Nuuskommentaar: Die ander Joodse staat en moontlike lesse vir SA minderhede

ʼn Reuse menora voor ‘n treinstasie in Birobidzhan, die administratiewe sentrum van die Joodse outonome staat, Oblast. Dié foto is op 7 September 2017 geneem. (Foto: Iuliia Subbotovska/AP)

Israel is nie die enigste Joodse staat ter wêreld nie, met nog ’n Joodse staat, die Joodse Outonome Oblast, naby Wladivostok in Siberië wat amptelik met dié status spog.

Trouens, dié Oblast het in 1934 formeel as Joodse staat tot stand gekom, 14 jaar voor Israel tot stand gekom het. Van die eerste Joodse migrante was van die destydse Britse Palestina afkomstig, en ander van lande soos Argentinië, die VSA, Frankryk en Kanada.

In Russies staan dit bekend as Евре́йская автоно́мная о́бласть, Yevreyskaya avtonomnaya oblast; en in Jiddisj as ייִדישע אװטאָנאָמע געגנט‎, yidishe avtonome Gegnt (hierna die Oblast genoem).

Hoewel die gebied formeel as Joodse staat ontwikkel is, maak Jode nou slegs sowat 1% van die bevolking uit met etniese Russe wat meer as 90% van die bevolking uitmaak. Sensus ná sensus toon aan dat die Joodse bevolking nie net persentasiegewys ’n kleiner persentasie van die bevolking uitmaak nie, maar ook getallegewys minder word.

Landbou is die grootste ekonomiese aktiwiteit in die staat, maar mynbou is ook baie belangrik.

Hoewel die meeste oorspronklike Joodse inwoners van elders uit Rusland afkomstig was, het baie etniese Russe ook daarheen verhuis. ’n Belangrike rede was dat dit die enigste gebied in die kommunistiese Rusland was waar private grondbesit moontlik was.

Baie Joodse inwoners het, ná dit moontlik geword het, na Israel geëmigreer, maar die meeste hedendaagse immigrante kom weer van Israel af, sodat Hebreeus as taal naas Russies en Jiddisj ook nou ’n faktor word. Trouens, van die rabbi’s is Hebreeus, en nie Jiddisj nie, magtig.

Wat is die toekoms van die gebied? Volgens ’n plaaslike rabbi trek meer Jode van Israel na die Oblast as omgekeerd, al stuur Israel deurlopend immigrasieveldtogte van stapel in die Oblast.

Selfs kenners van die gebied waag dit nie sommer om ’n antwoord te verskaf nie. ’n Gewilde antwoord is dat belangstellendes die gebied self moet kom besoek en self kyk. Dit dui daarop dat selfs die mees positiewe mense onseker is oor die Joodse element van die gebied. Die mees onlangse goewerneurs (premiers) wat verkies is, was almal lid van sterk pro-Russiese partye, wat eenheid met Rusland nastreef.

Maar wat kan Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe uit die Russiese geval leer, wat selfs volgens Jode van elders “nie heeltemal ’n sukses is nie”?

Een van die redes vir die stigting van dié Oblast op die grens met China was dat dit so te sê onbewoond was. China en Japan het hul oë op die gebied gehad. Die vroeëre Sowjetleiers wou minderheidsgroepe se lojaliteit behou, en met ’n groot Joodse bevolking, veral in die Oekraïne en Wit-Rusland, was die Jode ’n belangrike faktor. Aanvanklik is besluit om hul tuisland in die Krim te vestig, maar omdat dit onder meer reeds sterk bevolk was, is eerder op die bykans onbewoonde gebied in die ooste van Siberië besluit.

Stalin, wat ook vir die gedwonge verskuiwing van die Krim-Tartare na Siberië verantwoordelik was, het ’n belangrike rol hierin gespeel. Die einste Stalin het later die Jode in die Oblast geviktimiseer deur onder andere die goewerneur tereg te laat stel, asook Joodse sinagoges en ander instellings te sluit.

