Nuuskommentaar: Die bal laat val

Argieffoto

Of dit nou fopnuus of die waarheid is dat die SAUK dalk nie meer rugbywedstryde op radio gaan uitsaai nie… dit is jammer dat die SAUK ook nie dadelik die publiek kon gerusstel nie.

Tog, terwyl die kwessie in die lug hang, bied dit dalk die geleentheid dat die hele kwessie opnuut onder oë geneem word, en of daar nie ’n oplossing is om te verhinder dat rugby bloot ’n rykmansport word wat die minder welgestelde persoon daarvan weerhou om sy gunstelingsport te volg.

Rugby is koning! Of is dit nog? Vir baie Suid-Afrikaners is rugby wel koning, en het dit ’n ingebedde deel van die kultuur geword wat dikwels met ’n vleisie op die kole en ’n heerlike kuier gepaard gaan.

Iemand wat toentertyd ’n radio gehad het, was omtrent ewe gewild omdat rugby daarop gevolg kon word, as dat die buurt om die radio kon saamtrek wanneer verkiesingsuitslae bekend gemaak word nadat die “toet-toet” die opgewonde luisteraar byna gek van afwagting gemaak het.

En die middernagtelike opstanery om langs die radio in te skuif as die Springbokke doer in die land van die Silwer Varing teen die All Blacks hul stem dik maak.

Toe kom TV, en toe beroepsrugby. Die toneel verander blitsvinnig.

Rugby het deel van ’n wyer verwysingsveld geword. Min Suid-Afrikaners sal vandag nie weet wat dit beteken as die politieke analis skryf dat Zuma vir Ramaphosa die een “hospitaal-paas” na die ander laat loop het nie.

In ’n gemoedeliker omgewing het gemeenskapsradiostasies soms met hul plaaslike rugbybonde ooreengekom om plaaslike rugbywedstryde uit te saai. Tot die SAUK dit op ’n dag duidelik maak dat die uitsaairegte wat die openbare uitsaaier aangeskaf het, ook wedstryde insluit wat die SAUK nie beplan om uit te saai nie. Skielik sit veral plattelanders wat ver van hul bonde se hoofkwartier woon, afgesluit van die rugby wat hulle na aan die hart lê.

Selfs die Vrystaat en ander semi-plattelandse bonde ken dit. Die wedstryde word dikwels nie uitgesaai nie, en word dit wel uitgesaai, is die lyn na Bloemfontein net te gereeld poegaai. ’n Siek Vrystaatse rugby-ondersteuner kon by geleentheid ’n wedstryd tussen die Vrystaat en die Haaie slegs “volg” deur op ’n Zoeloestasie daarna te luister, en so darem ’n idee van die telling kry.

En probeer nou maar die Vrystaat en Kings se Pro14-wedstryde op radio volg – dit bestaan omtrent nie – net soos die Springbokke se toetse in veral Argentinië eenvoudig nie radiogewys bestaan nie. Hoekom die Springbokke se toets teen Italië op dieselfde toer uitgesaai kan word, maar nie die toets teen Frankryk nie, is nie heeltemal duidelik nie.

Om rugby “oor die lugweë” te kan volg, beteken dat seker die duurste betaal-TV-opsie (na berig word in die orde van R1 000 per maand) aangeskaf moet word. Dit is buite die bereik van baie Suid-Afrikaners, maar heel dikwels word die oë toegeknyp en die pakket aangeskaf – en raak die munisipale rekening daarna maandeliks verder agter.

Vir groot dele van die bevolking wat as die teikenmark vir rastransformasie moet dien, is betaal-TV nie eens ’n droom nie. Hulle bly dus tot ’n groot mate geïsoleer van die bemarking van die spel rugby.

Volgens berigte lyk dit of die SAUK dalk vanjaar nie rugbywedstryde oor die radio gaan uitsaai nie. Hopelik is dit fopnuus, met misverstande oor hoe ’n begrotingsproses werk. Maar omdat die SAUK ook nie iets gerusstellends uitreik nie, tesame met rugbytoetse wat soms nie uitgesaai is nie, verwag die rugby-ondersteuners sonder betaal-TV nou enigiets.

