Nuuskommentaar: Demokrasie die euwel (of nie)

demokrasie

Argieffoto.

Leemtes in die demokrasie in die algemeen, en die Suid-Afrikaanse Grondwet in die besonder, stel hoë eise aan elke kieser om sy kruisie op die regte plek te gaan trek.

Die demokrasie is ’n euwel, maar dis die beste euwel wat ons het.

Dis ’n stelling wat gereeld gehoor word, maar iets wat nou sterk in verskillende gedaantes in verskeie lande onder die soeklig bly. Veral Brittanje se situasie ten opsigte van Brexit word in terme beskryf soos: “How do we get out of this mess?”

Talle ontleders meen die beste manier om uit die gemors te kom, is om ’n tweede referendum te hou. Dit lyk egter of dit wat na die mees logiese oplossing lyk, deur die mense aan die stuur van sake as heel laaste opsie sal dien.

Intussen lyk dit of premier Theresa May die munt kan opskiet en roep soos sy wil. As sy “kop” roep en die  munt wys “stert”, verloor sy. Roep sy “stert”, en die munt wys “stert”, wen die parlement – sy kan nie kop of stert uitmaak hoekom sy altyd verloor nie.

Amper soos die SMS wat mense ’n aantal jare gelede gekry het: “If you are a golfer, please advise. How do I get out of this bunker? Saddam Hussein.”

Ook in Australië word soms na die demokrasie as ’n “mess” verwys. Tim Dunlop verwys in sy artikel na “sorting out the mess of our non-democracy”. Hy wys daarop dat daar persentasiegewys veel meer politici as vakkundiges in die politiek is.

Om die parlement en senaat meer verteenwoordigend te kry, stel Dunlop iets voor wat “sortitium” genoem word. Dit beteken dat byvoorbeeld elke jaar verteenwoordigers op ’n lukrake wyse aangewys word om in die parlement te dien. Dit geskied op ’n soortgelyke wyse as om jurielede aan te wys.

In Suid-Afrika sal die vernaamste debat oor regverdige verteenwoordiging, en dus die aard van regeringsbesluite, op die een of ander konsep handel wat as ’n etnokrasie bekend staan. Etnokrasieë bied stellig die beste kans op die verskansing van minderheidsregte, maar dit lyk of die konsep in Suid-Afrika soos ’n vloekwoord sal wees.

Die ANC se afwysende verwysing na “tribalism” word gewoonlik herlei na ’n kommer dat dit kan lei tot die verskuilde herinstelling van apartheid. Terwyl ’n party soos die VF Plus hom sterk beywer vir selfbeskikking vir minderheidsgroepe, het die DA-leier kiesers ontmoedig om vir partye te stem wat hulle vir die belange van (etniese) groepe beywer eerder as om “een nasie” te omarm.

Wanneer daar te veel gebreke in ’n bepaalde demokrasie is, soos in die geval van Suid-Afrika, ontstaan verskeie vorme van improvisasie. Een vorm van reaksie is die ontwikkeling van tegnokrasie. Kundiges organiseer om sekere hopelooshede van die regering aan te raak deur self planne te maak en kundig uit te voer. AfriForum is ’n goeie voorbeeld waar gemeenskappe se veiligheid aangeraak word, en waar munisipaliteite hulp (kan) kry met die regruk van rioolplase, die verval van strate en vele meer.

Nog ’n vorm wat nou heelwat media-aandag geniet, is onder meer deur die ANC-LP Nick Koornhof verwoord, wat wit mense genooi het om ’n “Mandela-oomblik” te beleef deur vir “Ramaphosa” te stem. Uiteraard, in die praktyk moet kiesers vir die ANC stem, en nie vir Ramaphosa nie, en word dan in die praktyk gestem vir dinge soos BEE, sportkwotas, die ontneming van hul eie kinders van beroepsgeleenthede en vele meer.

Die “aantreklikheid” vir deelname is daarop geskoei dat Ramaphosa so ’n goeie leier is. Sedert die aanvanklike Ramaforia grootliks die wyk geneem het, het Ramaphosa nog min gedoen om vertroue in sy doen en late te kweek. ’n Belangrike manifestasie hiervan is dat die TLU SA Ramaphosa in kennis gestel het dat stappe teen hom gedoen gaan word tensy hy bewyse lewer dat kommersiële boere hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Uit die konteks lyk dit of die TLU SA regstappe in die oog het.

Is daar potensieel genoeg voordele in vir wit mense om vir Ramaphosa eerder as ’n ander party wat hom reeds bewys het te stem?

Hoe dun is die lyn tussen ’n mislukte demokrasie en ’n kakistokrasie? Voor ’n leser dalk ontsteld word, die naam is van die Engelse cacistocracy afgelei wat niks met die Afrikaanse swetswoord te make het nie. Tog verklaar die woord die aard van so ’n regering treffend goed.

Dis die vraag wat in elke kieser se kop moet maal as hy sy kruisie gaan trek.

Aansluitend hierby gaan die Vryheidsfront Plus nou stappe doen om te voorkom dat die BLF aan die verkiesing kan deelneem. Dit lyk opsigtelik of die BLF se beleid in vele opsigte van die grondwetlike en wetlike voorskrifte vir suksesvolle registrasie verskil. Die BLF laat byvoorbeeld slegs swart lede toe.