Vandag is Russies die derde grootste taal in Israel, met net Hebreeus en Arabies wat meer sprekers het. Baie Israelse burgers is ook Russiese burgers, en baie Jode met Israelse burgerskap woon in Rusland, veral in Moskou. Hoewel Rusland en Israel hulle gedurende die Koue Oorlog in teenoorgestelde kampe bevind het, is die bande tussen die twee lande nou besonder heg.

Om presies vas te stel wat met Russiese betrekkinge met Israel, en die toekoms van die Joodse Oblast aangaan, is egter baie moeilik omdat die skrywers van inligtingstukke en artikels dikwels sigbaar bevooroordeeld is en die waarheid in die slag bly. So sal sommiges noem dat baie Russe na die Oblast verhuis het omdat dit die enigste gebied in die Sowjetunie was waar private grondbesit moontlik was. Ander sal in oordaad beklemtoon dat die aanvanklike setlaars sterk sosialisties-gesinde Jode was. Iets rym opsigtelik nie.

Tog kristalliseer sekere faktore uit waarvan ’n mens moet kennis neem.

Die belangrikste is dat ’n etniese staat wat deur ander, veral groter bevolkings, omring word, nie sommer kan aanvaar dat hulle ’n meerderheid in hul eie gebied sal kan handhaaf nie. Wat die Oblast betref, was die Jode nooit ’n meerderheid nie, hoewel persentasiegewys ’n groter deel van die bevolking. Veral met die bou van die Trans-Siberiese spoorlyn was daar ’n groot toestroming van Russe en ander groepe, sodat die Jode nou kwalik die derde grootste groep is.

Veral as volkome onafhanklikheid ter sprake is, maak die internasionale reg sake baie kompleks. ’n Land wat deur sesessie of partisie tot stand gekom het, se onafhanklikheid kan makliker erkenning kry as dit ’n minderheid verteenwoordig teen wie gediskrimineer is. Maar die oomblik dat daardie volk op rassegrondslag onderskei, of self teen ’n minderheidsgroep in die gebied diskrimineer, is daar nie van erkenning sprake nie.

Meerderheidsbesetting moet dus deur ’n mynveld bewerkstellig word én gehandhaaf word. Hoewel onafhanklikheid van die Wes-Kaap min belangstelling kry, skep die instroming van mense uit die Oos-Kaap heelwat probleme, sodat die Afrikaanssprekende meerderheid se meerderheidstatus, statisties geprojekteer, in die gedrang kom. Die aankomelinge dring op Engelse onderrig aan, wat ook groot druk op die begroting plaas.

Aan die ander kant moet ook iets gesê word vir vasberadenheid. Ondanks slegs 1%-verteenwoordiging van die Oblast se bevolking, is straatnaamborde feitlik voor die voet in Jiddisj en Russies. In die hoofdorp, Birobidzhan, het Leninstraat net ’n straatnaambord in Jiddisj. Die boog buite die dorp bevat ook die dorp se naam in Russies en Jiddisj.

Jiddisj is naas Russies die amptelike tale van die gebied.

Dit sal egter ’n veel, veel deegliker studie verg om te weet of volkstaters iets van hierdie voorbeeld kan leer. Die gebied se 80ste herdenking is immers onlangs gevier en dit lyk ten minste seker dat veel geleer kan word, positief én negatief.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Daar is beter verhoudinge tussen die huidige Russiese regering en Israel/Jode in die algemeen as tussen Afrikaners en die ANC-regering. Die woord rassisme word nie in die inligtingstuk gemeld nie. Rusland het per slot van sake die Nazi’s teègestaan. Geen grond sal deur die VN aan Afrikaners toegestaan word, weens die aard van die liggaam, hoewel Jan Smuts ironies genoeg ‘n stigterslid was… wat later teen sy eie mense gedraai het. Sou Afrikaners wel soiets kon bewerkstelling is daar geen land wat hierdie groepie sal ondersteun nie, en die vyand sal dit uitmergel tot ‘n konsentrasiekamp vol ellende. Net ingryping van Bo kan veranderinge bewerk, met SA reeds op die rollercoaster na ondergang en Trump onder beleg.

