Nuuskommentaar: Die Afrikaner se sangrewolusie

‘n Skermskoot uit Robbie Wessels se musiekvideo Voortrekkermonument.

Sangrewolusie” is die term wat gebruik word om te verwys na die gebeure wat gelei het tot die herstel van onafhanklikheid van Baltiese state soos Estland, Letland en Litaue van die Sowjetunie aan die einde van die Koue Oorlog. Die term verwys veral na die reeks patriotiese massabyeenkomste tussen 1988 en 1991 in Estland, waarin patriotiese liedjies deur bywoners gesing is.

Gewilde protesmusiek het in daardie tydperk ʼn belangrike rol gespeel in die herstel van onafhanklikheid in Estland deurdat dit die onderliggende sentiment van die volk verwoord het. Hoewel die musiek opsigself nie eiehandig die beweging na onafhanklikheid gedryf het nie, het dit die mense se onderliggende verlange na onafhanklikheid en volkstrots verwoord. Dit is in hierdie verwoording wat mense ook geborgenheid gevind het – die weerspieëling van die onderliggende sentiment in populêre musiek was ʼn bewys daarvan dat dit die norm eerder as die uitsondering was. Soos wat die gees van die Estlandse volk verander het, het hulle musiek saam verander.

Die rede waarom hierdie verskynsel so bekend voel, is omdat die Afrikaner die afgelope dekade deur ʼn weergawe hiervan gegaan het. Hoewel ons nie soos die Estlanders ʼn gekonsentreerde paar jaar van protes en massabyeenkomste gehad het nie, het ons onderliggende sentiment wel verander. Hierdie verandering is ook deur ʼn merkbare verandering in musiek gevolg.

Robbie Wessels het verlede week sy jongste treffer, “Voortrekkermonument”, uitgereik. Die liedjie se opname het gepaardgegaan met ʼn musiekvideo wat by die monument opgeneem is.

Die lied is vandag presies ʼn week gelede uitgereik en daar is reeds meer as 130 000 keer daarna op YouTube gekyk. Dit handel absoluut onbeskaamd oor die Slag van Bloedrivier, die monument as baken van Afrikaner-hoop en die viering van Geloftedag. Wessels sing verskeie uittreksels van Die Stem en dra ook een van die inherente boodskappe van die monument self oor: Ons vir jou Suid-Afrika.

Hierdie lied is onbeskaamd een van Afrikaner-trots, -tradisie en -geskiedenis.

Dit is tog noemenswaardig om die lied in die konteks van Wessels se diskografie te verstaan. Hierdie lied is deur dieselfde kunstenaar gesing wat met treffers soos “Leeuloop”, “Mphe Di Hoenor” en “Siya Kolisi” vorendag gekom het. Sy jongste treffer is dus een wat effe afwyk van die musiek wat hy gewoonlik maak. Wessels is eintlik ʼn uiters suksesvolle en talentvolle kommersiële kunstenaar wat ligte popmusiek maak, eerder as stringe patriotiese volksliedere.

‘n Skermgreep uit die musiekvideo van Robbie Wessels se liedjie Voortrekkermonument.

Die musiek van ʼn volk weerspieël sy hart en tydsgees. Afrikaanse musiek het oor die afgelope dekade ook stadigaan die veranderende sentiment onder die Afrikaner begin weerspieël. Musiek wat ʼn trotste gebondenheid aan dié land bevestig. Musiek wat ʼn ruimte skep waarin dit nie net veilig is nie, maar ook prysenswaardig om ín Afrikaans óór Afrikaanse te sing. Musiek wat weer ons kultuur en tradisies met vrymoedigheid vier.

Liedjies soos “Die land”, “Die Gelofte”, “Jou land”, “Plaasjapie”, “Ek bly ʼn boer” en “Monumentaal” het weer die vrymoedigheid om die wese en vryheidsneiging van die Afrikaner vas te vat – iets wat bloot nie in die eerste helfte van die ANC-regime so prominent was as wat dit in die tweede helfte is nie.

Nes die Estlandse vryheidsneigings in hul musiek en feeste gereflekteer is, word die Afrikaner se terugkerende vryheid- en onafhanklikheidsbesef weer in ons musiek weerspieël. Nes in Estland sal ons musiek ook nie die veranderende gees van die Afrikaner lei nie, maar dit volg en sodoende ook ʼn veilige omgewing kweek waarin dit verder kan groei.

