Nuuskommentaar: De Kock, Derby-Lewis en Die Stem

Clive Derby-Lewis (L) Foto: Radio Pretoria; Eugene de Kock (R) Foto: OFM

Clive Derby-Lewis (L) Foto: Radio Pretoria; Eugene de Kock (R) Foto: OFM

Terwyl ‘n storm van verontwaardiging in, ironies, liberale kringe uitgebars het oor die minister se weiering, en veral sy gebruik van ‘n te klein vyeblaar as verweer, om nie nou parool aan Eugene de Kock toe te staan nie, word dawerend oor die olifant in die kamer, Clive Derby-Lewis geswyg. Dieselfde kring is nie al te lekker met Steve Hofmeyr nie weens sy singery van Die Stem.

Maar voor te veel in die skynbare teenstrydighede gelees word, net dit: dit is, soos reeds in hierdie rubriek gemeld, die gevolg van ‘n gevoel van vervreemding. Ook die rubriekskrywer en historikus, dr. Leopold Scholtz, skryf vandag in Die Burger en Beeld soos volg in die konteks van Die Stem: “Dié oorsake het op ’n eiesoortige manier aan albei kante met die woord vervreemding te make. ’n Onrusbarende aantal swart mense en Afrikaners voel vervreem en gefrustreerd.”

Max du Preez, skrywer en politieke ontleder, skryf: “De Kock het meer lyke op sy kerfstok as enige ander mens in Suid-Afrika vandag.” Klik hier om meer te lees. 

Dié stelling sal erg onder skoot kom, veral as na die profiel van slagoffers verwys word, soos mense in ‘n dameskroeg wat niks met die politiek te make gehad het nie, ‘n baba wat deur ‘n landmyn op ‘n plaaspad aan stukke geblaas is…

Maar dit is nie waaroor die diskoers gaan nie. Du Preez bewoord die gevoel van baie ander: “Ek dink De Kock moes parool gekry het. Dit sou ’n grootse daad van genade en versoening van die kant van die regering gewees het.”

Hierteenoor was Clive Derby-Lewis, saam met ‘n ander, vir een persoon se dood verantwoordelik, die SAKP-leier, Chris Hani. Derby-Lewis het nie self die sneller getrek nie. Beide was voor die Waarheids- en Versoeningskommissie, beide het al lank tronkstrawwe uitgedien. Derby Lewis is bejaard en is terminaal siek aan kanker.

Daar is belangrike verskille, en daar is belangrike ooreenkomste. Onder die ooreenkomste is beide se versoeke vir vergifnis. Onder die verskille tel die tydsberekening van die dade, en die persepsies oor opdragte – en meer spesifiek, onwettige opdragte.

Du Preez wys daarop dat ook ander soortgelyke dade as De Kock gepleeg het, maar omdat hulle hul aan die ander kant van die politieke draad bevind, selfs hoë regeringsposte beklee. Suid-Afrikaners moes onlangs met verbystering waarneem hoe ‘n omstrede moordenaar deur hewige politieke druk as hoof van Opod aangestel is.

Presies hoe lank na ‘n vredesverdrag geteken is moet met dubbele maatstawwe omgegaan word wanneer nie net genade toegedien word nie, maar politieke begunstigdes in oordaad beloon word?

En dit is nie asof daar nie nog redes nodig is om polarisasie en vervreemding in, en van die land in die hand te werk nie. So word gesindhede vandag met die onstuimige verlede gevoed. Dan kry veldtogte om plek- en straatname te verander skerp kante wat baie seer kan sny. Dan raak die sing van Die Stem, ‘n lied sonder haatspraak, omstrede.

As die regering ‘n martelaar wil skep om polarisasie te voed, moet Clive Derby-Lewis in die tronk sterf. Swak gesondheid is ‘n kragtige aspek om genade mee te betoon. Dink maar hoe die vorige regering die “sterwende” Beyers Naudé se inperkingsbevel opgehef het. Of meer onlangs die sterwensparool wat Shabir Shaik en Jackie Selebi gekry het.

Wat hier geskryf is, is nie nuut nie. Dié soort verskynsels is in handleidings oor die politieke sosiologie opgeteken. Daar is kenners wat hieroor geraadpleeg kan word. Diegene wat die wiel deur politieke populisme of emosies gaan probeer herontwerp, gaan verbrou.

Word dit nou lomp hanteer, gaan dit nog baie lank aan gemoedere krap. Pas 150 jaar na die Amerikaanse burgeroorlog moes die Washington en Lee Universiteit in Lexington, Virginia, nabootsings van die konfederale vlag uit die universiteit se kapél verwyder en in die kapél se museum plaas, omdat dit aanstoot aan sommiges gee.

Dit is elkeen se plig om versoening na te streef, maar dit sal help as die regering hierin ‘n leidende rol speel en nie die geleenthede dwarsboom nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae