Nuuskommentaar: Dertig jaar na ‘hoogapartheid’ en Mandela se vrylating

Nelson Mandela en sy vrou, Winnie, op 11 Februarie 1990 kort nadat Mandela uit die Victor Verster-gevangenis vrygelaat is. Foto: (AP Photo/Greg English, File)

Vandag presies dertig jaar gelede is Nelson Mandela vrygelaat. By terugskoue blyk dit dat polarisasie in ’n sekere spektrum toegeneem het, en veral in die meer onlangse verlede versnel het. Faktore soos die opkoms van die EFF en die BLF, asook die grondgryp sonder vergoeding speel bepaald ’n rol, maar ’n radikaler weergawe van die narratief het duidelik groter momentum gekry.  Aan die ander kant lyk dit of selfbeskikkingsplanne hoofsaaklik alle opsies uitsluit behalwe partisie (volkeregtelike vereistes soos geen raskategorie nie) en selfs ’n erge afkeer aan die woord Afrikaner “want ons is Boere”.

Vir dertig jaar was die “amptelike” en formele narratief, asook die wêreldmening, oorweldigend een dat apartheid in al sy gedaantes boos was, en die ANC en surrogate die manifestasie van humanisme en moraliteit self. Aanvalle soos dié op ʼn vrouekroeg, die Magoo’s Bar, in Durban, die landmyn op ’n plaaspad wat die lewe uit die verskeurde liggaampie van die tweejarige Nasie van Eck geruk het, die Kerkstraatbom en vele ander nie-selektiewe dade van “bevryding” het gewoon verdrink in die gety van massa-propaganda wat onder meer uit Leningrad en Beijing georkestreer is.

In die Weste het liberale regeringsleiers met passie die kleed van “nuttige idiote” aangetrek en met growwe eensydigheid entoesiasties meegedoen. Waardige Christenouers wat hul plek in hul kerke met passie gevul het, die Lig van Christelike opvoeding vir hul kinders saans om die oop Bybel laat skyn het, en bedags met hul werk die kers nog langer aan weerskante moes laat brand om met die eerbaarste beskikbare lig denkbaar aan die Semkom-gedeelte van die nasionale veiligheidsbestuurstelsel moes deelneem, word by verstek gedemoniseer as agente van die bose apartheid. Bose dinge waarvan hulle gewoonlik niks geweet het nie, of wou weet nie, want hul fokus was eerbaar gerig op onder meer die aanpas van begrotings om die beste moontlik te beding op die staatkundige, ekonomiese en maatskaplike fokus van Semkom. Mini-GBS’e en hul gemeenskapskakelforums, wat ook plaaslike amptenare ex officio betrek het, het soms met die verhoudingskomitees saamgesmelt en hul hande stomp gewerk om die oorsake van tweespalt te verwyder.

Politieke analiste en kommentaarskrywers wat ’n ander narratief as die internasionale propaganda-perspektief ook belig het, mense soos dr. Leopold Scholtz, toe ook ere-professor in geskiedenis aan die US, was erg “lastig” om objektief tussenin te kom bodder en onder andere op die invloed van kommunisme in die ANC en ander te wys. As teruggedink word aan die tipe etikette wat sulke “uitvaagsels” beleef het (en soms steeds beleef), soos links-liberaliste, Cape liberals, neo-konserwatief, verregs, verlinks, en veel erger enige plek op die politieke spektrum, dan besef ’n mens onder welke ongelooflike druk dié mense gewerk het.

In die VSA het die klassieke gesinsman die benaming “real American hero” gekry. Hier moes die ekwivalent wat op Semkom en verwante strukture gedien het, verbysterd toekyk hoe medelede op ’n streep afgesit het Waarheid- en Versoeningskommissie toe en gaan bieg het oor opdragte om allerlei wreedhede te pleeg. Dit, terwyl elke amptenaar by aanstelling geleer is, of veronderstel was om geleer te word, dat geen onwettige opdrag uitgevoer mag word nie. (Die teorie en praktyk is internasionaal ook nie altyd so maklik nie.)

Aan die ander kant van die munt word die “vader van rassistiese haatspraak” vandag nog as nasionale held beskou, en is ’n wêreldbekerstadion steeds na hom vernoem. Dit is politiek inkorrek om te wonder hoekom Bram Fischer, ’n tydgenoot van die wreedaard en massamoordenaar Stalin, as so ’n onkreukbare humanis voorgehou kan word. Eweneens word Fidel Castro, sy wreedhede ten spyt, steeds vereer deur geboue en ander strukture na hom te vernoem.

Berigte en artikels in oorsese publikasies vanoggend wat onder andere oor die nagevolge van die Amerikaanse beleid van segregasie handel, fokus op die mees ekstreme manifestasies, soos selfs wit predikers wat hulle nie net met die Ku Klux Klan (KKK) vereenselwig het nie, maar as die “lynch parties” deelgeneem het. Oorle Apartheid word gewoonlik met hierdie aspek vereenselwig, nie net weens internasionale disinformasie nie (en dan word fopnuus as ’n relatief nuwe verskynsel voorgehou), maar erge rassiste binne die stelsel wat nie net aan wreedhede meegedoen het nie, maar dit goedpraat.

’n Eertydse minister van polisie het gebieg en gaan voete was – ’n eerbare ding, maar hy het daardeur ook die waardigheid- en morele mat onder die “real South African heroes”, of dan nuttige idiote uitgeruk – hy sou beter vaar deur ook hulle om verskoning te vra dat hul eerbaarheid so misbruik en vernietig is.

