Nuuskommentaar: De Lille en die ruik-’n-rot-spel

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Die eise van die snelgroeiende Kaapstad is so groot dat die burgemeester nie nog ander veeleisende verpligtinge ook kan “bykom” nie. Hoekom is daar dan soveel bedenkinge as Patricia de Lille juis dit as rede vir haar bedanking as Wes-Kaapse DA-leier aanvoer?

Patricia de Lille was nog nooit ’n dowwe ster nie. Of sy nou baie verbaal was (as prominente PAC-leier), of ’n groter as lewensgroot profiel bekom het nadat sy die ID gestig het en tot bitter na aan die koningin van die bruin mense en wit en bruin vroue gevorder het, of toe sy weer ’n gedaanteverwisseling moes ondergaan nadat die ID deur die DA ingesluk is – haar ster het selde verdof.

Tog kon die ongemaklike gevoel nie afgeskud word dat sy die laaste ruk nie heeltemal haarself was nie, en waarnemers het oor ’n breë front saamgestem.

Nou word kliphard bespiegel oor die “werklike” redes waarom sy so skynbaar uit die bloute, en amper ’n jaar voor die volgende leierskapsverkiesing, as Wes-Kaapse leier van die DA bedank het. Haar, en die DA se verduideliking dat sy meer aandag aan haar amp as burgemeester van Kaapstad wil bestee, word met byna dieselfde ontsag as duidelike fopnuus hanteer. Dis immers die era van die post-waarheid.

’n Besliste mening oor of daar waarheid steek in die bespiegelings, moet eers in die ontplooiing van die feite agterweë gelaat word, maar die oog tog ook nie daarvan afgehaal word nie. Veral die bespiegelings dat dit deel van ’n leierskapstryd is, kan nie geïgnoreer word nie. Dink maar aan die hipotetiese gevolge as De Lille kort voor die 2019-verkiesing na die ANC oorloop, en in die proses ’n groot deel van haar lojale kiesers saamneem. Of is dit so hipoteties? Ná die stigting van die ID het dié party aanvanklik tot groot ontsteltenis van baie van sy lede die ANC gesteun. Sou die DA ten spyte van die hipotetiese drostery na die ANC die Wes-Kaap en die stad Kaapstad kon behou?

Reeds in 2007, nog voor die ID en DA saamgesmelt het, maar as koalisie Kaapstad regeer het, het De Lille ’n striemende aanval op Helen Zille van stapel gestuur.

Sedertdien was daar talle berigte en bespiegelings dat die verhouding tussen De Lille en Zille nie al te vars was nie. Heelwat hiervan is egter deur die ANC gestook en kon net sowel duimsuiery gewees het.

Met die opname in die DA, het dit geblyk dat De Lille se steun onder bruin mense nie sonder krakies was nie. Ikosa, wat in ’n groot deel van die Suid-Kaap en Karoo ’n beduidende politieke party is, het tot stand gekom. Sy relevansie het ook nie juis afgeneem toe prominente lede by die ANC gaan aansluit het nie.

Sommige prominente ID-lede is regstreeks ANC toe. Dit beteken egter De Lille moes heelwat steun van buite die ID saamgeneem het DA toe.

Daar was baie vrae oor hoekom dit De Lille ná verlede jaar se munisipale verkiesing so lank geneem het om ’n nuwe burgemeesterskomitee vir Kaapstad aan te wys. Dit is eers baie onlangs, naamlik 24 Januarie vanjaar, gedoen. Bespiegelings wou dit hê dat sy doodseker wou maak dat die nuwe komitee slegs uit sterk De Lille-lojaliste moes bestaan. In die Wes-Kaap, met sy baie Zille-lojaliste, sou dit ’n gedugte taak wees.

