Nuuskommentaar: Demokrasie verkrag deur magsmisbruik

President Jacob Zuma op 18 Julie 2013 saam met inwoners van ʼn nuwe laekostebehuisingskema in Danville in Pretoria-Wes. Zuma het die gebied as deel van sy Mandeladag-aktiwiteite bygewoon Foto: GCIS/SAPA

Wat ‘n mooi oomblik moes wees – die oorhandiging van HOP-huise deur pres. Jacob Zuma op Internasionale Mandeladag aan arm blankes – sal nou in die toekoms die wrang smaak van die verkragting van demokrasie dra.

Die geleentheid, waarvoor belastingbetalers die rekening dra, is blatant in ‘n ANC-verkiesingsgeleentheid omskep. ANC-tafeldoeke en ANC-T-hemde was deel van die ANC-uithanggleentheid. Die opposisiepartye se lou reaksie hierop, en selfs dawerende stilswye hieroor, is óf skokkend, óf tekenend van ‘n opposisie wat die handdoek oor dié soort vergrype ingegooi het. Beide opsies is meer as net kommerwekkend.

Dit is nie asof Zuma nie van beter weet nie. Kort ná hy tot president van die ANC verkies is, en voor hy nog enige amptelike staatspos of -amp beklee het, was hy die hoofspreker tydens die Vrystaatse provinsiale regering se amptelik jeugdagvieringe in Botshabelo. Daardie geleentheid se omstredenheid is oorskadu deur opmerkings deur nog twee mense wat nie by so ‘n geleentheid op die verhoog gehoort het nie – Julius Malema en Zwelinzima Vavi. Dié geleentheid sal onthou word vir die opmerkings van “Ons sal moor vir Zuma.”

Destyds het die DA die saak na die Openbare Beskermer verwys. Vir die geleentheid is mense per bus op staatskoste van wyd af aangery. Die provinsiale regering se verweer was in breë trekke dat die opposisiepartye ook na die geleentheid genooi was (maar nie die veronderstelde spreekbeurte gekry het nie). Dit was uitsluitlik ‘n ANC-geleentheid op staatskoste. Die Openbare Beskermer, destyds nog die omstrede Lawrence Mushwana, se pap bevinding het in breë trekke daarop neergekom dat maatreëls ingestel moet word dat so iets nie weer gebeur nie.

Of daardie bevinding hoegenaamd die spoed gebreek het, is nie duidelik nie. Voor verkiesings word skielik kospakkies uitgedeel en so gedoen dat dit die indruk skep dat dit van die ANC af kom. Nkandla het grootliks uit belastingbetalersgeld uit die KwaZulu-Natalse platteland verrys (en in die vorm van bunkers ook ondergronds gerig).

Vroeër vanjaar was daar weer omstredenheid toe arm wittes na die ANC se kongres in Welkom aangery is, en volgens die wittes gratis kos beloof is. Na berig word is munisipale voertuie ingespan om mense na die geleentheid aan te ry. Die persoon wat dié reëlings getref het, is Sandlana Smit, lid van die Premier se kantoor vir Minderhede in die Wetgewer (‘n staatspos). Hy beskryf sy pligte as om minderheidsgroepe nader aan die ANC te bring.

Dit sal ‘n hartseer dag wees as opposisiepartye hieroor die handdoek begin ingooi, of nog erger, self so begin maak in provinsies of munisipaliteite wat hulle verower.

Dit is lank bekend dat die ANC die grens tussen staat en party aan’t sloop is.

Die kader-ontplooiingsbeleid se omvang kan op geen manier as in pas met die grondwet of internasionale demokratiese konvensie beskou word nie.Voor Thabo Mbeki se onttroning is wyd bespiegel dat hy, na hy sy twee termyne as president voltooi het, as ANC-president na Luthuli-huis sou versit van waar hy die land dan in effek sou regeer. Hoewel dié planne ge-Polokwane is, het Luthuli-huis se invloed op die daaglikse regering egter steeds sterk gebly, indien nie sterker geword nie. Dit is onder meer duidelik in die Groenskrif vir Grondhervorming wat, na dit deur Luthuli-huis goedgekeur is, aanvanklik deur die regering bekend gestel is as sou dit reeds die Witskrif wees.

