Nuuskommentaar: “Derde Wêreldoorlog”

Argieffoto.

Verlede week is die kernbom-aanvalle op eers Hirosjima, en daarna op Nagasaki herdenk – iets wat maar min aandag in Suid-Afrika geniet het. Tog is daar nou iets nuuts aan die herdenking. Japan het ook sy eerste beduidende oorlogskip, die Izumo, te water gelaat. Dié skip van 250 meter, die grootste sedert die Tweede Wêreldoorlog, kan minstens 14 gevegshelikopters dra, maar kan glo maklik in ‘n vliegdekskip omskep word.

Die rede hoekom dié verwikkeling belangrik is, is dat Japan na die kernaanvalle tot oorgawe gedwing is, en ‘n pasifistiese grondwet aan die land opgedwing is. Hiervolgens mag Japan nie ‘n weermag met ‘n aanvalsvermoë hê nie – iets wat Japan reeds stil-stil oortree het. Maar omdat Japan as ‘n Westerse bondgenoot in ‘n baie vyandige omgewing beskou word, is daar nie ‘n ophef van gemaak nie.

Maar nou is China ontstoke. Dit help ook nie dat die Japannese vise-premier, Taro Aso, onlangs gesê het Japan kan by die Nazi’s leer hoe om ongemerk ‘n grondwet te verander nie. Aso se politieke opponente het munt daaruit probeer slaan en blou moord geskree, maar Aso het eintlik op ‘n sensitiewe snaar getokkel. Die vermaarde Otto von Bismarck, meer bekend as die man van bloed en yster, het geglo ‘n verslane vyand moet nie verneder word nie. Hy het egter in onguns verval, en sy opvolgers het Frankryk verneder. Dié vernedering het ruim tot die Franse deelname aan die Eerste Wêreldoorlog bygedra, en met die Verdrag van Versailles, is Duitsland verneder. Duitsland het hierop die Weimar-grondwet opgestel en aanvaar, wat in die liberale dampkring as steeds een van die beste, indien nie die beste nie, grondwet ooit beskou word. Maar die grondwet kon teen die vernederende beperkings van die Verdrag van Versailles nie staande bly nie, en Hitler is heel demokraties tot leier verkies, waarop die grondwet byna onopgemerk in die asblik beland het, en Duitsland kon weer ‘n weermag opbou wat by ‘n volk met selfrespek “pas”.

Dit is waarna Aso verwys het – nie Hitler se opskorting van demokratiese waardes nie.

Daar is egter ‘n ander faktor wat tot Japan se rug-styfmakery bydra. Slegs ‘n kleinerige lappie see skei Japan van die Koreas, waar Noord-Korea nie net oor ‘n bewese kernvermoë beskik nie, maar boonop deur ‘n erg onstabiele diktator regeer word wat onlangs ‘n internasionale krisis veroorsaak het deur met kernaanvalle op Suid-Korea, Japan en selfs die VSA te dreig.

Japan soek dit net niks, en het baie ferm standpunt ingeneem. Hoewel Japan, veral bygestaan deur die VSA, waarskynlik oor genoeg plofkrag beskik om so ‘n bedreiging onderweg in die lug af te skiet, is so ‘n maatreël se sukses nie gewaarborg nie. Dit is takties veiliger om te keer dat die missiel wat die plofkop dra nie van die grond af kom nie, maar so ‘n vermoë verg ‘n offensiewe vermoë. Die grondwet is egter “lastig”.

Veel word geskryf oor die onderlinge samewerking tussen Noord-Korea en Iran, en onlangs het dit geblyk dat Kuba wapens, weliswaar meestal ou, afgeleefde wapens, na Noord-Korea probeer smokkel het. Dit is in Panama versteek onder vragte suiker gevind.

Maar is hierdie inderdaad die tekens van ‘n broeiende Derde Wêreldoorlog?

Die Duitse koerant, Die Welt, berig dat veiligheidsmagte verlede jaar ‘n Al Kaïda-aanval op Europa gefnuik het. Die aangekeerdes is op die grens tussen Iran en Turkye aangekeer, en het reeds-vervaardigde films in hul besit gehad wat bedoel was om beskikbaar te wees na hulle hul selfmoordsendings voltooi het. Die mans is in Pakistan opgelei, maar is na hul land van herkoms, Tunisië gedeporteer, waar hulle vrygelaat is. Die een is pas in ‘n aanval deur ‘n afstandbeheerde vliegtuig, in Engels bekend as “drone” in Pakistan dood.

Die vraag of die wêreld nie reeds in ‘n Derde Wêreldoorlog gewikkel is nie, is reeds tydens die koue Oorlog gevra. Die karakter daarvan verskil dramaties van die aanslae van die oorloë tot en met die Tweede Wêreldoorlog. In die skadu van ‘n groot kernarsenaal het die konflik na ‘n vlak gedaal waar die inspan van kernbomme nie eens takties en beperk oorweeg kon word nie. Die geopolitici het ‘n blomtydperk beleef, want waar daar ook al ter wêreld ‘n strategiese belangrike plek was, daar was konflik, op die oog af oorlogvoering deur “afstandbeheer” waar insurgente die groot moondhede – veral die USSR – se vuil werk gedoen het.

Dit was egter die Russe self wat die eerste geduld opgegee het met die omslagtige beperking van dié soort aanslae, en het Afganistan ingeval en effektief bloedig beset. Maar Die USSR, die “meesterbrein” van insurgensie-oorlog, het hom misgis, en moes uiteindelik onttrek.

