Nuuskommentaar: Diagnose: Terminaal korrup

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. (Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Van oudpres. Jacob Zuma se eerste ontmoeting met reg en geregtigheid het hy aangevoer dat dit alles net een persoonlike aanval op hom is. Niemand – veral nie voormalige adjunkhoofregter Raymond Zondo en sy kommissie – was werklik daarop uit om die waarheid te ontbloot of doodeenvoudige geregtigheid te laat geskied nie. Enige stappe van geregtigheid wat teen Zuma gedoen is, was eerder ʼn ongegronde en boonop onverklaarbare aanval op sy persoonlikheid.

Die enigste ding waaraan Zuma ooit skuldig was, was om absoluut stomgeslaan te wees oor hierdie onregverdigheid wat teen hom geskied. Ten spyte van sy natuurlike onskuld is Zuma egter uiteindelik aan minagting van die grondwethof skuldig bevind en 18 maande tronkstraf opgelê. Ongeag wat ʼn mens van die regspresedente van hierdie grondwethofsaak dink, was die oorweldigende meerderheid mense oorstelp hieroor. Zuma gaan uiteindelik vir íéts tronk toe.

Sommige het dit bestempel as ʼn volslae oorwinning van reg, geregtigheid en uiteindelik ʼn wedergeboorte van Suid-Afrika se regstelsel. Ander het die tronkstraf gevier, maar dit met die nodige skeptisisme bejeën wat enige iets Zuma-verwant toekom.

In haar gewilde popliedjie “Shake it Off” sing popster Taylor Swift oor die minagting waarmee ʼn mens se kritici en koggelaars hanteer moet word – hulle skendende opmerkings moet bloot soos water op ʼn eend se rug afgeskud word. Zuma het hierby geleer en dieselfde houding jeens sy tronkstraf en voorafgaande lyding gehandhaaf. Hy het net gesing “Schabir Shaik it Off”!

Nes enige popster met enige popliedjie maak, het Zuma gekyk na sy voorgangers, die suksesresep gekry en dit tot sy eie voordeel aangewend. À la boesemvriend en korrupsievennoot Schabir Shaik is Zuma vroeër uit die tronk gelaat op mediese parool. Dit wat uit die asse van KwaZulu-Natal se plundertogte gerys het, was toe nie ʼn nuwe feniks nie, maar eerder ʼn bekende ou tronkvoël.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement korrektiewe dienste (DKD), het Sondagaand in reaksie hierop opgemerk dat mense gewoonlik nie mediese parool oorleef nie. Dit is ook gewoonlik die rede waarom mediese parool in die eerste plek toegestaan word – sodat die terminale siek gevangene sy laaste paar weke of maande saam met sy familie kan deurbring.

Siende dat diegene wat op mediese parool vrygelaat word veronderstel is om terminaal siek te wees, kán hulle nooit teruggaan tronk toe nie. Die wet maak doodeenvoudig nie daarvoor voorsiening nie, siende dat hierdie mense na verwagting op mediese parool buite die tronk sal sterf. Hierdie is die werklike absurditeit van die situasie. Die wet maak letterlik nie voorsiening hiervoor nie, omdat die wet nie eintlik veronderstel is om daarvoor voorsiening te maak nie. Die enigste goed wat terminale siektetoestande kan omseil, is mediese wonderwerke of bonatuurlike ingryping – of korrupsie, soos wat ons nou weer eens leer.

Indien ʼn mens egter merkwaardiglik en wonderbaarlik en genadiglik mediese parool “oorleef”, soos wat Shaik het, is jy vry.

Schabir Shaik. Foto: Werner Beukes/SAPA

Verder word daar tradisioneel nie van diegene op mediese parool verwag om gemeenskapsdiens te verrig nie – juis omdat hul bepaalde mediese toestand terminaal van aard is. Sodoende sal Zuma waarskynlik die res van die vonnis tuis in Nkandla deurbring. Sy familie het ook reeds bevestig dat die beeste geslag sal word om sy tuiskoms te vier.

Die wyse waarop Shaik se mediese parool uitgespeel het, is redelik alombekend. Hoewel sy vonnis eintlik 15 jaar was, het hy weens sy swak gesondheid op die ou einde net 28 maande in die tronk deurgebring. Met sy mediese parool wat toegestaan is, het dokters dit eens gehad dat hy die finale fase van sy terminale siektetoestand betree het – sy dae was so te sê getel.

Volgens die dokters was hy klinies depressief, besig om sy sig te verloor, het hy reeds ʼn beroerte gehad en was hy eintlik gedoem om van uitsonderlike hoë bloeddruk te sterf. Meer as ʼn dekade later leef Shaik egter steeds ʼn luukse leefstyl op “geleende tyd”. Benewens hierdie wonderwerk is Shaik in Desember 2019 vrygestel van sy vonnis en hoef hy ook nie eers meer onder huisarres te leef nie.