Aan die kern van die saak lê ‘n stelsel, bekend as ‘n grondwetlike demokrasie, met die oppergesag van die grondwet. Die ANC, Zuma inkluis, het al frustrasie uitgespreek dat die grondwet – deur die tussenkoms van die howe wat as bewaker van die grondwet optree – die meerderheidswil frustreer. Maar selfs in ‘n nie-grondwetlike demokrasie is ‘n regering nie veronderstel om in belang van die meerderheid te regeer nie. Dit is meerderheidsdiktatuur, soos wat voor die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland ontwikkel, en tot die sloping van demokrasie in enige vorm gelei het. Dit het nou in Hongarye gebeur, tot groot ontsteltenis van die Europese Unie.

‘n Demokratiese regering regeer in algemene belang. En algemene belang beteken nie die stroop van minderheidsgroepe se regte, en dan ‘n aalmoesie hier en daar nie. Dit sal tragies wees as nie eens een opposisieparty die misbruik met die HOP-huise onder die Openbare Beskermer se aandag bring nie. En dan nog die breedsprakigheid hê om na die ongelyke speelveld in Zimbabwe voor daardie land se algemene verkiesing te verwys.

Hier is die één geleentheid waar politieke partye nié agter die rug van burgerlike samelewingstrukture kan wegkruip om die “vuil werk” te doen nie. Burgerlike instellings, so belangrik soos hul rol in ‘n grondwetlik demokrasie ook mag wees, is per definisie nie op die partypolitieke terrein betrokke nie, en hier het die bal vierkantig op die speelterrein van die politieke partye geland. E n die party wat dit aandurf, verdien die volle steun van die media in daardie aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frik Lotz ·

Die ANC voel vere vir die blankes en Afrikaners in hierdie land.Alles wat hul doen,soos die oorhandiging van Hop-huise aan arm blankes,is net n verkiesingsfoefie en “windowdressing”.Hoop net blankes sien dit raak en val nie vir die ANC se truuks nie.Netso is die DA besig om dieselfde pad as ANC te loop met hul optrede deesdae en n goeie voorbeeld was die optrede teenoor Afrikaners by Kleinfontein.Die enigste party wat nog iets omgee vir die Afrikaner is die VF Plus en n goeie voorbeeld is wat hul doen vir Transnet pensioenarisse deur Transnet hof toe te vat.Onthou net: n meerderheid is nie noodwendig altyd reg nie en dis tans die geval soos ons met die ANC sien.

Rena Brown ·

Skynheilig is hier die wagwoord. Zuma soek stemme vir ANC.

Gert Strydom ·

Met die verkiesing binne 9 maande, weet ek sowaar nie wie vir die handjievol matige Afrikaans sprekende middelklas gaan opstaan nie. Ek ondersteun uit praktiese redes nie ‘n Orania nie. Netso ondersteun ek nie verpligte integrasie nie. My stem in die vorige algemene verkiesing vir die DA, voel nou so vermors deur hul stille verwerping van my en mede groepsgenote se waardes en standaarde. Sal ons stem dan maar vir die VF+ moet wees? Ek glo nie die arme Muller’s het regtig meer enige invloed nie. Polities is ek totaal in die wildernis. En vir iemand wat gebore is net na die bewindsoorname van die NP en wat sy jong jare gegee het vir die beskerming van sy land, is dit nie ‘n lekker gevoel nie.

Markus de Lange ·

ek stem saam met bogenoemde artiikel. ANC het nog nie die helfte vir ons blankes gedoen wat die VF+ gedoen het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.