Dertig jaar later het baie dinge verander, en was daar taamlik duike in die destydse narratief. Zindzi Mandela, dogter van oudpres. Nelson Mandela, het haar in wese van haar pa se versoeningsgesindheid gedistansieer, en haar by haar ma se radikalisme geskaar toe sy haar met rassistiese taal te buite gegaan het. Baie swart mense meen Mandela het met sy versoening die swart mense in die steek gelaat.

Die Menseregtekommissie het in plaas van rassisme bekamp, hul taak gaan politiseer en blaas eerder rassehaat aan deur hul onewehandigheid. Die TLU SA het pres. Cyril Ramaphosa gemaan om van sy rassisme af te sien. Die voornemende grondgryp sonder vergoeding het ’n vername drywer geword om Ramaphosa se voorgenome herstel te verongeluk en die inploffing van die ekonomie te verseël.

Nostalgie oor die vrylatingsera van Mandela blyk vandag uit verskeie berigte en artikels, soos “Die verlede altyd met ons” op Netwerk24 (lees hier). Johann Maarman, eindredakteur van Die Burger se rubriek heet vanoggend: “ ’n Geleende pak, uitgerukte lok en Madiba se vryheid.” (Lees hier).

En intussen – die lot van die eerbares wie se loopbane blywend geskaad, en selfs beëindig is, is begrawe in die lêers van predikante, sielkundiges en psigiaters. Trouens, dit het al ’n tweede generasie opgevang. Sommige families kon herstel, onder andere danksy die enorme werk van Solidariteit, AfriForum of in gesinsondernemings. Ander het, soos na hulle in die ABO alles danksy die Kakies se verskroeide aarde nie herstel nie, en bevind hulle in wit plakkerskampe.

Die ANC het nie, soos hy gereeld spog nie, apartheid afgeskaf nie. Die vorige regering het dit reeds in 1992 gedoen deur die laaste apartheidswet af te skaf. Die ANC het elke aspek daarvan deur plaasvervangende wette of maatreëls teruggebring. Die ANC het die ekonomie skouspelagtig in duie laat stort (en blameer steeds apartheid daarvoor).

Die uwe, wat reeds meer as dertig jaar lank hoofartikels en nuuskommentare skryf, het in ’n stadium besluit om glad nie meer na ras te verwys nie. Dit was toe voorstanders van selfregering self daarvan weggehou het soos tydens Kodesa en die Volkstaatraad. Daardeur is by internasionale definisies gehou omdat ras nie ’n erkende norm daarvoor is nie, maar wel taal en kultuur. Daar kon ’n hele aantal jare hiermee volgehou word, ook in Maroela Media en op Pretoria FM, maar weens die regering se rasbeheptheid moes dié ideaal laat vaar word om relevant in die openbare diskoers te kon bly.

Dit is verstaanbaar dat verskillende rasse verskillende narratiewe van die verlede sal koester. Hierdie rubriek is geen koestering na apartheid nie, of lekkerkry omdat van die vorige regering se grootste kritici nou self heelwat aspekte van die destydse beleid van afsonderlike ontwikkeling aanneem nie. Die feitlik universele aandrang op ’n onafhanklike Palestynse staat is maar een voorbeeld.

Lande soos België en Indië wat in etniese federasies omskep is of word, Nieu-Seeland met sy Maori-kongres (parlement) en gewaarborgde parlementêre setels vir die inheemse minderheid, asook in Indië, Japan wat onlangs eerste nasie-status aan die Anoe toegestaan het, Spanje wat eens etniese probleme ondervang het deur groter selfregering aan die Baske en Kataloniërs toegestaan het, maar nou die teenoorgestelde koers inslaan, die Friese wat groter outonomie in Nederland gekry het, veral op kultuurgebied, Skotse reg op afskeiding, met soortgelyke momentum onder die Noord-Iere en die mense van Wallis, en selfs spore daarvan in Cornwallis…

Elke situasie se posisie is uniek, maar blatante rassediskriminasie onder welke vaandel is nie deel van die oplossing nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Die fout was, die NP het Afsonderlike Ontwikkeling (Apartheid) in die wetboek ingeskryf. Hulle moes net soos die res van die wêreld dit net natuurlik toegepas het.

SwartBees

30 jaar later is ALS, maar ALS, goed op g e v o e t e r.

Ou Baardbek

Geagte Herman,
Nogeens baie dankie vir u uitgebreide artikel, en die blote noem van SOMMIGE feite van die verlede en geskiedenis. Ongelukkig, word feite, (wat in geskiedenis boeke bestaan, en NIE deur die huidige of onlangse generasie geboekstaaf is met voorbedagte rade, om HUL sogenaamde ideologie te bevorder nie!), bloot nie aanvaar en geglo nie?!
Hoe is dit MOONTLIK dat daar soveel klaarblyklik volwasse en INTELLIGENTE mense, ongeag ras of kleur, kan bestaan wat hierdie houding handhaaf??
‘n Bekende eertydse filosoof het mos gesê: “Don’t argue with a fool; you could NEVER convince him!”
Is dit nie waar ons vandag staan nie?

Johan

Dankie vir die skrywe. As ek jou insig lees wonder ek net oor een ding ( al is dit nie ons geveg nie en behoort ons dit NOOIT ons sn te maak nie)…glo jy werklik die joodse volksmoord is die waarheid?