Nuuskommentaar: Die Afrikaner, minderhede en Skotse referendum

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Alles dui op ’n kop-aan-kop stryd Donderdag wanneer die Skotte stembus toe opruk om oor onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk te stem.

Talle bekende en minder bekende minderheidsgroepe soos die Kataloniërs, Vlaminge, mense van Suid-Tirool, Korsika en die Friese stuur afvaardigings na die referendum.

Al hoe meer analiste begin parallelle tussen die Skotse verwikkelinge en die Afrikaner tref. Die aanvanklike, suiwer volkeregtelike vergelykings met en sonder streng juridiese vereistes word al lank onder die ontleedmes geplaas, maar nou het ’n ander dimensie duidelik na vore getree: die Renate Barnard-saak. Dié uitspraak het soos min ander dinge ’n gevoel van verwerping onder die Afrikaners losgemaak, en heel moontlik onder ander minderhede. Die polariserende impak is onder meer deur prof. André Duvenhage waargeneem en as paneellid van RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, genoem.

Intussen het die Skotte wat onafhanklikheid steun hul eie byna onmoontlike gevegte om te veg. In een van die jongste voorvalle het duisende Skotte by die BBC se streekhoofkantoor in Glasgow teen die BBC se “leuens, propaganda en breinspoeling” betoog. Baniere is geswaai met die woorde “licence to lie” en “British Brainwash Corporation”.

Klink dit nie vaagweg bekend nie?

Wêreldwyd is “kundiges” wat die onafhanklikheid teenstaan besig om hul name behoorlik met ʼn plank te moker. Die een argument na die ander word as “juweeltjies” opgetower. Een, Stevo Akkerman, “sukkel” om die logika te verstaan dat die Skotte wil wegdoen met Britse regering oor hulle, en dit wil “vervang” met ’n ander “regeringsvlak”, naamlik die Europese Unie. Analiste het egter lank reeds die veral Vlaamse, maar nou ook Duitse, aandrang op groter selfregering in Vlaandere minstens deels juis daaraan toegeskryf dat die bestaan van die Europese regering die persepsie vestig dat ’n “tussenvlak” soos die Belgiese regering as onnodig beskou word.

Voorts bepaal die grondwet van die Europese Unie dat minderhede baie sterk minderheidsregte moet hê, wat Spanje, wat lid van die EU geword het, in effek gedwing het om selfregering aan die Baske en die Kataloniërs te verskaf. Hierdie vereiste is een van die belangrikste redes hoekom Turkye nog nie lid van Navo kon word nie, en Turkye baie van die beperkende maatreëls op die minderhede soos die Koerde begin wegwerk het.

Akkerman verswyg ook dat die huidige Britse regering ’n referendum beplan waardeur die Britte kan besluit of die land uit die Europese Unie moet tree of nie.

Akkerman se volgende argument hou wel praktiese implikasies in. In Europa bestaan ʼn groep, bekend as Europese Vrye Alliansie met sy hoofkantoor in Brittanje. Hierdie organisasie verteenwoordig 40 staatlose volke in Europa. Dit is heelwat meer as Europa se bestaande aantal onafhanklike state. In die hoofkantoor is ’n kaart waarop hierdie volkere se “lande,” as sou hulle onafhanklik wees, uitgebeeld word. Dit is ’n chaotiese lappieskombers.

Die eertydse Groothertogdom Brabant is byvoorbeeld deur die grens tussen Nederland en België netjies middeldeur gesny. Brabants is ʼn taal op sy eie.

Dan het ʼn mens nog nie eens die kaart van Europa se eks- en enklawes onder oë gehad nie, waar allerlei staatkundige maatreëls geld om gebiede wat in buurlande val, maar kultureel by die ander land hoort, te akkommodeer.

ʼn Vorige sekretaris-generaal van Navo, George Robertson, som die situasie eintlik mooi op deur te sê die kommer bestaan dat die Skotse onafhanklikheid tot ʼn domino-effek en die Balkanisasie van Europa kan lei. In wese bestaan die domino-effek reeds. Onlangs het Venesië en omstreke oorweldigend in ʼn nie-amptelike referendum gestem vir onafhanklikheid van Italië. Die Kataloniërs het pas op reuse-skaal die strate ingevaar om te betoog teen Spanje se weiering om hul referendum vir onafhanklikheid later vanjaar te erken. Die Krim-skiereiland het in ’n wilde referendum glo vir onafhanklikheid van Oekraïne gestem en daarna Rusland genooi om die gebied te annekseer. Vroeër het Tsjeggië en Slowakye vreedsaam geskei.