Hierna het die VSA die “meesters” geword van hoe om nié die soort oorloë aan te pak nie, maar dit tog te doen. Die mense van Irak en die wêreld is wel die guns gedoen om van Saddam Hoessein ontslae te raak, maar Irak self kon nog nooit gepasifiseer word nie, en ‘n volskaalse sektariese oorlog dreig weer.

So is daar oral in die wêreld nuwe brandpunte soos,  die onrus in Noord-Ierland, die Baske en ander wat  “opgeklaar” raak. Maar  nuwes kom by. Groot kommer heers oor Egipte, Sirië se burgeroorlog dreig om ‘n streekkonflik te word namate die Siriese foutlyne na omringende lande al meer en meer buitelandse betrokkenheid insuig, Jemen se insurgensie bly weens ontvoerings in die kollig, Pakistan bly andermans-krygsland, en Al Kaïda se tentakels bly soos Medussa van ouds se slange net nog koppe bygroei.

Intussen is daar in die vrye wêreld min sprake van juis daardie vryhede wat die Weste hoog ag. In die oorlog teen terreur word privaat kommunikasie erg onderskep. Terwyl lande soos Nederland en Duitsland die vinger in die Amerikaners se oog wou druk hieroor, word onthul dat dié lande se veiligheidsdienste lustig meegedoen het.

Trouens, daar word gesoek na verklarings hoekom die mens eenvoudig nie in vrede met die naaste kan saamleef nie. Een van die gewilde teorieë is dat dit gaan oor mededinging vir beperkte hulpbronne. Daar is gereeld waarskuwings dat die ontploffing van die wêreldbevolking noodwendig soveel druk op hulpbronne gaan plaas dat konflik byna onafwendbaar word. Die VN, ook gereeld by monde van die sekretaris-generaal Ban Ki-moon, waarsku gereeld oor die druk op kos en drinkbare water.

Pas het Nasa sy ruimteprogram om ‘n ruimtetuig na die asteroïde, Bennu, te lanseer en met ‘n stukkie daarvan na die aarde terug te keer, gemotiveer aan die hand van die toename van die wêreldbevolking. Die nuusverklaring begin trouens deur te meld dat die wêreldbevolking die afgelope eeu van een miljard na 7 miljard toegeneem het. Dan word omvattend verduidelik hoe die ontginning van die hulpbronne van asteroïde in die toekoms in wese onafwendbaar vir die mens sal wees.

Nader tuis het Tokyo Sexwale, voor hy as minister van Huisvestig in die pad gesteek is, by minstens een geleentheid gekla dat die aanwastempo van die mense dit vir die regering onmoontlik maak om by te hou met die bou van genoeg HOP-huise. Maroela was een van die instellings wat toe die vraag gevra het of Sexwale met hierdie politiek-inkorrekte uitlating nie dalk in sy politieke swaard geval het nie.

Oorloë, peste, kindersterftes en ander faktore het moontlik in die verlede daartoe bygedra dat die wêreldbevolking nie so vinnig toegeneem het nie. Maar slegs ‘n siek brein sal konflik, soos terreur, kernaanvalle, plaasmoorde, aborsies en ander gru-dade as in belang van  die mensdom beskou.

Hoekom miljarde inspan om siektes soos Vigs, malaria en  voëlgriep-variasies te bekamp as die wreedaardigste metodes bedink word om menselewens op die mees grusame manier denkbaar te neem?

Doodslag is nié die antwoord nie.  Met die ontwikkeling van moraliteit en verantwoordelikheid gaan veel verder gekom word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antonie Geyser ·

Dit gaan alles oor hulpbronne, ‘Trade’, GELDmag, Mag en Getalle.
Daar is n plek in Rusland waar daar 200000 Russe is
net oorkant die grens is daar 10000000 Sjinese.
Die wereld se bevolkingaanwas gaan tot sy uitwissing lei,
in elk geval gaan die myn van hulpbronne om elekrisiteit te maak
die natuur vernietig en vergiftig en ‘climate change’ aanjaag.
Om die wereld se agteruitgang te stop, moet daar onmiddelik
BAIE meer geld en ontwikkeling in landbou bele word wereldwyd

german ·

Uiteindelik word wysheid uitgespreek, maar in enige demokrasie skreeu die skares steeds vir Barrebas.

tydspook ·

hail! asemrowende stelling gemaak deur maroela hier aan die slot. laat my dink aan die prophecy wat genoem word ‘Worriors of the rainbow`; doen julself n guns en gaan kyk maar gerus daarna. dié is die tyd waar dit die cure is om dualisme tussen die konsep war and peace van die aardbol moet laat verdwyn! never to be heard of again. vrede kan tog nie bestaan sonder sy yang nie.. en oorlog beslis ook nie sonder sy ying.. dis tyd vir groei! hoekom dan aanhou dieselfde besluite neem om vasgevang te word in n herhaaldelike loophole….. ek wil weet wat is daar buite ! in ons hemelruim.. wil julle nie? bloed is rooi ons almal weet dit.. en ook hoe seer die sacrifice van lewens maak vir die doel om geld in die hand te kan hou.. geld is niks in ruil.met wat ons mis nie. .. die aarde is moeg! hoor julle haar dan nie skree nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.