Nuuskommentaar: Die beeldenstorm

Paul Kruger se standbeeld is in Pretoria gevandaliseer Foto: Alana Bailey, AfriForum

Paul Kruger se standbeeld is in Pretoria gevandaliseer Foto: Alana Bailey, AfriForum

Met die skryf van Maandag se Stigtingsdag-nuuskommentaar was dit nog nie bekend dat ondersteuners van die EFF Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein geskend het nie. Inteendeel, die nuus is oorheers oor hoe die Tshwane-munisipaliteit sou toesien dat dit nié gebeur nie.

Die nuuskommentaar het egter in ’n tydsgreep gestaan van waar die tyd “ryp” was dat so iets gaan gebeur.

Die beeldenstorm adem egter ook die gees van een van die land se grootste mislukkings – om in ’n nierassige samelewing omskep te word.

Ongeveer ’n duisend Maroela Media-nuuskommentare terug – dit wil sê slegs enkele jare gelede – kon daar lánk in nuuskommentare na die diversiteit in die land verwys word sonder om die raskwessie aan te raak. Trouens, in sommige media kon kommentators die een rubriek ná die ander voortbring sonder om eens na diversiteit te verwys – so asof daar ’n dwergsprongetjie na ’n nierassige utopie was.

Die skrif was egter toe reeds aan die muur. Enige nierassige soeke na ’n eie identiteit is deur die regering summier tot ras afgemaak. So kon enige aanspraak op minderheidsregte as openlike of verskuilde “hunkering na apartheid” verdag gemaak en summier in die doofpot geplaas word.

Om dit eenvoudig te stel – die regering is rasbehep. So erg rasbehep dat dit nie in staat is om visioenêr die volkereg en selfs die Grondwet te begryp en te harmoniseer nie. In die internasionale reg speel ras wel ’n rol in die konteks van “negatiewe regte” – met ander woorde ’n lang rits dinge wat mense nie op grond van ras, geslag, geslagtelike voorkeur en ander kwessies aangedoen mag word nie. Haatspraak is een van die taboes. Minderheidsregte, soos onder meer staatkundige regte, tel onder die positiewe regte waar ras nie veronderstel is om ’n rol te speel nie, maar wel aspekte soos taal en kultuur. Dit is goed in aksie gedemonstreer toe die DA se jeugvleuel by Kleinfontein gaan betoog het, en die “grootmense” in die DA die jeugvleuel moes reghelp dat dit wat by Kleinfontein gebeur nié ongrondwetlik is nie.

Van die bekendste liberale nierassige kommentators kan nou ook beswaarlik ’n nuuskommentaar lewer sonder om die raskwessie by die stert in te sleep. Vandag deel Max du Preez op Netwerk 24 selfs raad uit onder die titel: “Mosaïek pleks van reënboog is beste hoop”.

Solank daar egter ’n leieraangedrewe persepsie van wins in rasmartelaarskap gesien word, só lank gaan die land in ’n suigkolk van rasbeheptheid en rassisme vasgevang word.

Onder die versnellers wat hierdie suigkolk momentum gee, is om die helde en beelde van die verskillende komponente van ’n heterogene samelewing te beledig of te vernietig. Pres. Jacob Zuma het hom al in verskeie opsigte gediskwalifiseer om as geskikte leier vir die Suid-Afrikaanse nasie te dien, maar min dinge het so uitgestaan soos sy aanval op Jan van Riebeeck – en veral sy onvermoë, en selfs onwilligheid, om hom daaruit te laat loswoel.

Deur die loop van die sestiende eeu was daar gereelde vlae waartydens Protestante Rooms-Katolieke katedrale bestorm en van onsuiwerhede soos die “gesnede beelde” ontslae geraak het. Dit het as die beeldenstorm of Bildensturm bekend geraak. In die vroeg Calvinistiese era is Protestantse kerke deur ’n strakheid gekenmerk, gestroop van die prag en praal waarmee Rooms-Katolieke kerke soms toebedeel was. Baie ander faktore het egter bygedra tot die venyn waarmee dit gepaardgegaan het, en dikwels was sulke aanvalle nie veel anders as weerwraakaanvalle vir wandade wat die Rooms-Katolieke teen Protestante gepleeg het nie. In die Lae Lande het dit tot die uitbreek van die tagtigjarige oorlog gelei. Uiteindelik het dit tot die skeiding van Nederland en België gelei, met heel ironies Antwerpen (van waar baie veldtogte van stapel gestuur is) wat binne België en dus die Rooms-Katolieke invloedsfeer val.

