moontlike skeuring in die vroueliga hieroor – opweeg teen steun wat hy en sy alliansievennote uit Mpumalanga, Manana se tuisprovinsie, kan monster.

Van ’n president word immers verwag om in algemene belang op te tree.

In hierdie stadium lyk dit of van die bekendes wat ooglopend nié vir Zuma in die wantrouemosie sou stem nie, nie bekommerd is oor beoogde dissiplinêre stappe nie. Dit is immers duidelik dat hulle die morele hoë grond ingeneem het, deur in die proses onder meer standpunt teen korrupsie en staatskaping in te neem.

Oudminister Derek Hanekom stel dit so aan Netwerk 24: “Ek is lief vir my land en die Grondwet en ek doen wat ek glo ek moet doen om die Grondwet te handhaaf of die doelwitte en oogmerke van die ANC te bevorder en om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak.”

Gaan toets hierdie motiewe in ’n hof aan die hand van die konstitusionele hof se uitspraak oor ’n gewetestem, en dit lyk op die oog af of Zuma en sy kornuite weer ’n vernederende neerlaag kan lei.

Opsommend kan dit gesê word dat daar ’n tyd en ’n plek is vir ’n president om uitsprake te maak. Wanneer hy praat, moet dit egter binne die raamwerk van die Grondwet wees, en soms verg dit ’n wag voor die mond en ’n bietjie tyd om op die regte manier op ’n komplekse situasie te reageer.

En hierin blink Zuma beslis nie uit nie, en dit kan kwalik as ’n veer in die hoed van die ANC dien dat hy nog president van die ANC en die land is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk ·

Zuma is ‘n diktator en hy sal als in sy vermoee doen om nie uit die kussing gelig te word. Ek wonder hoeveel van die probleme in ons land is dalk in direkte opdrag van hom gedoen.

John ·

Voeg hierby prez se glo destydse ‘vergiftiging’ waarvoor hy skynbaar in Rusland behandeling moes gaan soek se skuld word nou gerieflikerwys op ‘andere’ gepak. Hierdie soort taktiek, om die voete steeds agter hom te hou, gebruik hy gereeld vir effek en die ‘giftige’ spel kan baie erger word.

Eish ·

Praat of stilbly die optrede skree te hemele.
Die politici is nie die enigste wat sukkel om uit twee monde te praat nie.
Nou het die NG Kerk se webblad n mediaverklaring van die SARK waarvan hul lid is, waarin Israel ernstig veroordeel word oor die sogenaamde besetting van ” Palestynse grondgebied” Met die kontak van die moderatuur sê hul dat die kerk nog nie besluit het oor n standpunt nie. Vir wat die verklaring op die amptelike webblad plaas en die indruk skep hul onderskryf dit?

John ·

Ons dominees kan gerus ‘n slag hul Bybel lees of is die ware feite nou sub judice? Handevat met ander gelowe staan ook nie in die Bybel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.