Nuuskommentaar: Die ANC se skynheilige korrupsie-klaaglied

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

In Augustus vanjaar vier die Zondo-kommissie sy tweede bestaansjaar. Twee jaar, 245 sittings en R700 miljoen later met nie een vervolging om daarvoor te wys nie.

Byna elke vlak van regering en sfeer van ANC-mag is reeds by hierdie kommissie van een of ander vorm van korrupsie beskuldig. In die lig van hierdie herdenking is die ANC-uitsprake rondom korrupsie die afgelope maand besonders noemenswaardig.

In pres. Cyril Ramaphosa se mees onlangse toespraak aan die nasie het hy ʼn nuwe Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) aangekondig. Hierdie eenheid het ten doel om korrupsie te ondersoek wat uit die Covid-19-pandemie gespruit het. (Korrupsie wat natuurlik plaasgevind het ten spyte van die president se pleidooie om hierdie optrede te vermy.)

In die daaropvolgende week is talle name geopper, waaronder dié van die president se eie seun, sy woordvoerder asook Ace Magashule se seuns.

Die afgelope naweek het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) oor die saak vergader. Uit dié vergadering het die NUK se verklaring by monde van Magashule gevloei. Verder het Ramaphosa sy weeklikse nuusbrief aan dié saak gewy:

“Korrupsie tydens ʼn nasionale ramp is ʼn uiters gruwelike tipe misdaad, en daar gaan hard en ferm teen oortreders opgetree word.”

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Magashule het in die NUK se verklaring ook sterk uitgevaar teen korrupsie. Hy het erken dat die NUK skaam én woedend is oor die korrupsie en dat die openbare woede hieroor volledig geregverdig is. Buiten hierdie openbare belydenis van die ANC het hulle streng stappe teen die beweerde korrupsie aangekondig.

(Uit die verklaring het ʼn mens wel die gevoel gekry dat Magashule nie noodwendig skaam en woedend is oor die korrupsie self nie, maar eerder oor die feit dat iemand gedurf het om daaroor verslag te gee.)

Die verklaring spreek van ʼn ANC wat in grote vernedering gedwing is tot introspeksie.

Ten einde die werklike belaglikheid van die situasie te waardeer, moet ʼn mens egter in ag neem wié die verklaring uitgereik het.

In Maart verlede jaar is Pieter Louis-Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Magashule’s Web of Capture gepubliseer. Hierdie absoluut verdoemende boek ondersoek Magashule se geskiedenis van korrupsie en sy posisie as hoof van ʼn goed georganiseerde staatskapingnetwerk.

Die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh maak verskeie aantygings in sy jongste boek oor staatskaping en veral oor die die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule.

Uit die boek self het Magashule die bynaam “Mr 10 Percent” gekry. Die bynaam verwysend na die 10% van alle regeringskontrakte in die Vrystaat wat Magashule glo vereis het om te kry. Die Valke het ook in 2018 reeds in Magashule se kantoor ingevaar in ondersoek na sy bedrywighede as premier van die Vrystaat.

In eenstemmigheid het die ANC en Magashule egter dié boek afgemaak as fopnuus en die reaksie daarop ʼn goed gekoördineerde media-aanval genoem. Volgens die ANC het Myburgh reeds sedert 2016 leuens oor Magashule versprei met dié boek as kroon van hierdie leuens.

Die ANC het erken dat hulle al foute in die verlede gemaak het, maar dat hulle besig was om weer op te staan. Dit spesifiek onder leiding van pres. Ramaphosa en die top-ses. Enige aanklagte van korrupsie sou in die lig hiervan noodwendig absurd wees – die ANC was immers besig met ʼn morele herlewing. Hulle het Myburgh se bewerings van korrupsie en staatskaping afgemaak as sensasionele fopnuus wat beoog om die ANC se 2019 nasionale verkiesingsveldtog te ondermyn.

Selfs nie die see kan Magashule skoonwas van al die bewerings en bewyse van staatskaping wat in sy loopbaan al teen hom ingebring is nie. Nou staan ons en luister hoe hierdie selfde man oor die korrupsie van die ANC treur. Dit is byna so lagwekkend skynheilig soos die anti-rassisme veldtog wat die ANC vroeër vanjaar van stapel gestuur het.

ʼn Groter gaping tussen woord en daad bestaan daar waarskynlik nie as die ANC se hantering van korrupsie nie.

Argieffoto

Die ANC het nog nie een keer in die afgelope 26 jaar korrupte optrede openlik goedgepraat nie. Daar waar dit ontbloot is, het hulle dit nog altyd óf ontken óf hul foute erken. Tog het korrupsie oor die afgelope 26 jaar floreer. Staatskaping het Suid-Afrika na beraming reeds tussen R500 miljard en R1,5 biljoen gekos.

Dit is dus irrelevant wat die ANC oor korrupsie sê. Hulle moet veel eerder op hul dade as hul woorde veroordeel word. En volgens dié maatstaf het hulle om die absolute minste te sê nie die beste geskiedenis nie.

