Nuuskommentaar: Derby-Lewis se lot deur voorvadergeeste beslis?

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

In die gewapende stryd voor die ANC in 1994 aan bewind gekom het, het talle onskuldige vroue en kinders en selfs babas om die lewe gekom – selfs op die allerergste wreedste manier. Tog sit van die bekendste plegers vandag in die hoogste politieke poste; is iemand wat, weens onder meer ‘n wilde slagting in ‘n dameskroeg, eens ter dood veroordeel is, nou hoof van OPOD, of hulle leef rustig op ‘n aansienlike pensioen.

Die sleutel was om voor die Waarheids- en Versoeningskommissie te gaan bieg.

Tog geld die voordele hiervan nie almal nie. Clive Derby-Lewis, sterwend aan longkanker, dien steeds ná meer as 20 jaar, lewenslange gevangenisstraf uit weens sy aandeel in die moord op die destydse SAKP-leier, Chris Hani. Die Volksblad het verlede jaar berig hy het “voor die Waarheid-en Versoeningskommissie (WVK) in sy getuienis gesê hy is bitter jammer en vra om verskoning vir die hele familie”. Hy wou verlede jaar, 20 jaar na die moord, aldus die berig, “persoonlik aan Limpho Hani, die vermoorde SAKP-leier se weduwee, om verskoning vra”.

Derby-Lewis, nou byna 80 jaar oud, is steeds in die gevangenis.

In antwoord op ‘n navraag deur Maroela Media oor die jongste verwikkelinge wat daarop dui dat die minister van korrektiewe dienste, adv. Michael Masutha, pas sou aanbeveel het dat Derby-Lewis op parool vrygelaat word, skryf Marius Coertze, sy prokureur, dat die aansoek om mediese parool op 2 Mei vanjaar ingedien is. “Ons is ingeroep vir een vergadering met hulle en ons is meegedeel dat hulle nie tevrede is met die manier waarop ons die aansoek gebring het nie,” het Coertze gesê. “Onder andere was hulle ongelukkig met die feit dat ons beweer dat Clive sterwend is. Die Streekkommissaris het gesê dat in ‘hulle kultuur’, d.i. die Afrika-kultuur, mens nie praat dat iemand gaan doodgaan nie, want dit roep die ‘voorvadergeeste’ op en dis onaanvaarbaar. Hy het gesê ons moet die ‘aansoek oor opstel en dan moet ons nie noem dat Clive terminaal siek is en gaan sterwe nie’.”

Met die opweeg van die beskikbare feite en die regsbeginsels ter sprake – selfs deur dit so ver terug te voer soos die Cesare Beccaria (1738 – 1794) om sin te maak uit die gebeure rondom Derby-Lewis, maak baie aspekte nie sin nie. Opsommend kom dit daarop neer dat (sommige) mense neig om die vryhede wat die regstaat meebring, op te offer ter wille van die uitslag van ’n oorlog.

Maar hierdie oorlog is lank reeds verby, hoewel daar in politieke kringe al hoe meer geluide opgaan dat die “tweede fase van die rewolusie” nou voltrek moet word.

Onder meer het die nuwe minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi, toe hy nog adjunk-minister van korrektiewe dienste was, skerp onder akademici deurgeloop oor sy kritiek op die grondwet.

Parool, en in die besonder mediese parool, so lyk dit, word as politieke ingryp benut om dubbele standaarde toe te pas. Onder diegene wie se aansoeke om mediese parool nie die voorvadergeeste ontstig het nie, is Shabir Shaik en Jackie Selebi.

By baie wat standpunt inneem oor of Derby-Lewis nou (of in die verlede) parool moes kry of nie, speel hul eie politieke oortuigings ‘n groot rol.

Dit speel egter nie by almal ‘n rol nie.

Suiwer regsbeginsels is vir baie ander, ook Maroela, ter sprake, veral die impak wat die regte in die Handves van Menseregte op die strafregstelsel speel. Wanneer is ‘n volharding in die voltrekking van ‘n vonnis ongeag veranderende omstandighede wreed, en selfs marteling, en dus ongrondwetlik? Hoeveel bly oor van die grondwetlike beginsel van gelykheid voor die gereg as iemand wat duidelik nié terminaal siek is nie, sy tronkbed skaars warm kon lê voor hy mediese parool kry (en op die gholfbaan betrap word), terwyl daar kort-kort berigte in die media is oor ander wat onder meer weens Vigs op sterwe is, maar nié die geleentheid kry om tuis in vrede te gaan sterf nie?

Die strafreg verwerk ook benewens die erns van ‘n misdaad en die rehabiliteerbaarheid van die gevangene kwessies soos die impak wat die vonnis op ‘n probleem-tipe misdaad moet uitoefen. Sommige ontleders meen korrupsie in Suid-Afrika is endemies – Suid-Afrika het die afgelope aantal jare dan ook skerp op die korrupsiepersepsie-indeks gedaal, en op die omkoopindeks vaar Suid-Afrika selfs swakker as erg korrupte lande soos die DRK en Ethiopië. ‘n Mens sou dus verwag dat vonnisse hierdie erns – wat op die berowing van ‘n land se toekoms en berowing van armes neerkom – behoorlik sou ondervang en by parool swaar sou weeg.

Politieke moorde is daarenteen betreklik skaars, en vind nou meestal nie in die politieke dampkring waarin Derby-Lewis betrokke was, plaas nie.

Gewoonlik, as dit “voel” of ‘n saak nie aan die kriteria van natuurlike geregtigheid voldoen nie (ook behoorlik in die Handves van Menseregte vervat), dan is dit nodig om behoorlik te besin.

En politiek pas dikwels nie lekker in dié prentjie in nie. Dit sal dus goed wees as die politieke atmosfeer rondom hierdie, en ander sake, verdamp en die saak suiwer op die beginsels van geldende regspraak beoordeel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.