Die BLF lyk op die oog af na ’n sekerder keuse as om die demokrasie te laat faal.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Demokrasie kan nie werk as daar elf verskillende nasies deelneem nie daar is nie iets soos n reenboog nasie nie dit is soos CR se dis julle en ons en dit sal altyd so bly

Haan ·

“demokrasie is die stelsel wat vir Barabas bo Jesus gekies het” – onbekend

“in hell there is democracy, in heaven there is a kingdom” – st John van Kronstadt

Demokrasie gaan hand en tand deur die kommuniste van die ANC verdedig word, omdat hulle (hopelik verkeerdelik) glo dit is die enigste manier om mag te behou.

Elizabeth ·

Ongelukkig stem ek glad nie saam met U stelling met Brexit/May. Sy is glad nie besig met straat politiek nie maar wat deur die ongewone Brit veroorsaak is en Cameron. Mens kan net vra wie het Cameron die reg gegee om met die wêreld se sekuriteit te dobbel?

Judge Dredd ·

Demokrasie het ontaard in tirannie van die meerderheid.

Onnodig ·

Na my mening moet die BLF toegelaat word om te registreer vir die verkiesing. Die EFF verswak die ANC en BLF sal die EFF verswak. Om die stemme te verplaas klink vir my na n goeie idee.

Grys ·

Ek dink mense vergeet hulle is eintlik diere, soos wolwe en so voorts, twee “troppe” wolwe kan die sele kleur wees en spesies hulle sal nog steeds baklei, dis natuur, ape van dieselfde spesies baklei, wat maak jou dink mense, met verskillede ideas, gelowe, name, talente, tekorte, velkleur, kultuur , en taal sal ooit oor die weg kom ? Ons het nog nooit nie ? Wit baklei met wit, swart met swart en asian met asian, moslem baklei met moslem, christen met christen, as die “selfdes” nie eers oor die weg kan kom nie, hoe sal hulle ooit gemeng ? Die afrikaner baklei onder hulle self, so doen die zulu en die xhosa, nou sit hierdie drie saam, wat verwag jy om te kry ? Mense gebriuk hulle chemiese afkomstige emosies en dink hulle kan dink.

Geen demokrasie nie ·

SA het nie ‘n demokrasie nie .. as die meerderheid teen die minderheid wette instel om die MINDERHEDE te benadeel dan is dit glad nie ‘n demokrasie nie . maak nie saak wat jy dit probeer noem nie .. as ‘n MEERDERHEID al die se het en minderhede BOELIE is dit nie ‘n demokrasie nie.

Andreas ·

Die owerhede sê dit wat nou daar in Distrik Ses plaasvind is demokrasie in werking.

Ben ·

Demokrasie is ‘n totale flop. Griekeland die oorsprong daarvan was bankrot die afgelope 5 jaar en in Suid Afrika en Afrika waar die meerderheid onkundig is lei dit tot fatale wanbestuur. Tyd vir ‘n nuwe stelsel.

Vaalseun ·

Ben, demokrasie is in jou woorde ‘n “totale flop.” Gemeet as ‘n flop teenoor watter ander “suksesvolle” politieke stelsels in jou oë, en wat jy vir ons kan bewys as suksesvol in die geskiedenis?
“Demokrasie” het niemand belowe dat hy jou ‘n lekker gevoel gaan gee nie. Suksesvolle demokrasie hou almal op hulle tone, want demokrasie is die enigste stelsel wat toelaat dat ons enigiets wat iemand gedoen het of wil doen kan bevraagteken en ondersoek in die openbaar.
Bevraagtekening van jou en my doen en late, en die verdediging van jou en my motiewe is lastig vir jou en my, maar dis lastig want dit geld vir almal en derhalwe is dit regverdig. Dis die enigste manier om gelykheid, vryheid, wet en orde en voortuitgang vir die hele gemeenskap te skep. Hiermee gee demokrasie jou ook die geleentheid om te mag baklei vir jou regte, en dat jy kan kies wat jy wil leer en wat jy wil doen tot jou en jou gesin se voordeel.

Margi Johnson ·

Democracy: The “wise men” discuss and the fools decide. Ongelukkig het ons “fools” aan albei kante!!!

Andreas ·

Wat mens nogal opval is die uitsprake en beloftes wat Cyril vir lank al maak, hangende af van voor watter gehoor hy staan. Dit mag dalk wees omdat hy nie ‘n natuurlike ondersteuningsbasis in ‘n provinsie het wat hy as barometer kan gebruik nie, en dus die aas uitgooi na gelang die waters waarin hy hom bevind. Hoe later hoe kwater (erger) die beloftes, dalk is hy moeg van mogge troffe en konsentreer hy al meer op grond, dit wat Julius vir hom op gewys het, daar waar hy nou glo die hoek vasgeslaan het.

Gert ·

Demokrasie was oorspronklik ontwikkel in lande met homogene bevolkings, en daar werk dit beter as in multikulturele lande. Selfs daar is dit steeds baie gevaarlik, want as jy iemand mag gee, is die kans uitstekend dat daardie persoon dit sal gebruik om homself, sy familie, en sy vriende te bevoordeel ten koste van almal anders. Die beste oplossing na my mening, is om demokrasie te hê, maar om die magte van die “regering” baie erg in te perk. Eerstens behoort die grondwet uitdruklik sosialistiese maatreëls te verbied, want dis die maklikste manier vir regerende partye om stemme te “koop”, nl. vat geld by ‘n ryk minderheid en gee dit vir ‘n arm meerderheid. As die magte van ‘n regering ingeperk word in terme van watter maatreëls hulle mag instel, en watter persentasie geld hulle by die bevolking mag vat, sal dinge ten minste minder erg skeefloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.