Maar bespiegelings daargelaat – om burgemeester van Kaapstad te wees is ’n gedugte taak. Die stad is deur Tesourie geloof omdat dit 67% van sy begroting aan arm mense en hul woongebiede bestee. Die Tesourie het bevind dat die stad buitengewoon ruimhartig is in die voorsiening van gratis basiese dienste.

Boonop is die stad een van die mees snelgroeiende stede in die land. Wat net sowel bygevoeg kan word, is dat ’n groot deel van die nuwe aankomelinge arm mense uit die Oos-Kaap is. Om hulle ekonomiese vlugtelinge te noem, het die ANC bitterlik ontstel. Dit pas nie by hul refrein dat die Wes-Kaap “bevry” moet word nie.

Dié invloei, asook natuurlike aanwas, saam met aankomelinge uit Somalië, Nigerië en elders, veroorsaak dat die voorsiening van basiese dienste ’n bykans onmoontlike taak is. Dit word met ’n vergrootglas deur die ANC dopgehou, en as daar die geringste teken is dat Kaapstad nie bykom nie, snater die ANC oor die DA wat nie vir die armes omgee nie.

Nog iets waarop die oog gehou moet word, is Kaapstad se instelling van sy eie plan, bekend as die Organisatoriese Ontwikkelings- en Transformasieplan (Organisational Development and Transformation Plan [ODTP]). Suid-Afrika het die bitter ervaring dat die woord “transformasie” wyd as verskoning gebruik word om feitlik enige ras-gebaseerde onheiligheid mee aan te vang. Dis jammer dat die woord ook hier ingesluip het.

Die huidige droogte en verskerpte waterbeperkings, omvangryke brandstigting, en haweloses is maar enkele van die knelpunte waarmee die regerende DA sonder die “hulp” van die ANC mee te kampe het.

Die druk om ook sulke sake aan te spreek is groot en blyk onder meer uit ’n skrywe van die bekende Joan Hambidge aan Netwerk 24: “Ongelukkig kom die baasskap van ’n stad met verpligtinge en as me. De Lille en haar span nie nou optree nie, gaan die stad vir almal ’n plek van ontheemding raak.”

Tegnies is dit dus reg, en groots, dat De Lille haar verpligtinge tot die stad verskraal, wat boonop die land se wetgewende hoofstad is, asook ’n baie belangrike toerismebestemming. Stedelike verval om by die instroom van migrante by te hou is dus nie ’n opsie nie. Die stad moet eenvoudig sy hulpbronne buite-om staatsbydraes vergroot, en dit kan nie halfhartig gedoen word nie.

De Lille sal haar filantropiese motiewe deurlopend moet bewys, of waarnemers gaan haar onder ’n vergrootglas bly dophou vir ander motiewe. Sy word reeds daarvan “beskuldig” dat sy oor tyd gesorg het dat haar lojaliste sleutelampte en -poste in sowel die metro as die Wes-Kaapse regering kry, wat normaalweg ’n seker teken van ’n oorname van die een of ander aard is. As dit die waarheid sou wees …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

lw ·

Patricia de Lille het vinniger die suksesleer geklim in DA as wat sy n posisie sou beklee het. Die dag wat Patricia de Lille oorstap ANC toe, sou sy dom wees en haar integriteit vir die aasvoels gooi.

Deon ·

Ek het haar nog nooit vertrou nie. Onthou toe sy nog `n lid van die PAC was, was sy een van die voordansers wat geskreeu het, “Kill the Boer, Kill the Farmer” Sy het nooit daarvoor om verskoning gevra nie. Ek sal nie veras wees as sy na die anc oorloop nie.

Jane ·

Ek stem Deon . ons ou wittetjies is so gullible, so goed gelowig . ons dink regtig enige ander party/kleur gaan vir ons opstaan en ons regte gelyk stel aan die meerderheid s’n . shame .. ons is eintlik pateties . ek sien hoe gryp almal na strooihalms as daar net ‘n positiewe klankie van regeringskant af kom net om die volgende dag weer uitgeskel en gedreig te word om vermoor of afgeslag te word .. Ons wil so graag glo daar is iets goeds in alle mense ..S U R P R I S E !!!

