Nuuskommentaar: Die ABC van die verkiesing

’n Nuuskommentaarskrywer behoort in sy rubrieke nie polities kant te kies nie, maar sake onverbonde en feitelik te stel, sodat die leser sy en haar eie politieke keuses kan maak.

Beoordelings behoort deur ’n vakkundige bril, en nie ’n politiek-bevooroordeelde bril gemaak te word nie. Natuurlik het elke analis sy eie politieke voorkeure, maar hy/sy moet daarteen waak dat hierdie voorkeure nie soos ’n vuil onderrok uithang nie.

Analiste is egter ook mense, en kry dikwels, verdiend of onverdiend, ’n reputasie as “links”, “liberaal” of “regs”. Die grootste kompliment wat ’n analis egter kan kry, is dat hy/sy objektief is, en natuurlik sy huiswerk goed gedoen het.

Ja, nuuskommentare bereik ook soms ’n komkommertyd, waar dit nogal heelwat mediastudie kos om ’n skryfbare tema te vind. Soms baie filosofies (die uwe se belangstelling in filosofie is min of meer dieselfde as in wiskunde, en dit kan nie eens op ’n seismometer of koorspen gemeet word nie) van aard, maar ook daaraan is ’n behoefte. Soms verg dit heelwat navorsing omdat die onderwerp eintlik nie voortdurend in die kollig is nie, maar tog belangrik is, of binnekort belangrik gaan word.

Soms is daar ’n oorvloed van temas wat onder die loep geneem kan word. Om die belangrikheid te prioritiseer, is gewoon geen maklike taak nie.

Dis tog immers moeilik om te bepaal wat voorkeur moet kry.

Wat behoort voorkeur te kry te midde van Suid-Afrika se teenwoordigheid by vanjaar se Davos-beraad, die onthullings en ontkennings van getuienis voor die Zondo-kommissie, die afloop (of nie) van Brexit, en dat pres. Donald Trump hom nou, soos die opskrifte lui, tussen ’n muur en ’n hoë toring bevind? Die toring synde iets wat hy glo in Moskou beplan het tot kort voor die Amerikaanse presidentsverkiesing. Skielik is tronkpraatjies weer sterk in omloop. Ook Trump se beplande vergadering met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, in Februarie vanjaar gaan tot heelwat bespreking lei.

Nie een van die onderwerpe moet eenvoudig nou dadelik onder die loep geneem word nie, want vir elkeen van die onderwerpe is daar nog tyd, en sake kan nog vinnig verander. Lesers van Maroela Media is gelukkig dat ’n wye verskeidenheid van die land se voorste kundiges gereeld hul penne in belangrike nuusgebeure doop en net die beste produkte lewer, en wat gewoonlik in “Nou Pra’ jy” gepubliseer word.

Argieffoto: DA

Maar gister se nuuskommentaar, wat oor die aanwys van Peter Marais as Wes-Kaapse premierskandidaat van die Vryheidsfront Plus gehandel het, dui daarop dat daar sekere aspekte van die komende verkiesing is wat by minstens sommige voornemende kiesers/wegblyers verdere beligting vereis.

Waarskynlik die belangrikste aspek wat nou weer na vore tree is die stelling dat veral Afrikanerkiesers van die stembus moet wegbly, enersyds omdat die Afrikaners, en veral die “reg(s)denkende” Afrikaners te min in getalle sou wees, maar ook dat die trek van ’n kruisie legitimiteit aan die huidige staatkundige bestel sou verleen.

Die eenvoudige antwoord is dat elke stem tel, en dat die oomblik wat ’n mens ’n hamburger koop (en BTW betaal), op ’n openbare pad ry, ’n kind in ’n openbare skool het, belasting betaal … dan het ’n mens legitimiteit aan die stelsel verleen. Deur weg te bly van die stembus word ook hierdie waarheid in die werklikheid verskans.

Die meer komplekse antwoord is egter dat dit onbillik is om ’n ernstige beginselsaak so maklik van die tafel af te vee. Die ander kant van die munt is dat verskeie faktore, waaronder die bevolkingsamestelling, die staatsvorm behoort te bepaal, en nie die beleidsvoorkeure van een of meer politieke party nie. Dit is immers die ABC van die politieke wetenskap en politieke geografie dat dit die aanblaas van voortdurende konflik aanhelp as ’n heterogene land ’n unitêre grondwet kry. Die ganse Zuma-era is immers ’n demonstrasie van leemtes in die Grondwet.