ʼn Onlangse studie van post-Sowjet-state het die verwantskap ondersoek tussen korrupsievlakke en die gewig van die politici in die staat. Die studie het bevind dat die mees korrupte state oor die algemeen vetter politici het.

Die bevindinge is waarskynlik letterlik, maar beslis metafories op ons regering van toepassing. Die ANC het hulleself die afgelope 26 jaar dikgevreet aan die welvaart van hul landsburgers. Hulle het gesteel waar hulle kon vir so lank as wat hulle kon. Met elke rand wat gesteel is, het hulle plegtig verklaar dat korrupsie absoluut geen plek in ons samelewing het nie.

Die enigste ding snaakser as die regering se skynheiligheid is die desperate hoop dat ons hulle nog glo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

koos10 ·

Ace Magashule, when are we going to see your planned court case against Pieter Louis-Myburgh, or are you afraid that the accusations he made will be supported with facts and proof in court?

Mike ·

Die skrywer van die boek is welbekend, die boek is al ‘n paar jaar gelede gepubliseer en Mr. Magashule het dit as “fopnuus” afgemaak – waarom tree hy dan nie op teen die skrywer en die publikasie huis van die “onwaarhede” nie. As ek op so ‘n massiewe skaal valslik beskuldig word dan sal my verweer veel groter wees as bloot dit te bestempel as “fopnuus”
Net so pateties is dit wat voortspruit uit die Zondo Kommissie. Regter Zondo doen goeie werk en nou wat….?

Morné ·

Cyril kan en gaan niks doen nie! Hy is soos my buurman se klein poedel, blaf elke dag heel dag maar byt nooit net n damn iritasie. As hy een moet vervolg moet hy n ander een ook, dit beteken die hele anc gaan tronk toe moet gaan vir korupsie. Wie gaan dan regeer? Hulle het dit duidelik gemaak hulle kies hulle party voor die land.

Andre ·

Nee wat.Geen kommisie het nog ooit iets uitgerig as dit deur die ANC aangestel is nie.Vergeet daarvan.Moenie enige iemand se tyd verder mors nie.Net woorde en geen dade.Was die Zondo kommisie bevoeg en onafhanklik en gelei deur sterk en konkrete denkers met wit regters in beheer was die hele staatskaping in een maand geondersoek en die skuldiges lankal gevonnis.

tweeling ·

Miljard en biljoen is dieselfde. Diefstal van die staat het die land R1.5 triljoen gekos

Johann ·

As ek reg verstaan, lieg n PSIGOPAAT só dat hy homself glo en/of regverdig? Wel, dan sit ons met n psigiatriese hospitaal genaamd ANC. Wat my verbyster, is dat die ingeskoolde massas steeds agter hulle aanloop en in mag hou? Of is dit n ander psigologiese kwalifikasie eie aan Afrika?

Anoniem ·

Een van die dae steek die Zondo kommissie se kostes die Staatskaping kostes verby.

Mariana ·

Kommissie ja, kommissie op korrupsie ja. Rig niks uit nie en verdien miljoene. Belastingbetalers se geld.

Althes ·

Die ANC is verstommend arrogant. Hoe onnosel dink hul is die landsburgers?

Inkpot ·

Dieselfde gaan gebeur as met die Zondo kommissie se reeds vermorste R700 miljoen.
Niks.
Waarom nog geld op ń ondersoekeenheid vermors? Dalk omdat hulle bang is vir die Valke?
Ramaphosa se seun én Magashule se seuns word immers hierby betrek asook Ramaphosa se woordvoerder.
Nou beweer hulle dat hulle woedend is oor die korrupsie, komende uit die mond van Magashule wie se geskiedenis oor korrupsie nie ń geheim is nie.

Yolandie ·

R700 miljoen later en nog geen persoon vervolg vir korrupsie nie….NIEMAND!!!! Liar Liar pants on fire. Cyril we do NOT believe you anymore!!!!!

christo ·

Die Zondo kommissie is ‘n klug. Almal is bang vir die ANC se vergeldings. Die dood van Bosasa se Watson laat soveel vraagtekens in die lug hang. Die NVG is te bang om politici te vervolg en is maar net nog ‘n ondoeltreffende leë belofte staatsinstansie.

Marthinus W ·

Die studie mag miskien metafories beskou word, maar die bron waarin dit gepubliseer is, Eurasianet, se bona fides is onder verdenking. Dit word vanuit die VSA (Columbia Universiteit) bedryf, met geld deur George Soros se Open Society Foundation, Google, en die Amerikaanse NRO National Endowment for Democracy. Eersgenoemde en laasgenoemde is aktief bedrywing in lande waarin Amerika “kleurrevolusies” wil begin, of reeds besig is. En een van die raadslede, Jeffrey Trimble, is lid van Radio Free Europe/Radio Liberty, die VSA en Navo se propagandaradiostasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.