Nuuskommentaar: Demokrasie en persvryheid op betaalplatforms verkwansel?

Grafika: Nico Strydom

Grafika: Nico Strydom

Eers het dit betaal om Afrikaans te wees. Nou moet iemand betaal om Afrikaans te wees, ook dikwels wat sy toegang tot Afrikaanse inligting betref. Wat TV betref, hang dit af hoe arm of ryk jy is om toegang tot inligting soos besprekingsprogramme te kry, en dit dra by tot die verskraling van demokrasie aldus Amerikaanse ontleders.

Kort-kort lees ons van ’n nuwe TV-kanaal, of van ’n nuwe aktualiteitsprogram met bekende persoonlikhede wat op TV aangebied word.

Maar dié dienste is net diegene beskore wat betaal-TV kan bekostig. Baie van hierdie programme sou normaalweg tel onder “openbare belang” en vir die openbare beeldsaaier bestem moes gewees het, maar dit is nie. Nie in Suid-Afrika waar His Master’s Voice se voetafdruk so groot is nie.

Betaalkanale en betaalplatforms het ’n vorm van selfsensuur geword. Dié beskuldiging kom egter nie uit Suid-Afrika se armer klasse nie (of dit word nie gepubliseer nie), maar uit die VSA se middelklas.

Die bom het gebars toe die betaalkanaal, CNBC, onlangs die debat van Republikeinse presidentskandidate aangebied het. Die bekende joernalis, Ted Rall, skryf in ’n insiggewende artikel dat hy bevoorreg is om $120 dollar per maand vir betaal-TV te kan opdok, wat hom groter toegang tot aktualiteitsprogramme bied as wat die meeste joernaliste het. Hy kon egter nie na die debat kyk nie, want dan sou hy $200 per maand moes opdok om CNBC ook te kon kyk.

Dit was die Republikeinse kandidate wat almal die spit moes afbyt. Debatte wat deur Fox News en CNN gebeeldsaai word, trek in die orde van 23 tot 24 miljoen kykers. CNBC se rekord (vir ’n winter- Olimpiese Spele in 2002) was 3,9 miljoen kykers. Kortom, geld stroop bitter baie Amerikaners van ’n basiese demokratiese agtergrond.

Twee weke tevore het die Demokrate se kandidate die geleentheid gehad om op CNN te debatteer, uiteraard met meer as 20 miljoen meer kykers.

Boonop het die Republikeinse kandidate, en veral sen. Ted Cruz, ná hul debat erg uitgepak oor die vrae wat deur CNBC gestel is. Hulle meen die uitgangspunt was om die kandidate in ’n verleentheid te probeer stel eerder as om agter die kap van die byl met hul beleid te kom. (Daar was redelik opslae in die VSA oor die trant van vrae vra.)

Hierteenoor word veral die Demokrate se gunsteling, Hillary Clinton, deur die media kunsmatig in watte toegedraai. In die twee uur lange CNN-debat het die woord “Benghazi” nooit ter sprake gekom nie, en Clinton se verdagte e-posse wat nog ondersoek word, is kwalik in die verbygaan genoem. Tog toon ’n peiling dat 52% van die kiesers meen Clinton was oneerlik in haar verslagdoening oor die Benghazi-aanval waartydens onder andere die Amerikaanse ambassadeur vermoor is.

Maar hoe lyk sake in Suid-Afrika?

  • Die regering plaas enorme druk op sportsoorte soos rugby en krieket om te “transformeer”, met ander woorde meer spelers van kleur in te sluit. Die logiese wyse sou wees om die probleem aan te pak waar die agterstande begin, soos gebrekkige geriewe op skoolvlak, en die skep van ’n entoesiasme onder daardie deel van die bevolking wat normaalweg nie aan hierdie sportsoorte blootgestel is nie. Maar rugby en krieket is feitlik eksklusief op die betaalkanale en buite die bereik van ’n groot deel van die teikengroep. Hierdie kwessie is al snuif onder die loep geneem en stuit elke keer voor die deur van die enorme bedrae geld wat ter sprake is.
  • Dit is ook duidelik dat wit en swart in die land breedweg wyd-uiteenlopende persepsies het oor kwessies soos grondhervorming, die geskiedenis, wie die skuld moet dra vir wat nou skeefloop, plaasaanvalle en vele meer. Die twee groepe word aan verskillende soorte media blootgestel. Die politieke inslag van die SAUK se nuusbulletins in verskillende tale verskil ook dikwels drasties.
  • In die ou dae is dit dikwels gestel dat dit betaal om Afrikaans te wees. Nou, so lyk dit, moet jy betaal om Afrikaans te wees. ’n Goeie voorbeeld is Media24 se Afrikaanse digitale nuusplatform, Netwerk24, wat ’n betaalplatform is, teenoor die Engelse News24 wat gratis is. Maroela Media bied aan lesers ’n gratis alternatief.

Word na die dag se gepubliseerde TV-programme gekyk, lyk dit dikwels asof daar “niks” op die SAUK en e-TV se kanale is behalwe die nuus nie.

Dra hierdie snoepery nie daartoe by dat baie Afrikaanssprekendes hul “toevlug” neem tot ’n horde bedenklike webwerwe nie? Onlangs skryf ’n leser (onder ’n skuilnaam) op Maroela Media dat hy/sy nou nie mooi verstaan nie. ’n Erg bedenklike regse organisasie, wie se naam sy noem en wie se geskrifte sy skynbaar as die evangelie aanvaar, skryf op sy webwerf dat AfriForum agter die studente-onluste sit. Nou kom Maroela Media en beweer die teendeel. Kortom, dit is dikwels skokkend om te lees wat mense bereid is, of in staat is, om te glo, ondanks die goeie werk van onder meer gemeenskapsradiostasies.

