Nuuskommentaar: Dag in die hof kry … of nie

Julius Malema Maandag in die hof in Polokwane. Foto: SAPA

Julius Malema Maandag in die hof in Polokwane. Foto: SAPA

Die hofsaak teen Julius Malema en sy “maats” is met amper ‘n jaar uitgestel. Selfs al misluk sy aansoek binnekort dat die aanklagte teen hom teruggetrek word, beteken die uitstel dat hy as leier van ‘n politieke party aan aanstaande jaar se algemene verkiesing sal kan deelneem, en volgens alle aanduidings as parlementslid (en volgens homself dalk as president van die land) die beskuldigdebank sal betree.

Hierdie hofsaak is maar een van verskeie sake (of gebrek aan sake) wat die Suid-Afrikaanse politiek beklad en so die aansien van die land skaad.

Om te verstaan hoe die regspraak – of selektiewe gebrek daarvan – in Suid-Afrika deur politiek verinneweer word, word kortliks na ‘n saak in Duitsland gekyk.

Dié saak het verlede week begin. In die beskuldigdebank staan die vorige president van die land, Christian Wulff. Die presidentskap van Duitsland is ‘n seremoniële amp. Na bewerings uit sy vorige amp, as premier van die deelstaat Nieder-Sakse, is hy uit die presidentsamp gedwing, en staan hy tereg. Die aanvanklike bewerings was dat hy in ruil vir gunste ‘n goedkoop lening bekom het om ‘n huis te bou, en te gaan vakansie hou.

Dié aanklagte is laat vaar, maar hy word nou aangekla dat ‘n filmvervaardiger ‘n deel van sy en sy vrou se rekening vir ‘n besoek aan die Münchense Bierfees betaal het. In ruil sou Wulff glo by Siemens finansiering beding het vir ‘n rolprent deur die filmvervaardiger. Steeds geen staatsfondse nie.

Maar die Duitsers het gevoel hulle het van Wulff skaapwagter gemaak. Dus is die persoon wat eens ‘n besondere vertroueling van kanselier Angela Merkel was, nou pens en pootjies in die beskuldigdebank. Hy kry sy dag in die hof om sy onskuld te bewys – hy het juis die opsie van ‘n afkoopboete van die hand gewys om sy onskuld te probeer bewys.

Sou Malema daarin slaag om die saak teen hom teruggetrek te kry, het dit in ‘n ope hof geskied en die regbank daaroor beslis. Hy sal dan onder die wolk uitbeweeg en sal met ‘n skoon lei aan die verkiesing kan deelneem, selfs al bly hy ‘n omstrede figuur wat immers al aan haatspraak skuldig bevind is, en al is sy betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse politiek so gewens soos Vigs.

Die Noord-Kaapse voorsitter van die ANC, John Block, is al lank ‘n Block aan die been vir die ANC, maar sy besondere lojaliteite hou hom as verhoorafwagtende op ernstige aanklagte nie net in die stoel nie, maar in sy pos as LUR.

Die ANC argumenteer selektief dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bevind is. In suiwer regsterme is dit korrek, maar juis om hierdie rede bestaan daar ‘n meganisme, skorsing, waar iemand tot die afhandeling van ‘n verhoor as’t ware op die ys geplaas word. So word persepsies oor die amp skoon gehou tot die saak sy volle verloop geneem het. Die beskuldigde is nie in ‘n posisie om moontlike getuies te beïnvloed nie, waarvan dit soms gebeur dat ‘n getuie jare lank ‘n geteikende en geviktimiseerde lewe lei terwyl die aangeklaagde in sy magsposisie aanbly. AfriForum het juis so ‘n getuie in beskerming geneem.

En dan is daar pres. Jacob Zuma. Na hy braaf verkondig het hoe hy sy dag in die hof verlang, is die aanklagte op omstrede wyse een hom teruggetrek. Dit het nie in ‘n ope hof gebeur nie, en sedertdien skep die nasionale vervolgingsgesag die indruk van alles in sy vermoë doen dat sy besluit nie in ‘n ope hof getoets word nie. Die sogenaamde bande-saak is reeds baie bekend en ‘n yslike klad op Suid-Afrika se reputasie as regstaat.

Die gevolg is dat die Suid-Afrikaanse kiesers volgende jaar in wese versoek word om blind te stem.

Presies hoe doeltreffend kan ‘n regering in algemene belang regeer as dit onder ‘n wolk geskied?

‘n Interessante verslag wat pas bekend gemaak is, is die Internasionale Prestasie-indeks vir Klimaatsverandering. Dit is gesamentlik deur Germanwatch en die Climate Action Network (CAN) opgestel. Uit die 61 lande wat vir die indeks gemeet is, verskyn Suid-Afrika in die 37ste plek. Al val Suid-Afrika in die kategorie “swak” vaar die land nog beter as lande soos die VSA, Kanada, Japan en selfs Nederland. Maar dit is misleidend.

Die angel is in die detail. In die kategorie vir beleid oor hernubare energie tel Suid-Afrika onder die groep wat goed vaar.  In die kategorie, “doeltreffendheid” val die land egter is die gradering van “baie swak.” In die kategorie “hernubare energie” vaar Suid-Afrika ook baie swak.

Soos in baie gevalle, die mooiste planne lê soms in die kas, maar die politieke wil is elders vasgevang, en die kundiges met kaders vervang.

Met hoeveel Blocke aan die been wil die ANC die land nog op die mededingende internasionale mark laat beweeg?  Hoe gebeur dit dat iemand soos Robert McBride as “die mees geskikte kandidaat” deur die kabinet vir die pos van hoof van die Onafhanklike Klagtedirektorraat aanbeveel word?

Vanoggend berig Beeld dat dit lyk of die land se sitrusboere die eerste “slagoffer” is van die besluit van die regering om bilaterale beleggingsooreenkomste met lande in die Europese Unie (EU) eensydig op te skort. Sou dit wel die geval wees, sal die regering seker die enigste wees wat verbaas is, want die waarskuwings kom al lank, onder meer van die Duitse ambassadeur self, maar die Suid-Afrikaanse ministers het die een slim storie na die ander uitgeryg.

By geleentheid vertel ‘n grootoog plaaswerker vir die boer hy het op ‘n slang getrap. In antwoord op die boer se vraag oor hoekom die slang hom dan nie gepik het nie sê hy: “Ek weet nie waar die slang se gedagtes was nie.”

Met soveel energie wat ingespan word om te keer dat die president sy dag in die hof kry om sy onskuld te bewys, met soveel energie wat ingespan word om te keer dat sake soos Nkandla in die oopte kom … hoe kan die regering se gedagtes nog by die regte plek wees? Dit is nou om in algemene belang te regeer?

En hoe moet verantwoordelike kiesers reageer wanneer hulle nie weet of Wulff, ekskuus, Wolf ook hier skaapwagter gemaak is nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.