Rasper ·

Dit is lekker om sulke goed te lees. Verbreed ‘n mens se kennis. Ons ou volkie doen mos alles om die braaivleis-vuur….. belasting beplanning, Volkstaat – beplanning. Eendag is eendag, dan sal ons kinders se kinders se kinders, in Afrikaans, praat oor hoe ons geslag oor hierdie “Drakensberg” gekom het. Dan gaan hulle wonder oor hoekom hulle nie so kan saamstaan soos ons dit kon doen in 2019 nie. Min het hulle geweet…… Hopelik doen hulle dit nogsteeds om ‘n braaivleis vuur.

Herman Toerien ·

@ Henriette. Baie dankie. Ek lees soms iets raak, en bêre dit in my agterkop vir wanneer daar nie iets baie NB is nie, of reeds tot vervelens toe ontleed is, en gebruik dan daardie onderwerp. Dit beteken gewoonlik nog ‘n uur of twee vroeër opstaan as gewoonlik om die onderwerp op datum na te vors, en dankie tog vir dr. Google se hulp. Ek is baie bly jy het dit interessant gevind.

Attie No1 ·

Ek wil tog hier iets byvoeg: Die artikel onderstreep vir my die noodsaak van besetting! Hulle kan n Afrikaner volkstaat enige plek uitroep of polities afdwing, as niemand daar gaan woon nie is dit nutteloos. Orania groei so bietjie bietjie elke jaar en al word dit nooit meer as n plattelandse stad nie maar beskik oor slegs Afrikaner besetting dan het hulle baie meer vermag as die voorbeeld in die artikel.

Deon ·

Daar is ook ander republieke binne die Russiese Federasie, insluitend Tartastan, El Mari, Tjetsnië en Dagastan. Almal het ‘n lang geskiedenis. Hulle het baie selfstandigheid soos taal, kultuur, onderwys en ekonomiese ontwikkeling. Die Morawiërs in die Tjeggiese Republiek diesefde.

Buite Stander ·

Geografiese onafhanklikheid in terme van die grondwet is skynbaar ontmoontlik. Ek wil graag weet: Indien die Zulu koning besluit om Zululand onafhanklik te verklaar en sy onderdane steun hom, wie gaan hom keer? Dieselfde met die Xhosa konings. Indien die meerderheid in Suid Vrystaat deel wil word van Lesotho, wat dan? Dit kan ook deure oopmaak vir Afrikaners aan die Weskus om dieselfde te doen. Indien die Kapenaars wil wegbreek, moet hul opskud want die venster is besig om toe te gaan.

Adam ·

Enige Afrikaner wat in ‘n volkstaat wil gaan bly moet sy kop laat lees.

Boerboel ·

Enige Afrikaner wat dink ons volk sal kan oorleef sonder ‘n seker mate van selfbesikking moet sy kop laat lees.

Adam ·

Leon, ek verduidelik my standpunt met graagte siende dat jy dit op so’n beskaafde wyse vra. Ek glo dat beide van ons graag ‘n beter bedeling vir die Afrikaner wou sien en beheer oor sekere aangeleenthede begeer. Ongelukkig verteenwoordig ons ‘n al kleiner deel van die bevolking, tans tussen 7 en 8%. Hoe volhoubaar sou ‘n volkstaat wees gegewe die feit dat die verdeling van hulpbronne moeilik sou wees, die bou van infrastruktuur duur is en dat daar waarskynlik arbeidsprobleme sal wees. Die idee sal ook nooit genoeg stukrag kan kry weens verdeeldheid onder Afrikaners nie. Blankes is oor die algemeen huidiglik nie gretig om arbeiders-tipe werk te verrig nie. terwyl ons voorgeslagte geen problem gehad het om hul moue op te rol om nederige werk te verrig nie. Die ekonomie van skaal sal ook nie in ons guns wees nie. Die argument raak net die oppervlak weens gebrek aan ruimte. Ek is trots Afrikaans en sal my arms afbaklei vir ‘n staanplek in die son, maar ek het vrede gemaak met die feit dat ek deel is van ‘n minderheid en dat ek self verantwoordelikheid sal moet neem vir die voortbestaan van ons taal, kultuur ens. Daar is boonop nog baie geleenthede in SA en ons moet leer om op te hou om met die witbrood onder die arm te kla.

