Nuuskommentaar: Die ANC en die howe

Argieffoto

“Hoe meer ingelig iemand is oor hoe die ANC se kongresse werk, en met hoe meer ingeligtes ’n mens oor die komende nasionale verkiesingskongres praat, hoe minder verstaan ’n mens wat aangaan,” aldus ’n bekende ontleder. Sedertdien het die deurmekaarspul net erger geword, en hofuitsprake help ook nie om sake eenvoudiger te maak nie. Die howe kyk egter na reg en geregtigheid, iets wat by veral die een ANC-faksie van die ANC absoluut geen punte tel nie.

Dit is net meer as twee weke voor die ANC se nasionale verkiesingskongres plaasvind, en steeds woel dit in die howe. In ’n hele paar provinsies is die howe opgesoek, waaronder KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Oos-Kaap. Telkemale het die Zuma-faksie van die ANC op sy baadjie gekry omdat daar nie volgens die ANC se eie grondwet opgetree is nie, en gekierang is.

En terwyl op appèlle gewag word, word voortgegaan asof daar geen hofswaard oor die verrigtinge hang nie.

Die ANC is nie van gister af gewaarsku dat die gekierang en gekonkel op takvlak end moet kry nie. Selfs koerante in hul hoofartikels het gemaan, juis omdat die stelsel so werk dat as dit handuit ruk, dit nasionale kongresse in gevaar kan stel – die howe kan byvoorbeeld die samestelling van afgevaardigdes as onwettig verklaar, en alle besluite van die kongres as nietig verklaar.

Die soort gekierang vind nie net in die ANC plaas nie, en verskillende metodes word gebruik. Dit het al telkemale veroorsaak dat partye se kongresse weens ’n uitgerekte registrasieproses tot ’n dag laat moes begin omdat die uitstrykproses tydens registrasie ’n tydsame proses is.

Soms word ’n twyfelagtige geval deurgelaat op voorwaarde dat ’n oudit agterna gedoen sal word wat uiteraard implikasies inhou dat besluite ongeldig verklaar word. So is die pasverkose provinsiale leier van die ACDP in die Vrystaat ’n aantal jare gelede weens die “skep” van stemgeregtigde afgevaardigdes uitgeskop. Die persoon, ’n geestelike, het daarna deel van die ANC se “religious desk” geword.

Die probleem is nou dat die gekierang met stemgeregtigdes binne ANC-strukture die afgelope aantal jare so ’n omvang aangeneem het, dat dit endemies geword het. ’n Pro-Zuma-faksie het so, aldus ’n uitspraak in die hooggeregshof, die beheer in KwaZulu-Natal oorgeneem. Die saak is nou op appèl.

Na ’n kortstondige geskarrel met sprake dat die Desember-kongres uitgestel sal moet word, wek Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, nou die indruk dat alles mooi in bedwang is. Maar die gewone mens wat sake volg en minstens redelik ingelig is, kan nog nie tot dieselfde slotsom kom nie.

Wat as …?

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n antwoordsessie in die parlement (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die les tot dusver is dat as alle dispute nie voor die nasionale kongres opgelos word nie, kan sake lelik deurmekaargekrap word as ontevredenes met genoeg bewyse weer eens die hof sou nader. Die land smag desperaat daarna dat Zuma as ANC-leier vir die land finaal agter ons geplaas word. Hy bly wel president van die land, maar in die praktyk kan die ANC hom redelik binne perke hou of selfs “herroep”.

Natuurlik is die howe nie baie in hul skik om op die terrein van die uitvoerende gesag betrokke te raak nie, en het dit ook al telkemale gestel. Streng gesproke maak interne partypolitieke sake nie deel van die uitvoerende gesag uit nie, maar dit is ’n konsep van grondwetlike demokrasie wat veral Zuma, maar ook die ANC, nie mooi begryp nie. Met hofsake oor interne partypolitieke aangeleenthede sal die hof hom byna uitsluitlik beperk daartoe of die party hom streng by sy eie grondwet hou. Waar teen ’n party beslis word, is dit omdat die hof tevrede is dat die ontevredenes reg is dat die party sy eie grondwet skend. Dieselfde geld vir sportklubs, kerke en ander burgerlike instansies wat in die hof beland.

Is daar ’n gesaghebbende politieke ontleder wat wil voorspel, en sonder om die woordjie “tensy” in te span, dat die nasionale kongres glad sal verloop en ook nie agterna deur hofsake of ander gebeure uitrafel nie?