Veldskoen ·

Ja wat jys gou om te praat oor die PAC se dae van De Lille en waarom moet sy verskoning vra oor destyds ha?Het jou voorvaders en moeders selfs j al verskoning gevra oor die apartheids dade wat deur wittes gepleeg is?De Lille sal nooit ANC join nie liewer weskaapse Premier raak vir die DA.ViVa De Lille

Rot ·

Het ook die vermoede sy gaan na die ANC oorloop .. niks is onmoontlik nie .. ek glo beslis hulle het haar ‘n aanbod gemaak omdat hulle nog nie iemand gehad het om vir WINNIE te onttroon nie .. Sodra jy ‘n lekker possie in die parlement kry, stem jy saam met enigiets . .jy se en doen wat hulle se jy moet doen sodat jy ook rustig kan aftree, of dalk voor dit nog ‘n ambassadeurspos erens in ‘n mooi land kan kry … Ek wed enigeen sy gaan oorloop ANC toe.

Maria Van Dieweeck ·

As dit sou waar word, sal daar oorlog wees…die anc is NIE welkom nie!

jaco ·

en steeds kan die Stad Kaapstad na n jaar nie hulle eie watermeter wat elke dag drinkwater naby my huis lek, regmaak nie. dis hoogstens 2 ure se werk.

Anoniem ·

Hierdie is politiek uit die boonste rakke en daar is volgens my mening 2 moontlike scenario’s.
1. Helen Zille kan nie vir altyd die Premier van die Wes-Kaap bly nie, dus kan dit die DA se “voorbereiding” wees vir Patricia De Lille om by haar oor te neem. 2. Die ANC Vroueliga mompel juis dat dit tyd geword het vir ‘n vroulike President en daar is maar min vroulike kandidate wat geskik is vir President. (Asseblief tog net nie Dr Knoffel en Beet nie) Dit is dus nie vergesog om te wonder of sy nie ‘n “aanbod” gekry het om oor te loop ANC toe nie.

Henry ·

As jy van die PAC na die DA kan bollamakiesie, dan is dit mos baie maklik om vanaf die DA na die ANC oor te stap.
Jy hoef nie eers ‘n skêrsprong, dinges oor kop, of ‘n bollamakiesie uit te voer nie. Jy sê net tjorts en da’ gaat jy.

Dankie Henry ·

Lekker lag ek nou .. dit is wat ek van Suid Afrikaners die meeste gaan mis .. hulle humor .. die woorde wat ‘n aksie so raak kan beskryf .. en die grappies wat uitkom uit ‘n baie benarde situasie .. want dis wie ons is .. Nie wat die Regering en die Wereld van ons wil maak nie ..

Herman ·

Dankie Henry – …dit is wat ek van Suid Afrikaners die meeste gaan mis… – Was jy ook ‘n Ja-stemmer wat nou die hasepad kies en landuit gaan waai? Het die gevolge van jou keuse jou ingehaal?

Veldskoen ·

De Lille vir Premier ViVa lank leef De Lille ek aanbid jou Mev.De Lille jy is Kaapstad se held en redder

Henry ·

Baie dankie vir jou vriendelike kommentaar Dankie Henry!
Asof dit nie genoeg is dat ons Afrikaners oorgenoeg redes het om klaviere om te skop nie, moet ons ook daagliks onder ‘n paar ou suurknolle se geteem, voort strompel.
Hoe ookal – voorspoed en geluk vir jou wanneer jy na nuwe oorde verhuis.

Henry ·

Haai foeitog ou Herrie
Moenounie jou eie probleme en ‘oortuiginge’ so adverteer nie.
Probeer ‘n smaail op jou daail, ipv om met sulke agtergeblewe, valse temerasies vorendag te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.