Leon ·

Adam, baie dankie vir jou reguit antwoord en logiese argumente. Indien ons in ‘n land gewoon het waar die minderheid deur die regerende meerderheid gerespekteer word sou ek met jou 100% saamstem. Maar ongelukkig is daar SEB, regstellende aksies, drastiese grondhervorming en ‘n taalstryd by skole. Vraag is hoe lank gaan dit nog aanhou. SA gaan oor die volgende 10 tot 20 jaar dramaties verander. Die ANC het die swart jeug in die steek gelaat. Miljoene is werkloos en met ‘n swak onderwysstelsel en dreigende voedseltekorte is daar nie veel hoop vir die jonges nie, en sal hulle militante leiers begin aanhang wat tot ‘n staatsgreep kan lei. My vrees is dat ‘n potensiële revolusie die Afrikaanse minderheid as toeskouers gaan laat, en waarskynlik ook slagoffers. Malema gaan lyk soos ‘n goeie sondagskool onnie teen die leiers wat kom. Daar is min wat Afrikaners daaraan kan doen. Identiteit sal mettertyd irrelevant word, want ons sal moet veg om te oorleef. Die idee van ‘n volkstaat lyk dalk na ‘n droom, maar om terug te sit en gaan nie ook nie help nie. Daar sal uitdagings wees, maar ‘n “trigger”kan dit wel begin sodat mense soontoe wil verhuis. Nie net nog ‘n Orania nie, maar wel ‘n gebied wat gegrond is op ‘n kennis ekonomie en die 4de Industriële Revolusie waar inwoners waarde toevoeg in ‘n veranderde wêreld. Moontlik is ek pessimisties oor SA, maar ek kan nie sien dat ons tussen ‘n sukkelende meerderheid gaan oorleef nie.

Adam ·

Leon, baie dankie vir jou kommentaar waarmee ek volkome eens is. Jy noem tereg dat ons ‘toeskouers’gaan wees indien daar nie ‘n alternatief kom nie. Ons grootste probleem is ‘n korrupte regering, patetiese oppossie en die feit dat osn die enigste land op die planeet is waar ‘n meerderheid hulself teen ‘n minderheid beskerm. Die ander penarie is dat groot moonthede vere voel vir die huidige SA. Jare gelede was SA ‘n goeie bondgenoot (alhoewel nie ‘n gewilde een weens die teenkanting oor apartheid nie), oa weens ons sterk weermag en enorme natuurlike hulpbronne en natuurlik ons innoverende benadering op die gebied van die wetenskap (bv Prof Chris Barnard), die vervaardiging van wapens. Dit het alles verlore gegaan. Daar is bykans nie meer bosduiwe wat in die weermag vlieggereed is nie, ons infanterie en artillerie en geniekorpse is oneffektief, die vloot het beswaarlik ‘n paar “rubberducks”. So waar gaan ons heen? Die hopelose regering onderdruk entrepeneurskap, voer sotlike arbeidswetgewing deur en melk die bevolking genadelooos met belasting om die boeke te balanseer terwyl SOE’S bestuur word deur korrupte kaders wat bloot uit is op plunder en die regering weier om te privatiseer omrede hulle deu vakbonde gyselaar gehou word. Jy en ek weet dat daar nie ‘n Thatcher gaan kom om hulle op te klits nie en indien ons glo Gordhan is die ekonomie se Florence Nightingale is ons ook verkeerd. Omrede blankes gemelk moet word en agv die gebrek aan eenheid sal ‘n volkstaat net ‘n droom bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.