Heelwat water kan binne die volgende twee en ’n half weke in die see loop. Dit lyk egter onwaarskynlik dat veral plattelandse takke, wat soms oor honderde opbetaalde lede bestaan, betyds suksesvol bymekaar sal kom om wettige besluite te neem. Volgens mediaberigte is die behaal van kworums onder die talle probleme waarmee opgesaal gesit word.

Die ete waarna Zuma sy opvolgkandidate genooi het, en sy boodskap aan hulle, maak dit duidelik dat geweld gevrees word. ’n Beroep is op die kandidate gedoen om hul ondersteuners tot vreedsame deelname en aanvaarding aan te moedig. In so ’n deurmekaarspul kan daar egter tog maklik ’n vuurhoutjie onder die kruitvat beland.

En dan is daar nog die bruin koevertjies ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Wat eintlik hier aangevoer word met die nodige stawing, is dat dié politieke party tot in sy weefsel korrup, oneerlik en sonder integriteit is. Dit sluit pragtig aan by Flip Buys se artikel van vandag.

Wat beteken hierdie toedrag van sake vir ons? Eenvoudig dat daar geen hoop op n verbetering bestaan met sulke karakters aan die regeer en bestuur nie. Net n Godsingryping kan die land red.

Casper Labuschagne ·

Die storie van Afrika: Net nog ‘n simptoom van postkoloniale verval waar orde afgebreek word na ‘n staat van entropie oftewel chaos. My woordeboek verklaar chaos as “ordelose massa, warboel.” Klink dit bekend?

Veritas ·

Herman daar is reeds ‘n aangesteekte lont op pad na die kruitvat. Dit gaan hier oor wie uit die korrupsietrog gaan drink en wie gaan dors ly. Niks anders is vir die ANC van belang nie. Daar is ‘n baie klein faksie van die ANC wat wel probeer om die party van selfvernietiging te red maar dit lyk nie of hulle gaan hond haaraf maak nie. As jy dink dat dié stemmery geweld gaan veroorsaak, is jy heelwaarskynlik korrek maar kan jy dink wat sal gebeur as die ANC die 2019 algemene verkiesing gaan verloor? Sovêr my waarneming strek, moet ek sê dat ons kans op ‘n burgeroorlog, nie so vergesog is as wat dit klink nie.

Casper Labuschagne ·

DIe werklikheid is dalk slegs nog meer angswekkend – die ANC sal net so min die verkiesing verloor as wat Zuma deur ‘n mosie van wantroue in die parlement onthef sal word. Laas keer het die pro-Zuma faksie ‘n slagkreet gehad, “the whites will not win.” Alle aanslagte teen Zuma word gesien as ‘n aanslag vanaf die wittes, en net daar draai Zuma se oponente om na sy verdedigers. Zuma het nog ‘n verborge troefkaart wat hy nog nie gebruik het nie – kom die wittes by. As hy die grond afvat kry hy onmiddelik genoeg steun om die grondwet te verander en nog ‘n termyn of tien staatspresident te wees. Sodra Zuma ‘umshini wami’ sing, dan sing al sy opponente in die ANC net so hard saam.

PJC ·

Casper ek dink as hier algehele chaos in die land uitbreek sal dit vir JZ uitstekend pas want dan sal die aandag nie by hom wees nie. Kan jy egter raai wie gaan die teiken wees as algehele chaos sou uitbreek.

John ·

Die eintlike probleem is gelee in ons glo wonderlike grondwet wat toelaat dat faksies slangetjies-en-leertjies-geldjies-en-geweertjies kan speel in die presidensiele-opvolgproses ~ en die regstelsel moet nie kla oor die baie werk nie, hulle was ook betrokke by die opstel daarvan. Die ‘regte mense’ moet stem om die ‘regte’ kandidaat bo te kry, ‘by hook or by crook’. Dit is die briljante gevolge. En volgende keer gaan dit weer moet gebeur. Hoe slim! Intussen hoop Zuma sy vriende in die vervolgingsgesag (dieselfde Monopoly-speletjie) gaan hom vrywaar sodat hy kan aanspeel tot 2019 of die ‘jail’ vryspring sou antie-Z se impi’s toevallig nie met ‘n sluwe handspel wen nie. En die res van ons moet hierdie teatrale fiasko @aanskou. Miskien moes Cyril ook nie destyds so lief vir gebraaide padda-boutjies gewees het nie, want nou braai hyself en kan straks verorber word deur ingewyde besoekers aan Frankryk. Was ons slimste-janne DeKlerk&kie darem nie destyds lekker aan die slaap gevang nie… (Nou maak hulle of hul slaap om die gevolge nie te moet aanskou nie…)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.