Voorts, wat het geword van die letter en gees van die nasionale vredesooreenkoms?

Trouens, die lys van leemtes wat met die Grondwet en die legitimiteitsaspekte van die staat verband hou, is legio.

Weens ’n gebrek aan ruimte moet die voorgestelde antwoord weer eenvoudig en kort gestel word. Wegbly van die stembus verswak eenvoudig die eendersdenkendes van die wegblyers se posisie in die parlement en elders. ’n Saak word gereeld gemaak dat ’n wegblystem eintlik ’n stem vir die ANC is. Maar om beginselvaste mense minagtend sleg te sê wen geen argument nie, en bevorder tweespalt.

Tydens ’n besoek aan die Wes-Kaap ’n aantal jare gelede het die uwe die gevoel gekry dat in die Wes-Kaap demokrasie beteken dat ’n mens vir enige party kan stem, solank dit vir die DA is. Vir iemand uit die Vrystaat was dit immers baie verfrissend om te ervaar dat munisipale dienste jou werklikwaar werk.

Ten spyte van gereelde kritiek teen die DA, blyk dit uit leserskommentare dat baie Afrikaanssprekende kiesers steeds beplan om as vanselfsprekend vir die DA te stem. Die redes wat deurskemer het selde iets met beleid en beginsels te make, maar ’n persepsie dat dit die beste opsie bied om die ANC in die bek te ruk.

Hoewel die DA se verkiesingspraatjies nou skynbaar meer subtiel en genuanseerd is, word die indruk steeds gewek dat die gedagtes onderliggend aan vorige verkiesings se bogpraatjies soos “moenie jou stem op klein partytjies vermors nie” en “leen ons jou stem” steeds in gees leef.

In die proses word kiesers wat sterk voel oor beleid en beginsels, eintlik ontkieser deurdat hulle vir iets anders stem. Ja, om vir ’n party te stem wat doeltreffend kan regeer, en staatsmisdaad teenstaan, is belangrik, maar dit word nog doeltreffender deur koalisies gevorm. Koalisies voorkom juis dat stemme vermors word, of verlore laat gaan. Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het pas in die media op ’n skrywe van Natasha Mazzone van die DA gereageer waarin die kwessie van koalisies in meer detail onder bespreking gekom het.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en Peter Marais, die party se topkandidaat in die Wes-Kaap vir die eersdaagse verkiesing. Foto: Verskaf

Die keuse van Peter Marais as Vryheidsfront Plus Wes-Kaapse premierskandidaat het ook die ras-kwessie (saam met die aspek van minderheidsregte) op die tafel geplaas. Ook dit is ’n baie komplekse situasie – nie omdat dit so ingewikkeld behoort te wees nie, maar omdat die ANC, en later veral die EFF en BLF, die ras-kwessie allesomvattend terug in die openbare lewe gebring het.

Volgens woordeboeke en die Grondwet, asook internasionale reg, is ras nie ’n “rolspeler” in die positiewe reg (met ander woorde die bestaan van regte, soos wat mag en waarop geregtig is) nie. Rasregte is eerder negatiewe regte, soos wat NIE aan hulle gedoen mag word nie, soos uitgemoor word nie, nie teen gediskrimineer mag word nie, nie beledig mag word nie, ensovoorts. Minderheidsregte, soos in die positiewe deel bedoel, sluit aspekte soos taal en kultuur in.

Ras was dus ’n hele paar jaar lank, veral van Afrikanerkant, grootliks afwesig in die literatuur en navorsingstukke wat met Kodesa, die Volkstaatraad en ander verband gehou het. Die uwe kon selfs vir ’n paar jaar lank nuuskommentare skryf sonder om ras te noem. Dit kon egter nie volgehou word nie omdat eers van die ANC se kant, en later die EFF en ander, ’n totale rasbeheptheid en eendimensionaliteit geheers het, en steeds oorheersend is (en dit ironies nie-rassigheid noem).

’n Goeie voorbeeld was toe Beeld in ’n onderhoud met Gwede Mantashe, destyds sekretaris-generaal van die ANC, vra of die Afrikaner ooit minderheidsregte sal kan verwerf. Mantashe het dit op slag weggewys, maar in sy beredenering in plaas van na die Afrikaner na wit mense verwys, juridies gesproke ’n heel ander begrip.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Piet ·

Ek het in 1994 laas gestem, vir VF maar daaityd se Pieter het leë beloftes gemaak oor ‘n eie volkstaat, so ek het nooit weer gestem nie. Ek wou hierdie jaar gaan stem het (klaar geregistreer) omdat daar ‘n nuwe Pieter in beheer is, maar omdat daar nou nog ‘n Peter bygekom het, sal ek maar weereens nie gaan stem nie.

