Nuuskommentaar: Demokrasie – Is Ramaphosa die regte hekwagter?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Groot verwagtinge word nog in sekere kringe gekoester dat pres. Cyril Ramaphosa die demokrasie in Suid-Afrika weer positief gerig sal kry, maar die uitdagings kom soos golwe aangerol. Intussen gaan die land die kreeftegang op die internasionale demokrasie-indeks.

Wêrelddemokrasiedag is die Saterdag wêreldwyd gevier. In Suid-Afrika is min van dié viering gesien en gehoor, waarskynlik omdat Suid-Afrika besig is om geleidelik die kreeftegang op die indeks te gaan. Suid-Afrika is op die jongste ranglys van The Economist in die 41ste plek. Slegs die eerste 20 lande word as volle demokrasieë gereken, wat beteken dat Suid-Afrika se posisie as gebrekkige demokrasie aan die verswak is.

Mauritius is die enigste Afrikaland wat as volle demokrasie gereken word, terwyl Botswana ook vir Suid-Afrika die loef afsteek.

Freedom House reken met Cyril Ramaphosa as Suid-Afrika se nuwe president is daar hoop dat volle demokrasie in die land herstel sal word. Ramaphosa het immers onderneem dat hy dit sal doen, en daarmee die vinger liederlik in Jacob Zuma se oog gesteek, wat reken hy het so ’n goeie regeertakie verrig.

Hoewel verskillende instansies se definisies vir volle demokrasie nie 100% ooreenkom nie, is dit baie duidelik dat die blote uitoefen van stemreg nie as volle demokrasie gereken word nie. Aspekte soos meningsvryheid, persvryheid, behoorlike minderheidsregte, gereelde vry en regverdige verkiesings, die beginsels van ’n regstaat, die doeltreffendheid van burgerlike instellings en openbare deelname daaraan tel onder die belangrikste aspekte van ’n gesonde demokrasie.

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Uit ’n lang lys van gevalle waar Zuma laat blyk het hy beskou ’n blote meerderheidsbewind as volwaardige demokrasie, is dit duidelik dat hy g’n snars van ’n ware demokrasie, waarin algemene belang en nie die belang van die meerderheid regeer word, verstaan nie. Hy was selfs uitgesproke oor die magte wat die regbank het wat hy gevoel het verkeerd is om die meerderheid teen te gaan. Wat hy voorgestaan het, was inderdaad ’n diktatuur / tirannie van die meerderheid.

Dit is maar eers die afgelope week of twee wat Zuma laat blyk het dat hy ’n bietjie insig in die skeiding van magte het, en dit is terselfdertyd duidelik dat hy hierdie “kennis” (wat hy erg verslons) probeer gebruik om te voorkom dat hy voor die Zondo-kommissie oor staatskaping verantwoording moet gaan doen.

Terwyl demokrasie en vryheid vir ’n groot deel van die wêreldbevolking as vanselfsprekend aanvaar word, was daar nie altyd soveel vertroue in demokrasie nie. Selfs die “demokratiese” Griekse stadstate het in tye van oorlog diktators verkies om die stad deur die oorlog te stuur.

Selfs vandag word die “stelling” gereeld gehoor dat demokrasie ’n euwel is, maar dat dit die beste euwel is wat ons het. Ook onafhanklike stadstate in die pre-Columbiaanse hedendaagse Mexiko het van die standpunt uitgegaan dat toekomstige regeerders deur ’n strawwe voorbereiding (wat aanranding en vernedering ingesluit het) en opleiding wat deur priesters aangebied is, moes ondergaan.

Kan Ramaphosa inderdaad demokrasie in Suid-Afrika bestendig soos hy onderneem het om te doen, veral terwyl die tendens die afgelope jare op ’n kreeftegang dui?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Phando Jikelo/ANA

Hy het met ’n aantal struikelblokke te make:

  • Die planne om grondgrype sonder vergoeding wettig te maak. Die TLU SA beskou selfs te min vergoeding as diefstal.
  • Sy ophemeling van dít waarvoor Steve Biko gestaan het, en die gelykstelling daarvan aan nie-rassigheid. Biko was by uitstek ’n aanhanger van swart bewussyn, en is dikwels as die plaaslike eksponent vir die verspreiding van Fanon se leerstellings voorgestel. Teen die agtergrond van die verdeeldheid wat die onewehandige behandeling wat swart en wit rassisme kry, is dit onwys om juis die een eksponent hiervan op te hemel.
  • Die impak van die magstryd binne die ANC, en pogings om Ramaphosa lam te lê.

