Nuuskommentaar: Damaskus-oomblik vir Zanu-PF?

Zimbabwe

Gaan daar werklik positiewe veranderinge in Zimbabwe kom as Zanu-PF en sy nuwe leierskap nie ’n Damaskus-oomblik beleef het ten opsigte van die ekonomiese werklikheid, die belang van kommersiële landbou, burgerlike vryhede en die uitwissing van korrupsie nie?

Robert Mugabe het bedank.

Uit TV-beelde, byna uitsluitlik tot Harare beperk, kan baie maklik die indruk gekry word dat die tradisionele Mugabe-ondersteuners skielik ’n Damaskus-oomblik beleef het en nou vreugdevol in die strate dans. Op die oog af heers ook absolute harmonie, en die vandalisme waarmee optogte en betogings in Suid-Afrika gepaardgaan, ontbreek. Op die oog af word hoegenaamd geen aggressie of ongedurigheid teenoor wit mense getoon nie.

Die aanbreek van ’n nuwe utopie?

Gaan Mugabe sy “vrywillige bedanking” gelate aanvaar? Of gaan hy later teenoor die SAOG ’n keel opsit dat hy gedwing is om “vrywillig” te bedank, en dat die bedanking eintlik ongeldig is? ’n Mens moet in gedagte hou dat selfs sy grootste ondersteuners nou na die invloed van ouderdom op Mugabe se optredes wys (en so sinspeel dat hy nie meer rasioneel opgetree het nie) en dat ander reguit sê sy “kop het hom gelos”.

Twee groot vrae sal in die volgende maande beantwoord word. Die eerste is of die regering van Zanu-PF ontslae gaan raak van die tallose onderdrukkende wette wat danksy Mugabe en sy eertydse juigkommando op die wetboek verskyn het.

Die bepaling dat die president (en sy vrou) nie beledig mag word nie, sal veral in die oog bly, omdat dit ’n belangrike aanduider sal wees van hoeveel vryheid Emmerson Mnangagwa, die verwagte opvolger, na die land gaan bring. Mnangagwa se geskiedenis is allermins bemoedigend, maar sy uitlatings kort voor Mugabe hom die trekpas gegee het, was wel bemoedigend. Hy het onder meer ’n beroep op wit boere gedoen om terug te keer (nie noodwendig al hul eertydse grond terug te kry nie) en sterk klem op die ekonomiese herstel gelê. Het hy reeds vroeër sy Damaskus-oomblik beleef?

Ekonomiese herstel is die tweede aspek wat onder oë gehou moet word. Zimbabwe het ’n potensieel enorm sterk natuurlike ekonomie. Sanksies teen Zimbabwe het meestal die vorm aangeneem van geteikende sanksies teen Mugabe en van sy kornuite. Geteikende sanksies het skynbaar nie verhinder dat Mugabe, en veral Grace Mugabe en haar twee seuns in Suid-Afrika, onbeperkte toegang tot staatsbronne kry nie. Villas is in verskillende lande oor die wêreld aangeskaf en luukse motors ingevoer.

Die IMF het meer algemene sanksies teen Zimbabwe opgehef nadat Zimbabwe sy agterstallige skuld betaal het.

Niemand sal die verwoestende gevolge vergeet van Mugabe se besluit om bloot geld te druk om tekorte “aan te vul” nie. Byna oornag het Zimbabwe se geldeenheid waardeloser as monopoliegeld geword en was iemand in besit van ’n triljoen Zimbabwiese dollar steeds maar ’n kerkmuis. Dit is grootliks herstel deur die invloed van die MDC se deelname aan ’n koalisieregering.

Die feit is egter dat Zimbabwe se natuurlike ryk ekonomie betreklik vinnig kan herstel as dit die geleentheid kry. Verder moet die korrupte hap wat Mugabe en kornuite uit die diamantvelde kry, kortgeknip en behoorlik bestuur word. Beleggers moet die geleentheid kry om die volle potensiaal van ander myne te ontwikkel. Minerale is oor die algemeen goedkoper om in Zimbabwe te ontgin, danksy die hoof-mineraledraer van Zimbabwe, die Zimbabwe-dyk, se ligging aan die oppervlak. Die “dyk” strek van byna noord na suid deur Zimbabwe, en bevat onder meer goud, silwer, chroom, platinum, nikkel en asbes.

Niemand kan oor Zimbabwe se landboupotensiaal twyfel nie, terwyl toerisme met die Zimbabwe-ruïnes, die Victoria-waterval, die Karibadam en ’n groot verskeidenheid wild oneindige moontlikhede inhou.

Daar moet duime vasgehou word dat die onderdrukkende wetgewing nie op die wetboek gaan bly nie. In soortgelyke gevalle in ander lande het dit wel, aanvanklik as “oorgangsmaatreël” tot die oorgang gestabiliseer het, maar later is dit as “waarborge” behou om die nuwe korrupte elite te beskerm.

Dit sal aanstons duidelik word of Zanu-PF die stamina het om sy Damaskus-ervaring te volvoer, en of die vreugdevolle verwagtinge van die bevolking in hul kele gesmoor gaan word.

En groot boetie Suid-Afrika kan, minstens nou, nie die regte voorbeeld aan Zimbabwe stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Goeie artikel Herman. Kom ons glo en vertrou dat die ekonomie sal herstel hoewel dit baie jare sal neem. Ek dink die nuwe leier het gesien wat die uiteinde van hulle grondvergrype was en dat die mense honger is. Kom ons gee hulle ‘n kans. Julius Malema moet net sy neus daaruit hou deur ALWEER te eis dat die grond nie aan die witmense teruggegee moet word nie. Waar val hy uit. Het hy nog nie gesien wat met die plase gebeur het wat hier aan sy mense gegee is nie. Hulle kan nie boer nie en sal nooit leer nie.

Ben ·

Dink hulle rerig die wit boere wil terug keer om alles weer van voor af te begin? En glo nie so nie.

Lulu ·

Watse versekering is daar vir die wit boere indien hul sou wou teruggaan,
net soos die gronde bewerk en die oeste vrugte afwerp, word hul weer van
die plase verdryf deur magsbasis en wreedhede.
Ek hoop regtig dat Hierdie nuwe Zim vrugte gaan afwerp en dat hul vir die wereld
sal bewys dat wit en swart kan saam n span bou, en saam die ekonomie opbou.

Eish ·

Wat leer Afrika se geskiedenis vir ons?
Die slang skud sy ou vel af, maar bly steeds slang, in n nuwe gewaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.