Nuuskommentaar: Destruktiewe wetgewing – klimaat en grondonteiening

grond-deur-hanzell-vineyards-flicker

Foto: Hanzell Vineyard/Flickr.com.

Wetgewing, veral sensitiewe, noodsaaklike wetgewing, moet so aangepak word dat dit nie meer skade as goed doen nie. Twee regsprosesse is tans aan die gang – een wat ten doel het om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, en een oor klimaatsverandering, en aanduidings is dat in albei gevalle die nodige sensitiwiteit en kundigheid nie ingespan word nie.

Die openbare verhore oor die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het skaars begin of berigte syfer deur oor dinge wat nie te lekker verloop nie. Soos gebruiklik, staan EFF-leier Julius Malema sentraal in een voorval, wat daartoe gelei het dat die leier van Cope, Mosiuoa Lekota, uitgeloop het.

Nog ’n nuusflits lei dat (ʼn minderheid) sprekers wat die beoogde wysiging teengestaan het, ná hul spreukbeurte uitgejou is. Mense wat mondelinge voorleggings kom doen, kry drie minute elk om dit te doen.

Hoe op aarde kan iemand in drie minute uitlê dat die beoogde grondwetwysiging, en dit nogal aan die Handves van Menseregte, die ekonomie baie, baie ernstig kan skaad al het pres. Cyril Ramaphosa die mooiste ideale oor hoe versigtig dit toegepas sal word?

Pas het AfriSake egter ook wydlopende besware aangeteken oor die skade wat voorgestelde bepalings in die wetsontwerp oor klimaatsverandering aan die ekonomie sal aanrig. Die negatiewe uitwerking van sommige voorgestelde maatreëls word nie ernstig genoeg opgeneem nie.

Wat die beoogde onteiening betref, het dr. Charl Swart, navorser van Maties se departement politieke wetenskap, reeds in 2013 by ’n kongres, “Land Divided”, uitgewys: “Swart showed, where between black and white South Africans’ opinions on whether landowners who dispute land claims are racist, or a barrier to transformation. Interestingly, the same studies showed little disparity in opinion between these groups when posed with another scenario: whether landowners who dispute land claims by going to court are fairly using their rights afforded to them by the Constitution. (They are, both groups agreed.)”

Kortom, wit en swart in Suid-Afrika ervaar die aansprake en verset teen grondaansprake uiteenlopend, en wit mense word dan as rassiste beskou, maar as hulle die Grondwet inspan, word dit anders ervaar. Dit kan dus verwag word dat wit en swart ook op ander terreine makliker ’n soort konsensus-persepsie sal (kan) hê. Met die afhandeling van sy meestersgraad het Swart vroeër ook bevind dat ongeveer 80% van die swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Die spanning, ook rassespanning, wat die huidige proses ontketen, word deur haas elke mens in Suid-Afrika ervaar.

Die son kom op oor Frankfurt in Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

Die dispute oor klimaatsverandering vind egter gereeld op ’n ander vlak plaas, en ekonomie tersyde, word dikwels pseudo-wetenskaplike argumente ingespan. Die Wes-Kaapse droogte toon egter dat die klimaat nie vir die mensdom gaan wag om katastrofies te ontaard nie. Die wegsmelt van Antarktika kan nie meer gekeer word nie. Dit is die gevolgtrekking van verskeie spanne wetenskaplikes wat die afgelope 25 jaar onafhanklik van mekaar studies gedoen het, en nou hul gegewens bymekaargegooi het om ’n meer omvattende idee van die invloed van aardverwarming op Antarktika te kry. Die afgelope tien jaar het die proses verviervoudig.

Veral Wes-Antarktika smelt vinnig weg, en dra by tot die styging van die seevlak. Dié styging is nou nog maar min, maar die proses is aan’t versnel, en kan in ’n stadium in meters per jaar gemeet word. Die goeie nuus is dat die proses honderde jare en selfs duisende jare kan neem om voltrek te word, maar dis onafwendbaar.

Wes-Antarktika se ys alleen is genoeg om die seevlak met drie en ’n half meter te laat styg. Na raming neem die yslaag nou jaarliks met 219 miljard ton per jaar af. In 2005 was dit nog net 73 miljard ton per jaar.

Ook Groenland word intensief bestudeer. Nuwe navorsing deur die North Western University het aan die lig gebring dat Groenland in antieke warmer tye heelwat warmer geword het as wat tot dusver geglo is. Dit is onder meer afgelei uit die teenwoordigheid van verskeie vliegspesies in oerlae van antieke mere. Die betrokke yskap kan die seevlak met meer as ses meter laat styg.