Die suiwer toepassing van die demokrasie gaan dit beslis nie vir Ramaphosa maklik maak nie.

Lees gerus ook die meningstuk van Morné Malan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Braaier ·

Nee hy is ‘n hekwagter van kommunisme – die ANC se einddoel.

Grondeienaar ·

Hy is ‘n hekwagter van China – hy het ons aan China verkoop.

Pieter ·

Suid-Afrika se “demokrasie” is eintlik die tirannie van die merrderheid.

Frans C ·

Hy is ‘n ‘slaaf’ van die ANC en onherroeplik verbonde en gebonde aan die party se ideologie. Dus nie instaat tot onafhanklike handeling nie,wat duidelik blyk uit die feit,dat eerder om van die korruptes ontslae te raak en die moontlikheid van ‘n partyskeuring op die hals te loop,verduur hy terwille van party eenheid die mense.

Andre ·

Die ou kan niks doen vir enige iemand nie.

Hy sal vining vervang word.

Jerry ·

SA is n sosiaal demokratiese staat asook die oppergesag van die reg. CR is tereg die hekwagter, maar hy is n gematigde leier met gematigde intensies en die radikale faksies wil van hom ontslae raak sodra die investering van EU en China plaasgevind het, met die uitsluitlike doel om te plunder! Suid Afrikaners wil nie vir CR he nie en weereens gaan hulle n leier kies wat hulle verdien, en plunder gaan hy of sy plunder, erger as die Zuptas! Ideologie, mag en gierigheid maak die massas wat moet stem en die vir wie hulle stem blind, sodat hulle nie die ellende kan sien nie en doof sodat hulle nie die geween en gekners van tande hoor nie. Die DA is n liberale, maar ook n sosiaal demokratiese party, met die dat hulle NDR transformasie en regstellende aksie programme van die staat steun, maar dan nou ook weer, nie die OSV program nie. Dit is net n kwessie van tyd voordat die hekwagter in die hek duik en daarmee saam, SA se kanse op herstel en vrede! Met n nuwe radikale hekwagter vir SA se Afrika demokrasie kan Afrikaner organisasies en hulle lede alles wat hulle nou opbou verloor, as hulle nie hulself instaat kan stel om plundery en konflik met worst case scenario teen te staan nie. Om net n sakeryk met selfbeskikking op te bou is nie n lewensvatbare opsie in n land waar die worst case scenario le en wink nie!

Jan ·

Jy droom ou cr is glad nie gematig nie hy bluf net met sy mooi praatjies hy gaan julle oukies nog n lekker vet pak gee ou maat…

John ·

CR is die voorsitter by elke vergadering waarheen hy genooi word en die voorste lyer by ellke unie-tranedal en die naaste se naaste by elke begrafnis. En ja, niemand gaan nerens ooit afgedank word tensy hy wit is nie. En so wikkel hy sy spikkel met een oog op die verkiesing… Al probleem is dat Zuma steeds die president is.

Mrs H ·

Skryf n brieffie huis toe, Sit jou kop op n blok…. Die kastigge “geskenk” van China, is uitgelê vir grond met steenkool vir toekomstigge myn bedryf. Ek weet vir n feit, een van die myne is opkomend net buite Deneysville in die Vrystaat. Soos ons hier sit, is hulle besig om die transaksies te beklink en conveyerbelde aan te koop…. Die LIEFLIKKE geskenk van China aan Rhamapoza! Hou die spasie dop…. So, die grondgrype het bohaai gemaak, die Ackerman plase se ontneming is vir eers terug getrek… Die Chinese “geskenk” gaan nou baie handig word…kyk maar…. Want blykbaar wil Rhamapoza nie se waarvoor die geldjies is nie, maar toevallig gebeur alles in n tyd van grondgrype wat eerste fokus is en BAIE bankrot goeverment besighede. China gaan nog baie grond en myne in SA besit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.