Dat die EFF sentraal in hierdie polarisasie staan, is nie vreemd nie. Die EFF het dit immers met sy ontstaan duidelik gemaak dat hierdie party minder op versoening en meer op rewolusie ingestel gaan wees. Trouens, die Vryheidsfront Plus het met goeie rede by die OVK beswaar gemaak teen die voorgenome registrasie van die EFF as politieke party.

Die probleem was dat daar voor die stigting van die EFF ’n klimaat ontwikkel het wat bevorderlik was vir die stigting van so ’n party.

Streng wetstoepassing is nou nodig, maar daar moet ook werk gemaak word van die faktore wat bydra daartoe dat mense sulke versteurde persepsies ontwikkel. Sal die geskiedenisleerplan enigsins die toets van objektiwiteit kan slaag?

Daar kan ook geen ruimte gelaat word waar die president die mees drakoniese rasmaatreëls as nierassisties beskryf nie. Sulke opmerkings bevorder nie aannames en indrukke oor sy intellek nie.

Net soos wat destyds gehoor is apartheid kan nie hervorm nie maar net vernietig word, so moet nou vrae gevra word of rasbenepe transformasie wat polariseer, vervreem en kundigheid uit die ekonomie slinger, enigsins geregverdig kan word.

Maar solank die geskiedenis en beelde van die reënboog of mosaïek deur sommiges as struikelblokke gesien word, só lank gaan dit bitter moeilik wees om die gesindhede te kweek wat nodig is om die polarisasie en vervreemding aan te spreek, en nog minder ’n gees van offervaardigheid.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

faith ·

Waar gaan dit eindig. Dalk moet hulle net ingelig word indien vandalisme plaasvind op iets wat verklaar was as kultuurerfenis kan hulle swaar beboet word of tronkstraf kry. Dit gaan nie die verskille in rasse beeindig nie maar eerder aanhits.

Machiel Nel ·

Kan ‘n mens aflei dat die beeld bestormers intellektueel nou op dieselfde vlak as die 16de eeuse bestormers is? Dat mens in vandag se moderne tyd ‘n beeld as ‘n bedreiging vir jou eie mislukte identiteit sien is skokwekkend. Die Anc bly ook tjoepstil omdat hulle te bang is hulle verloor (nog meer) ondersteuners aan die radikale eff wat myns insiens almal agter tralies hoort…. So ook die Da, wat nie ‘n woord uiter oor die hele siek spul nie.

Leendert van Oostrum ·

Ons het nou die afgelope vyftien jaar ‘n skoolkurrikulum wat deur die skeppers daarvan amptelik (maar nie openlik nie) as ‘n implementering van die kritiese pedagogiek (“critical pedagogy” -google dit maar) beskryf word.

Die kritiese pedagogiek (afskynsel van die kritiese teorie, eftewel neo-marxisme) het ten doel om kinders te “aktiveer” en tot revolusie aan te spoor.

Die basiese meganisme wat hierdie onderwysmetode gebruik is om voortdurend konflikfoutlyne in die samelewing te ondersteep en in die onderrigmateriaal te behandel op ‘n wyse wat moreel/emosionele, eerder as saaklik/rasionele denke aanmoedig. Die ganse CAPS-kurrikulum, die staatsgoedgekeurde onderrigmateriaal, en die aard van vrae in eksamens – insluitende matriekeksamens – toon hierdie voortdurende laevlakkonflikstokery. Dis nie ek wat so sê nie, dis ‘n baie senior adviseur van die Departement Basiese Onderwys.

Konfliktemas sluit in ras, geslag, gender, sosio-ekonomiese klasseverskille, ens.

Dit is geensins beperk tot geskiedenis nie. Hierdie temas word in elke denkbare vak, insluitende wiskunde ingedra (woordsomme wat handel oor verskillende verbruikspatrone in arm en ryk gebiede, die mate waartoe rykes/mans/wittes ens. hulpbronne verbruik, datumsomme om te toon dat een godsdiens “ouer” – en by implikasie meer eerbiedwaardig – is as ‘n ander, berekeninge waarin die inkomste van bestuur vergelyk word met dié van werkers, ens. ens. ens.

Moet dit ons verbaas as die revolusie begin om die vrugte van die revolusie te dra?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.