Maar is daar nie oplossings vir die probleem nie? Beroepsrugby is duur, en die deurlopende propvol pawiljoene wat dit sou vereis, bestaan nie meer nie. ’n Paar jaar gelede sou dit ondenkbaar wees dat steen en been gekla word oor Loftus Versveld wat Saterdag na Saterdag net ’n handjievol toeskouers lok. Ook ander stadions trek noustrop, terwyl enkeles, soos Nuweland, (nog) gereeld vol is. (Daar sal nog gesien moet word of die skuif van die Kaapstad-stadion daardie tradisie sal kan voortsit.)

Die “maklike” uitweg is die verkoop van uitsaairegte aan betaal-TV. Danksy dié enorme inkomste kan behoorlik beplan en begroot word.

Ook die SAUK sal radio-uitsaairegte moet koop om wedstryde gratis uit te saai. Die veronderstelling is dat die SAUK deur die verkoop van advertensieruimte die uitgawe meer as verhaal.

Die SAUK vind wel die befondsing vir die uitsaai van ’n rits sokkerwedstryde, en op die oomblik word heelwat internasionale krieketwedstryde van die Proteas van begin tot einde uitgesaai. Afrikaans word wel liederlik afgeskeep met die feitlik uitsluitlike gebruik van Engels en ’n bietjie fanagalo (vermoedelik Xhosa).

Kom dit egter by rugby, is die afwesigheid van die koning opvallend.

Wanneer aan ’n nuwe, holistiese plan gewerk word, sal dit goed wees as die oplossing gemeenskapsradiostasies betrek. Die SAUK se rugbykommentator, Stephan Cloete, sou haas onbekend gebly het as hy, as amptenaar van Korrektiewe Dienste, nie die geleentheid gekry het om vir ’n gemeenskapsradiostasie, Radio Hoogland, rugby en krieket uit te saai nie. Ná Hoogland se ondergang, het hy Radio Rosestad met uitsendings bygestaan, voor die SAUK hom as volwaardige omroeper betrek het.

Dit sal daarom hartseer wees as die SAUK radio-uitsendings van rugbywedstryde staak, en ook nie gemeenskapsradiostasies die geleentheid bied om wedstryde, wat in ieder geval nie die SAUK sou gehaal het nie, uit te saai nie.

As hulle dit wel doen, sal hulle op so ’n manier sorg dat rugby die spel van die mense bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Beroepsport is nie my tyd, geld of gesindheid waardig nie. Om rugby of krieket te kyk is soos om die poppedans sport beter bekend as rofstoei, te kyk! Elke wedstryd se uitslae word VOORAF bepaal! Los die klugspul uit en gaan direk oor na n lekker kuier en braai!

Eish ·

Sedert die politiek met sy vul modderskoene die sport vertrap het, is dit net nie meer dieselfde nie. Kommersialisering het vir my n baie negatiewer impak gehad as professionalisme.
Juis deurdat dit n rykmansport geword het en daardeur verwyderd geraak het van die deursnee ondersteuner. Die boemerang kom egter terug en die gevolge van die ingreep in die siel van die sport, laat ons jong en ouer talent groener weivelde oorsee soek, met goeie gevolg. Verder veroorsaak die verlies aan diepte dat die spelers uitrafel soos n handgebreide trui met n los naat wat aan die heining vasgehaak het. Pieter de Villiers, transformasie afrigter van weleer, is nou afrigter in donker Afrika, Zimbabwe! Eens gesog internasionaal, is die kapasiteitsgestremde, BEE afrigters n spieëlbeeld van die landsadministrasie. Ek gee nie meer om vir die sport nie en nie eens n heruitsending is die kyk werd nie. Die finansies van SA Rugby raak soos die van Eskom en binnekort gaan dit hul ernstig pooitjie.

Koos1 ·

El wil rugby kyk. Ek wil F1 kyk. Nou moet ek die duurste DSTV pakket betaal. Sokker word uitgesaai op pakkete op DSTV wat die helfte en soms nog minder kos as die premium pakket. Ek is oortuig daarvan dat die premium pakket die ander moet dra (lees subsidieer), en juis daarom is DSTV nie gewillig om die “betaal soos jy kyk” konsep toe te pas nie. #DSTV prices must fall!

Lappies Labuschagne ·

Op Radio volg baie blinde persone …so jammer vat hul genot ook weg..

Lappies Labuschagne ·

Jammer dat blinde mense wat ruby volg hul genot ook nou bederf

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.