Bangmaakstories en wolhaarstories word steeds mildelik teen die Skotte ingespan, soos dat Skotland nie verseker sal wees van opname in die Europese Unie nie (wat ʼn mate van waarheid inhou), en dat Navo hom die koue skouer sal gee (terwyl Navo reeds aangedui het dat Skotland baie welkom is om aan te sluit). Trouens, ’n Navo-oefening is pas in Skotland gehou. Brittanje se enigste geskikte hawe vir sy kernduikbootvloot is in Skotland. Die EU sal, as hy Skotland se lidmaatskap sou weier, oneerlik met sy eie grondwet omgaan, en ander gevalle in die verlede, soos die opname van oud-Sowjet-Republieke en ander versplinterde Oos-Europese lande nie navolg nie.

Daar is ʼn netelige kwessie in die beskouinge. Die EU het sy gewig vierkantig by die pro-Westerse regering in Oekraïne ingewerp, wat juis veg teen ’n soort federalisme of gevarieerde streek-outonomie. ’n Te opgewonde omarming van die Skotte kan Oekraïne kopsku maak En vanuit ’n strategiese oogpunt is dit nou belangrik dat Rusland nie opsigtelik (weer) sy sin kry nie, want dit raak ander lande soos Pole, Estland, Letland en Litaue wat reeds sterk binne die EU en/of Navo geanker is.

Die EU se bemiddeling tussen Kosovo en Serwië vind ook tot ’n groot mate stil-stil plaas, en is dit amper net Rusland wat dit af en toe aan die groot klok hang om op die EU se dubbele maatstawwe te wys.

Laastens, al verloor die ja-stem in Skotland, is selfs meer outonomie in elk geval aan hulle belowe.

Niemand weet nog hoe Skotland gaan stem nie (ook nie-Skotte in Skotland mag stem, maar nie Skotte wat in Engeland woon nie), maar die belangstelling is wel groot. Sowat 97% van die potensiële stemgeregtigdes het vir die verkiesing geregistreer.

Oor of die Skotte ekonomies gaan baat of agteruitboer deur onafhanklik te word, is daar groot meningsverskille. Aan die een kant word gemotiveer dat Skotland een van die rykste, en selfs dié rykste land ter wêreld kan word. Die meerderheid bronne meen egter die Skotte sal ʼn bietjie moet opoffer met die klinkende munt in die sporran (tradisionele heupsak van die Skotse mans).

Dit is nie net die Renate Barnard-saak wat polarisasie en vervreemding in die hand werk, en veroorsaak dat daar onder veral Afrikaners ook groot belangstelling in die verloop van die Skotse referendum is nie. Die regering se afsydige houding oor plaasaanvalle, die belaglike “grondhervormingsplanne,” en ʼn deurlopende aanslag op Afrikaans, is maar enkele van die ander faktore.

Die bekende DKD-saak het baie sluimerende gevoelens onder die bruin mense losgelaat, en verskeie bruin intellektuele wat in die ANC-dampkring beweeg het, by hul eie mense “uitverkoop”.

Waar die Skotte nou ’n referendum hou wat in wese daarop neerkom dat die ou opvatting van eerstens Brit, dan Skot, omgekeer word, word die debat gevoer oor hoe verskeie verwikkelinge nou saamspeel om ’n gees te vestig van eers Afrikaner, dan Suid-Afrikaner. Dit het onder meer, onbedoeld, neerslag gevind in die diskoers oor die sing van Die Stem.

Natuurlik is daar onder minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika nog diegene wat uit beginsel sterk gedagtes van Suid-Afrika eerste het, al raak hul skietgoed min en die kruit nat. Sommiges, in hul entoesiasme, klink soos die Joodjie wat na Hitler gaan luister het. Kort voor lank betrap hy hom dat as die opgesweepte skare, “unter mit den Juden!” skree, hy saam opspring en “unter mit Uns!” skree.

Oor presies waar die objektiewe lyn strek oor die noodsaak al dan nie om die “Suid-Afrika eerste” met “Afrikaner eerste” te vervang, kan en sal nog hard gedebatteer word. Die koers waarin dit sal ontwikkel hang egter nie net van die binne-politieke stryd van die Afrikaner af nie. Die regering se optredes, houding en wetgewing, speel ook ʼn enorme rol.

Hoe skerper die regering se rasbeheptheid word en hoe moeiliker dit raak om hierdie rasbeheptheid van rassisme te onderskei, hoe groter gaan die uitslag van die Skotse referendum op die Suid-Afrikaanse gemoed inspeel.