En hierdie mense het stemreg. Nogal ’n skrikwekkende gedagte.

Kennis is mag. Ook in Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter Cloete ·

Dit is ‘n baie insiggewende artikel Herman! Ek stem tot ‘n mate saam met jou artikel. Gemeenskapsradiostasies doen ‘n ongelooflike goeie taak om gemeenskappe in Afrikaans te bedien en ek voel hulle het baie meer hulp nodig beide finansieel en natuurlik in opleiding om ook te kan meeding met nasionale en streeks radio stasies.

Ek weet daar is ook organisasies soos Die Dagbreek trust wat agter die skerms ongelooflike werk doen om Afrikaans as ‘n taal te bevorder.

Dan moet ons ook nie vergeet van die wonderlike werk wat Maroela Media doen om nuus in Afrikaans, gratis aan die publiek verskaf nie. Doen so voort Maroela Media!

Rynhardt ·

Die groot probleem vandag is dat SA sit met n eensydige liberale media stelsel wat nie ons mense se taal praat nie!Alles was so geoekestreer!Die ander probleem is dat ons mense kan nie die goeie oordeel handhaaf oor sekwre kwessies nie,en word nog steeds gebreinspoel vandag.SAUK het geen geloofwaardigheid nie,en wil n omstrede hoof he wat 3 huise besit van miljoene!Media24 het niks te vier vir die afgelope 100 jaar nie,want hy het gehelp om Afrikaner/Boervolk se ondergang te bepaal en is net ingestel op wins.Ek het gister Radio Helderberg gekonfronteer oor sy eensydigheid wat handhaaf die laaste tyd oor verskeie onderwerpe.Die omroeper daar se antwoord aan my was:”Die NP het ook die media gemuilband”.My antwoord aan Amelia Price was:”Dit is nie die rede nie.Julle by Radio Helderberg handhaaf eensydigheid en ons die publiek het nie vryheid van spraak nie!”Sy was doodstil hieroor!Dan gaan bemark die einste gemeenskapsradio hom as die beste in die wereld?Dit is lagqekkend!Ek dank die Here vir visie.Kommunikeer met Hom gereeld,sodat jou oe kan oopgaan.Hy sal ook die regte mense op jou pad plaas om jou nog meer te voed met kennis.Doen ook jou eie navorsing-hierdie aspekte noem ek breinontwikkeling.Dit sal jou instaatstel om nie deur ons “dinosaurus-media” gebreinspoel te word nie.Selfs netwerk24 word nou bemark as wonderlik terwyl hy val onder media24!Ek wil dit op rekord stel en praat van jare se ervaring en ondervinding.Ons media is skynheilig en vrot!Ek staan by hierdie stelling.

Piet Pompies ·

Ons gesin geniet Kyknet, die beste kanaal ooit, in Afrikaans……

GES ·

Maroela, baie dankie vir julle leeue aandeel. Die nuus is wat my betref, gebalanseerd en objektief. Ek lees graag Herman en kollegas se goeddeurdagte en insiggewende bydraes.

Ek besef dat geld die wiele aan die draai hou en Maroela daarop roem dat dit gratis gedoen word. Ek dink nie dit sal afbreek doen nie as ‘n bankrekeningnommer vir donasiedoeleindes gepubliseer word. Ek skou dit as ‘n versekeringspremie om volhoubaarheid te verseker.

Pierre ·

Ek stem saam, ek sal ook graag ‘n donasie aan Maroela maak.

Susan Lombaard ·

Beste Pierre, baie dankie vir jou kommentaar. Sien asseblief my antwoord aan GES hier onder. Jul ondersteuning en lojaliteit beteken vir ons baie! Groetnis, Susan Lombaard (uitvoerende hoof: Maroela Media)

Susan Lombaard ·

Beste GES, baie dankie vir die voorstel – dis werklik vir ons ‘n riem onder die hart om dit van ons lesers te hoor! Dit is iets wat ons al oorweeg het, maar ons is baie huiwerig om ons lesers te laat voel asof hulle vir ons nuus moet betaal. Ons gaan ‘n bietjie aan die gedagte herkou en dan terugvoer gee daaroor. Dis inderdaad so dat dit ‘n duur oefening is om ‘n platform soos Maroela aan die gang te hou; gelukkig het ons adverteerders wat positief is oor Afrikaans. Maar ek reken dis soms vir mense lekker om te voel hulle maak ‘n finansiële bydrae tot iets waarteenoor hulle lojaal is. Ons gee binnekort vir julle terugvoer hieroor. Groetnis, Susan Lombaard (uitvoerende hoof: Maroela Media)

Pieter Cloete ·

As ek my 2 sente kan byvoeg: Miskien is die tyd ryp om julle aanlyn winkel aan die gang te kry… Lesers kan, in plaas van ‘n donasie skenk, eerder ‘n Maroela koffie beker koop of miskien n trotse T-hemp. :)

Arie ·

Dit is heeltemal waar, ons moet betaal omdat ons Afrikaans is. Kort nadat ons moes betaal vir netwerk 24 het ek n mail aan hulle gestuur om te vra hoekom ek nuus in alle tale gratis kan lees behalwe Afrikaans, n dame het geantwoord met die verskoning dat hulle geleerde mense is, m.a.w . die ander tale se joernaliste is ongeletterd – dis lagwekkend. Dankie Maroele vir julle Afrikaanse nuusblad!!!!!

Die Paashaas ·

Liewe Mnr. Toerien, baie dankie vir die insiggewende artikel. Ek was die anonieme leser wat die vraag gevra het oor die regse organisasie se uitlating oor AfriForum, nie omdat ek dit wat hulle verkondig as evangelie aanvaar nie, maar omdat ek altyd baie belangstel in u gewaardeerde opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.