Vir kusstede oor die hele wêreld is die vooruitsigte van ’n hoër seevlak slegte nuus. Maar nie net die stede gaan ly nie – talle Amerikaanse argeologiese terreine bevind hulle reeds onder die see, en maak navorsing baie moeilik. Ook in Suid-Afrika word werktuie taamlik diep die see in aangetref en wat dateer van tye toe dit nog jagvelde was.

Wat maak hierdie navorsing so belangrik? Beslis nie die mitiese beskawings wat kort-kort volgens gerugte onder die ys uitkom nie. Maar hou die proses nie dalk verband met die hewige droogte wat die Wes-Kaap die afgelope paar jaar teister nie? En indien wel, sal ’n mens sekere vaste aanduiders kan bepaal wat wetenskaplikes en weerkundiges in staat sal stel om akkurate voorspellings te maak?

Sal ’n volgende kusdroogte draagliker gemaak kan word deur betyds genoeg ontsoutingsaanlegte, akwafir-ontginning, die “melk” van wolke op berge aan die kus en waterherwinning op te rig sodat skaars binnelandse water sover moontlik in die binneland, en ter wille van die landbou, benut kan word?

Klima-argeologie kyk vandag egter ook na hoe gemeenskappe in die verlede lang droogtes kon oorleef, terwyl sommiges nie kon nie en verdwyn het. As elkeen sy plig doen vir ’n skoon aarde, sal ons hopelik oorleef deur te improviseer – nie te vlug nie. En wat as van die voorkomende maatreëls die ekonomie in elk geval gaan vernietig?

Pas het Nederland die byna onmoontlike reggekry – om ’n nuwe Klimaatwet uitgebeitel te kry. Dit het die steun van sewe van die partye binne en buite die regerende koalisie.

Presies hoe ingrypend dit is, blyk daaruit dat alle elektrisiteit in Nederland teen 2050 skoon en volhoubaar (duurzaam) opgewek moet wees, en dat Nederland dan klimaatneutraal moet wees. CO2 (koolstofdioksied of koolsuurgas) se uitlaat moet ideaal teen 2050 met 95% verminder word, maar 45% sal afdwingbaar wees.

Die grondkwessie en klimaat is lank nie die enigste krisisse nie. En juis daarom is daar net nie tyd en plek om nog met onnodighede inbreuk te maak op noodsaaklike prosesse nie. Kundigheid moet met groot erns ingespan word.

Want wat help dit om iemand se grond by ’n boer af te neem, maar klimaatsverandering het daardie grond basies nutteloos gemaak? Of grondhervorming was deur beslaglegging “suksesvol”, maar die verskillende groepe in die land kan dit nie met mekaar uithou nie?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Albaster ·

Waarom klimaatswet opkom verstaan ek gladnie. Die ANC stemmer weet nie eers van klimaatsverandering nie so dit gaan nie die ANC se steun op enige noemenswaardige manier aanhelp nie.

Al ·

Ek stem saam dat EFF en wie ook al, a rent a crowd saamstel, mense aanhits en ‘sleutel figure’ stage op hierdie vergaderings. Kan hierdie vergaderings op n regsoogpunt dalk uitgegooi word as scammery?

Kerguelen ·

Daar is n groot eielandgroep tussen Suid Afrika, Australie en Antarktika met die naam van Kerguelen. Dit is koue maar bewoonbare eilande, maar is onbewoon en is een van die laaste plekke op aarde waarheen mense nog kan gaan hervestig. Dit raak nou almeer gerieflik om daar te woon soos wat die klimaat warmer raak. Stygende seevlakke se invloed behoort nie groot te wees daar nie want dit is hoog bo seevlak. Kan ons nie dalk met Frankryk, wie die eilande besit, onderhandel om daar te gaan woon en vir hulle op te bou nie?

Gestremde ·

Wie dit nou nog nie besef nie, sal dit seker nooit besef nie. Die ANC kaders en groot koppe het niks om hulself mee besig te hou nie. Gaan kyk maar waar gaan ‘n groot gedeelte van die staatskas se geld heen…vergaderings, konferensies, roadshows, ens. Hulle hoor van iets en weet nie rerig waaroor dit gaan nie. Reël ‘n groep om te gaan navorsing doen (vakansie oorsee te gaan hou) en dan gaan die volgende groep en reël vergaderings (Nasionale vakansie binnelands) om te hoor wat die eerste groep gedoen het. Daarna probeer hulle ‘n beleid instel (Provinsiale vakansie) alhoewel daar nie oordentlike navorsing gedoen is nie. Die hele proses val inmekaar of is nie uitvoerbaar nie (yuppie…het darem ‘n lekker vakansie gehad).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.