Kyk, en leer. En onthou, niemand is te oud om te leer nie, al is hy ook die president of die redakteur. En nog minder die analis. Die een wat gatvas in sy denke sit, gáán sy naam met ʼn fris plank moker.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Dr Pieter van der Dussen ·

Mens dink met heimwee terug aan die dae toe ons so hard gestry het om van Brittanje los te kom. Gelukkig kan mens as Afrikaner vandag sonder wraakgevoelens dinge aanskou. Daar word wyd erken dat die Engelse Oorlog die begin van die einde van die empire was. In die daaropvolgende tyd het Ramsay MacDonald, latere Britse Eerste Minister, se woorde in Oktober 1902 waar geword dat die Afrikaner die Brit se meerdere op die slagveld was en dit ook in die politieke raadsale sou word. Op 31 Mei 1961 het dit waar geword. En vandag na twee eeue van onreg teen die Afrikaner moet die Ingelse nou ervaar dat nie net die empire en die statebond nie maar selfs hulle sogenaamde verenigde koninkryk uitmekaarval – ongeag die uitslag van Donderdag se stemming. Jammer genoeg het die Afrikaner soos tydens die destyde oorlog die juk van verraad en verraaiers op hom gehad wat uit belangrike posisies die volk mislei het om hom vrywillig aan die ongenade van ‘n nuwe despotiese mag te onderwerp. Die propaganda van ondergang wat in Londen gefabriseer is, het as die stuiptrekkingsdaad van die sterwende empire die meerderheid alhier verlei om terwille van die behoud van hulle somerse en winterse wonings (Amos 3:15) hulle duur verkrygde vryheid vrywillig prys te gee. Noudat hulle dit tog verloor, ontstaan die gesindheid waarna Herman Toerien in sy kommentaar verwys. Die nuwe geslag is besig om na vore e kom. Hulle het op eie voete staanplek gesoek en gevind.

Michiel Erasmus ·

Die situatie in Nederland is totaal anders. Hier is geen enkel ambisie tot selfstandigheid. Friesland & Brabant sal nimmer nooit afskei van Nederland. Selfs een herening Vlaanderen-NL is so goed as NUL. Mense wat daarvoor streef is enkelingen niet eens op één hand te tellen!

In ZA is die situatie anders. Die afrikanervolk het niks aan die huidige ANC-regime. Ons sal ryker word, en ‘n klein welvarend republiek wordt net soos Nederland. Niet te klein om groots te zijn!!

Ek woon al 16 jaar in Nederland.

Herman Toerien ·

Michiel, die rede hoekom Friesies en Brabants af en toe ter sprake kom is gebaseer op waarnemings die afgelope aantal jare. Bv die eerste vertaling van di Bibel in Brabants, en die feit dat ‘n Friesiese afvaardiging na die geleentheid genooi is. Daar is ‘n taamlike herlewing van die Friesiese taal – ‘n komplekse storie omdat daar verskeie dialekte is, sommiges meer uitgesterf as ander. Maar van die basies afgewaterde Nederlands is Friesiese tekste nou weer duidelik in ‘n taal wat sy Skandinawiese verwantskap weerspieël. Terwyl die meeste Nederlandse koerante se sirkulasie daal, styg die Friesiese (wat ek laas gesien het). ‘n Koomp politici moes onlangs gaan uitvind hoe om Friensland te bereik om voor die verkiesings die mooi broodjies te gaan bak nadat daar voorstelle oorweeg is om Friesland as provinsie te laat verdwyn.
‘n Mens besef dis nie eenvoudig nie. Nie baie lank terug nie, het nog nie alle Nederlanders Standaard Nederlands onder die knie gehad het nie, met dié weergawe wat veral in nuwe gebiede, soos polders, bo streekdialekte vastrapplek gekry het.
My eie “Nederlands” is natuurlik nog sterk beïnvloed deur portrette van ouma met Hooghollands op, en ou boeke. So was ek onlangs eers verbaas om op te let ‘n Nederlandse krant skryf van suiker, nie zuiker, soos dit eers was nie. En toe let ek vir die eerste keer op hulle gebruik nie meer die woord “broeder” nie maar broer. En dit terwyl broeder nog diep gewortel is oa in die Dopperkerk.
Oor die Friese – ek is natuurlik baie subjektief beïnvloed. Eerstens omdat my stamvader uit Swede kom, maar baie van die Nederlanders wat ek oor die jare hier leer ken het blyk toe inderdaad Friese te wees. Dit is bloot ook net interessant hoeveel hier word predikante – Tjitte Wever, maar die vanne soos Postma, Denkema, Reitsma, Aartsma, Dykema ens loop ‘n breë spoor deur die SA-teologiese wêreld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.