Verlede jaar het die Voortrekkermonument die grootste gedokumenteerde Geloftefees nóg gehou. Indien Geloftedag vanjaar onverstoord sal voortgaan, sal vanjaar se viering na alle waarskynlikheid verlede jaar s’n oortref. Die Afrikaner se behoefte na geborgenheid in die gemeenskap en selfhelp deur onafhanklikheid is besig om terug te keer. Die Afrikaner-hart is gereed vir verandering.

Nes die Sowjet-beloftes Estland teleurgestel het, het aanvanklike beloftes van ʼn beter “Nuwe Suid-Afrika” die Afrikaner tesame met almal anders in die land liederlik teleurgestel. Ons word daarom nou genoodsaak om introspeksie te doen oor hoe presies ons dié probleem wil en kan oplos. Soos wat ons musiek weerspieël, gaan ons antwoord ʼn trotse pasgemaakte selfhelp deur die gemeenskap wees. Eerder as om af te breek omdat ons ongelukkig is, gaan ons onsself uit die krisis presteer.

Heinz Valk, Estlandse kunstenaar en aanvanklik munter van die term sangrewolusie, het oor Estland se eie sangrewolusie gesê: “’n Nasie wat sy rewolusie voer deur te sing en te glimlag behoort ʼn uitsonderlike voorbeeld vir alle ander nasies te wees.”

Hierin het hy die gees van die Estlandse “rewolusie” saamgevat. Die doel van die rewolusie was nie om te verwoes nie, maar eerder ʼn blote drang na onafhanklikheid te bevestig. Eerder as om die ongewensde te verwoes, wou die Estlanders bloot op hulleself aangewese wees en oor hulleself regeer.

vlag suid-afrika

(Argieffoto)

Hoewel ons eie sangrewolusie nie presies met Estland s’n ooreenstem nie, is die gees daarvan dieselfde. Soos wat die Estlanders op hul pad na vryheid gesing en geglimlag het, gaan ons ons eie pad na vryheid bou.

Die vorige keer wat hierdie gees onder Afrikaners hooggety gevier het, was in die vroeë 1900’s. In daardie tydperk het die Afrikaner ook besef dat die oorheersende sentiment onder die volk een van selfhelp en onafhanklikheid is. Die mobilisering van hierdie gees het gelei tot ons wat ons eie taal bou, ons wat onsself ekonomies ophef en ons wat onsself binne een geslag volledig moderniseer.

Hierdie gees heers nou weer onder die Afrikaner. Ons is nou weer reg om selfverantwoordelikheid te neem, onsself te bestuur en ʼn volkstrots op ons tradisie daardeur te koester. Dié gevoel is nou weer die norm, eerder as die uitsondering. Jy kan berusting daarby vind dat die mens links van jou en die mens regs van jou waarskynlik die gevoel in jou eie hart deel. Ons eie sangrewolusie bied uiteindelik ʼn tuiste vir hierdie ongesproke sentiment.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Nee wat dankie. Deur geluister met GROOT moeite maar dis plain net BAD! Soos in rerig BAD!!!!!!

Josef du Toit

Die artikel getuig van insig – iets wat nie gemaklik te versoen is nie met populêre lirieke wat ver verwyderd staan van bv “die lied van ‘n volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef” in Eitemal se ruisende Lied van Jong Suid-Afrika. Tog weerkaats hedendaagse treffers (hoe lig ookal) iets eg onder ons volk. Die gesinsfokus in die musiekvideo is nommerpas, maar daar is groot skade gedoen deur die ontbreking van die verheerliking van die eer van Sy Naam deur die gee van die roem van oorwinning aan Hom, soos die Gelofte ons leer. Mens snak saam in… Lees meer »

Jack

Ek is min gepla oor die kwaliteit van die verwerking en die lirieke. Wat vir my belangrik is is dat afrikaans lewendig gehou word in n land van onderdrukking van als wat afrikaans is. So ondersteun die sangers want hulle is ons mense. Dis hoogtyd dat die afrikaner weer n nasionale trots ontwikkel en ophou om alles wat ons eie is af te breek.