Zuma is heel waarskynlik op pad om dieselfde te doen. In hierdie stadium is dit regtig moeilik om na die storie te luister en Zuma die voordeel van die twyfel te gee. Dit is sekerlik moontlik dat hy werklik terminaal siek is, maar gegewe sy huisvriend se wonderwerk-herstel is dit uitsonderlik onwaarskynlik dat hierdie nie ook ʼn klugspul is nie. Zuma is waarskynlik net besig met slinkse truuks in ʼn poging om reg en geregtigheid te vermy.

In 2019 het ʼn video die rondtes gedoen van pastoor Alph Lukau wat ʼn man by sy eie begrafnis uit die dood uit opgewek het. Wyl die man nog in sy kis lê, het Lukau hom beveel om op te staan, waarna die man in ʼn sogenaamde wonderwerk opgestaan het. Hierdie opwekking was ʼn spektakel van lae produksiegehalte met die man wat ooglopend in die kis gelê en asem haal het. Geen mens was egter nog ooit so verras deur hulle eie opwekking soos hy nie – daarvoor verdien hy sekerlik applous. Tog was die opwekking bloot ʼn geldmaakstorie wat Lukau en dié man saamgeflans het.

Sommige verhale vertel die wonderwerk van Lasarus en ander vertel bloot die oëverblindery van Lukau. Alles wat as ʼn wonderwerk voorgehou word, is nie noodwendig een nie. Wanneer die lyk in die kis lê en asemhaal, is dit net dalk nie ʼn lyk nie.

Diegene wat Zuma se tronkstraf gevier het as die herlewing van ons regstelsel, het baie vrae om vir hulself en ander te beantwoord. Zuma is dalk gewond, maar nog ongestorwe. Hierdie hele sage gaan mettertyd waarskynlik ontbloot word om ʼn misleiding, eerder as ʼn mediese wonderwerk te wees.

Sodoende was Zuma se arrestasie allermins ʼn herlewing van die regstelsel, maar eerder rigor mortis-stuiptrekkings daarvan. Die graf waaroor ons gaan staan, behoort dalk nie aan Zuma nie, maar aan die regstelsel wat hom pas vrygelaat het.

Zuma het in 2016 voorsien dat die ANC gaan regeer totdat Jesus Christus weer kom – dit gaan net dalk wees totdat Lasarus van Nkandla opstaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

cccp ·

Die enigste aspek van hierdie treurige sage wat verassend mag wees is die moontlikheid dat enige een deur die uitkoms verras is.

tweeling ·

Hopelik is daar nou ‘n totale verbod op enige beriggewing aangaan JZ.

Susan ·

Sal wonderlik wees om nooit weer iets van hom te sien of te hoor nie, sy gesig maak mens in elk geval naar!

Boer ·

Clive Derby-Lewis was mediese parool geweier met terminale kanker ek hy is toe later dood in die tronk. Lyk my as jy aan sekere partye behoord en jy is in die tronk, en jy hoes net sleg dan is jy virseker van mediese parool.

Boer ·

Sorry jammer ek is vekeerd hy was op mediese parool vrygelaat.

Susan ·

Ja vir Clive Derby-Lewis was daar beslis geen genade nie, hy moes sy straf tot die einde uitdien al was hy hoe siek, geen luukse lewe en golf vir hom weekliks nie!

Porseleintjie ·

Slag en smul Zuma. Elke dag terwyl jy nog kan. Iewers sal jou gisters jou inhaal en jy verwurg aan jou korruptheid.

Tokkel ·

Zuma, jy is ‘n skande vir ons land Suid-Afrika. Jy het regter Zondo aangestel, maar daardie man het deur jou gekyk, Jy en Shaik moet maar saam met die Guptas gaan golf speel oorsee. Trek ook sommer soontoe! Julle maak ‘n bespotting van die regstelsel, maar kom ons bly liewer stil…

Susan ·

Niks in hierdie korrupte regering en regstelsel is meer vir enige iemand ‘n verrassing nie. Dis tragies en skandalig hoe die korruptes en skelms voortdurend die bo toon voer en nooit vervolg word nie. Daar is te veel mense in die parlement en regering wat al gruwelike korrupsie en diefstal gepleeg het, en nog vry rondloop, selfs nog in hoë poste sit, maar begaan ‘n gewone wit burger selfs net ‘n klein oortreding word jy in hegtenis geneem en gevonnis. Ons sal moet vrede met die 3 de wêreld land omstandighede, want nêrens in hierdie land is daar enige wit redder wat enige leierseienskappe het wat in leiersposisies aangestel kan word nie, wat nog om die land te regeer. Meeste wit mense is maar te entoesiasties om die ANC te ondersteun en skouertjies op te trek en alles wat aan hulle opgedis word te aanvaar as reg en wag geduldig en tevrede op die volgende gatslag of skelmstreek van die regering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.