Chris ·

Daar is reeds vir ‘n geruime tyd ander Peter’s in die VF Plus, jy was net nie daarvan bewus nie, tog was jy bereid om VF Plus te stem, maar nou dat jy daarvan bewus geraak het, geval dit jou nie, wat het intussen betreffende die beleid van die VF Plus het verander?

Piet ·

Die beleid het nie verander nie, maar n beter leier is verkies. Soort soek soort. Soort help soort!

Paul ·

Ek kyk nou na die prentjie hier bo in die rubriek waar manne besig is om ‘n DA plakkaat teen ‘n lamppaal op te sit. Ons, ek en my vrou stap, hier in Nelspruit, drie maal weekliks op die Kaapsehoop-pad uit, so drie kilometer en terug, daar sien ons toe vanoggend al plakkate van die VF Plus pryk wat mens uitnooi om komende verkiesing vir hulle te stem, met geen ander party se plakkaat in sig nie.

Arina ·

Selfde in Pretoria hier an daar EFF en DA plakaat wat soos verlore blom pruik, terwyl die VF plus se plakate die lamppale oral oor die Noordelike gebiede en moot vele lamppale versier

christa ·

as iemand my net kan se waar verskil VF+ en Cope sal ek besluit vir wie ek stem. Dis net een van hulle en nie die DA nie

chris ·

in kort, stem cope, as jy nie eindlik gepla is oor spesifiek afrikaner belange nie

Wegblyer ·

Geagte Mnr. Toerien,
Om vir ‘n wegblyer te se “elke stem tel” is soos om vir ‘n vegitarier te se “braaivleis smaak lekker”. Enige ingeligte wegblyer verstaan die implikasies goed. Destemeer, wegbly is ‘n manier van protes aanteken teen “elke stem tel”.

Ek het self nog nie besluit of ek gaan stem, wegbly of ‘n ongeldige stem gaan indien nie. Daar is geen party wat vir my ‘n politieke tuiste verteenwoordig nie, en “stem vir die een waarmee jy die meeste saamstem” is net ‘n verskoning om middelmatigheid te aanvaar.

Felix ·

Korrek, as mens jou nie met ‘n party se missie kan vereenselwig nie, of daarmee saamleef nie, waarom jouself verloën? Alternatiewelik kan mens die tweede beste kies, keuse is myne .

Chris ·

Ek het een jaar nie gaan stem nie, ek wou die party waarvoor ek sou stem straf. Na die tyd het ek bekaf gevoel dat ek nie deel van die proses was nie, ‘n geleentheid laat vebygaan het om ‘n verskil te maak, want as vele ander so sou redineer? Ek het besef ek het myself verloën, ek was skoon siek en dit het my onvergenoegd gelaat.

christa ·

hoekom ‘n draadsitter wil wees? Bring jou kant en bid vir jou party.

Wynand ·

Ongelukkig is daar baie wegblyers in ons volkie wat lankal ‘n bydrae kon gemaak het as hul net wou moeite doen. Wegblyers is mense wat elke ou geleentheid gebruik om iets fout te vind om nie te stem. Wegblyers doen nie die afrikaners, nie die boerevolk of enige iemand ‘n guns nie behalwe die ANC en EFF. Hulle is hardkoppige kla kouse wat opgegee het, baie gee voor hul is die grootste afrikaners maar ja hulle het opgegee op die afrikaner ook. Mens kan hul selfs vergelyk met die hensoppers …hul optreede is skandelik. Baie soos Wegblyer hierbo het hul “selfgesentreerde illusie” van hoe daai ideale party moet wees. Ek het geen simpatie met hardkoppige wegblyers wat kla oor die toestand van die land nie. Gaan stem, dis miskien ‘n klein bydrae maar elke bydrae help

christa ·

kan nie glo dat daar nog mense nie gaan stem nie. Ons land is in ‘n krises maar as die dinges die wiel slaan is hulle gou om eiertjie te le,

Frik Lotz ·

VF Plus veg vir Afrikaans en veg vir jou kultuur, erfenis en geskiedenis. Die party is ook gekant teen regstellende aksie en onteiening sonder vergoeding. VF Plus dra minderhede se belange op die hart en staan sterk op minderheidsregte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.